Amore Bekker

Hartstories


Скачать книгу

by die huis instap, is daar drie kinders wat gelyk op hom afstorm en elkeen hul eie storie oor die dag begin vertel. Mamma moet maar tot laaste wag om ook ’n bietjie van sy aandag te kry.

      Vandag, nege jaar later, is al drie kinders uit die huis, die vliegtuig vlieg nie meer oor die huis nie, die skuifhek skuif nie meer oop nie, die motorhuisdeur glip nie meer op nie, die voetstappe het stil geword, daar word nie meer aandete gemaak nie. Die drie mans werk nou elders, want hulle “Nkosaan” en die huis se pappa het net een middag nie weer teruggekom nie.

      Nadine

      Oupa

      Ek is ’n wewenaar-oupa. Ek staan vroeg op en gaan groet die twee kleinseuns drie huise straataf. Ná ’n koppietjie koffie en ’n druk of twee is dit weer huis toe waar ek met blinkoog­entoesiasme kreatief stoei met die houtwerkmasjiene. Kwart voor twaalf krap ek die skeppings in die weggooihouer en stap kombuis toe om die kleinseun se “melkie” te gaan maak. Twaalf­uur begin my dag as ek in die kar klim om die vierjarige Oliver vyftien kilometer bergop in Hilton by die skool te gaan haal.

      Sweetwaterberg (“sweet” soos in Engelse “soet”) begin by die hek. Gekrom oor die stuurwiel en met groot lekkerkry skiet ek met die oorlede vrou se 2004-Corolla by die spoedbreker-gepootjiede taxi’s verby. ’n Ou man se vreugdes is nie kompleks nie! Klim nou die berg uit deur Boughton, Blackridge en Winterskloof, verby huise weggesteek agter boomhoogte asaleastruike. Dit word sag donker in ’n laning bloekomreuse en as dit weer helder word, is ek by die ingang na die Sweetwaters-woongebied. Uitgegooi oor die groen bulte soos ’n bont lappieskombers lê die huise links van die pad.

      Dan is dit verder die berg uit totdat ’n ongelooflike uitsig skielik die sinne laat juig. Elke keer snak gedagtes en asem steeds. Want links, hier langs die pad, val die Cedara-vallei diep weg en rol honderd kilometer verder vas teen die magtige Drakensberg. Met rustige majesteit waak die rotskranse oor die vrugbare KwaZulu-Natalse Middellande. In die knars­vars winterlug is die sneeukombers op die draakkolos duidelik sigbaar.

      Is nou in Hilton en net ’n hanetree van die skool af. Loop die inrypad op skool toe. Geniet die vriendelike gesels en glimlaggies van die jong mammies terwyl ons wag vir onse kleingoed. ’n Nostalgie biggel oor die hart; dit was dan net ’n asempie terug toe ek en Leisha ook so gewag het vir een van ons vier. Maar die deur gaan oop en die knaap kom met ’n “Oupa!”-kreet uitgestorm. Met ’n stil, diepe dankiegebed in die hart en ’n hoendervleis van lekker op die lyf groet ek hom.

      Ouma se rooi karretjie is nou ’n vuurpyl. Die aftelling word voltooi en ons is gelanseer. Daar is opgewondenheid, want ons roete gaan vandag verby die misterieuse Venus. En so, met Jupiter in die verte en ’n amper-botsing met Mars ry ons terug huis toe. (Genade, hoe baie weet die kleintjies nie!) Hy gil op my om pad te gee, want ’n meteoriet gaan ons ver­­nietig. Net tyd om vinnig na regs te kyk na die rustige draak in die bloupers verte. Ek is seker ek hoor sy magtige kranse giggel oor ’n ou man wat so uitbundig lekkerkry.

      Wanneer ons deur die bloekomlaning breek, ry ons aan die ander kant van die Sweetwaters-berg. Pietermaritzburg, ons eie geliefde “sleepy hollow”, lê krans-af ver onder ons, met ’n soom van groen plantasies en gerugsteun deur Table Mountain negentig kilometer verder.

      Nou is dit die laaste steilte af. Dit word stil in die kar, want Oupa is weer terug in sy stukkie Dakar. Uit rat, vreesloos en op goewermentspetrol jaag ons teen sestig kilometer per uur verby die bangbroeke wat die spoedbrekers met oormatige respek benader. Ons hardloop uit rat tot by die hek van die huis en bespreek middagete. Maar vandag praat ek nie, want ek huil – dit was ons laaste ry.

      Oliver en kleinboet Samuel woon van 27 Julie 2012 af op die eindelose plat van die Amerikaanse Midweste – Tulsa, Oklahoma. Ag tog, my saamryvriend – jou oupa se hart wil breek.

      Lampies

      As dit vyfuur word ...

      As dit vyfuur word, voel ek vinnig of my fiets se wiele nog styf is – dit het immers geduldig vir my gewag van vanoggend halfsewe tot nou, in my kantoor, op sy spesiale plek.

      As ek my fiets teen die muur staan maak, is dit net nog ’n paar laaste deure sluit, dan vat ek die grondpad huis toe.

      Ek groet my kollegas een-een op hul naam as hulle met hul fietse voor my kantoordeur verbyry. Een man draf saam, want sy fiets se wiel het deur die dag pap geword.

      Ek hoor hulle lag, gesels en skerts oor vandag se werk en ek sien hoe hul fietse stofstrepies maak as hulle deur die hoofhek ry. Die laaste man sluit die hek. Aan hul praat kom ek agter hulle is bly om huis toe te gaan, maar tog gelukkig – want hulle het werk, al is dit by ’n graansilo op ’n plaas. Ek glo ook ’n warm bord kos wag vir elkeen by die huis. ’n Traan loop oor my wang, want ek weet hulle is tevrede met wat hulle het.

      Wanneer ek die slot van die ander hek op my roete huis toe toedruk en ek hoor my fiets se ketting geduldig kraak, besef ek die sewehonderd-en-vyftig meter huis toe is te kort.

      ’n Rooikopfisant vlieg verskrik van haar nes af op en ’n kiewiet duik laag oor my kop, want ek waag dit te naby aan haar byna onsigbare eiertjies tussen die gruisklippe.

      ’n Waaierstertmeerkat hardloop vir my weg in die twee­spoor-plaaspaadjie en swenk rats weg na sy ou, bekende skuilplek.

      Ek hoor twee kolganse se ritmiese geknars wanneer hul oor my verbyvlieg en sien hoe hulle in die verte verdwyn. Ek dink weer: die sewehonderd-en-vyftig meter huis toe is te kort!

      Ek kry nie my tuinhekkie oop nie, want ek kan nie deur my trane sien nie. Heer, leer my ... hoe sê ek dankie vir al die genade?

      Louis – Buckingham, Noordwes

      Die heeldaggemeente

      My huistoerystorie verskil so bietjie van die ander stories: myne is ’n heeldagstorie. Ek is ’n predikant in Alberton en my ry is elke dag so tussen my gemeente deur. Ek deel saam met hulle in hulle hartseer, maar ook in hulle vreugde.

      In die oggende is dit die bejaardes se beurt en dan luister jy na die gesels oor die pyn en die ou liggaam wat nie meer wil saamwerk nie; die kinders wat nie meer kom kuier nie. “Maar jy moet onthou, hulle is baie besig, Dominee, hulle het vername werke,” maar haar oë sê vir jou dat sy haarself nie glo nie, en sy dink jy het nie die traan gesien nie ...

      Die ander oom vertel vir jou hoe sterk hy was, hoe hy gejag het, hoe baie dinge hy kon doen; visgevang. “Maar ai, Dominee, nou vreet die artritis my op en my ou hande wil nie meer nie,” en jy sien hoe hy terugverlang na die dae toe hy nog kon.

      Die tannie met die mooi silwergrys hare wys jou die foto’s van die kleinkinders en vertel hoe hulle presteer en hoe lief hulle vir Ouma is, en hulle kom kuier gereeld. En Marietjie is hoofdogter en Ouma is so gelukkig.

      Jy dra elkeen van hulle aan die sorg van die Allerhoogste op, maar as jy daar wegry, dan wonder jy tog hoe jóú oudag eendag gaan wees ...

      Na middagete is dit so ’n bietjie werk in die studeerkamer en dan so teen 15:30 is jy weer op pad na jou mense. Jy hou stil by Jan en Marie, wat albei al lank werkloos is. “Jan was gister vir ’n interview, Dominee.” En jy sien die hoop in haar moeë oë. Jy dink nie veel van die kos wat jy saamgebring het nie, daar’s niks luuks by nie, maar as die vuil handjies van ’n kleuter styf om jou bene vou en jy hoor: “Dankie vir die kossies, Oom,” dan breek jou hart. En jy tel hom op en druk hom styf teen jou vas en jou hele wese roep na God: “Gee werk, asseblief, Vader.”

      Die radio is op RSG gestel en toe ek die motor aanskakel om te ry speel Amore Leon Ferreira se “Stop die wêreld, ek het seergekry ...”

      Toe ek by die volgende huis aankom, wag Bernard al vir my buite op die gras. Terwyl ek nog besig is om uit te klim, juig hy: “Ek’s deur, Oom, ek’t dit gemaak, Oom!” My ge­dagtes gaan terug na vyf jaar gelede toe sy pa oorlede is en die kerkraad besluit het om vir hom verantwoordelikheid te neem – skoolfonds, boeke, klere, ekstra klasse – want hy het soveel belofte getoon. En nou is hy matriek deur ... Ek het nooit ’n seun gehad nie, maar op daardie oomblik het ek ge­weet hoe dit voel om die trotse pa van ’n baie spesiale seun te wees. En ek besluit net daar: