ek in elk geval weet nie. Hy het maar net soos ’n besetene begin werk, byna dag en nag en …” Hy trek sy skouers op.
“Ons het almal gepraat en gepleit, maar hy het geen ag daarop geslaan nie. Hy sou mos, voordat hy met heeltydse navorsing begin, eers met vakansie gegaan het. Hy het sy vakansie uitgestel, eintlik afgestel, en dadelik weer begin werk en aanhou werk totdat …”
Deidre frons. Sy het nie geweet hy sou eers vakansie gaan hou het nie. Hy het haar daardie tyd nie daarvan vertel nie. Maar hoekom het hy nie eers vakansie gaan hou nie?
Haar blou oë is donker van bekommernis.
“En nou, oom? Wat maak hy op daardie plasie? Hoe leef hy?”
“Die ou tannie van wie hy die plasie gekoop het, het as sy huishoudster aangebly. Daar was nog ’n verband op die grond toe haar man oorlede is, en sy was verplig om te verkoop. Neil het toe die grond oorgeneem en haar sommer gevra om as huishoudster aan te bly.”
“Maar wat doen hy om sy dae om te kry?”
“Moenie my vra wat die eerste ruk daar aangegaan het nie. Oor daardie deel van Neil se lewe is ’n digte sluier getrek. Maar dit lyk tog of hy weer rigting begin kry. Hy het die afgelope maande ’n poging begin aanwend om die navorsing wat hy tot dusver gedoen het, te boek te stel. Dit sukkel maar geweldig, maar dit hou hom darem aan die gang, gee hom iets om te doen.”
“Alleen?”
“Nee, dis natuurlik vir hom ’n onbegonne taak om dit sonder hulp te doen. Die afgelope maande het ek al omtrent ’n stuk of ses sekretaresses vir hom gestuur, maar dis net ’n week of veertien dae of uiters ’n maand, dan trek hulle sak en pak.”
“Hoekom?”
“Om baie redes. Vir baie van hulle was De Hoop – dis die plekkie se naam – te stil en afgesonder. Maar die grootste rede is natuurlik dat Neil ’n baie moeilike mens is om mee klaar te kom.”
Deidre kyk hom ongelowig aan.
“Dis nie waar nie, oom Alwyn,” verdedig sy lojaal. “Neil is die wonderlikste baas wat ’n mens kan verlang. Ek weet mos. Ek het jare vir hom gewerk.”
“Ja, my kind, vir die óú Neil. Die blinde Neil is ’n heeltemal ander mens. Jy sal hom skaars herken. Soos die laaste meisie wat daar was – sy het net ’n week uitgehou – dit sommer reguit gestel het: Neil is die befoeterdste mens op aarde! Wat dit natuurlik nog moeiliker maak, is dat nie een van die meisies wat ek in die hande kon kry om daarheen te gaan, al ooit vantevore met laboratoriumwerk en navorsingswerk te doen gehad het nie en nie altyd so gou kan snap waarna Neil soek nie. Dan verloor hy sy humeur, wat die afgelope tyd maar baie kort geraak het, en dan moet hulle aanhoor dat hulle onnosel skape is en nie die verstand van ’n kleuter het nie, ensovoorts, ensovoorts. Die gevolg is dat hulle hul goedjies gaan pak en hom net so los. Ek is nou weer juis een aan die soek, maar ek het nie veel hoop nie. Ek het net gister ’n brief gehad van die enigste een wat ek gehoop het bereid sou wees om te gaan. Sy het net laat weet sy sien nie meer kans om te gaan nie. Ek is byna seker een van die voriges het haar naaldgesteek oor wat om te verwag en sy het besluit om maar liewer vroegtydig kop uit te trek.”
Oom Alwyn glimlag effens. “Ek moet jou darem ook sê dat ek haar dit nie kwalik neem nie. Neil het glo al sy aantekeninge op stukkies papier aangebring en dié lê die hele wêreld vol. Dit sal geen grap wees vir iemand wat geen kennis van sulke goed het om dit te sorteer en agtermekaar te kry nie.”
Deidre glimlag ook effens, byna weemoedig.
“Ja, ek weet hy het dit altyd gedoen. As hy op iets afkom, moet die eerste die beste stukkie papier diens doen. Toe ek daar weg is, was een hele liasseerkabinet volgepak met leë sigaretdosies waarop geskryf was, en gewoonlik in ’n handskrif wat net Neil en ek, wat al jare daaraan gewoond is, sou kon verstaan en ontsyfer. Vir ’n absolute leek op daardie gebied moet sy notas en aantekeninge Grieks wees.”
Skielik wil die hartseer haar oorweldig. ’n Nostalgiese verlange na die goeie ou tyd toe die lewe so ongekompliseerd was, neem van haar besit. ’n Meewarige glimlaggie ruk aan haar mondhoeke. Ja, ’n mens is nooit tevrede nie. Daardie jare was haar lewe vir haar baie gewoon, baie eenvoudig, baie saai en eentonig, die een dag soos die ander. Sy het gesmag na opwinding, na iets anders, na roem, na … wat? Toe het haar lewe skielik verander in ’n malle warrelwind. Nie een dag was soos die vorige nie. Daar was nie ’n oomblik van verveling nie. Daar was nie meer tyd vir enigiets nie. Elke dag en aand was in vaste ure afgebaken en sy moes jaag om deur haar vol program te kom. Sy het gekry waarna sy altyd verlang het, maar hoe dikwels het sy nie tussendeur daardie malle gejaag intens verlang na die stille, rustige alledaagsheid van haar ou lewe nie!
Vandag verlang sy nog meer terug daarna. Sy wil daardie ou lewe terughê, net soos dit was.
Ja, vandag wens sy met haar hele hart dat sy die tyd kan terugkoop, die wysters van die horlosie kon terugskuif. Sy wil alles terughê soos dit was, die vreugde in die klein dingetjies, die rustige vreedsaamheid van die alledaagse. Ook vir Neil, die ou Neil begeer sy terug. Die man met die sagte grys oë wat altyd bereid was om te luister en raad en hulp te verleen, die man met wie sy alles van haar lewe kon deel soos met ’n sorgsame pa, die man met wie sy die vrymoedigheid gehad het om te raas as hy op ’n koue oggend sonder baadjie by sy kantoor opdaag of vir wie sy dikwels ’n knoop sommer daar in die kantoor moes aanwerk, die man om wie se ooghoeke fyn lagplooitjies gevorm het terwyl hulle ’n grappie deel. Daardie Neil wil sy terughê, daardie vriend, daardie pa.
Maar sy het hom verloor … onherroeplik verloor, volgens oom Alwyn. Daardie Neil bestaan nie meer nie. Dis ook nie net Neil wat sy verloor het nie, maar so baie ander dinge, dinge van waarde, besef sy nou. Dis eers op hierdie oomblik dat sy werklik besef hoeveel sy moes opoffer vir twee jaar van roem … vir ’n skynglans wat net twee jaar gehou het.
Sy is onbewus daarvan dat die trane oor haar ooglede begin val het. Oom Alwyn staan op, stap om die lessenaar en lê ’n arm om haar skouers.
“Gaan huis toe, my kind. Ons sluit tog oor ’n uur. Jy het ’n groot skok gehad. Gaan huis toe na tant Bettie toe,” laat hy hoor, want hy was nog maar altyd, soos die meeste mans, onbeholpe wanneer ’n vrou begin huil.
Toe Deidre ’n rukkie later by die voordeur instap, kan tant Bettie sommer dadelik sien dat daar iets skort. Sy stap vinnig na die jong meisie en neem haar vertroostend in haar arms.
“Wat makeer, my hartjie?”
“O, tant Bettie!” Deidre lê haar kop op die moederlike bors neer en nou probeer sy nie meer die stortvloed van trane keer nie. Tant Bettie laat haar ’n rukkie begaan en dan neem sy haar beslis aan die skouers.
“Kom, my kind. Kom ons gaan sit daar onder die ou akkerboom. Ek het juis my tee daarheen geneem. Ek kry solank vir jou ook ’n koppie. Dan vertel jy my rustig wat skort.”
Deidre gehoorsaam en ’n oomblik later sluit tant Bettie haar by haar aan. Sy skink eers die tee in, want sy glo dat ’n koppie tee ’n noodsaaklikheid in ’n tyd van krisis is. Sy het ’n sterk vermoede waaroor die trane gaan en hoewel sy geensins uitsien na die volgende paar minute nie, besef sy dat die tyd vir eerlikheid en reguit praat aangebreek het. Tant Bettie Bruwer is ’n vrou met ’n groot, ruim, simpatieke hart, maar sy is ook ’n baie verstandige vrou en iemand wat nie aarsel om die waarheid te praat as sy dit nodig ag nie.
“Drink eers jou tee, my kind, en dan kan ons rustig oor die tweede koppie gesels,” laat sy bevelend hoor, en Deidre glimlag ten spyte van die trane wat nog op haar wimpers blink. Dierbare tant Bettie! Die tweede koppie tee het al tweede natuur geword, en as daar een medisyne is wat – so glo sy vas – vir ’n seer en ongelukkige hart sal help, dan is dit twee koppies tee! Sy gehoorsaam, en dis eers nadat tant Bettie weer hul koppies gevul het, dat sy Deidre vas aankyk en kalm laat hoor: “Nou toe, Deidre. Waaroor was die trane?”
Die blou oë swem weer opnuut toe sy bewerig antwoord: “Neil … Oom Alwyn het my van Neil vertel.”
Tant Bettie knik begrypend.
“Ek het so vermoed. Ja, my kind. Dis tragies. My