babagoed by die winkel in Tygervallei te gaan aanvul, maar sy wil nie weer in Maureen Naudé vasloop nie. Sy gebruik ’n ander ingang sodat sy die babawinkel van die ander kant af kan bereik, sonder om by You-nique verby te stap.
Toe sy die babawinkel binnegaan, verstar sy egter van skok. Die jong vrou vir wie Charl so partydig behandel het, is daar, besig om heelwat te koop. Die hele toonbank lê vol goed.
Brenda wil eers vlug, maar die winkelassistent, wat haar as ’n goeie klant beskou, wuif vir haar.
“Hallo, dokter Wiechers. Ek is nou-nou by u. Kyk maar rond en soek uit. Ons het die oulikste baby-grows ingekry.”
Brenda kyk kastig daarna, maar die jong vrou trek haar aandag soos ’n afgrond iemand met hoogtevrees trek. Sy is behoorlik opgesmuk, en die slapende baba lê in ’n kinderwaentjie langs haar. Brenda het ’n oorweldigende begeerte om te sien hoe die baba lyk en sy staan só dat sy kan loer, maar sy kry dit nie reg om meer as die mussie raak te sien nie.
“Dis ’n plesier om ’n klant met onbeperkte krediet te bedien. Haar man laat haar koop soveel soos sy wil.” Die verkoopsdame knipoog vir Brenda, wat ’n glimlag op haar lippe dwing.
“Ja, hy is minstens vrygewig,” hoor sy die jong vrou sê. “Hy het ook vir my die mooiste dorpshuis in Durbanville gekoop en gemeubileer. Ek kom graag na Tygervallei, want ek koop graag.” Sy giggel. “Buitendien slaap die kleintjie lekkerder as hy so rondgestoot word.”
Sy klink ingenome, en tog is daar iets in haar stem wat nie oortuig nie. Brenda tel ’n paar babasokkies op, maar sy sien dit skaars soos sy haar rukkende hart in bedwang probeer kry.
“Dokter Wiechers is ook ’n ginekoloog,” gesels die verkoopsdame.
Die jong vrou draai om en glimlag. “Regtig?”
“In wording,” reageer Brenda styf.
“O, leer jy nog?”
“Ja, by Tygerberg.” Sy wil nie praat nie, maar sy kan nie wegkom nie.
“O, dan ken jy seker vir dokter Charl Naudé. Hy werk baie daar.”
Brenda se gesig voel stram. “Ja, ek ken hom.” En vir jou, wil sy byvoeg.
“Ek kan sweer ek het jou al gesien. Ek het my baba daar gehad, weet jy?”
“Miskien het jy my in die gang gesien.”
“Ja, miskien. Daar is ook so baie mense wat heen en weer loop en in- en uitgaan. Hulle kom in massas om ’n mens te bekyk. Dis so geweldig besig.”
Haar groot, oorgegrimeerde blou oë kyk Brenda ondersoekend aan en Brenda moet met wilskrag haar gesig uitdrukkingloos hou.
“Hulle moet saalrondes doen. Dis ’n opleidingshospitaal en die dokters bespreek die gevalle met die studente.”
“Ek het soos ’n uitstalpop gevoel.”
“Ek kan later terugkom,” stel Brenda voor, want sy wil nou net wegkom.
“Nee, ek is amper op pad. Hou vas.” Die vrou draai na die ontvangsdame. “Sit dit als op rekening, seblief, Mabel, en dan stuur jy die goed tog huis toe. Ek gaan dit nie saampiekel nie, want ek wil gaan klere koop. Ek begin darem nou weer my figure terugkry. Jy het mos die adres.”
Brenda hou haar onderlangs dop. Sy is mooi, maar glad nie gesofistikeerd nie. Haar smaak is te kleurvol en sy het haar gesig en hare oordoen. Hoe kon ’n man wat so waardig en gesofistikeerd is, so oënskynlik uit die boonste rakke, vir so ’n vrou gegaan het? Mans is ook onverstaanbaar. Hulle word deur dié soort vrou aangetrek. Sy moet net ’n popgesiggie en ’n mooi lyfie hê. Trane brand agter haar ooglede en sy knip vinnig haar oë.
“Het jy mevrou Naudé se ou babatjie gesien?” vra die verkoopsdame.
Die van is soos ’n dolk in Brenda se hart. Dit bevestig dat Charl na sy egskeiding met haar getrou het. Dit voel asof sy vanmiddag in die vagevuur is. Sy skud net haar kop.
“Ag, kom kyk,” nooi mevrou Naudé. “Jy hou mos van babas.”
Brenda is verplig om nader te gaan. Die babatjie is in die mooiste blou kleertjies. Donker krulhaartjies loer onder sy mussie uit. Hy suig ’n fopspeen. Sy kan nie uitmaak of hy na Charl lyk nie, maar sulke klein babatjies, weet sy, lyk nog nie duidelik na die ouers nie.
“Hy is pragtig,” sê sy en verwens haar hees stem.
“Hy gaan nes sy pa lyk en dié is een van die mooiste mans op twee bene,” spog mevrou Naudé. “Sy naam is Nolan. Dis nie ’n familienaam nie, maar dis vir my mooi.”
Brenda voel asof sy kan uithardloop en bly hardloop, maar sy byt net op haar lip.
Gelukkig loop die vrou met haar baba uiteindelik. Brenda soek ’n klomp goed uit, maar dis heeltemal ontdaan van die gewone lekkerkry. Dit voel asof daar ’n virus in haar liggaam ingetrek het, so siek van ontsteltenis is sy.
Die verkoopsdame hou egter van skinder en sy is goed op dreef. “Weet jy, daardie vroutjie het amper ’n buite-egtelike kind gehad. Sy het mos getrou net voor sy gekraam het. Die man is darem goed vir haar met geld, maar dit klink nie vir my of hy baie by die huis is nie. Hy werk oorsee, en sy gaan nou maar in vir retail therapy. Ek ken haar al lank. Sy het arm grootgeword, en nou het sy behoorlik in die botter geval vandat sy met ’n dokter getroud is.”
Brenda is nie in staat om te praat nie. Sy betaal so gou sy kan en vlug by die winkel uit. Al wat sy nou wil doen, is om by die huis te kom en te huil waar niemand kan sien hoe sy ’n gek van haarself maak nie.
Sy het Charl Naudé lief en dís die beloning daarvoor: bitterheid en hartseer.
Die geskiedenis herhaal homself. Sy is maar net soos haar arme ma – binne-in die harde eierdop is hulle papsag.
Brenda se depressie word vererger toe Eben kom groet.
“Ek het jou maar min gesien; jy werk so hard,” kla hy. “En kyk hoe lyk jy! Amper uitgeteer, met hol oë. Ek is eintlik teësinnig om te gaan, want dit lyk my jy het oppas nodig.”
“Nee wat, ek werk maar net lang ure en vergeet om te eet. Daar is niks met my verkeerd nie.”
Niks fisiek nie, net geestelik, dink sy. ’n Mens kan van hartseer en verlies kwyn. Sy móét haar eenvoudig regruk.
“Ek sê jou wat: kom Europa toe in die Desembervakansie, dan gaan ski ons in Switserland of Oostenryk. Dit sal jou iets gee om na uit te sien.”
“O, dis ’n uitstekende idee. Ek sal darem ’n bietjie verlof kan neem.”
Hulle eet vir oulaas saam by die Italiaanse restaurantjie waar hulle al dikwels in die verlede geëet het.
“Dis nie net werk nie,” sê Eben terwyl hy spaghetti om sy vurk draai. “Ek ken jou te goed. Daar is iets wat jou pla. Wil jy jou ou pellie daarvan vertel? Is dit Kevin?”
Sy sluk eers wyn voordat sy antwoord. “Nee, dis nie Kevin nie, al kry ek hom jammer. Moenie bekommerd wees nie. Dis niks wat nie sal oorwaai nie.”
Hy kyk skewekop na haar en die spaghetti val van sy vurk af, terug in die bord.
“Dis daardie Charl Naudé, is dit nie?”
Brenda kyk verskrik na hom. Hoe op aarde kon hy dit raai as sy nog nooit met hom oor Charl gepraat het nie?
“Jy kyk my verniet aan soos ’n swaeltjie wat in ’n muur vasgevlieg het, my ou skattie. Die dag toe ons na Hampton Court gegaan het, het die elektrisiteit tussen julle gekraak. Ek is mos baie sensitief vir sulke goed.”
“Ag nee, jy het net ’n wakker verbeelding.”
“Ék is die wakker een, nie my verbeelding nie. Jy het ’n paar keer van hom gepraat en ek het vibes opgetel. Is die man nie geskei nie? Beteken dit nie dat hy beskikbaar is nie? Jy is te ernstig en intens van geaardheid om met ’n jong lat soos Kevin tevrede te wees. Daardie Charl Naudé is die regte soort man vir jou.”
“Stop