asof sy ’n laaistok ingesluk het. “Hoe weet jy dit alles?” vra sy en probeer ongeërg klink, maar haar hals word warm en dit trek in haar gesig op.
“Hy het my gebel om ’n pasiënt te verwys en ons het gesels. Ek het nog altyd van hom gehou.”
Brenda voel asof sy op warm kole sit. Rolf weet natuurlik niks van die sage van die verwagtende ontvangsdame nie. Hoe gaan sy heeltyd koel en kalm en luiters saam met Charl kuier? Veral as Kevin by is en hom soos ’n verliefde skaap gedra?
Hulle hoor die voordeurklokkie klingel, en Rolf loop daarheen om Charl te ontvang.
“Brenda, ek praat met jou,” sê Kevin met ’n grinnik. “Waarom is jy in die wolke?”
In die wolke? dink sy vervaard. Ek is besig om baie hard aarde toe te tuimel.
“Ag, sommer niks …”
Die woorde droog in haar keel op, want Rolf kom met Charl by die deur uit. Meteens krimp haar heelal tot die bestek van een wese: Charl Naudé.
“O, hallo, Brenda,” groet hy vriendelik. “Dis lekker om jou weer raak te loop.”
“Hallo, Charl. Ken jy my skoonsuster, Lisa?”
“Nee, nog nie, en nou is dit vir my ’n groot voorreg om Rolf se vrou te ontmoet,” sê hy sjarmant en steek sy hand na Lisa uit, wat hom openlik bewonderend aankyk.
“En hierdie is Kevin Wakefield, ’n vriend wat ek in Londen ontmoet het. Hy is ’n dokter by die hospitaal waar ek en Eben gewerk het. Kevin, dis dokter Charl Naudé, ’n ginekoloog wat as konsultant by die hospitaal optree.”
Kevin glimlag, maar hy kyk Charl bykans agterdogtig aan. “Ek het jou al voorheen gesien. Jy was nou die dag by die hospitaal toe ek Brenda gaan groet het.”
“Ja, ek onthou jou ook. Aangename kennis, dokter Wakefield.”
Brenda kyk hoe die twee mans mekaar opsom. Charl is langer as Kevin en al is Kevin heel aansienlik, vertoon hy vaal teen Charl.
Kevin praat nie veel nie, maar Charl en Rolf gesels land en sand oor hulle studentejare en hoe hulle saam rugby gespeel het.
Brenda gaan help Lisa met die slaai, bly om weg te kom van die mans af. Sy wil net haar balans herwin.
“Ek wonder hoe ’n vrou dit oor haar hart kry om so ’n beeld van ’n man te laat staan,” fluister Lisa. “Ek sweer al sy pasiënte raak verlief op hom.”
Brenda maak keel skoon. “Dis dalk juis sy probleem. Dit laat my aan my pa dink.”
Lisa kyk haar geskok aan. “Weet jy dan iets negatiefs van Charl?”
“Nee, ek wonder maar net,” jok Brenda. “Jy moet my maar verskoon. Ek is sinies en agterdogtig gebore.”
Charl begin Kevin uitvra, want hy kom agter die jong man sit hom en beskou. Hy en Rolf praat natuurlik oor goed wat niks met Kevin te doen het nie. Eers gesels hulle oor geneeskunde en die toestand van die hospitale in Engeland en Suid-Afrika, en toe slaan hy die regte noot met perde, want hy vermoed Kevin is die vriend wat Brenda leer perdry het.
Al is die kêreltjie glad nie sleg nie, is hy nie regtig opgewasse vir Brenda nie, besluit Charl. Jy is jaloers, kla sy gewete hom aan. Sy lyk vandag so mooi in haar denimbroek, blou trui en winterwit baadjie, haar oë helder, hare glansend, wange pienk. Dié Kevin vat-vat so aan haar as sy naby kom – en hy wat Charl is, voel asof hy op sy tande wil kners elke keer as daar fisieke kontak tussen die twee is.
Hy smag self daarna om daardie mooi mond te soen. As hy darem dink hoe dié kêreltjie haar vasgegryp en met passie oorweldig het, rys sy hare soos ’n kwaai hond s’n.
Dit gaan vrolik aan tafel en Brenda moet haarself inspan om normaal en geselserig voor te kom. Kevin wil heeltyd onder die tafel sy voet teen hare druk of aan haar been raak. Hy is so vatterig. Dit irriteer haar grensloos. Sy wens sy kan vir hom sis: “Stop it!” Maar dan skep dit ’n onaangename insident as die ander hoor.
As Charl se grysblou oë na haar draai, voel dit asof sy deur ’n laserstraal getref word. Heeltyd is sy hiperbewus, hiperalles. Stuwend van adrenalien, of wat ook al met ’n mens verkeerd gaan as iemand wat jy onweerstaanbaar vind so naby jou is.
Gelukkig, of ongelukkig, verskoon hy homself kort na die nagereg.
“Ek moet ’n pasiënt gaan sien wat binne die volgende twaalf uur behoort te kraam. Baie dankie vir die vriendelike uitnodiging en heerlike ete. Geniet jou kuier in Suid-Afrika, Kevin.”
Vir wie moet hy so skielik gaan sien? wonder Brenda afgehaal.
Die dag is meteens leeg sonder hom. Sy vang ’n ondersoekende blik van Rolf, maar sy ignoreer dit. Wat het haar broer raakgesien? Hy ken haar so goed.
Kevin dring die volgende aand aan om Brenda alleen vir ete by ’n restaurant te neem en sy weet sommer hy wil hulle verhouding en toekoms bespreek. Sy moet hom by Eben se huis gaan haal. Dis tyd dat sy hom mooi laat verstaan hoe sake werklik tussen hulle staan, dink sy op pad daarheen. Hoe sy nie gevang wil word nie.
Dis ’n deftige restaurant waar die musiek sag is en die mense nie raas nie. Kevin is die ene sjarme en aandag, maar sy is taamlik stil.
Na twee glase wyn het hy blykbaar genoeg moed om die saak aan te roer.
“Jy moet asseblief vir my sê of jy kans sien om met my af te haak. Ons is nie meer kinders nie; ek is oor die dertig. Ek het reeds besluit wat ek wil hê.”
Brenda sit haar glas neer en kyk hom vas in die oë.
“Kevin, ek het jou nie genooi om te kom kuier nie, en ek is nie van plan om vir jou vals hoop te gee nie. In Engeland het ek reeds vir jou gesê dat ek nie wil trou nie en dat ek van plan is om my eie praktyk te begin.”
Hy lyk sielsongelukkig en dit laat haar soos ’n moordenaar voel.
“Ek het jou lief, maar jy het my nie lief nie. Dis wat jy vir my te kenne gee, nè?”
“Ja, dis wat ek bedoel. Ek hou baie van jou en ons was tot dusver goeie vriende, maar moenie meer van my verwag as wat ek kan gee nie, asseblief. Ek het baie hard gewerk om tot hier te kom, en ek het my planne vir die volgende jare agtermekaar. Niks gaan my daarvan laat afsien nie.”
Hy sit terug en kyk haar ontsteld aan. “Eben het my gewaarsku, maar ek wou nie luister nie.”
Hy klink só ongelukkig dat Brenda hom jammer kry en haar hand oor syne sit.
Net toe kom Charl Naudé van alle mense die restaurant binne en hy groet met ’n knik. Sy skrik en trek haar hand weg. Hier is hy al weer. Sy herken die mense by hom as Thomas se ouers van daardie partytjie van lank gelede.
Die kos word bedien en Brenda en Kevin eet meesal in stilte. Sy is intens bewus daarvan dat Charl ’n ent weg sit en dat hy soms in haar rigting kyk. Meesal is hy in ’n ernstige gesprek met sy tafelgenote gewikkel. Hy het haar nou weer saam met Kevin gesien, en dit lyk seker vir hom asof hulle sit en handjies vashou het.
Brenda weier nagereg en Kevin betaal die rekening.
“Kom, ek neem jou terug na Eben se huis,” sê sy.
“Ek wou graag nog met jou gesels het. Gaan jy nou weier?”
Sy sug. Hy gedra hom soos ’n martelaar. “Goed, jy kan vir koffie na my huis kom.”
Hulle is net binne haar voordeur, toe Kevin haar gryp en hartstogtelik soen. Sy is aanvanklik so uit die veld geslaan dat sy haar nie teësit nie. Maar toe hy sy een hand onder haar trui insit en sy palm oor haar bors sluit, begin sy spartel.
“Hou dadelik op,” hyg sy. “Dís toe al die tyd wat jy in gedagte gehad het!”
Hy lyk afgehaal en kwaad. “Is jy dan heeltemal koud?” vra hy hees.
“Dalk is ek.” Sy trek haar trui af en maak haar jas toe. “In elk geval gaan ek nie toegee net omdat ’n man dit begeer en ek nie.”
Innerlik