dit. Het jou … e … bestuurder ook ’n woonstel gehad?”
“Ja.” Haar oë rek. “Oom bedoel … hy het my laat betaal vir sy woonstel ook? Maar …”
“Dis al verklaring wat ek kan kry, en jy? Deidre, besef jy dat hierdie skurk jou rot en kaal besteel het?”
“Nee, oom Alwyn!” Lojaliteit laat haar die afwesige Norman driftig verdedig. “Ek kan dit nie glo nie! Norman het ontsettend baie vir my gedoen. Sonder sy hulp sou ek nooit so ver gekom het nie!”
“Hy het gesorg dat jy hom baie goed vir daardie hulp betaal, my kind. Dis nie net die woonstelhuur wat vir my agterdogtig maak nie. Hier is ’n paar ander items ook.”
“Maar dit kan nie wees dat Norman … dat hy … Hy het ’n salaris getrek en hy het my altyd verseker dat hy heeltemal tevrede met sy inkomste was.”
“Watter salaris?”
“Hy het as my bestuurder ’n sekere persentasie van my inkomste gekry, waarop ek eerlikwaar gevoel het hy geregtig was.”
Oom Alwyn snork minagtend.
“’n Sekere persentasie! My liewe kind, jy het hom die afgelope twee jaar in weelde onderhou. Hy het soos ’n parasiet op jou geteer.”
Hy swyg toe hy die hewige ontsteltenis op haar gesig sien, kom vinnig nader en lê sy arm om haar skouers. “Dit spyt my, Deidre. Ek het vergeet dat jy nog nie sterk genoeg is vir sulke skokke nie.”
Sy skud haar kop verdwaas.
“Dit maak nie saak nie,” fluister sy, haar stem nog heser as gewoonlik. “As dit so is, dan moet ek dit weet, nie waar nie? Ek … kan dit net nie glo nie! Ek en Norman was verloof! As … as hierdie dinge nie gebeur het nie, sou ons seker teen hierdie tyd getroud gewees het. Ek kan nie glo dat hy my al die tyd so bedrieg en uitgemergel het nie!”
“Dit is nietemin so, Deidre. Die bewyse is onomstootlik daar. Ek sal die skurk aan die pen laat ry!”
“Nee!” Sy draai vinnig na hom. “Nee, asseblief, oom Alwyn! Laat hom … gaan. Ek wil nie verdere onaangenaamheid hê nie. Dis my eie skuld dat so iets gebeur het.”
Haar hees stemmetjie het ’n kraak van bitterheid in. “Ek het my lewe lank in goeder trou gehandel. Ek het my lewe lank toegelaat dat ander mense vir my dink en my sake vir my reël. Eers was dit Neil … Ongelukkig vir my was sy opvolger nie ook so pynlik eerlik soos Neil Maritz nie. Maar dis my verdiende loon.”
“Jy bedoel … jy gaan hom sommer net laat wegkom met alles?” vra haar ou prokureursvriend ontsteld en sy knik beslis.
“Ja, oom Alwyn. Ek gaan niks doen nie. Norman Zietsman het reeds uit my lewe verdwyn. Ek is nie van plan om hom weer daarin te laat terugkom nie, veral nie met ’n onsmaaklike hofsaak nie. Goed. Hy het my besteel, soos oom dit gestel het. Ons laat dit daar. Geld was en is nie vir my van soveel waarde nie. Solank ek net ’n ietsie het om die eerste rukkie mee oor die weg te kom, is ek tevrede. Wanneer dit op is, sal ek vir myself sorg. Ek het darem nog my kwalifikasie … en ek sal darem seker êrens ’n baas raakloop wat nie van sy sekretaresse verwag om ook te kan sing nie …”
Skielik druk sy haar gesig teen sy breë, vriendelike skouer en haar liggaam ruk weer van rou, diep snikke. Sy het Norman Zietsman nooit liefgehad nie, maar sy was tog geheg aan hom. Sy het hom so vertrou. Die feite wat oom Alwyn so pas aan die lig gebring het, het haar dieper geskok as wat sy wou voorgee. Dis of die laaste bietjie grond onder haar voete uitgeslaan is. Die vriendskap en hulp, die bystand en raad, die trotse glimlag en sy woorde van aanmoediging en liefde was dus alles vals … vals soos die skynglans van die maan.
Bokant haar kop vernou oom Alwyn se oë bekommerd. Sou Deidre hierdie man nog liefhê? ’n Vrou is ’n snaakse wese. Al weet sy alles van hom af, al weet sy dat hy ’n opperste skurk is, kan sy nog die man wat sy liefhet, nie vergeet nie. Dit het sy beroep hom al so dikwels deur die jare bewys. En Deidre was verloof aan hom. Hulle was van plan om binnekort te trou …
So vinnig as wat hy kan, tref oom Alwyn die nodige reëlings en twee dae later vertrek hulle uit Johannesburg terug huis toe, soos hy dit stel. Deidre laat hom maar begaan, maar met ’n verlore gevoel in haar hart besef sy dat sy werklik “huisloos” is. Hoewel oom Alwyn dit nie weet nie, en onder die indruk verkeer dat sy ’n lang en onbepaalde tyd by hom en tant Bettie kom bly, het Deidre haar reeds voorgeneem dat dit nie die geval gaan wees nie. Sy sal die eerste rukkie by hulle kuier, maar sodra sy van ’n plekkie hoor waar sy alleen kan wees, en veral onbekend sal wees, gaan sy haar kuiertjie by die Bruwers kortknip. Sodra sy meer mens voel, sal sy ook moet begin uitkyk vir ’n werkie.
Dit sal vreemd wees om ná twee jaar weer net ’n gewone sekretaresse te wees, weer deel van die gewone lewe en een van die gewone mense. Maar sy is nie bevrees dat sy haar nie weer sal kan aanpas nie. Diep in haar hart was sy nooit regtig deel van die kollig en sosiale verkeer nie. Diep binne-in haar het sy maar Deidre Retief, die kantoorwerkertjie, gebly, besef sy nou.
Toe hulle eindelik voor oom Alwyn se huis stilhou en Deidre haar blik oor die bekende omgewing laat dwaal, voel dit nie vir haar asof twee jaar verbygegaan het nie. Dis of die afgelope twee jaar skielik van haar wegval, in die niet verdwyn. Sy kom ’n oomblik tot stilstand in die middel van die tuinpaadjie.
Dit is werklikheid dié. Dit is standvastigheid, sekuriteit dié: die liefde en deernis in oom Alwyn se oë. Die vreugde in tant Bettie se glimlag waar sy in die deur verskyn. Die son, warm en weldadig op die groen grasperk – oom Alwyn se trots – en koesterend op die blombelaaide some – tant Bettie se troetelkind. Die huis, van die ou soort met ’n groot, wit gewel, nestelend teen die groot ou akkerboom. Rustig. Vreedsaam. Hier is voorwaar geen skynglans nie. Eenvoudig, sonder opsmuk … en eg.
Dan hardloop sy vorentoe in tant Bettie se uitgestrekte arms in … en sy weet dat Deidre Retief, die sangeres, finaal van die toneel af verdwyn het.
Bokant haar kop ontmoet die ou egpaar se oë mekaar met gemengde vreugde en kommer. In hul harte is daar dankbaarheid dat Deidre huis toe gekom het, maar daar is ook diepe kommer, want hulle weet dat al die seerkry nog nie vir hierdie meisietjie verby is nie. As Neil maar net hier was … is die gedagte by albei toe tant Bettie haar die voordeur inlei.
6
Die eerste week van Deidre se verblyf by oom Alwyn en tant Bettie Bruwer gaan soos ’n stil, rustige droom verby. Sy vind dat al wat sy moet doen, is eet en slaap en ontspan. Vir Deidre, wie se lewe die afgelope twee jaar ’n wilde gejaag van die een afspraak na die ander, en veral die afgelope twee maande, ’n maalkolk van emosionele storms was, is hierdie dae van stilte en rus en vrede soos lieflike kristalle wat die een na die ander deur haar vingers glip. Sy, en so ook die dierbare twee ou mense, weet maar te goed dat sy nie vir ewig so kan voortgaan nie, maar al drie sluit doelbewus hul gedagtes vir hierdie feit.
Môre, dink Deidre by haarself, môre sal ek planne moet begin beraam. Môre sal ek vir oom Alwyn vra of hy nie van ’n klein, rustige, afgesonderde plekkie weet waarheen ek kan gaan nie.
Môre, dink oom Alwyn en tant Bettie, môre sal sy miskien met die gevreesde vrae begin, môre sal ons haar miskien moet vertel van Neil. Die een of ander tyd sal ons hierdie onnatuurlike stilswye oor Neil Maritz moet verbreek. Een van hierdie mooi, lieflike sonskyndae sal ons nie langer kan voorgee dat Neil Maritz nie bestaan nie en dan sal ons Deidre moet vertel. Maar môre gaan verby vir al drie, en die volgende môre volg dit op en die volgende …
Dis gedurende die tweede week dat Deidre van ’n rusteloosheid in haar gewaar word. Dis of sy skielik agtergekom het dat daar ten spyte van die skynbare volmaaktheid wat aan elke dag kleef, ’n gemis is, iets wat ontbreek. Omdat tant Bettie en oom Alwyn nog steeds oor Neil swyg en nog nie een keer sy naam sedert haar aankoms hier by hulle genoem het nie, vind sy dit ook onmoontlik om eerste na hom te verneem. Sy raak elke dag meer daarvan oortuig dat hulle hierdie onderwerp doelbewus vermy. Hoekom? Al is Neil nog vir haar kwaad, is dit nie nodig om soos die graf oor hom te swyg nie. Die feit dat hy ook nog nie een keer sedert haar aankoms sy opwagting hier gemaak het nie, vertel haar dat hy bewus is daarvan dat sy by oom Alwyn-hulle