Ena Murray

Ena Murray Keur 6


Скачать книгу

hy fronsend. Hy kyk haar pleitend aan. “Deidre, moet hom nie te hard oordeel nie. Neil het jou … Neil was jou so gewoond sy hele lewe lank. Hy het jou aan die begin vreeslik gemis. Ons almal het.”

      Sy laat weer haar blik sak. Met skaamte weet sy dat sy nie dieselfde kan sê nie. Sy het in ’n heel nuwe lewe ingestap, so vreemd, so anders as waaraan sy gewoond was, so romanties, so opwindend … dat sy aan die begin skaars gedink het aan die dierbare vriende wat sy agtergelaat het. Veral aan Neil Maritz wou sy nie dink nie, want sy was vir hom kwaad en baie teleurgesteld in hom. Dit was maar eers later, toe die eerste aardigheid begin taan, toe die skynglans afgewater begin raak, dat sy begin verlang het, baie verlang het na die ongekunstelde, opregte leefwyse wat sy geken het saam met oom Alwyn-hulle en Neil. Toe wou sy graag ’n briefie aan hom skryf sodat hy nie heeltemal vervreemd van haar moes raak nie, maar sy was te skaam, reeds te bewus van die geweldige kloof wat met verloop van tyd tussen hulle ontstaan het.

      Hoe jammer is dit dat “jammer” altyd so lank, soms te lank uitgestel word, dink sy nou by haarself. As sy hom sommer daardie volgende dag uit Johannesburg gebel en om verskoning gevra het, weet sy, sou Neil haar vriend gebly het en sou hy vandag saam met oom Alwyn en tant Bettie weer deel van haar lewe kon wees … en deel van haar toekoms.

      “Is hy met vakansie op die oomblik?” vra sy nou en onderdruk die bewing in haar stem.

      “Vakansie!” Oom Alwyn lyk verbaas.

      “Ja. Dis ’n vreemde posstempel.”

      “O! Nee … e … nee, nie eintlik nie. Hy woon nou in daardie geweste.”

      “Maar … doen hy dan nie meer navorsing nie? Hy sou dan …”

      “So min of meer, maar nie heeltyds nie.”

      Deidre frons. Sy moet behoorlik antwoorde uit oom Alwyn trek. Iets klink nie pluis nie. Haar stemmetjie klink heser, soos dit altyd is wanneer sy ontsteld is, toe sy direk vra: “Is Neil getroud?”

      “Ge …” Oom Alwyn frons ook nou. “Moenie verspot wees nie, my kind. Natuurlik nie!”

      “Ek kan nie sien dat so ’n gedagte verspot is nie. Neil is ’n aantreklike man en briljant in sy werk. Al wat meisie is, sal wat wil gee om sy vrou te word,” antwoord sy byna verontwaardig.

      “Werklik?” As oom Alwyn se stem droog en net so effens sarkasties klink, merk Deidre dit nie op nie.

      “Oom sê dit gaan goed met hom? Gesond en so aan?”

      “Ja.” Nou klink oom Alwyn se stem baie duidelik bot en Deidre besef dat hy nie lus is om verder oor Neil te praat nie. Sy staan op terwyl ’n hoorbare suggie haar ontsnap.

      “As oom met die kantoorsakies klaar is, wil ek oom graag ’n oomblik spreek, asseblief.”

      “Waaroor?”

      “Dis in verband met my geldsake. Ek móét nou presies weet waar ek staan. Ek moet weet hoeveel geld ek het.”

      “Jy bekommer jou verniet so baie daaroor.”

      “Maar ek móét weet, oom. Dan is daar nog iets. Norman het my verseker dat die geld wat ek destyds by oom geleen het en ook daarna, terugbetaal is. Ek wil nou net seker maak … Dit ís terugbetaal, nie waar nie?”

      Die manier waarop oom Alwyn vinnig sy oë afwend en ’n volbloed kugaanval kry, laat haar frons en ’n ontstellende gedagte by haar opkom. “Oom Alwyn wil my tog nie vertel dat daardie geld nooit werklik terugbetaal is nie!”

      “Ek … wel, my kind, ek … e …”

      “Dit is nie terugbetaal nie, nè, oom? Dis toe nooit terugbetaal nie!”

      “Wel, om presies te wees, nee, dit is nie.” Sy oë is ongemaklik en vol kommer op haar geskokte en hewig ontstelde gesiggie gerig. “Maar dis nie nodig om jou so daaroor te ontstel nie, my kind. Gelukkig is jou erfgeld nog veilig. Ek is innig dankbaar dat daardie geld destyds vas belê was, anders sou jy nie eens dít vandag gehad het nie.”

      “Maar hoekom het oom my nie laat weet nie?” roep Deidre uit. “Oom het my die geld geleen en dit was ’n groot bedrag. Het oom dit dan nie intussen nodig gekry nie? Ai, oom Alwyn, as ek darem moet agterkom jy het jouself die afgelope jare tekort gedoen omdat ek met jou geld gesit het …”

      “Nee, nee, my kind, wag, jy is onder ’n wanindruk. Ek … wel, jy sien, dit was nie eintlik ek wat jou die geld geleen het nie.”

      “Nie oom nie? Wie dan?”

      “Dit was … Neil.”

      “Neil!”

      “Ja … a … Deidre, ek het nie eintlik soveel geld op daardie tydstip los gehad nie, bedoel ek,” verduidelik hy onsamehangend. “Ek weet ek het jou onder die indruk gebring dit was ék wat jou die geld geleen het, maar … maar dit was omdat Neil dit so wou hê. Dit was egter hý wat die geld voorgeskiet het. Hy wou nie dat jy agterkom dit was hy wat jou help nie, want hy was oortuig dat jy geen hulp, geldelik of andersins, daardie tyd van hom sou aanvaar nie.”

      “Maar hoekom het hy dit gedoen?” wil Deidre in ’n hewige hees stemmetjie weet. “Hy was so bitter gekant teen my nuwe loopbaan en tog het hy dit deur sy finansiële hulp vir my moontlik gemaak!”

      Oom Alwyn knik.

      “Ja, my kind. Dis reg. Hy het dit gedoen. Maar dis Neil, nie waar nie?”

      ’n Oomblik is dit stil in die kantoor terwyl elkeen met hul eie gedagtes besig is.

      Oom Alwyn onthou nog hoe hy met Neil geredeneer het, veral nadat Deidre se bestuurder ’n paar maande later ’n herhaling van die eerste bedrag gevra het.

      “Neil, jy kan nie weer so ’n groot bedrag sommer net weggee nie! Jy het geen bewys daarvan nie en nog minder enige sekerheid dat jy dit ooit sal terugkry!” het oom Alwyn gepleit. “Liewe hemel, wat maak hulle met al die geld? ’n Mens moet behoorlik mors met geld om soveel duisende rande in drie maande uit te gee!” het die spaarsamige prokureur uitgeroep.

      Neil het sonder ’n woord sy skouers opgetrek, sy tjekboek uitgehaal en nog ’n tjek uitgeskryf.

      “Neil, asseblief, besin jou! Hierdie Norman Zietsman sal jou rot en kaal uittrek!”

      “Ek gee dit nie vir Norman Zietsman nie. Ek gee dit ook nie vir Deidre nie. Dis ter wille van haar ouers en wat hulle vir my as kind beteken het, die mooi vriendskap wat daar was en … Verduiwels, oom Alwyn, wil jy Deidre dakloos en honger in Johannesburg se strate sien rondloop! Wat kan ek anders doen?”

      Oom Alwyn het met groot begrip gekyk na die gesig waarin diep, streng lyne die afgelope maande verskyn het.

      “My seun, jy jaag vir jouself verniet spoke op. Haar eerste CD’s was ’n groot sukses. Jy … jy gee nog baie vir haar om, nè, Neil?”

      Die aantreklike gesig het styf en ontegemoetkomend geraak, die stem kortaf.

      “Dit maak nie saak wat ek voel of nie voel nie. Dit behoort in elk geval aan die verlede.” Dit was selfs smalend bedoel. “Moenie ’n romantiese beweegrede agter my vrygewigheid soek nie, oom. Ek gee dit omdat ek in ’n mate verplig voel om dit te doen, omdat sy voor my grootgeword het en omdat ek haar ma beloof het ek sal na haar omsien. Maar aangesien sy my pligsgevoel teenoor haar lastig en vervelig en … baie onwelkom vind, is ek noodgedwonge verplig om haar haar gang te laat gaan. Maar ek kan nog op hierdie manier help … al is sy nie bewus daarvan nie. Sorg asseblief dat sy die geld môre kry.”

      Oom Alwyn het besef dat dit hom nie sou baat om verder oor hierdie saak te redeneer nie. Neil Maritz was vol verbittering teenoor Deidre. Hy het nie een keer in die maande wat verby is, gevra of hulle iets van haar gehoor het of ooit eerste haar naam genoem nie. Elke keer dat oom Alwyn of tant Bettie dit gewaag het om Deidre se naam te noem, het hy styf en afsydig geraak en geen belangstelling getoon nie. Later het die ou mense liewer Deidre se naam uit hul gesprekke gehou wanneer Neil in die geselskap was. Tog het hy twee keer groot bedrae geld sonder sekuriteit aan Deidre gegee, en vandag klink sy