>
Tango met ’n chirurg
Rykie Roux
Hartklop
1
Ek is laat, ai tog, ek is laat, dink Salome paniekerig toe sy met die gang afhardloop na die Departement Interne Geneeskunde, waar sy met haar ses weke lange blok moet begin. Sy het gisteraand vir oulaas vir ’n tangoles gegaan. Haar dansonderwyser kon haar na tienuur inpas. Sy het laatnag eers by die huis gekom en het toe vanoggend gaan staan en verslaap. As die akademiese jaar só begin!
Sy sien hoe ’n groep studente om die hoek verdwyn. Salome versnel haar pas. Sy moet hulle inhaal. Byna hardloop sy trompop in ’n vrou met ’n wit jas vas, wat onverwags voor haar verskyn. Dis professor Barbara Maartens, die departementshoof by Interne Geneeskunde, wyd en syd bekend as ’n briljante internis.
“Jammer, prof. Het die studente al met hul saalronde begin?” vra sy effens uitasem.
“Goeiemôre, juffrou Verster,” sê die ouer vrou bedaard. Soos gewoonlik kan Salome haar verkyk aan professor Maartens met haar sjiek kort, rooibruin hare, haar opvallende hoë wangbene en vleklose, soel vel. Sy is nie meer jonk nie, Salome skat haar beslis goed op pad sestig toe, maar sy is regtig mooi. Sy moet beeldskoon gewees het toe sy jonger was.
Salome bewonder Barbara nie net oor haar skoonheid nie, maar ook omdat sy dit regkry om soveel gesag af te dwing sonder om ’n aks van haar vroulikheid prys te gee. In baie opsigte is sy vir Salome ’n rolmodel van hoe ’n professionele vrouedokter behoort te wees.
“Wat maak jy hier?” vra Barbara en glimlag sodat die klein kreukels om haar oë frommel.
“Ek begin mos vandag met my blok in Intern,” verduidelik Salome haastig. “Ongelukkig is ek ’n bietjie laat!”
Die professor kyk haar verras aan.
“Het jy nie die boodskap gekry nie, juffrou Verster?” vra sy.
“Watter boodskap?” wil Salome weet.
“Tot my spyt doen my sterstudent in Interne Geneeskunde eers later vanjaar haar Interne-blok.”
Salome voel hoe haar wange effens rooi word oor die kompliment. Sy was verlede jaar die topstudent in Interne Geneeskunde.
“Ons moes die rooster verander. Jy is by ’n firma by Chirurgie ingedeel. Jy moet vanoggend daar inval,” gaan die professor voort.
’n Paar oomblikke lank sukkel Salome om na die ses weke lange vakansie weer hospitaaltaal te verstaan. ’n Firma? Wat is dit nou weer? O ja, dis hoe die groep voorgraadse studente wat saamwerk, bekend staan. En, onthou sy ook, die hoof van so ’n firma is die kliniese assistent, ’n dokter wat reeds gekwalifiseer is en wat amper klaar gespesialiseer het.
Chirurgie, tref dit haar dan, is nie iets waarin sy uitblink nie. Boonop is die Chirurgie-departement myle hiervandaan en sy is reeds laat.
“Jy beter jou litte roer,” raai professor Maartens haar gedagtes. ’n Skamper glimlag flits om die vrouedokter se mond en haar bruin oë blink. “Jy weet hoe beduiweld kan snydokters wees!”
“Ja, prof. ’Skuus, prof,” roep Salome so in die hardloop oor haar skouer.
In die gang by die Chirurgie-departement staan ’n lang man met ’n wit jas aan met ’n klompie studente en gesels. Hy kyk op toe sy aankom. Sy sien hoe sy blik op haar heupe rus. Haar loslitstappie is die een kruis in Salome se lewe. Haar “aktri-zzz-e-stappie” – so terg haar ouma altyd – het sy glo by haar ouma én haar ma geërf. Vandat Salome baie jonk was, probeer sy al om nié haar heupe te swaai as sy loop nie. Sy het vroeg genoeg geleer in die beroepswêreld neem mans ’n vrou wat enigsins verleidelik optree, nie ernstig op nie. As sy onthou, sorg sy dat sy so geslagsneutraal soos ’n soldaat loop. Meestal kry sy dit reg. Dis net wanneer sy haastig is, soos nou, dat sy haar heupe soos ’n wafferse Hollywood-ster laat wieg. Onmiddellik stap sy stadiger en meer gekontroleerd.
Toe sy by die lang man kom, kyk sy op in sy oë. Sy kykers is die ondeursigtige blougroen van die see op ’n helder dag. Om sy pupille is daar wit strale, soos die skuim van branders wat om die donker eilande in die middel van die blougroen see breek. Verwonderd sien sy hoe groot die swart pupil-eilande in sy oë rek. Hulle staar mekaar aan. Of dit vir een sekonde is of dalk vir ’n honderd jaar, weet Salome nie, want die tyd het gaan staan.
’n Gewaarwording van herkenning spoel oor haar, byna asof sy so pas iemand raakgeloop het na wie sy haar hele lewe lank al soek. Niks en niemand anders op die ganse aardbol is meer vir haar van enige belang nie. Dan skud die man sy kop en frons, asof hy ’n paljas probeer afskud. Hy kyk weg en die magiese moment tussen hulle bars soos ’n seepbel. Met ’n skok onthou Salome waar sy haar bevind.
Wie op aarde is hy? Moet asseblief net nie dat hy die kliniese assistent wees onder wie sy haar Chirurgie-opleiding moet doen nie, smeek haar verstand. Sy sal nooit op haar werk kan konsentreer as daardie akwamaryn oë haar heeltyd dophou nie. Laat hy asseblief die kliniese assistent wees wat haar oplei, soebat haar hart. O, sy wil nooit weer ophou om in daardie oë te kyk nie!
“Kan ek help?” vra hy saaklik en sy stem is diep. Hy hou sy kop selfversekerd omhoog, sy skouers fier na agter getrek. Dis duidelik dat hy verbete veg om beheer oor homself te verkry. Toe sy mooi kyk, sien sy hoe ’n aartjie in sy nek nog verklikkend pols.
Sy sluk effens. “Verskoon my, maar ek is ’n sesdejaar. Ek dink ek moet vandag met my blok in Chirurgie begin,” sê sy uitasem.
“Goeiemôre,” sê hy spottend en die blou oë is so koel soos die oggendsee. “Die verdwaalde skaap het dus opgedaag. Jy moet dan juffrou Verster wees.” Toe sy knik, gaan hy voort. “My naam is Bart de Lange en ek is die kliniese assistent van jou firma in Algemene Chirurgie.”
O nee, sug haar brein, hoe gaan sy dit regkry om ses weke lank sy aan sy met hierdie manjifieke mansmens te werk en nie kop te verloor nie? O ja, swymel haar hart. O ja …
Salome kyk weg en vee haar handpalms teen haar wit baadjie af. Hulle voel meteens klam. Moet sy juis nou opmerk hoe soenbaar daardie bogie op sy bolip is? Sy blaas haar asem saggies uit. Bart de Lange, proe-proe sy sy naam saggies in haar verbeelding.
Hierdie Bart is die eerste man wat dit regkry om daardie iets waarteen sy nog altyd gestry het in haar wakker te maak. Deur net vir haar te kyk, verander hy haar van ’n koel, slim mediese student in ’n sensuele vrou. Sy skrik amper toe sy besef dat sy graag voortdurend haar heupe vir hom sal wil wikkel en net so graag sal wil sien hoe sy oë weer so wyd rek soos netnou.
“Jy is laat, juffrou Verster,” sê hy streng en Salome kyk hom reguit in die oë.
Hul blik meet mekaar ’n paar sekondes. Gaan jy heeltyd op my pik net omdat jy weet ek het gesien hoe jy na my heupe kyk? wonder Salome en haar blik bly uitdagend. As dit nodig is, ja, antwoord hy net so woordeloos en net so uitdagend.
“Sy het seker gisteraand tot te laat getango,” mompel een van die ander studente onderlangs.
Salome kyk op en ontmoet die student se blik. Tiaan Fouche. Haar oë rek. Tiaan is verreweg die slimste student in hul klas. Hy is ook die grootste bleeksiel. Sy het nie gedink hy weet eens wat ’n tango is nie. Hoe het hy uitgevind dat sy tango? wonder sy fronsend.
Haar dansery het sy nog altyd versigtig vir haar medestudente weggesteek, bang vir die reperkussies wat die feit dat sy tango veral by die mans kan hê.
“Dis ’n goeie idee om te tango, Lomie. Dié dans is ’n goeie en gesonde uitlaatklep vir al die wilde drange wat ons Verster-vrouens teister. Dis net op die dansvloer dat jy soos ’n wulpse nimf mag dartel,” het haar ouma vir haar gepreek toe sy sestien geword het. “Laat die mansmense maar liewer glo dat jy ’n afsydige alleenloper is wat hulle almal koeltjies op ’n afstand hou.”
Bart het skynbaar gehoor wat Tiaan sê, want hy lig sy wenkbroue vir Salome en vra verras: “Getango?”
Salome se hart klop vinniger toe hul blik weer ontmoet. Bart is nie ’n mooi man in die gewone sin van die woord nie, nie soos wat Tiaan Fouche mooi is met sy donkerbruin oë en meisieagtige lang, swart wimpers nie, dink sy. Dit lyk of