en sy huishouding uit te vind. Dis nie asof ek klaar die joppie gekry het nie.”
“Nee, maar miskien moet ek saamgaan wanneer jy hom ontmoet. Dalk is hy ’n opperste skelm en ontvoer hy jou helder oordag. Mens kan deesdae nie versigtig genoeg wees nie!”
“Oukei. Wanneer, of liewer ás hy weer bel en ’n afspraak maak, sal ek jou laat weet.”
Met Jesse stry ’n mens nie as sy eers iets in haar kop gekry het nie.
Meyer dink die volgende paar dae oor Danielle se advertensie. Tot sy argwaan wonder hy egter meer oor die vrou as oor haar bekwaamheid. En of dit die vrou in die straat was. Op die selfoon was haar stem heserig, amper ’n Laurika Rauch-stem, wat sal pas by warm goudblonde hare.
Etlike kere kyk hy na sy selfoon en die nommer wat in die geheue gebêre is, maar onderdruk die begeerte om Danielle te bel. As hy ’n au pair aanstel, sal dit ’n belangrike verandering in hulle lewe beteken. Dit is dus nie iets waaroor hy ligtelik kan besluit nie. Wat hy behoort te doen is om op die internet te soek na ’n agentskap wat opgeleide kinderversorgers adverteer. En dan ’n ouer dame met grys hare aan te stel om Nina se behoeftes te hanteer. Om die dertigjarige Danielle Krause weer te bel sou wees om sy nuuskierigheid te bevredig.
Hy sug en staan op. Wanneer hy saans by die huis is, verwag die kok en die huishoudster dat hy saam met sy dogter sal aandete eet. Dis ’n ligte ete, maar die ritueel is vir die dogtertjie belangrik, want dis soos dit in haar ma se tyd gedoen is. Vir hom is dit amper ’n marteling, want die ritueel herinner hom te veel aan sy verlies.
Elke aand volg hulle dieselfde patroon. Hulle skep vir hulleself sop of slaai in en dan gaan hulle by die tafel sit.
“Het jy ’n lekker dag gehad?” vra hy altyd.
“Ja, Pappa,” antwoord sy gewoonlik.
“Wat het jy vandag in die skool geleer?” vra hy daarna asof dit baie belangrik is.
Vanaand verras Nina hom egter. Na die twee gebruiklike vrae en antwoorde, het sy nog ’n vraag.
“Pappa? Het my mamma geleer dans?”
“Geleer om saam met my te dans, bedoel jy?” vra hy en sien pynlik voor sy oë hoe hy en Estelle op hulle troudag die dansbaan open.
“Nee. Ballet gedans. Toe sy nog klein was, soos ek.”
“O!” hy dink ’n bietjie na. “Ek weet nie.” Selfs die bekentenis dat hy nie alles van Estelle geweet het nie, maak seer.
“Ek wil balletleste toe gaan.”
Hy dink onmiddellik aan haar beserings en die breuk in haar arm wat met terapie tog mettertyd genees het. Gelukkig dat dit nie haar bene was nie. Balletoefeninge kan seker nie skadelik wees nie? En in alle waarskynlikheid sal sy een of twee keer gaan en dan sal haar belangstelling kwyn.
“Dis nie leste nie, maar lesse, en jy kan as jy wil,” antwoord hy. Innerlik sug hy. Nog een van daardie onbegryplike behoeftes waarvan hy geen kennis dra nie.
“Al die ander maatjies in my klas neem ballet. Mart-Marie sê dis net ek wat nie ballet neem nie. En dis baie lekker. Mens kry spesiale sagte, swart balletskoene en pienk kouse en wanneer dit konsert is, kry jy pienk skoene en ’n mooi rokkie wat wýd uitstaan.”
“Dit moet mooi wees,” sê hy stug. Dit word by die oomblik meer gekompliseerd. En wie gaan dié klere en skoene koop of maak?
“En as ek verjaar, wil ek ’n koek hê wat soos pienk balletskoene lyk. Die sewe kersies moet langsaan staan, nie op die koek nie, want anders sal dit snaaks lyk.”
Die kind het ’n aktiewe verbeelding, en dis vir hom verstommend dat sy al so ver soos haar verjaardagpartytjie gedink het. Dis seker nie onmoontlik om op die internet in te gaan en uit te vind waar so ’n koek bestel kan word nie, maar nadat hy die koek bestel het, is daar nog ’n spul ander goed wat sal moet gebeur. Iemand sal die partytjie moet bestuur en reël. Iemand sal die ma’s van die ander dogtertjies ook moet tee en koek gee. Hy het darem nou al vir Nina na genoeg van dié partytjies geneem om te weet wat dit behels.
“Nina,” sê hy op die ingewing van die oomblik, “ek het gewonder of ons nie ’n tannie moet kry om by ons te kom bly wat jou skool toe kan vat en met jou huiswerk kan help en sulke goed nie? Jy weet, iemand wat vir jou ook ’n lekker verjaardagpartytjie kan gee … en wat jou ballet toe kan vat.” Die laaste paar woorde is suiwer inspirasie.
Die kind lig haar kop en vestig haar blik op hom sodat sy hom in die oë kyk. “Gaan sy vir altyd en altyd bly en in Pappa se bed slaap?”
“Nee.” Hy is totaal geskok oor die antwoord. “Hoekom vra jy so iets?”
“Mart-Marie sê Pappa gaan weer trou en dan gaan die ander tannie in Pappa se kamer bly en in Pappa se bed slaap. Sy sê haar mamma sê … sy weet van tannies wat hulle tande slyp …”
“Mart-Marie is ’n snip,” sê hy kwaai. “Ek gaan nie trou nie. Nooit weer nie.”
“Hoe slyp mens jou tande, Pappa?” kom die volgende vraag.
“Mens kan nie. Dis wat ek vir jou probeer sê. Jou maatjie praat oor goed waarvan sy niks weet nie.”
Die dogtertjie kyk af op haar skoot. “Is Pappa nou kwaad?”
“Nee.” Hy sug saggies. “Ek hou net nie daarvan dat jou maatjie se mamma oor my praat nie. Die tannie waarvan ek praat, sal ’n oppasser wees. Au pair, is die deftige naam daarvoor. Dis iemand wat na jou kan omsien.”
“Sy moet net nie oud wees nie,” verras Nina hom weer.
Meyer byt op sy onderlip. Hierop het hy nie gereken nie. “’n Ouer tannie sal amper soos ’n ouma wees,” probeer hy.
“Oumas word gou moeg wanneer hulle saam met jou in die winkels loop. As haar ouma saamgaan winkel toe, sê Nelda, loop sy net ’n klein entjie en dan wil sy eers rus of gaan piepie.”
“Lyk vir my asof jy die handboek oor oumas en au pairs kan skryf,” sê Meyer met ’n stywe glimlag. “Ons sal maar moet kyk wat ons kan kry, nè? Maar nou’s dit slaaptyd.”
In sy studeerkamer sit hy eers lank en trommel met sy vingers op sy lessenaar se blad. Hy kan nie onthou wanneer hy en Nina laas so ’n lang gesprek gevoer het nie. Al wat hy nou sterker as tevore besef, is dat daar báie en góéie redes is waarom hy ’n vrou moet aanstel om Nina se behoeftes te hanteer.
Daar is baie en net sulke goeie redes waarom hy nie die onbekende, ongekwalifiseerde en redelik onervare Danielle Krause moet aanstel nie. Maar dan is daar sy instink.
Sy sukses in die lewe het hy grotendeels te danke aan instink: hy weet wanneer iets gaan werk en wie hy kan vertrou. Daardie selfde instink, en sy dogtertjie se woorde, erken hy halfhartig aan homself, laat hom nou besluit om die vrou met die heserige stem tog wel te bel en ’n kennismaking te reël. Hy sal kan sien of dit die blonde vrou is en as hy nie hou van wat sy sê of doen nie, is daar tog geen skade gedoen nie?
Doelgerig en met ’n vaste hand druk hy dan die knoppies op sy selfoon om ’n afspraak te reël.
Danielle is senuweeagtig terwyl sy die volgende middag in die koffiewinkel sit en wag vir Meyer Senekal. Sy voel sommer vies vir haarself daaroor; soos sy vies vir haarself was nadat sy aangebied het om haar groen baadjie te dra sodat hy haar kan eien. Sy weet die groen baadjie pas haar goed: die kleur is dieselfde groen as haar oë en die snit beklemtoon haar kurwes. Waarom sy juis ’n voornemende werkgewer met dié besondere fisieke bates wou beïndruk, weet sy nie. En daarom is sy vir haarself kwaad.
Sy wonder of sy vrou gaan saamkom. En hoe hulle lyk? Met die vrou het sy nog nie gepraat nie, maar aan sy stem sou sy raai dat hy ’n ouer man is, waarskynlik middeljarig, spikkelgrys hare, skatryk en gewoond om die kitaar te slaan. Dalk oorgewig? Baie geld koop mos ’n lekker lewe, en ryk is hy beslis, anders sou hy nie die groot huis en sprokiestuin kon bekostig nie. Hy slaan nie net die kitaar nie, hy koop dit ook. Hy is waarskynlik ’n beheervraat. Sy vrou was seker eers sy sekretaresse en gewoond