Dis tog waar wat sy gesê het? Hy kan mos nie verwag dat sy ware moederliefde vir sy kinders sal voel nie?
Hy praat so skielik weer dat sy amper skrik. “Kan jy naaldwerk doen en koeke bak?”
“Nie watwonders nie,” erken sy eerlik. “Basiese goed, soos ’n soom wat losgeskeur het, kan ek regmaak, maar ek weet waar om wonderlike koeke te bestel en uitsonderlike naaldwerkers op te spoor.”
“Google?” Dié keer kan sy hoor hy lag vir haar.
“Onder meer,” antwoord sy styf.
“Het jy al kinderpartytjies georganiseer?”
“Net een, en dit was ’n reusesukses. As mens kreatief is, is dit nie moeilik nie.”
“En dié is jy, as ek aan jou advertensie moet oordeel,” is sy droë kommentaar.
“Presies.”
“Hoe oud is jy?”
Hoekom sou hy dit wil weet? Sy kan seker ’n jaar of wat bylas of aftrek, maar dit sal net sinvol wees as sy weet hoe oud hy wil hê sy moet wees. “Ek is dertig. Amper een en dertig.”
Hoekom sy dit bygevoeg het, weet sy nie.
Die stilte rek weer aan sy kant. “Ongetroud?”
“Jy is nou baie persoonlik,” sê sy vinnig.
“Ek het nog nie eens begin nie, kan ek jou belowe. As jy intiem by vreemde mense se kinders betrokke wil raak, moet jy aanvaar dat elke enkele aspek van jou lewe onder die vergrootglas gaan kom.”
“Gats! Ek het nie só daaraan gedink nie.” Sy het nie, maar sy kan insien dat hy reg is. “Nee, ek is onverbonde.” Die woorde lê suur in haar mond.
“Jou advertensie is baie oorspronklik, maar dit het definitief tekortkominge. Ek kry die indruk dat jy die ding nie goed deurdink het nie.”
“Natuurlik het ek. Ten minste … ja, ek het seker nie aan al die implikasies gedink nie. As mens reeds na kinders omsien en jy is eerbaar en opreg, dink jy nie aan sulke goed nie.”
“Is jy dan tans in so ’n um … posisie aangestel?”
Dis nou ’n moeilike een. Hoe moet sy dié vraag beantwoord? “Ek is tans die oppasser van tweelingseuntjies, maar die ure geval my nie. Dis waarom ek na ander opsies kyk.” Sy voel nogal danig trots op haar antwoord. Dis die basiese feite sonder om te veel van haar lewe te verklap.
“Sal jou huidige werkgewer vir my ’n getuigskrif kan e-pos?”
“Nee! Ek bedoel …” antwoord Danielle stamelend. Sy kan haar goed voorstel wat Magdeleen sal sê as sy haar vir só iets moet vra.
“Dis redelik gebruiklik om verwysings te vra wanneer iemand aansoek doen vir werk,” kom die diep stem droogweg oor die selfoon. “En, om wéér die belangrike aspek onder jou aandag te bring: jy sal vind dat mense nogal gesteld is op sulke formaliteite wanneer dit by hulle kinders kom.”
Sy haal diep asem. “Kyk, ek bly saam met my suster, haar man en twee kinders. Tans is ek die onbetaalde kinderoppasser, want my suster is die redakteur van ’n modetydskrif en sy het nie tyd om aan die kinders te spandeer nie. Ek sukkel om … om my eie werk te doen en daarom het ek besluit dat ek ’n verandering moet maak. Sy weet nie dat ek wil trek nie, en as ek haar vir ’n getuigskrif vra, gaan sy dit nie gee nie omdat sy nie my gratis hulp sal wil verloor nie.” Dáár. Nou weet meneer Meyer Senekal met die imponerende diep stem presies waar hy met haar staan.
“Ek sien.” Meyer is momenteel stil. “Praat ons van Magdeleen Krause?”
“Oeps.” Danielle het nie gedink die man sal sommer weet van wie sy praat nie. Mans lees mos nie modetydskrifte nie, altans nie die mans wat sy ken nie. “Ja. Ek moes dit nie uitgelap het nie en ek hoop van harte dat jy nie daaroor sal praat nie?”
“Nee, dit het niks met my te doen nie. Ek is net verbaas om te hoor sy het kinders. Ek het nie eens besef sy’s getroud nie.”
“Sy is ’n ruk gelede met Dawid Aucamp getroud en hy het twee seuntjies – ’n tweeling – waaroor hy volle toesig het.” Dit is seker nie raadsaam om suinig met inligting te wees nie. Hy weet nou van Magdeleen en alles oor die troue is op die internet. “Ek is verbaas dat jy nie die berigte daaroor gesien het nie. Foto’s van die troue was in al die koerante.”
“Ek was moontlik in die buiteland toe dié heuglike gebeurtenis plaasgevind het, en sosiale nuus interesseer my nie juis nie.”
Dit klink bietjie soos ’n afjak. Danielle kan aan niks verder dink om te sê nie.
“Ek sal bietjie hieroor moet dink. Voordat ek enige besluit neem, sal ek jou natuurlik wil ontmoet.”
“Moenie te lank wag nie. Dalk word ek deur die volgende persoon opgeraap,” antwoord Danielle liggies.
“Ek sal dit in gedagte hou,” antwoord hy ernstig.
Lank nadat hy die selfoon doodgedruk het, sit Meyer nog op dieselfde plek en dink. Hy sou die konneksie nie gemaak het as hy Magdeleen Krause nie al ontmoet het nie. Soms praat Nicolaas hom om om saam te gaan na skemerpartytjies toe, en dis by een van dié geleenthede waar hy aan haar voorgestel is. Hy onthou nou dat sy die klassieke skoonheid van ’n Grace Kelly het en uiters suksesvol as redakteur van Mode Vandag is. Ook dat hy geen aanklank by haar kon vind nie. Nicolaas het hom vertel dat sy nie onderskat moet word nie en dat sy die leer na sukses geklim en baie ander mededingers en werknemers die loef afgesteek het. Hy was beïndruk deur haar pragtige, gesofistikeerde voorkoms en haar modieuse uitrusting, maar het dadelik besef dat sy hard en yskoud is. ’n Vrou sonder ’n sagte kern. Latere ontmoetings het nie sy eerste indrukke verander nie.
Dit is beslis nie onmoontlik dat Danielle se storie waar is nie. Maar as dit inderdaad Danielle Krause is wat hy oor die pad sien loop het, is daar nie baie fisieke ooreenkomste tussen die twee susters nie. Afgesien miskien daarvan dat hulle albei baie grasieus beweeg.
Sou hulle egter susters wees, is sy moontlik op dieselfde patroon geknip as haar suster, is sy net so behep met haarself en om ’n suksesvolle loopbaan uit te kerf.
Hy skud sy kop ergerlik. Hy het nagelaat om Danielle uit te vra oor haar loopbaan. Sy wil soggens vry wees, maar sy het nie genoem waarvoor nie. Watter loopbaan kan sy net soggens volg? Dit maak nie vir hom sin nie.
En om twee seuntjies op te pas, sou tog ook haar oggende vry gelaat het?
Die storie klop nie. Vertel sy onwaarhede of weerhou sy belangrike inligting oor haarself?
3
“Ek het ’n vis wat knibbel aan die hoek,” rapporteer Danielle aan Jesse.
“Sowaar?” Jesse is opreg verstom. “Iemand wat op jou advertensie gereageer het?”
“Ja. Hy wil my ontmoet voordat hy besluit,” vertel sy met ’n koppie stomende koffie in haar hand.
“Dit klink belowend. En in watter van al daai beautiful huise bly hy toe?”
“Weet jy, ek het nie ’n idee nie. Toe hy bel, het ons oor ander goed gepraat. Dit sou ongeskik geklink het om dit sommer trompop te vra. Maar ek kon hom seker sy adres gevra het,” voeg Danielle verleë by. Dit was die laaste ding waaraan sy gedink het.
“En hoeveel kinders het hy?”
“Ek … ek het nie gevra nie. Hý het mý eintlik tot in my onderklere uitgevra. Daar was nie juis kans om hóm iets te vra nie,” probeer sy verduidelik.
“Tot in jou onderklere?” Jesse lag uit haar maag uit. “Dit klink belowend.”
“Moenie idees kry nie,” waarsku Danielle vinnig.
“Hmm. Ek dink nou net: hoekom het die man gebel en nie sy vrou nie? Dis tog seker sý wat ’n substituut wil hê sodat sy kan, wel, wie weet wat? Brug speel? Tennis speel? Met haar minnaar kafoefel?”
“Ek