voel. Sou Neil dalk intussen getrou het? Die moontlikheid van so iets is groot, want Neil is ’n aantreklike en aangename man. Sy was destyds, toe sy nog by hom gewerk het, verbaas dat Neil nie trou nie en blykbaar so min belangstelling in die teenoorgestelde geslag toon.
Maar hy kon intussen die vrou van sy hart raakgeloop het. Sy weet nie hoekom sy oor so ’n moontlikheid ontsteld moet voel nie. Dis tog nie dat sy Neil die geluk van ’n huwelik misgun nie. Inteendeel. Dis ook nie dat sy bang voel dat sy huwelik inbreuk op die vriendskap tussen haar en hom sal maak nie, want sy besit nie meer sy vriendskap nie. Hy het totaal uit haar lewe verdwyn.
Sy kan ook nie verstaan hoekom dit die rede moet wees dat oom Alwyn en tant Bettie so hardnekkig oor hom swyg nie. Nee, daar moet ’n ander rede wees, maar wat, kan sy nie dink nie.
Toe die tweede week verby is, besluit sy om die bul by die horings te pak. Sy kan nie die res van haar lewe so nutteloos deurbring nie. Eerstens is sy nie gewoond aan leeglê nie en tweedens is dit finansieel noodsaaklik dat sy weer werk vir haar hande kry.
Hulle sit die aand voor die kaggel, want die winterwindjie het skielik onwelkome knypvingers uitgesteek. Oom Alwyn sit soos gewoonlik met sy koerant. Tant Bettie sit en brei, en Deidre lê-sit met hande doelloos gevou in die vuur en staar.
“Oom Alwyn,” verbreek sy skielik die stilte. Hy laat sy koerant sak.
“Ja, my kind?”
“Ek dink dis tyd dat ek begin uitspring,” kondig sy aan en kyk die twee ou mense beurtelings aan. “Asseblief, moet my nie verkeerd verstaan nie. Dis heerlik hier by julle en julle sal nooit weet hoeveel hierdie afgelope veertien dae vir my beteken het nie. Jul huis was … ’n veilige hawe vir my en ek sê baie dankie vir jul gasvryheid en liefde wat my so opreg omring het. Maar ons al drie weet dat ek nie die res van my lewe so kan voortgaan nie. Ek het nou goed uitgerus en aangesterk en … nou moet ek weer met my lewe begin.”
Oom Alwyn kug eers voordat hy laat hoor: “Ek verstaan, Deidre, en ek weet die tante ook. Jy weet dat jy welkom is om so lank as wat jy wil hier te bly. Ek en die tante sal jou nou baie mis. Ons het die afgelope dae so gewoond aan jou geraak, maar ons wil nie selfsugtig wees nie. Soos jy gesê het, jy moet weer met jou lewe begin. Het jy enige vaste planne?”
Sy skud haar kop. “Nee. Ek weet net ek sal graag na ’n stil … e … afgesonderde plekkie wil gaan waar niemand my ken nie. Weet oom nie van so ’n plekkie nie?”
Hy kyk haar bekommerd aan.
“My liewe kind, waar in ons land kan mens vandag nog onbekend bly?” Sy stem is sag, teer, bang om ou wonde weer oop te ruk. “Dit help nie om te gaan wegkruip nie, Deidre. Die een of ander tyd haal die lewe jou in. Selfs op ’n stil, afgesonderde plekkie sal die naam Deidre Retief nie onbekend wees nie. Selfs op afgesonderde plekke word CD’s gespeel, TV gekyk, die radio aangeskakel … en koerante gelees.”
Deidre se moed sak in haar skoene. Dis waar. Sy het nooit só daaraan gedink nie. Haar blik dwaal onrustig oor die vlamme. Maar waarheen sal sy dan gaan?
Dis tant Bettie se stem wat sag, begrypend en baie verstandig opklink: “Is jy nie miskien te haastig nie, my kind? Baie probleme in die lewe los hulself op as hulle net genoeg tyd gegee word. Moenie oorhaastig besluit nie. Alles kan nou nog vir jou donker lyk, maar daar sal binnekort ’n lig vir jou opgaan en dan sal jy weet wat jy moet doen, waar jy moet gaan.”
“Miskien het tannie gelyk, maar … maar ek begin rusteloos word. Ek is nie gewoond om so ledig te wees nie. Maar goed. Ek sal nog ’n paar dae wag,” gee sy onwillig toe. Sy sou so graag weer rigting in haar lewe wil kry. Hierdie rigtinglose bestaan van die afgelope veertien dae was wel heerlik en seker ook noodsaaklik vir haar om haar ewewig terug te kry, maar ledigheid is die duiwel se oorkussing. Baie ledige ure bring mee dat die duiwel genoeg tyd kry om allerhande gedagtes in jou kop te prop en allerhande onsinnige vrae en vrese en spoke by jou op te tower.
“Maar as jy regtig iets wil doen om jou besig te hou, kan ek jou miskien tydelik help,” hoor sy oom Alwyn op ligte toon sê. “My sekretaresse wil ’n week verlof neem om na haar ma, wat ongesteld is, te gaan. As jy wil, kan jy gerus dié week in my kantoor kom help, dan stapel die werk nie so op nie.”
“Ag, Alwyn, die kind voel seker nog nie lus vir kantoorwerk nie,” begin tant Bettie protesteer, maar Deidre gryp na die kans.
“O, ek verlang na so iets, tannie!” sê sy dadelik. “Dit sal my sommer die kans gee om weer in die ding te kom. Ek doen dit graag, oom Alwyn.”
Deidre is verbaas dat sy so gou weer in die kantoorroetine inpas en dit voel soms vir haar asof sy nooit weg was nie, maar nog altyd agter ’n rekenaar gesit het. Die twee jaar dat sy sangeres was, raak al meer ’n fantastiese droom wat sy net in haar verbeelding belewe het.
Een middag is sy besig om die pos te sorteer, toe sy op ’n brief afkom wat skielik haar hart binne-in haar laat ruk. Hierdie handskrif sal sy tussen duisende uitken. Sy doen haar bes om die posstempel te ontsyfer, maar slaag nie daarin nie. Dis of daar ’n gewig van haar hart afrol. Neil is dus nie in die stad soos sy vermoed het nie. Die brief kom van ’n ander plek, dus moet hy seker met verlof wees. Dis seker daarom dat sy hom nog nie gewaar het nie, vertel sy haarself met ’n ligte hart. Sy neem ook sommer dadelik die pos in na oom Alwyn. Vandag is die dag dat sy hom ook sommer direk oor Neil gaan uitvra. Hierdie geheimsinnige stilswye is nou sommer pure bog.
Sy plaas die stapel briewe voor hom op die lessenaar neer met Neil se brief heel bo en bly langs sy stoel staan.
“Dis mos Neil se handskrif daardie, nie waar nie, oom Alwyn?” sê-vra sy en maak asof sy nie sy vlugtige blik opmerk nie. “Hoe gaan dit met hom?”
“E … e … baie goed van wat ek laas gehoor het. Dankie, Deidre.”
Sy stem vertel haar duidelik dat hy verwag dat sy na haar kantoor moet terugkeer en hom alleen met sy stapel pos … en Neil se brief moet los. Hy frons toe hy sien dat sy op die leunstoel voor sy lessenaar gaan sit en daar is iets in haar blou oë wat hom vertel dat hy nie gou van haar ontslae gaan raak nie. Sy hartspiere trek effens saam. Sy kyk hom nou reguit aan, haar lippies vasberade.
“Oom Alwyn, hoekom vermy oom en tant Bettie Neil se naam sedert ek hier by julle kuier? Hoekom praat julle nie oor hom nie?”
Hy kug, ’n onomstootlike bewys dat hy ongemaklik is, en vroetel met die pos voor hom.
“Ag, nee, my kind, ek kan nie juis sê nie … Jy het nie gevra nie.”
“Nee, ek het nie, want ek kon duidelik sien dat julle nie oor hom wil praat nie. Is dit omdat Neil nog kwaad is vir my dat julle geen melding van hom maak nie? Is julle bang dat dit my seer of ongelukkig sal maak?”
Sy sien die verbasing in sy oë en sug saggies. Sy kyk af na haar hande. “Ja, ek weet niemand het my dit vertel nie, maar ek kon dit aflei. Ek weet Neil neem my dit nog steeds kwalik en is bitter teenoor my. Hy wil niks met my te doen hê nie, selfs nie noudat ek teruggekeer het nie, nè, oom?”
“Wel … wel, ja, my kind. Ongelukkig som dit min of meer die situasie op,” erken hy dan sonder om doekies om te draai.
Sy glimlag wrang teenoor haarself.
“Ek was ’n dwaas, nè, oom Alwyn? ’n Groot dwaas. Waar in die wêreld sal ek weer ’n vriend soos Neil vind? Hy was ’n … pa vir my. Dit het my die hele twee jaar gehinder dat ek en Neil op so ’n voet uiteen is, maar ek was te hardkoppig om ’n briefie aan hom te skryf en te sê ek is spyt oor die harde woorde. Ek het natuurlik ook daardie tyd nie besef hoe seer ek hom werklik moes gemaak het nie. Ek was soos ’n eie dogter vir hom. Maar ek was so behep met al die wonderlike vooruitsigte en beloftes wat op my gewag het, dat ek dié mense wat alles vir my in die lewe beteken het, se gevoelens onder my voete vertrap het, en bo-oor hulle geloop het asof hulle skielik opgehou het om vir my te bestaan.”
Die blou oë blink nou. “Ek kan Neil nie verkwalik as hy voel dat ek dit nie werd is om verwelkom te word nie. Ek verdien ook nie oom en tant Bettie se liefde nie.”
“My liewe kind, wat praat jy tog?” laat oom