Ouma se oë kyk stip. Sy moet stry teen die drang om alles te verongeluk en haar kleindogter teen haar bors vas te druk. Maar dis nie nou die aangewese oomblik om te toon hoe lief sy hierdie kleinkind van haar wel het nie. Marista is bederf. Sy was nog haar hele lewe daaraan gewoond om net van bewondering en liefde omring te wees. Dis alles goed en wel, maar sy moet leer dat ander mense ook op liefde en aandag geregtig is en dat sy nie net haar lewe lank kan ontvang en nooit van haar kant af gee nie.
Marista kyk ewe strak terug. Goed. Sy sal hulle wys: hulle almal, daardie klomp katte, Wouter en … ook Ouma! Daardie ander klomp kollegas van haar dink mos sy is ’n gek. Wouter beskou haar blykbaar net as ’n nuttige trap op die leer van sukses. Ouma dink sy is selfsugtig, gemaksugtig, sonder durf, ydel en sondig! Nou goed.
“Hoe weet ’n mens of Duiwelskloof se mense nog ’n huishoudster soek?”
Net die bewing van die ou hand op die kierieknop verraai die opbruisende vreugde in die ou hart. Sy het gewen! Haar antwoord klink egter ongeërg, so asof dit haar regtig nie kan skeel na watter kant haar kleindogter besluit nie.
“Jy moet hulle seker bel.”
“Nou goed. Dan gaan bel ek. Wat is die dorp se naam?”
“Middeldraai.” Eers toe Marista die oproep wil bespreek, sukkel tant Miemie orent en wikkel vinnig met behulp van die kierie. “Miempie-kind, net ’n oomblik.”
Hierdie keer versag Marista se hart glad nie by die aanhoor van die ou troetelnaampie nie. Sy is te kwaad, te verontwaardig en seergemaak.
“Wat is dit nou weer, Ouma?”
Die kierie klop op die mat, en skielik kekkellag die ou dame. “Jy moet vir jou parmantig hou met my, Miempie! Wag maar, die baas van Duiwelskloof sal jou mak maak. Hy is glo maar goed beduiweld.”
Marista se mond kry ’n vasbeslote trek. Werklik, Ouma is onmoontlik! Eers maak sy haar sleg, en nou probeer sy haar bangpraat!
“Ag so? Maar ek kan self goed beduiweld raak as dit nodig is.”
Ouma val byna op haar rug. Haar oë straal.
“Regtig? O, maar dis wonderlik, Miempie! Ek het nie eens geweet jy het genoeg vuur in jou om jou te vererg nie, wat nog te praat van beduiweld word. O, gaaf! Gaaf!”
Die kierie gee ’n paar ingenome, vinnige kloppies op die mat. Sy het Marista nou net daar waar sy haar wou gehad het. Sy voel darem haar gewete so effens aan haar knaag dat sy hierdie kleinkind van haar so sleggesê het, maar as ’n mens nie sterk is nie, moet jy slim wees, troos sy haarself.
“Kom sit, kind, en klim af van jou perdjie. Jy kan nie sommer bel nie. Ons moet eers die saak bespreek.”
“Ek sien niks te bespreek nie. Ek bel om te vra of hulle nog ’n huishoudster wil hê, en as die betrekking nog nie gevul is nie, sê ek net ek is beskikbaar. Dis mos ál.”
“Dis nie ál nie. Jy weet niks nie,” laat tant Miemie bondig hoor. “Jy kan nie sommer net sê jy kom nie. Daardie Michael-broer van Lettie sal eers alle besonderhede wil hê. Ons moet eers ’n storie gereed kry.”
Marista frons. “Wat bedoel u met ’n storie?”
“Jy kan tog nie as Marista Minnaar daarheen gaan nie, mens. Gebruik tog jou verstand. Lettie sou tog seker al iets in verband met jou in haar briewe huis toe laat val het. As jy nou skielik moet aansoek doen om die betrekking as huishoudster, sal daardie Michael-kêrel sommer dadelik snuf in die neus kry. Na Lettie se vertellinge te oordeel, is hy nie ’n pampoen nie.”
Marista se frons verdiep. Dis waar. Dit is nie so eenvoudig soos wat sy aanvanklik gedink het nie. Tant Miemie se ogies flits lewendig. Nou is sy so in haar element. Die lewe het sommer weer interessant geword! “Ons sal vir jou ’n skuilnaam moet kry. Laat ek sien … Hoekom gebruik jy nie jou wettige naam nie? Wat is verkeerd met Miemie? Dit was my ouma s’n, en toe my ma s’n, en myne, en jou ma s’n en ook joune …”
“Ouma, ek het nie gesê daar skort iets met Miemie nie. Goed. Dan is ek Miemie.”
“O, ek wou net sê … jy kan my nooiensvan gebruik – Greyling. Dis ’n goeie, egte boerevan.”
“Dankie vir die vergunning.”
Tant Miemie kyk haar weer skerp aan. Die kind moenie met haar sarkasties raak nie. Sy besluit om dit liewer te ignoreer.
“Goed. Nou het jy ’n naam. Nou kan jy maar bel. Ek hoop tog nie daardie Michael-mens is moeilik nie. Lieg maar as hy baie uitvra.”
“Ouma!”
“Ja, toe nou maar, kind. Die doel heilig die middele. Jy gaan hulle mos help. Waarom sal hy dan vol fiemies wees?” Die kierie klop weer. “Toe nou, mens. Bel dat ons kan hoor.”
By die telefoon aarsel Marista nog. Hierdie ding is te vinnig beplan. Sy vertrou dit net nie. Maar onder ouma Miemie se wakende oog bespreek sy tog die oproep en terwyl sy nog byna hardop bid dat daar nie antwoord moet wees nie, of dat hulle reeds iemand het, kom die oproep deur. Tant Miemie staan hier digby haar sodat sy kan luister na wat gesê word.
“Duiwelskloof hier. Wie praat?” Marista lek oor haar droë lippe.
“Onthou jou naam is Miemie Greyling,” fluister Ouma so hard dat Marista vinnig haar hand oor die mondstuk moet plaas.
“Sjuut! Ouma praat te hard!” berispe sy fluisterend. Dan hardop: “Dis juffrou Greyling wat praat. Kan ek asseblief met meneer De Beer praat?”
“Dis hy wat praat, ten minste, een van hulle. Michael is buite by die stalle. Dis Johan de Beer wat praat.”
“Goed,” knik tant Miemie. “Dis die maklike een.”
“Meneer, ek bel in verband met die betrekking wat u adverteer. Is dit al gevul?”
“Nee. Nog nie, juffrou.”
“Ek stel … stel belang …” laat sy byna fluisterend hoor, en tant Miemie fluister weer gans te hard: “Praat harder, kind! Duiwelskloof is ver. Sê jy kan dadelik begin.”
“Ekskuus, juffrou. Ek kon nie mooi hoor nie,” klink die manstem aan die ander kant op.
“Ek stel belang in die … die betrekking, meneer.”
“O.” ’n Kort stiltetjie. Dan versigtig: “Hoe … verskoon my dat ek vra, juffrou, maar … hoe oud is u?”
“Sê hom jy is agt-en-dertig.”
“Ouma! Maar … hoekom?”
“Kind, dis twee ongetroude jongetjies daardie. Agt-en-dertig is eintlik ook nog te jonk, maar ons kan dit nie waag om ouer te sê nie. Toe! Toe! Hoor hoe ‘hallo’ die kind daar aan die ander kant!”
“Ouma, ek kan dit nie doen nie! Hulle sal mos sien ek is nie so oud nie!” protesteer Marista ontsteld, maar tant Miemie het natuurlik ’n antwoord gereed.
“Ek sal jou onder hande neem. Praat nou, Miempie! Die man is netnou af.”
“Ek is … agt-en-dertig, meneer.”
Aan die ander kant frons Johan de Beer. ’n Juffrou van agt-en-dertig. ’n Oujongnooi dus. Hy sug. Vir hom gans te oud, maar Michael sal die stuipe kry as hy moet hoor dis ’n ongetroude meisie en nog nie middeljarig nie. Daardie ouboet van hom het baie vaste idees omtrent wat reg en verkeerd is, of wat betaamlik en onbetaamlik is. Dan glimlag hy skielik. Michael gaan hom vermoor, maar hy gaan dit waag. Hy gaan die vroumens aanstel, kom wat wil.
“Hoe gou kan u begin, juffrou?”
Marista se mond raak droër terwyl tant Miemie behoorlik hier langs haar staan en ronddans van opgewondenheid.
“Sê hom net so gou as wat hy wil,” beveel sy.
“Ouma, maar …”
“Miempie, doen wat ek vir jou sê!”
“Hallo!