die teatersuster,” gaan sy amper afgetrokke voort, skynbaar onbewus daarvan dat Salome en die suster al klaar “kennis gemaak” het.
“Aangename kennis, dokter, ek is Salome Verster, ’n sesdejaar.”
Dokter Van der Linde knik net, maar die teatersuster sê effens kortaf: “Daai is oorskoene. Hier is die teatermusse,” en gooi ’n groen mus, wat Salome aan ’n stortpet herinner en van heelwat ligter materiaal as die oorskoene vervaardig is, na haar kant toe.
Salome is lus om stilletjies in ’n donker hoekie te gaan wegkruip, maar sy sorg dat sy niks van haar gevoelens laat blyk toe sy haar hare vinnig onder die mus indruk nie. Ina is op pad deur toe en Romi is ook al amper klaar.
“Waar sit ’n mens jou klere, dokter?” vra Salome vir Romi en hoor tot haar verleentheid hoe haar stem soos ’n tollende buiteband wiebel-wiebel net voor hy omkantel. Sy ken haarself nie so oorhoeks nie.
“Daar is ’n leë sluitkas, daar,” sê Romi, terwyl sy ’n trouring van haar vinger aftrek, dit in ’n juweledosie sit en in haar sluitkassie bêre. Sy kyk ’n bietjie verstrooid na Salome se kaal kuite. “Maar hy het nie ’n sleutel nie.”
Salome prop haar langbroek, bloesie en oorjas haastig in die kas, druk die deurtjie toe en wil uitstap toe dit haar skielik tref waarom Romi na haar bene gekyk het. Dis omdat sy nog nie ’n groen teaterlangbroek aanhet nie. Sy voel hoe haar wange warm word van skaamte, maar gelukkig lui Romi se selfoon op daardie oomblik.
“Haai,” sê Romi en daar kruip ’n liefderike toon in haar stem. “Ek gaan nou in om ’n noodoperasie te doen.” Sy vat weer aan haar maag. “Vanaand? Hmm, dit sal lekker wees. Sien jou.”
Terwyl sy met haar oproep besig is, spoor Salome die teaterbroeke op en trek een aan. Sou dit Romi se man gewees het? wonder sy. Daar was soveel innigheid in Romi se stem. Sy sug, effens afgunstig. Wat gaan vandag met haar aan? Tot dusver het sy nog nie ’n man in haar lewe gemis nie. Muisneste sal net haar aandag van haar werk aftrek, sê sy altyd vir haarself. Sy glip oorskoene oor haar skoene aan en stap deur toe.
Het jy onthou om jou hande te was? vermaan ’n streng kennisgewing op die deur haar met groot, rooi letters. Salome is seker dat as die kennisgewing sou kon praat, hy dit met die rooikopsuster se stem sou doen.
Sy storm terug na die wasbak toe. Sy sien die seephouer, maar verbouereerd sukkel sy om uit te werk presies hoe om die vloeiseep op haar hande gespuit te kry. Uiteindelik spoor sy die hefboom onder die houer op, maar pluk so oorhaastig en heftig daaraan dat die groen seep teen die teëls spat. Sy probeer die seep met water uit die straal kraanwater afspat, maar mors in die proses haar hele broek se voorkant nat. Wel, haar hande is ten minste nou skoon, probeer sy haarself moed inpraat.
“Jy gaan buitendien nou behoorlik moet opskrop,” sê Romi, wat by die deur uitstap. “Jy hoef nie jou hande hier ook te was nie.”
Ek weet dit tog, dink Salome, en probeer haarself regruk. Toe sy in die skropkamer kom, staan Tiaan, die suster en Romi hul naels en borsel. Tiaan se gesig is maar blekerig en Salome sien verlig dat hy, ten spyte van die feit dat hy nog altyd in Chirurgie uitgeblink het, maar net so gespanne soos sy is.
Sy gaan staan by die wasbak teen die oorkantste muur. Sy draai die krane oop om haar hande te was. Haar hart klop onwillekeurig vinniger toe sy sien hoe Bart nader staan om die wasbak langs hare te gebruik.
“Julle moet gou maak, asseblief,” sê hy kortaf, en voeg dan vinnig by: “Nee, juffrou Verster, as jy jou vingerpunte na onder hou, loop die bakterieë net weer oor jou hande. Laat die water in die rigting van jou elmboë loop. Die hele punt is, jy wil jou hande steriel kry.”
Dit voel vir Salome of daar oral op haar lyf haartjies orent kom, soos wat hulle Bart se teenwoordigheid registreer. Op daardie oomblik voel sy baie jonger as haar vier-en-twintig jaar, baie groener as ’n wurm wat pas uit sy kokon gekruip het en so onnosel soos ’n amoeba. Ferm tel sy haar kop op. Sy mag jonk en groen wees, maar sy is nie onnosel nie, sê sy vir haarself. Net onervare. Ja, onervare genoeg dat die rou magnetisme van die man hier langs haar haar gemoed heeltemal omvergooi. Sy druk die gedagte weg. Wees professioneel, herhaal sy teenoor haarself. En sy wéét hoe om haar hande te was.
“Ekskuus, maar kan ek net ’n naelborseltjie kry?” vra sy gemaak kalm.
Die houer met die naelborsels is teen die muur by Bart.
Hy tree effe terug en sy strek om ’n naelborsel uit die houer te haal. Met dié dat sy haar arm terugtrek, raak sy per ongeluk met haar elmboog aan sy borskas.
“Jammer,” prewel sy koel, maar sy voel hoe sy bloedrooi bloos.
Verbrands, sy is so oorbewus van hierdie man en sy lyf … byna soos ’n tiener wat oor ’n popster swymel, dink sy toe sy van die liggroen, vloeibare seep oor die borsel se harde hare laat drup. Agter haar hoor sy hoe bedaard Romi haarself aan Tiaan voorstel.
Dalk moet sy vra om na ’n ander firma oorgeplaas te word, waar daar ’n ander kliniese assistent as Bart de Lange is. Maar waarna gaan dit nou lyk?
Sy skrop elke vingernael sorgvuldig, asof sy Bart en sy magnetisme van haar wil weer. Sy voel hoe Bart haar noukeurig dophou terwyl hy sy eie hande was en sy naels skrop. Dit voel later of haar vel onder sy intense blik begin kriewel. Terwyl sy met die toutjies van die teatermasker sukkel, ontmoet haar blik syne. Vlietend sien sy hoe sy oë agter sy masker, wat hy vergete al behendig vasgestrik het, in ’n spottende glimlaggie ophelder. Het hy agtergekom watter effek hy op my het? wonder Salome verskrik en draai dadelik haar rug op hom.
Uiteindelik is die masker vas. Toe sy omdraai, stoot Bart die teaterdeur met sy rugkant oop, sy gewaste hande in die lug. Tiaan en Romi volg hom en Salome skuifel agterna.
“Sal ek doodgaan?” vra die pasiënt, wat klaar op die teaterbed lê, hortend toe Salome die teater binnestap. “Hulle … hulle het my kar gekaap. My vrou, my kinders … ek … julle moenie dat ek doodgaan nie …”
Salome kry die arme man bitter jammer.
“Ons gaan vir jou doen wat ons kan, meneer … ek belowe,” sê ’n vrouefiguur in teaterklere. Met dié dat almal maskers op het, is dit moeilik om iemand te eien, maar mettertyd herken Salome die groengeklede figuur as dié van die rooikopsuster Ina Evertse. Haar stemtoon is simpatiek en opreg.
Sy is klaar besig om die pasiënt se lyf met jodium af te vee, sodat sy vel oranjegeel vertoon. Salome vergaap haar aan die suster se vaardige vingers, wat rats soos vlinders oral is en sy weet: Ina Evertse ken haar werk.
Toe sy opkyk, betrap Ina Salome se blik op haar. Haar groot, helder oë vertoon blouer as netnou in die gang toe sy vir Bart kom sê het van die noodgeval. Dis seker omdat dit teen die groen teatermus meer opvallend is. ’n Paar wortelrooi hare krul soos mini-weerligstrale teen haar nek. Ina kyk Salome ’n oomblik lank openlik vyandig aan, voor sy haar blik na die pasiënt laat sak en vir hom sê: “Die narkotiseur, dokter Van der Linde, gaan jou nou aan die slaap maak. Kyk vir my tot jy wegraak.”
Salome het nog altyd gesorg dat sy terughoudend en professioneel teenoor kollegas optree. Enige negatiewe trillings van ’n persoonliker aard waarvan sy bewus geword het by iemand saam met wie sy moes werk, het sy gewoon geïgnoreer. Maar nou sukkel sy om Ina se opvallende argwaan van haar af te skud. Sy sal haar kop op ’n blok sit dat dit alles met Bart te doen het. Hoekom is die vrou so jaloers op sy aandag? Sou hulle minnaars wees?
Verbouereerd wonder Salome of sy dalk die een of ander sein uitstuur wat meebring dat Bart de Lange al haar sensuele sekerings laat blaas. ’n Sein wat Ina kan opvang? Watter snert, sê sy dan vir haarself. Om van haar gedagtes af weg te kom, kyk Salome belangstellend om haar rond. Die reuk om haar het ’n kleur, dink sy vaagweg en glimlag agter haar masker. Die kleur is die seesiek-groen van teaterklere en -linne. En die reuk is jodium. Sy kyk weer na die oranjebruin vlekke op Ina se handskoene en glimlag heimlik agter haar masker vir haarself. Jodium is tog g’n seesiek-groen nie!
“Draai asseblief,” sê ’n verpleegster onverwags vir Salome. Salome kyk haar verdwaas aan. “Jy moet ’n jurk aantrek,” sê die meisie ongeduldig vir Salome.