hele dag aan diens, maar dis naby skofomruiltyd en sy wag net vir die volgende kliniese assistent om aan te meld. Sy lê op die bank in die teekamer om haar voete te laat rus, want sy het ure lank geopereer.
“Haai, dokter, hier is mense wat jou soek,” hoor sy een van die essies by die deur sê.
Sy sit regop, en toe val haar mond oop van verbasing.
“Wat op aarde doen julle twee hier?” kry sy dit uit.
“Ons kom jou verras, my skat.”
Sy vlieg op. “Eben, jou vabond! Kevin, hoekom het jy nie laat weet julle kom nie?”
Hy grinnik verleë. “Ons het op die nippertjie besluit om van ’n spesiale aanbod van British Airways gebruik te maak. Ons het gedink jy sal dalk bly wees om ons te sien.”
“Ek ís bly.”
Nie heeltemal nie. Sy is verheug om Eben te sien, maar Kevin? Hy is besig om haar met sy ou uitdrukking van passie te bekyk.
Eers omhels sy vir Eben en toe vir Kevin. Hy is nie tevrede met ’n drukkie en ’n soentjie nie. Hy gryp haar en soen haar behoorlik uitasem, sy arms knellend om haar lyf.
Toe sy mond hare los en sy na asem snak, sien sy oor sy skouer dat Charl in die deur staan en alles bekyk. Hy verdwyn onmiddellik weer. Sy kry die aakligste gevoel, maar sy moet dit wegsteek en maak asof sy straal van blydskap.
“Kevin bly by my en Ma,” sê Eben. “Ons sal so ’n week of twee hier wees. Ek gaan met die prof by Patologie gesels en kyk of hy my nie volgende jaar wil aanstel nie. Ek voel tog dis beter om die mense in die gesig te kom kyk en jou saak te stel. Dan staan jy ’n beter kans om in te kom. Buitendien verlang my arme ma haar dood na haar lieflingseuntjie. Ek gaan haar saam terugneem, dan kan sy by ouboet ook kuier.”
Kevin het langs Brenda kom staan en hy sit sy arm besitlik om haar lyf. Sy draai haar uit sy omhelsing los.
“Nie hier nie, asseblief, ek werk hier,” betig sy.
“Sorry. Ek is net só bly om jou te sien. Jy is mooier as ooit.”
“Wag julle twee asseblief vir my,” sê sy vinnig. “Ek wil net gaan kyk of die volgende dokter aan diens al opgedaag het.”
Sy haas haar uit. Hemel tog, dat Kevin sowaar kom kuier het. Sy wou juis van hom af wegkom. Wat nou? Hy moet net nie dink hy kan sommer sy vlerkslepery hervat nie. Veral noudat sy Charl beter leer ken het …
Charl het alles gesien, en sy gesig was nie juis vriendelik nie. Maar hy is in elk geval afsydig. Dalk moet sy eens en vir altyd besef dat hy nooit vir haar ’n proposisie kan wees nie. Kevin is ook nie een nie.
En Steve Mellon gedra hom ook asof hy meer as ’n blote vriend wil word.
Ag nee, sy beland al weer in ’n emosionele maalkolk, en sy wil nie.
9
“Jy moenie dink ek gaan arm en versukkeld uit dié huwelik loop nie, Charl Naudé. Jy gaan betaal! Ek is aan ’n hoë lewenstandaard gewoond en ek gaan dit nie prysgee nie.”
Maureen se skril stem weergalm deur die huis en hy weet haar gesig is vertrek en die trane loop. Hy luister hoe sy vrou vir die hoeveelste keer in hulle jare saam gil en kyf, want hy kan nie anders nie. Sonder om na haar te kyk, loop hy na die drankkabinet en skink vir hom ’n whisky.
Waarom het sy die skeidagvaarding nie verwag nie? Hy skimp al lank daaroor. Kon sy haarself regtig wysmaak dat hy dit nie bedoel nie, terwyl hulle gedurig so haaks is?
Hy teug en wag vir haar stem om in snikke en hortende aantygings oor te gaan. Hy ken al die verloop van dié soort scène. Goddank, een van die dae is dit verby. Sal hy dan uiteindelik rus vir sy siel kry?
’n Mooi, ernstige gesig met intelligente helderblou oë doem voor sy geestesoog op en hy sug. Brenda Wiechers. Die dokter wat vir haar pasiënte geskenke aandra en dink niemand kom dit agter nie. ’n Vrou met ’n hart. ’n Vrou wat in die moeilikste omstandighede en onder groot druk kalm kan bly en funksioneer. ’n Vrou wat nie lyk asof sy ooit soos ’n viswyf op iemand sal skree nie.
“Luister jy wat ek vir jou sê?” klief die vlymskerp stem deur die lug.
Hy draai om en kyk haar minagtend aan. “Ek hoor jou duidelik, Maureen. Jy skree in elk geval so hard dat die strate antwoord gee. Ek is seker die bure hoor jou, al is die erf so groot. Probeer asseblief om nie soos ’n straatvrou te kyf nie.”
Hemel, wat het geword van die lieftallige, sagte meisie met wie hy getrou het? Sy is ’n mooi vrou, maar sy het vir hom lelik geword.
Sy blaas haar neus hard. “Ek stap uit met die helfte van jou boedel, indien nie meer nie. Jy verdien ’n plaas se blerrie geld, jy kan betaal. Hierdie huis is myne. Ek wil minstens vyftigduisend rand ’n maand hê, en ’n nuwe motor.”
“Jy sal kry wat jou wetlik toekom. Niks meer en niks minder nie. Die prokureur sal dit aan jou kommunikeer. Moenie vergeet dat ek vir jou die boetiek en die eerste voorraad gekoop het nie. Dis nie asof jy geen inkomste gaan hê nie.”
Eintlik moes hulle lankal geskei het, dink hy en kyk met afkeer na haar. Hoe het hy so lank uitgehou? Hy was eens so lief vir haar, toe versmoor sy daardie liefde met haar venyn en jaloesie. Hy het haar jammer gekry, maar dié jammerte is ook nou uitgeput. Hy wil net van haar ontslae raak. So gou moontlik.
Vir die eerste keer in sy lewe is hy bly dat hulle nie kinders gehad het nie. Hoeveel meer gekompliseerd sou ’n skeisaak dan nie gewees het nie. Sy sou vir die hoogste onderhoud gestry en baklei het, want eintlik wil sy hom kaal uittrek. Sy glo mos dat hy minstens een minnares het.
“Asof dit nie genoeg is dat Celeste, die klein rubbish, so met jou aangegaan het nie, hoor ek daar is ’n nuwe kliniese assistent wat nou jou tyd in beslag neem.”
Sy kop ruk op toe hy dié aantyging hoor.
“Hou jou mond, Maureen. Daar was baie kere dat ek dit wou toeklap, maar ek is grootgemaak om nie vroue te slaan nie. Jy kan ’n mens genadeloos uittart, weet jy? Dit lyk soms vir my asof jy wil hê ek moet jou te lyf gaan.”
“Wel, dan raak jy minstens aan my. Deesdae het jy nie meer lus vir my nie, maar aan die begin het jy my soos ’n koningin behandel. Jy raak natuurlik net moeg vir vrouens. Jy sal vir daardie slet van ’n Celeste net so moeg raak.”
“Wat ek ook al van Celeste sê of ontken, het net geen effek op jou nie, of hoe? Jy ly aan vervolgingswaan en die uiterste vorm van jaloesie. Ek dink nie jy is gebalanseerd nie, maar jy weier om vir sielkundige hulp te gaan. En van watter kliniese assistent praat jy, as ek mag vra?”
“Die naam van die klein merrie is Brenda Wiechers.”
Sy rug voel soos ’n laaistok. “Sy is geen merrie nie en sy neem nie my tyd in beslag nie.”
Sou Maureen uitgevind het van die aand dat hy Brenda moes red toe haar motor ingegee het? Wie sou haar vertel het? Dit was tog eintlik heel onskuldig.
Maureen is nou in volle gang en sy kan nie ophou nie. “Sy het my self gesê.”
Hy kyk geskok na haar. “Hoe en waar het sy jou nogal gesê?”
“Sy was in die winkel en toe sy agterkom wie ek is, weier sy om die jas te koop wat sy aangepas het en wat ek reeds begin opskryf het. ‘Jy kan vir Charl Naudé maar los, want ek wil hom hê en ek gaan hom kry,’ het sy gesê. Wat dink jy dáárvan, my liewe, ontroue eggenoot?”
“Eggenoot se voet,” kners hy dit uit.
Hy kan nie glo dat iemand so ordentlik soos Brenda so iets sou kwytraak nie. Nee, sy is die laaste persoon wat haar so sou gedra. Dit sou beteken sy is verlief op hom, en sy is nie. Hy het mos gesien hoe sy daardie Engelsman soen – dis seker vir hom wat sy liefhet. Die gedagte laat hom nog erger voel.
“Ek glo nie jou storie oor wat Brenda Wiechers vir jou gesê het nie. Jy suig dit uit jou duim om my by te kom,” kap hy teë.
“Natuurlik