talk of the town, ons drie en ’n half.”
Charl sit sy glas so hard neer dat sy skrik.
“Ek het genoeg van jou gehad, Maureen. Nou kan ek nie meer nie. Ek loop nou, en ek kom nie terug nie. Ons kan deur die prokureurs kommunikeer.”
Hy loop verby haar, met die trappe op, na sy kamer. Lank laas was hy so siedend. Só erg dat hy na aan geweld is. As hy nie hier wegkom nie, is Maureen in gevaar.
Hy gaan net genoeg pak vir vanaand en dan vir sy skoonsuster vra of hulle die res van sy goed kan laat haal. Hy gaan vanaand in ’n gastehuis tuis. Môre kan hy vir hom ’n behoorlike blyplek reël.
Toe hy met die tas afkom, sit Maureen ineengedoke op ’n stoel in die portaal. Sy kyk op toe hy nader kom.
“Moenie gaan nie, Charl,” vra sy gebroke. “Ek is nog lief vir jou. Ek weet nie wat in my invaar nie. Dis net asof die duiwel van my besit neem.”
Sy staan op en kom gryp sy hand, maar hy ruk los.
“Hoeveel keer moet ons hierdie toneel oor en oor speel? Dis soos ’n verhoogstuk wat elke aand, vir jare lank, dieselfde is. Ons albei ken al die woorde uit ons kop en agterstevoor. Ek is so moeg dat ek dit nie meer kan hou nie. Los my uit. Ek het jou eens op ’n tyd liefgehad, maar dis verby.”
Emosioneel uitgeput loop hy by die voordeur uit na die motorhuis. Maureen se wilde snikke en smekinge trek agter hom aan, maar hy kyk nie een keer om nie.
Waar hét sy aan Brenda gekom? Was Brenda regtig by haar in die winkel? Dis nie onmoontlik nie. Maar Brenda sou nooit vir Maureen gesê het sy wil hom hê nie. Sy is nie venynig en onbeskof nie. Buitendien het sy daardie Engelsman gesoen soos ’n verliefde vrou.
Dalk moet hy die aanbod van die kliniek in Switserland ernstig oorweeg, sodat hy uit hierdie omstandighede kan wegkom.
Charl ry Stellenbosch toe en volg die aanwysings na die huis in die voorstad La Colline. Dis waarheen Celeste met haar duidelik swanger lyf gegaan het. Terug na haar ma. Sy het twee jaar lank vir hom gewerk en hy voel op ’n manier verantwoordelik vir haar.
As die pa uit die prentjie verdwyn het en sy nou in ’n penarie is, sal hy moet probeer help. Haar ma, wat skynbaar kerkvas en konserwatief is, is natuurlik baie kwaad, baie skaam en baie bitter.
Hy het al genoeg tiener- en ongewenste swangerskappe gesien om presies te weet hoe Celeste en haar ma moet voel.
Celeste het natuurlik ’n kans gevat en dit het in haar gesig ontplof. Dis tog nie asof sy niks van voorbehoedmiddels en die gevare van ongehude moederskap geweet het nie.
Hy hou voor die huis stil en klim uit. Sy motor lyk skielik ongepas luuks in dié buurt. Kinders wat in die straat speel, hou op met bal skop en kyk verbaas na die motor en dan na hom.
Die lendelam hekkie tjier luid toe hy dit oopstoot. Die paadjie na die voordeur is ongelyk en gekraak. Is dít nou die huis waar die mooi, vrolike Celeste grootgeword het?
Die kort, vet vroutjie met die voorskoot en suur gesig wat vir hom die deur oopmaak, se oë vernou.
“So, jy het darem uiteindelik besluit om die ordentlike ding te doen en te kom kyk hoe dit met Celeste gaan. Ek neem aan jy is die ryk en belangrike dokter Charl Naudé?” sê die vrou bitsig.
“Mevrou Wierenga, veronderstel ek?” vra hy bedaard. “Ja, ek is Charl Naudé.”
Hy het nie verwag om só vyandig begroet te word nie.
“Kom in, ons het belangrike dinge om oor te praat, dokter.”
Hy volg haar na die klein sitkamertjie. Die meubels is oud en geskif en daar is gehekelde lappies oor die rug- en armleunings gedrapeer. Op die tafeltjies is goedkoop ornamente. Die mat is ’n nagemaakte Persiese tapyt. ’n Groot swart kat lê op ’n stoel en kyk groenogig op toe hy inkom.
“Celeste slaap, maar ek sal haar gaan wakker maak. Sy is maar moeg noudat haar tyd nader kom en haar lyf so swaar is. Sit, dokter.”
Charl gaan sit op ’n stoel en kyk na die kat. “Kietsie,” sê hy en steek sy hand uit. Hy hou van katte. Die kat staan op en vryf teen sy hand. Toe spring hy op sy skoot en maak hom tuis.
“Jy is darem voor op die wa,” sê hy en streel die kat. Dis darem een vriendelike wese in hierdie huis.
“Celeste!” hoor hy die vrou se skril stem in die gang. “Jou dokter is hier. Kom praat met hom.”
Sy kom terug, kyk afkeurend na die kat op sy skoot en gaan sit swaar in een van die stoele. Haar skerp bruin oë kyk hom ’n barshou. Hy kyk reguit en vreesloos terug.
“Ek kan vir jou sê, dis vir ons ’n groot skande dat Celeste oor die tou gaan staan en trap het.” Haar stem is beskuldigend.
“Ek kan dit verstaan, maar dis tog iets wat deesdae baie gebeur. Dis nie die einde van die wêreld nie. Ons is nie meer in die negentiende eeu nie.”
Sy gluur hom aan. “O, dis maklik afgemaak, nè? Die man knoop sy broek toe en daar gaat hy en die vrou sit met die gebakte pere.”
Charl vererg hom bloedig en sit vorentoe, sodat die kat verskrik afspring.
“U is nie dalk besig om my te beskuldig dat ek die pa van Celeste se ongebore kind is nie, of hoe, mevrou Wierenga? Want as u is, kan ek u vir karakterskending en ’n paar ander dinge dagvaar.”
Sy skrik haar duidelik asvaal, maar sy kap terug: “Wie anders is die pa? Dis jý. Moenie dink jy kan haar net so in die dinges los net omdat jy ryk en belangrik is nie. Mans soos jy wil mos nie erken dat hulle rondloop nie.”
“Dis beslis nie ek wat die pa is nie, mevrou, want ek het nooit by haar geslaap nie. En al is ek ’n ginekoloog, het ek dit nog nie reggekry om windbestuiwing te vervolmaak nie.”
Hy weet hy is nou lelik sarkasties, maar hy is woedend. Dit wil regtig vir hom lyk asof Celeste vir haar ma gesê het hy is die pa.
Die vrou is dadelik weer op die aanval. “Waarom is jy dan besig om van jou vrou te skei? Dis oor sy uitgevind het van Celeste en die baba, is dit nie?”
“Ag nee, dis nie waar nie, Ma,” kom Celeste se stem van die deur af.
Sy kom in en Charl is geskok om te sien hoe verslons sy is en hoe swaar sy die kleintjie dra. Alles voor, en sy hou haar skraal hand onder haar buik asof sy dit in die lug probeer hou. Die mooi meisie van vroeër het ’n gedaanteverwisseling ondergaan.
Hy staan op. “Dag, Celeste. Ek wou kom kyk hoe dit met jou gaan. Ek kan jou ondersoek. Wanneer het jy laas ’n behoorlike ondersoek gehad?”
“Dankie dat jy gekom het, dokter. Dis nie meer so lank nie, en ek voel soos ’n dragtige olifant. Dankie dat jy my wil ondersoek ook. Ek was nog nie weer by ’n dokter nie.”
Sy glimlag selfbejammerend en haar oë is blink van die trane. Lomp en swaar gaan sit sy op ’n tweesitplekbankie.
“Toe, julle twee kan nou maar met die waarheid uitkom,” krys mevrou Wierenga. “Vertel vir my hoe hierdie skandelike toestand waarin Celeste nou is, kon gebeur het.”
Charl kyk weer vererg na haar en toe na Celeste. “Ja, vertel asseblief die waarheid, want ek kan sien jou ma is onder ’n wanindruk. Is ek die pa of nie?”
“Nee.” Dis meer ’n sug as ’n woord.
Mevrou Wierenga lyk asof sy wil verstik. Haar gesig word vuurrooi. “Maar jy het my heeltyd laat verstaan dat dié man die pa is.”
Celeste begin huil. “Ek het gesê die pa is dokter Naudé, maar dis nie hiérdie dokter Naudé nie, Ma.”
Charl staar haar verstom aan. Daar is ’n paar dokter Naudés in die familie. Kan dit sy broer wees wat … Nee, hy sou nooit met so ’n jong meisie mors nie. Veral nie as sy by sy broer werk nie.
“Maar watter een is dit dan?” skril die vrou.
Celeste vee haar neus en oë met ’n sakdoek