of nie. Ek sal sorg dat jou vlug gereël word, ek sal die blitstroue met ’n magistraat-vriend reël, en ek sal as getuie optree.”
“Charl, hel, hoe kan jy my probeer dwing?” Thomas se stem is rebels.
“Hoe? Jy weet mos daar is iets soos DNS-toetse. Ons kan bewys dat jy die pa is. Jou ouers sal ook nie wil hê jy moet jou kind weggooi nie. Moet my nie teleurstel nie, want dan sien jy my nooit weer nie.”
Hy hoor hoe Thomas aan die ander kant begin huil.
“Nou goed,” stem hy naderhand snuiwend in. “Maar op een voorwaarde.”
“Jy is nie in ’n posisie om voorwaardes te stel nie, Thomas, maar laat ek hoor.”
“Ek wil onmiddellik na die troue terugkom Londen toe.”
Charl oorweeg dit. Hy is besig om sy neef tot ’n ongelukkige huwelik te verdoem, en dit is erg.
“Goed,” stem hy in. “Maar ons sal jou vrou en kind in ’n ordentlike voorstad, in Durbanville, vestig. Sy gaan nie ’n Naudé in die patetiese omstandighede grootmaak waarin sy haar nou bevind nie. Haar ma is arm en versukkeld. Jy sal sorg dat sy en die kind nooit gebrek ly nie. Die verhouding tussen julle sal julle maar self moet uitwerk, maar jy moet net weet dat daardie vryheid wat jy opeis, teen ’n prys kom.”
“Dis reg so.”
“Ek kan jou nie hoor nie.”
“Dis reg, dan kom ek.”
“Goed, ek sal jou van die besonderhede in kennis stel. Die vlug, die tyd van die troue, ensovoorts. Celeste is naby haar tyd en sy lyk nie sterk nie.”
Toe hy aflui, voel hy dit so duidelik asof Thomas dit vir hom gesê het: hy wens Celeste sterf in kraam.
Nie sy of daardie kind sal sterf nie, dink Charl grimmig. Daarvoor sal hy sorg.
10
Brenda bestyg haar perd en ry voor. Kevin, Eben en Steve volg. Sy het gedink ’n dag uit op die perde en ’n piekniek is darem iets wat hulle saam kan doen, en dat dit sal verseker dat Kevin sy hande tuishou. Sy het net nie verwag dat Kevin en Steve heeltyd haaks sal wees nie. Hulle is nogal bars en ongeskik met mekaar, asof hulle om haar meeding. Sy word sommer moedeloos.
Eben ry tot langs haar. “Twee honde veg oor ’n been,” terg hy. “Maar waar is die derde een wat daarmee moet heen? Lyk my jy het my nodig om die vrede te bewaar.”
Sy gryns vir hom, maar sy is bly dat hy by is. Hy kan met sy grappies die meeste situasies ontlont.
Die derde hond wat die been kry? Hoe wens sy nie dit kon Charl Naudé gewees het nie. Sy hoor hy is aan die skei, maar almal praat en gis oor die vrou wat waarskynlik sy kind verwag, en hulle veronderstel dis die rede vir die egskeiding. Sy wil dit nie van hom glo nie, maar wat anders moet sy aflei? Maureen het dit dan self vir haar gesê.
Brenda sug onderlangs. Al is sy bitter teleurgesteld, is dit ’n feit dat sy nogtans, ten spyte van alles en teen haar beterwete, onherroeplik tot hom aangetrokke bly.
Wat sy vir hom voel, is niks anders as liefde nie. Dit moet sy aan haarself erken en dis baie pynlik. Sy het nie geweet verydelde liefde maak só seer nie. Sy kan nou verstaan dat haar ma so verbitterd geword het. Die ergste is dat sy moet voorgee om kalm en lighartig te wees, anders wil mense weet wat haar makeer.
Kevin ry tot langs haar en Eben val terug, want die paadjie is smal.
“Jy weet nie hoe ek jou gemis het nadat jy weg is nie,” sê hy plegtig.
Ag, nie al weer nie, dink sy moedeloos. Hy het dit nou al tien keer vir haar gesê, indien nie meer nie. En sy antwoord hom nie. Dit sit hom nie af nie. Maak verliefdheid hom dikvellig? Waar is sy trots? Sy slaan eerder dood neer voordat sy erken dat sy begin wonder of sy sonder Charl kan lewe. Al voel sy reeds asof sy van verlange kwyn soos ’n hond wie se baas hom weggegooi het.
Sy voel skuldig dat sy Kevin nou die seer moet aandoen wat sy self ervaar.
“Ek het gewonder of ek nie dalk by Tygerberg-hospitaal moet kom werk vir ’n jaar of so nie, as mediese beampte of besoekende dosent.”
Sy skrik só groot dat sy vlugtig na hom kyk en toe weg, sodat hy nie die afgryse in haar oë moet sien nie. Heelparty mense dink hy het kom kuier omdat daar iets ernstigs tussen hulle is.
Ongelukkig kan hy eenvoudig nie by Charl kers vashou nie.
Nie eens Eben weet van haar gevoel vir Charl nie. Niemand weet nie. Dis ’n geheim wat sy diep bewaar. Sy glo nie sy sal ooit sy gelyke raakloop nie. Dis net jammer dat hy by al sy wonderlike eienskappe ook verraderlik en ontrou kan wees.
Sy begin glo dat die meeste bogemiddeld aantreklike mans so is. Kyk nou maar vir haar pa. Die mans wat so onkreukbaar soos Rolf is, is dun gesaai op hierdie aarde. Dis beter om nie blindelings te vertrou nie, want dan kry jy nie so seer as die waarheid uitkom nie.
Eben het haar vertel dat Kevin ander meisies uitgeneem het nadat sy weg is, en sy gun hom dit met haar hele hart. Maar waarom bly hy haar verbete najaag?
“Wel, wat dink jy van die idee?” pols hy haar.
“Dis ’n vry wêreld,” reageer sy gemaak ongeërg. “Jy kan gaan waar jy wil. Dokters kom dwarsoor die wêreld reg, want hulle is nodig.”
“Ek sal naby jou wees. Dis tog waarom ek hierheen wil kom.”
Ja, gans te naby, dink sy half angstig. Die blote gedagte laat haar voel asof sy kan weghardloop.
Die hele dag lank het hy haar met leepoë aangekyk. Toe hulle piekniek gehou het, het hy hom langs haar kom neervly. Naderhand sy kop op haar skoot gesit en verliefderig na haar opgekyk. Steve se oë het geblits van ergernis en jaloesie.
Net Eben het soos ’n draai-orrel gesels en die grappe uitgeryg sodat hulle moes lag.
Nou is sy skoon uitgeput. Môre neem sy Kevin na Rolf-hulle, want hy brand kwansuis om haar familie te ontmoet. Sy dink met ’n rilling aan sý stywe familie en sy kil skoonsuster. Hulle ken werklik die koninklike familie en hulle spog tog so daarmee. Hulle was huisvriende met Fergie, prins Andrew se eksvrou, se oorlede pa. Hulle praat gereeld met prinses Anne.
Brenda dink aan hoe ongelukkig prinses Diana tussen daardie mense was, en sy weet dat sy ook so sal voel. Dit sal onmoontlik wees om Kevin se ouers te vermy, want die Wakefields is familievas en vreeslik trots op hulle herkoms. Vreeslike snobs. Vir hulle is sy ’n parvenu, ’n niemand uit Afrika. ’n Kolonialer.
Haar trots rebelleer daarteen om van meet af as iemand minderwaardig beskou te word net omdat sy nie as ’n lid van die Britse hoëlui gebore is nie. As hulle nog haar familiegeskiedenis ook moet ken – haar pa wat verdwyn het en haar ma wat ’n arm verpleegster was – sal hulle regtig teen hulle neuse afkyk na haar. Kevin ken nie eens die hele treurige verhaal nie. Miskien moet sy hom inlig en kyk of dit hom afsit.
“Ek het reeds met die dekaan van die Fakulteit Geneeskunde gaan praat,” lig Kevin haar in. “Hy was besonder tegemoetkomend.”
Brenda voel asof sy kan skree, maar sy knik net en kyk reguit voor haar. Sy voel soos ’n dier wat in ’n hoek vasgekeer word.
“Dis nou Kevin Wakefield,” stel Brenda hom aan Rolf en Lisa voor. “Kevin kon nie wag om julle te ontmoet nie. Kevin, dis my wonderlike broer Rolf en ewe wonderlike skoonsuster Lisa.”
“Aangename kennis, ons het al baie van jou gehoor,” sê Lisa, en Brenda frons vies vir haar. Dit moenie voorkom asof sy so beïndruk met hom was dat sy agteraf oor hom geswymel het nie.
“Dis gaaf van jou om al die pad te kom om te kuier,” merk Rolf droog op, want Brenda het agteraf by hom gekla.
“Ek moes net kom kyk hoe dit met Brenda gaan.”
Jy wou ook kom kyk watter soort familie ek het, dink sy.
Hulle gaan sit agter by die braaiplek in die laatwintersonnetjie en Rolf skink vir hulle wyn.