voel hoe sy bloedrooi bloos en sy is dankbaar vir die masker wat sy dra. Hoe kon sy so onnosel wees? Haar dosente het haar hoeveel keer gesê ’n mens werk nooit direk met jou hande nie, maar altyd met instrumente. Maar dis een ding om dit in ’n lesinglokaal te hoor, heeltemal iets anders om met ’n oopgesnyde pasiënt voor jou te staan, dink sy gebelgd toe sy die wondhakie by Ina aanvat sonder om na haar te kyk.
“Kouter, asseblief, suster,” sê Bart toe Salome die snit vir hom wyer rek.
Ina gee die instrument aan, maar sy trek haar asem skerp in.
“O, my goeiste, dokter, ons het vergeet om die elektrodeplaat aan die pasiënt se been te plak. Nou sal die kouter mos nie werk nie.”
Salome maak haar oë toe en verkneukel haar net ’n oomblik lank daarin dat die suster ook ’n flater kan begaan. Dan bedink sy haar. Dit lyk of leedvermakerigheid net nog een van die donkerder drifte is wat Bart se teenwoordigheid skynbaar vandag met soveel gemak in haar laat loskom het. Dis buitendien haar skuld dat Ina van die kouter vergeet het, onthou sy skuldig. Dis sy wat almal se konsentrasie verbreek het toe sy so geval het. Toe sy weer haar oë oopmaak, sien sy hoe Bart se oë verdonker, net soos toe hy netnou so kwaad was. Vir wie is hy nou so woedend? Vir haar? Of vir Ina?
“Goed, gee dan maar solank vir my ’n skalpel, suster,” beheer Bart egter sy humeur uitmuntend.
“Alles is ook so deurmekaar vanmôre,” sê Ina apologeties toe sy die instrument vir hom aangee.
Salome kyk sorgvuldig na waar Bart se hande besig is. Dit was sweerlikwaar ’n skimp van Ina af na haar kant toe.
’n Dik ongemak sak oor die teater neer, waarin niemand, nie die narkotiseur of een van die studente of verpleegsters, dit waag om iets te sê of te vra nie. Dis asof almal vir professor Dekker wag om weer uit te bars, maar wonder bo wonder sê hy niks nie, sy blik vasgenael op Bart se hande.
“Laat een van jou vuil verpleegsters solank onder die steriele doeke inkruip en die foeliekant op sy been plak. Maar sy moet versigtig wees!” sê Bart vir Ina.
Bart sny deur die skede van die spier en splyt die spierlae van mekaar. Salome gryp die deppers wat die suster na haar uithou en begin die bloed wat uitborrel, opmop. Sy volg die beweging van Bart se bedrewe hande. Dit lyk nie of professor Dekker se teenwoordigheid hom enigsins verbouereer nie, want sy hande is stabiel. Uit die hoek van haar oog sien sy hoe die ongeskropte verpleegster se kop soos ’n molshoop onder die lappe beweeg om kort daarna weer met ’n baie skuldige gesig langs die bed te voorskyn te kom. Sy was waarskynlik die een wat vergeet het om die elektrodeplaat op die pasiënt te sit. Salome moet Ina teësinnig krediet gee vir die feit dat sy, as die teatersuster in beheer, die volle verantwoordelikheid aanvaar en die verpleegster nie daar en dan voor almal uittrap nie.
“Die kouter is nou gereed, dokter,” sê Ina en hou tegelykertyd die suier na Salome toe uit.
Bart begin derms wegskuif en Salome sien hoe die bloed uitstroom.
“Daar, daar op sy vena cava sit die gaatjie, sien jy?” vra Bart vir Salome.
Salome suig die bloed weg. Sy weet al jare lank dat die vena cava, die punt waar die are van ’n mens se bene af mekaar in jou buik ontmoet, so dik soos drie van haar vingers langs mekaar is, maar dis nogtans ’n skok om te sien hoe baie bloed uit so ’n reusagtige aar kan spuit. Bart druk die gat in die aar behendig toe.
“Arterieklem, asseblief,” sê hy vir Ina.
Nadat hy die bloeding gestop het, sê hy vir die narkotiseur: “Ek het die bloeipunt onder beheer, Romi. Hoe lyk sy bloeddruk nou?”
“Dit gaan beter, maar hy het nog so ’n liter of twee vog nodig om by te kom.”
“Ek gaan spesiale steke insit om die bloedvat te heg,” sê Bart en kyk vir die eerste keer na Tiaan. “Staan nader dat jy kan sien wat ek doen. Die krisis is oor.”
Salome kan hoor die spanning in Bart se stem is weg. Sy wens meteens vuriglik dat dit sy was en nie Tiaan nie wat die eerste operasie net kon waarneem.
“Is Vicryl ses-nul reg, dokter?” vra Ina.
Salome sien hoe Bart goedkeurend vir Ina glimlag.
“Perfek, suster.”
Sy begryp dat hy Ina op haar gemak probeer stel oor die fout wat haar span begaan het, maar dit skaaf aan haar hart dat hy baie vriendeliker met die suster is as met haar.
Bart neem die tangetjie met gare by Ina en heg die bloedvat met steke wat hy een vir een met die tangetjie knoop. Weer val sy groot hande Salome op, en die behendigheid waarmee hy die delikate taak uitvoer. Toe die vat toe is, begin Bart die derms ondersoek.
“Kyk,” sê hy vir Tiaan, “hier is ’n gaatjie en hier is nog een. Seker waar die koeël deur is. Ek gaan ’n dermreseksie doen en dan ’n primêre hegting.”
“I-i-is die koeël nog binne?” vra Salome met ’n skor stem.
Professor Dekker snork minagtend oor dié onnosele vraag, maar Bart skud net sy kop en verduidelik: “Nee, die koeël is reg deur. Nou kan jy sommer sien hoe ’n ingangswond van ’n uitgangswond verskil. Kyk, hier by die ingang is die gaatjie klein en netjies, die gat waar die koeël uit is, is aan flarde geruk.”
Salome staan op haar tone om oor die teaterbed te kan sien hoe Bart die wonde wat deur die koeël veroorsaak is, netjies heg.
Sy kyk op en betrap Tiaan se blik op haar. Die uitdrukking daarin verwar haar – hy laat haar aan ’n klein, maar verliefderige hondjie dink. Vinnig kyk sy weg.
Toe Bart klaar is, hou Ina ’n vlekvryestaal-bakkie na hom toe uit.
Hy neem dit sonder ’n woord by haar en gooi die inhoud in die pasiënt se buikholte uit.
“W-wat is dit?” wil Tiaan weet en sy kan hoor dat haar vinnige wegkyk hom ontstel het en dat hy sy bes probeer om in beheer van sy emosies te bly.
“Warm saline,” antwoord Bart en neem die suier uit Salome se hande om self die vloeistof op te suig. “Louwarm, moet ek eintlik sê … dis liggaamstemperatuur.”
Salome kyk verras op toe hy die instrument by haar neem. Is dit omdat hy dink sy kan nie haar werk behoorlik verrig nie, dink sy en frons. Met niks om te doen nie, voel Salome se hande vir haar net so groot soos Bart s’n, net baie lomper. Sy moet haarself ernstig aanpraat om nie haar hande soos ’n stout kind agter haar rug weg te steek nie. Wees professioneel, herinner sy haarself, en probeer konsentreer op wat Bart doen.
Hy spoel en suig die buik twee of drie keer goed uit met die soutwater en maak dan weer seker dat daar nêrens bloed uitkom nie, voordat hy na die narkotiseur kyk: “Goed, Romi, ons het hemostasie, daar is geen bloeding meer nie. Ek wil net gou vir hom ’n drein insit, dan kan ons die peritoneum sluit.”
“Ek gaan nou die narkosegas geleidelik begin verminder, want ons is amper klaar met hierdie geval,” sê die narkotiseur vir die studente wat saam met haar werk.
Behendig werk Bart die buikvlies toe. Toe dit klaar is, heg hy weer die vet en die vel en maak die wond met kramme toe.
“Daar’s hy. Ons is klaar.” Hy blaas sy asem verlig uit. “Ek dink hy gaan orraait wees,” sê hy.
“Kom ons tel hom op die trollie, hy sal nou-nou begin bykom,” sê Romi.
Almal om die bed, buiten professor Dekker, help die pasiënt oplig, en toe hy op ’n waentjie lê, stoot Ina hom na die herstelkamer toe.
Toe Salome omdraai om na Bart te kyk en te hoor wat volgende moet gebeur, sien sy hoe professor Dekker by die teaterdeur uitstap. Dis nie hoorbaar nie, maar Salome kan voel hoe slaak almal in die teater ’n kollektiewe sug van verligting toe sy rug by die deur uit verdwyn.
“Veels geluk, juffrou Verster,” sê Bart sardonies, maar so saggies dat net sy kan hoor. “Ek weet nie of daar al ooit ’n mediese student in die geskiedenis was wat so ’n skitterende gemors van haar eerste dag in die teater gemaak het nie.”
Salome