of mense nie; dit is so verlate, daar is geen Vodacom nie, geen RSG meer nie – selfs die stemme in my kop is stil.
Dis ’n taamlik grafiese beskrywing, maar dit behoort ook as raad te dien vir ander dames wat nie goed hurk nie. Klere om die enkels maak ek my teen ’n negentig-grade-hoek sit en leun met my agterstewe teen die motordeur. My skoene en klere bly droog en ek kan ook nog die uitsig geniet waar die Noord- en Wes-Kaap mekaar ontmoet. Ek was hande, sorteer die sakkies uit en vat die stofpad.
Tagtig kilometer later spoeg die stofpaadjie my uit op die pragtige klein dorpie Merweville. Buite die kafee staan ’n troppie veldmotorfietse en die bestuurders sit op die stoep, elk met ’n Coke – hulle en die fietse is net so vol stof soos my kar. Hulle lyk trouens soos byeboere, so wit is daai motorfietspakke van hulle.
“Middag,” groet ek.
“Dame,” groet hulle terug. Ja, op die platteland groet mense nog – daar is goeie maniere nog ’n algemene verskynsel.
Ek hoor hoe hulle bespiegel oor my alleenryery en dan hoor ek hoe hulle lag oor die lewe wat makliker is vir mans.
“Ja wat, ons staan mos sommerso langs die pad, nikse boom- of sitpleksoek nie.”
Ek stap uit met my Coke en ons gesels so ’n bietjie oor ons roetes. Hulle is op ’n dag-trip en gaan terugry Kaap toe via die grondpad tot op Leeu-Gamka, dan die N1. Ek gaan nog eers die Engelsman se graf soek, dan die Nuweveldberge oor tot naby Laingsburg, dan Kaap toe.
Ons drink ons koeldrank klaar en gee die botteltjies vir die kinders wat rondstaan vir ’n sakgeldjie.
“Dink Dame nie Dame moet eers by die garage stop nie?”
“Nee wat, my kar is nog nie eens half nie, ek het op Fraserburg volgemaak.”
“Nee, Dame, nie vir die kar nie – om ’n draai te loop, die pad is nog lank.”
Wat bedoel die man? dink ek. Ek weet mos van veldpiepie. Lyk ek vir hom soos ’n poppie wat bang is?
Maar dis toe ek na my kar toe loop en die afdruk in die stof van my boudjies en handpalms teen die deur sien, dat ek so rooi bloos soos die kar onder die wit stof is. Ek wens die aarde wil my insluk.
Ja, dis waar: “Stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” – maar tot dan ...
Veralda Schmidt – Pretoria
Blessie se kalf
Woensdag sou ’n dag soos enige ander dag wees op die plaas in Noordwes, maar vanmiddag luister ek na niks wat jy sê nie, want my een vers is weg van die trop. Sy’t gaan plek soek om te kalf, maar waar?
Ek loop, want die ou bakkie is in om herstel te word – en wat is ’n boer sonder ’n bakkie? Deur die veld, soek tussen die bloekombome. In die oop veld tussen lang gras van ’n oorlêland gewaar ek haar drie ure later deur die verkyker se lens. Nou is ek op ’n drafstap na haar toe.
Haar kalf lê agter haar net soos sy gebore is, maar Blessie, my vers, staan nie op nie. Ek trek die kalfie weg. Dankie, liewe Heer, ons is ’n versie ryker – haar naelstring nog vas aan haar ma. Sy nies en roer haar oortjie. Dit skiet deur my: sy lewe ... Ek trek haar instinktief om na haar ma se voorkant. Sy begin dadelik aan haar lek en roep haar saggies. Die kalfie tel haar kop op, maar my vers is moeg, dors en uitgeput.
Ek bel huis toe: “Bring gou ’n kan water en ’n bak, ek het haar gekry!” Minute later is my wederhelf daar met die nodige. Blessie kyk vir my met vraende oë. Ek praat met haar en sê: “Ma kan nie met die kar in die oorlêland ry nie. Wees rustig, Pa gaan net gou jou watertjies kry.”
Ek drafstap om die water te gaan haal by die motor. My vers drink in ’n japtrap twintig liter water op. Sy bly lê ...
Weer haal ek my foon uit. Nou soek ek by ou beesboervriende raad – goeie raad. Ek hoor wat ek nie wil hoor nie: agt uit tien maak dit nie, hulle het seergekry met geboorte en staan nie weer op nie.
Ek lui af en bel weer huis toe: “Bring spuitstof, ’n beker vir melk en ’n tiet; ek moet die klein kalfie probeer biesmelk gee.” My gemoed is vol en my gebede begin vir my vers, sy moet asseblief net opstaan.
Weer drafstap ek om te gaan help om alles wat ek nodig het, by die motor te gaan haal. Ek melk haar met moeite, want sy lê op haar uier en ek moet haar oorstoot sodat ek by die spene kan uitkom. Ons lig haar een been op. Soos ek melk, kry die kalfie dit bietjie vir bietjie om te drink.
Ons is nou al ure die nag in; my gebede hou nie op nie. Ek is reg om by haar te bly deur die nag, want die jakkalse skree en kan skade veroorsaak. Ek spuit haar in die nek in sodat die spuitstof vinniger kan werk. Sy hou nie van die spuit nie, staan wankelrig op en val ’n paar treë verder neer. Haar agterbeen wil nie trap nie.
Ek melk nog ’n slag bietjie melk uit en haar kalfie loop om na haar voorkant. Sy staan op, en my dankgebede skiet op. Dankie, Here, dankie ...
Sy loop met ’n draai. Seer en wankelrig, maar sy loop om nie weer op te hou nie. Ek dra later haar kalfie agter haar aan, maar sy loop. Toe ek nie meer kan nie, besluit ek om die kalfie in die kattebak te laai, en klim by haar in. So ry ons saam huis toe. Ek dra haar uit en sit haar in die kraal. Terug veld toe, kry ek vir Blessie en so kom ons stadig huis toe, kraal toe ... Sy’s seer, maar sy het opgestaan – een van die twee uit tien wat opgestaan het.
Dankie dat ons kan boer, al is ons boerdery nog so klein en in sy kinderskoene. Dankie, Amore, vir al jou hulp vir ons boere in die droogtetyd; jy het geen idee wat dit beteken nie. Ons waardeer dit ongelooflik baie.
Lardus en Petrusa – Noordwes
Die rooi robot
Op die program Kwêla op kykNET het Coenie de Villiers altyd gesê: “Maak ’n verskil.” Ek ry soggens donker werk toe en kom donker tuis, met geen tyd tussen komitees, vergaderings, ensovoorts om ’n verskil te maak nie.
So gebeur dit dat ek elke oggend verby drie koerantverkopers – jong seuns – ry by twee robotpunte op pad werk toe. En ek besef: hierdie mense moet drie-, vieruur soggens opstaan en in reën, koue en wind koerante verkoop ... en dan nog glimlag ook.
So dink ek toe: as die robot rooi is en ek moet stop in die ry motors, kan ek mos ’n klein ietsie gee vir die outjies. Draai net die ruit af en waai, dan kom hulle.
Elke keer as ek stop, gesels ons ’n paar woorde. So weet ek nou wat hul name en hul huislike omstandighede is. Wie het ’n ma en pa en wie nie, ensovoorts. So gee ek soms ’n paar beskuitjies, ’n pakkie koekies, lekkers of pakkies sop vir die winterkoue.
Aan die begin van die winter het ek vir elkeen ’n paar gebreide handskoene gekoop teen die koue en hulle waardeer elke klein dingetjie.
As ek soggens aangery kom, of ek iets het om te gee of nie, skree hulle vir my: “Hallo Maaaa! Lekker dag!” Dan slaan ons mekaar se hande in die verbyry en ons lag te lekker. Dan is ek sommer wakker ook, want ek ry maar half aan die slaap werk toe.
Besluit ek toe verlede week ek wil vir elkeen sommer ’n Bybel koop wat maklik lees en gaan CUM Boeke toe. Kan jy glo, toe ek instap, is daar ’n uitverkoping van verskeie Bybels. Toe kry ek sestig rand afslag op die drie Bybels wat ek koop. So sorg God vir ons en is Hy daar vir ons in die klein dingetjies.
’n Dag of wat nadat ek die Bybels gekoop het, toe sê David die oggend vir my: “Haai, Ma, ek verjaar vandag!” Die Bybel is net betyds gekoop vir die eerste van die drie manne se verjaarsdag.
As ek iets in die motor het, dan bid ek en vra die Here om die robot rooi te hou dat ek tyd het om dit aan te gee, en Hy is elke keer getrou; net een keer was die robot groen.
So maak ons ’n verskil met klein dingetjies.
Leonice van Antwerpen – Port Elizabeth
Die ryloper
Ek is ’n rep en gedurig op die pad. Elke dag slaan ek ’n ander rigting in om na my kliënte se behoeftes om te sien en bestellings vir my maatskappy in te bring. Weekliks ry ek lang paaie en dis