jy Danielle Krause?”
Sy was so diep in gedagte versonke dat sy wip van die skrik toe die ryk, diep stem langs haar praat.
“Dis ek.”
Die man wat haar hand skud en daarna die stoel oorkant haar uittrek en gaan sit, toon nie baie ooreenkomste met die fantasie wat Danielle oomblikke tevore gehad het nie. Eerstens is hy baie jonger as wat sy gedink het. Hy het die sterk lenige lyf van ’n jong man en ’n dik bos donker hare waarin daar nie ’n enkele grys haar sigbaar is nie. Sy vierkantige kaak wys dat hy nie nonsens vat of hom laat voorskryf nie, en sy priemende oë lyk asof hulle dwarsdeur haar kyk. In daardie één opsig was sy reg. Dié man beheer sy lewe met ’n ysterhand. Dis net die duikie in sy ken wat sy gesig enigsins versag. Effens.
“So, Danielle, is jy oorval deur oproepe? Staan die mense tou om jou dienste te bekom?”
Sy kan nie agterkom of hy spot en of hy net belangstel nie, maar sy oë ondersoek haar gesig asof hy wil seker maak dat sy wel Danielle Krause is.
Daar was vier oproepe benewens die een van Meyer Senekal. Een, kon sy hoor, was ’n opregte navraag, want dit was ’n vrou wat die oproep gemaak het en sy het die regte vrae gevra. Toe sy egter agterkom dat Danielle dertig is, was sy dadelik nie meer entoesiasties nie. Die vorige au pair het glo net ses maande gebly en is toe weg om te trou. Twee ander oproepe was van mans wat wou weet waar sy bly en wanneer hulle kan kom kyk hoe sy lyk. Syf wat haar lyf soek, bel so gereeld in sy dronkmanstem dat sy die nommer herken en eenvoudig nie antwoord nie. Ongelukkig laat hy gereeld ’n smerige boodskap. Dié inligting gaan sy egter nie vir Meyer Senekal gee nie.
“’n Paar,” sê sy ontwykend en kyk af om sy oë te vermy.
“Enigiets wat jy oorweeg?”
“Nie regtig nie,” antwoord sy eerlik. “Maar jy … sou dit nie beter gewees het as jou vrou die onderhoud met my gevoer het nie? Sy ken die kinders se behoeftes tog seker beter?”
’n Spier in sy wang spring. “Kan ek vir ons koffie bestel voordat ons praat? Of verkies jy tee?”
“Koffie, dankie.” Sy is effens verbaas dat hy nie net bestel het sonder om haar te vra nie.
Nadat hy die koffie bestel het, sit hy terug in sy stoel en kyk takserend na haar. “Daar is nie ’n vrou wat die onderhoud met jou kan voer en ook nie kindérs nie. Ek het een dogtertjie wat sewe jaar oud is. Sy is in graad een. Ek het tot die besef gekom dat daar sekere ingeboude tekortkominge in my … um, kom ons sê maar, persoonlikheid is. Ek beskik glad nie oor die vaardighede wat uniek aan vroue is nie, en dis wat sy nodig het.”
Danielle kyk woordeloos na hom. Dít het sy nie verwag nie. “Is jy en jou vrou geskei?” vra sy pront.
“Sy’s dood.”
Dit het sy óók nie verwag nie. Hy kyk vir die eerste keer weg, en sy verstaan dat dit ’n onderwerp is wat nie oop is vir bespreking nie.
“Ek’s jammer,” sê sy sag. “Die ma van die twee seuntjies na wie ek omsien, is van hulle pa geskei en landuit. Hulle sien haar dus nooit nie. Dis swaar vir ’n kind om een ouer te verloor.”
“Watter soort ma doen so iets? Die wet sal altyd toesig aan haar toestaan, tensy sy regtig nie belangstel nie.” Sy frons laat haar in geen twyfel oor sy gevoelens nie.
“Sy wou die kinders landuit vat, en haar eksman, wat nou my swaer is, het dit reggekry om ’n stokkie daarvoor te steek.”
“En toe bly sy nie in die land ter wille van haar kinders nie?”
“Nee. Sy het glo nie twee keer gedink toe daar ’n keuse tussen haar minnaar en haar kinders kom nie. Dit moes Dawid seker baie ontstel het.”
“Dawid?”
“My swaer. Dawid Aucamp. Professor Dawid Aucamp.”
“Ek sien,” sê hy met ’n effense glimlag. “En toe trou hy met jou suster wat ook nie die moederlike tipe is nie. Snaaks hoedat sommige mense keer op keer dieselfde foute maak.”
“Ja, daaroor kan ek nie met jou stry nie. Magdeleen leef net vir haar loopbaan. Tog dink ek sy sou alles feil gehad het vir haar eie kinders. Ás sy gehad het.” Sy dink ’n oomblik na. “Maar jy praat asof jy my suster ken?”
“Nee, ek ken haar nie, ons is net sakekennisse. Ek sien haar van tyd tot tyd by sosiale geleenthede. Maar volgens wat jy my vertel het, het ek haar reg opgesom.”
“O!” Sy sit haar koffiekoppie versigtig neer. Hy hét Magdeleen reg opgesom. Sou hy besig wees om háár ook op te som terwyl hulle oor ditjies en datjies gesels? Daardie oë van hom lyk asof hulle dwarsdeur haar kyk. Tot watter gevolgtrekking het hy gekom? Of besluit hy nog?
Sy het self nie die vermoë om mense dadelik op te som nie, maar sy hoef nie ’n profeet of sielkundige te wees om die eienskappe van die man voor haar te herken nie. Hy is die tipe wat nie foute maak in sy besluitneming nie, want hy oorweeg al die feite noukeurig. Daarom is daar geen kans dat hy ’n au pair sommer so oor ’n koppie koffie sal aanstel nie.
Dis dalk beter as sy die werk nie kry nie. Hy is die tipe man waarop sy sou kon verlief raak. Sy hou van ’n man wat weet wat hy wil hê. ’n Sterk man. En mooi was nog nooit lelik nie. Van sy netjies geknipte bos donker hare tot by die punte van sy elegante Italiaanse skoene, is hy die essensie van manlikheid. En die duikie in sy ken …
“En jy? Pla dit jou nie om hierdie kinders wat nie ’n ma het nie, ook in die steek te laat nie?”
“Nee.” Sy kyk hom reguit in die oë. “Die kinders is nie wesies nie. Hulle bly in ’n liefdevolle huis saam met hulle pa en ’n stiefma. Dis natuurlik nie hulle skuld dat die situasie so ontwikkel het dat dit vir my onaanvaarbaar geword het nie. Ek het ook die afgelope maande lief geword vir hulle, maar ek is enkellopend en dis net ek en ek alleen wat na my belange kan omsien. My suster en swaer neem eenvoudig aan dat ek vanselfsprekend nie omgee om my lewe aan die tweeling te wy nie. Dit pla hulle hoegenaamd nie om my soos ’n huurling te behandel wat niks beter het om te doen nie. Veral pla dit hulle nie dat ek nie tyd kry om my eie ding te doen nie. Selfs al het ek dit keer op keer vir hulle gesê.” Sy haal haar skouers op. “Daarom pla hierdie keuse my glad nie.”
“Wat dink jy gaan hulle doen? Sal hulle jou miskien kan ompraat om te bly?”
“Al wat sal gebeur, is dat hulle ook ’n au pair sal aanstel, haar vir haar dienste sal betaal en ’n ooreenkoms met haar oor haar werkure sal moet aangaan. In ’n kontraktuele situasie sal hulle vir seker anders optree en respek vir die au pair moet toon, die ure wat sy werk en die tye wat sy vry is.”
“Jy het nog nie gesê wat die eie ding is waarvoor jy tyd nodig het nie?”
Danielle sluk vervaard aan die warm koffie. Sy moes die vraag verwag het, want vanselfsprekend sal hy wil weet waarmee sy haar besig hou. Dis net dat sy nie daarvan hou om uit te lap dat sy ’n boek probeer skryf nie. Sy sou dit graag stil wou hou totdat sy die storie ten minste eers een maal neergeskryf het en die karakters goed ken.
Sy wil nie so voortydig vrae beantwoord oor die tema en die genre nie. Sy wíl eenvoudig nie. Daarom weet net haar familie en Jesse daarvan, en hulle is reeds drie te veel.
“Ek studeer,” glip die noodleuentjie uit.
“Waarvoor?” vra hy met opregte belangstelling.
Danielle sluk weer aan die koffie. Sy is in ’n hoek, want sy het geen idee wat om te antwoord nie en sy voel hoe ’n warm blos in haar nek op kruip. “Oukei,” sê sy ongemaklik. “Jy het my vasgetrek. Ek studeer nie; ek probeer ’n boek skryf. ’n Speurverhaal. En ek hou nie daarvan om daaroor te praat nie, want ek het nog nooit iets gepubliseer nie en weet nie eens of ek hoegenaamd daarin gaan slaag om dit uitgegee te kry nie.” Sy sal liewer nie noem dat daar ook ’n romanse in die boek aan die ontwikkel is nie, want sy is baie seker iemand soos Meyer Senekal sal dit nie verstaan of goedkeur nie.
Die skerp oë oorkant haar versag effens, en sy mondhoeke lig ’n bietjie. “Ons