uit Peddie.
Wat is sy naam? Sy naam is Michael.
Wat so besonders is, is dat hy nooit gevra het vir geld of enige iets anders nie, maar te dankbaar was vir dit wat hy ontvang het.
Dit het my laat skaam kry dat ek in ’n lugversorgde motor ry en kla oor die hitte. Ek het kos en water. Ek het vanaand ’n bed om in te slaap en ek is veilig.
Al wat ek vra, is dat reisigers op die N2 in die Kaap se rigting sal uitkyk vir hom en net vir hom water en iets te ete sal gee en vir hom sal bid dat hy sy bestemming veilig sal bereik.
Antoinette Richter – Pretoria
My en Ouma se pad
Die roete wat ek elke dag ry vandat ek in Coega, aan die buitewyke van PE, werk, vat my verby sekere plekkies en paaie wat ek as kind saam met my ouma geloop het. My ouma is nou een-en-tagtig en ek een-en-veertig. Sy is bedlêend, haar bene is geamputeer, en in haar eie woorde: “Sy wil net doodgaan.” Ironies genoeg, soveel as wat sy bid en vra dat die liewe Vader haar asseblief tog net moet kom haal, net so hard bid ek en vra dat Hy haar asseblief tog net nié moet kom haal nie. Ek weet nie wat ek sonder haar sal doen nie.
So ry ek vanaf Coega, al langs die see af, bo-oor die Blouwaterbaai-brug, verby die stink fabriek waar dit ruik of iemand ’n windjie gelos het, verby die dolosse, tot daar waar die pad vurk. Dan kies ek die Setlaarspad, tot by die Mountweg-afrit. En as ek gelukkig is, dan kry ek die robot groen, en dan hop en vlieg ek oor die bult in die pad, ál nader aan my huis.
Dis hier waar my en Ouma se pad begin: by Sebastiaanstraat en die woonstel waar my man toevallig as jong seun gewoon het. Dan onthou ek hoe ek as jong dogtertjie vir Ouma help sakke dra het nadat ons geloop en inkopies doen het by Constantia (nou Pier 14).
Dan ry ek by die verkeersirkel by die Noordeinde-biblioteek verby, hier waar ek en Ouma baie dae gaan boeke uitneem het; sy haar geliefde Mills & Boons en ek Afrikaanse stories deur van my gunstelingskrywers. Dit was so lekker om saam met my ouma boeke uit te neem, te kyk hoe hulle die boek binne-in stempel, en net die stilte van die plek te beleef.
Dan ry ek om die sirkel, verby die ou mark, daar waar ons “short cut” huis toe gevat het, want teen daai tyd was die sakke al báie swaar, en die vyftig sent se “curry brawn” wat Ouma vir my gekoop het (dit was en is nog steeds een van my gunstelinge!) is al opgeëet. Dan sien ek die woonstelle daar voor en ek weet: ons is amper by die huis. Dikwels was my arms lam en my hande seer, dan het Ouma maar my sakke ook gedra. Terwyl ons loop en gesels oor álles. Soos ek ouer geword het, kon ons nog steeds oor álles gesels.
En dan, as ek verby die woonstelle ry, dan loer ek so regs, kyk na die dakke van die munisipale huise daar onder, onthou Ouma en Oupa se huis, en sluk swaar aan die knop in my keel. Want die huis behoort nou aan iemand anders, ek is groot, Ouma is oud, en daai tye is vir ewig verby.
Linda Rautenbach – Port Elizabeth
Die wind se wonderlike geure
Uit Langstraat swaai ek links in Riebeekstraat. Op die sypaadjies begin die toue al vorm vir die bus na Mitchells Plain en ander plekke op die Kaapse Vlakte. Dis spitstydverkeer en ek probeer in die mense se gesigte lees wat in hulle koppe aangaan.
Dan draai ek regs in Adderleystraat en ek kyk onwillekeurig in die rigting van die standbeeld van die Onbekende Soldaat, waar die laaste ruikers nou besig is om te verdroog. Jan van Riebeeck se standbeeld, waar hy so trots en deftig staan, is so vyftig meter verder.
En skielik is die majestueuse Tafelberg in al sy glorie reg voor my, met die kabelkarretjies wat piepklein teen die berg hang. Wat ’n gesig!
Ek vererg my ’n bietjie vir die horde mense op pad stasie toe wat hulle tyd neem om die pad by die Fifa 2010 Fan Walk oor te steek, en wens dat ons voetgangers meer gedissiplineerd wou wees.
Net voor ek links draai in Darlingstraat, vergeet ek gou van my ergerlikheid as ek verby die helder geklede blommeverkopers met hulle wonderlike sêgoed ry. My gunstelinggebou in die hele wêreld is op regterkant – die Kaapse Stadsaal. Die bouwerk is elke dag vir my mooier en ek wens al die ou geboue kon behoue gebly het. Aan die linkerkant van die pad, op die Kaapse Parade, is dit ’n miernes van bedrywighede met die vrugteverkopers wat heeldag hul sêgoed kwytraak: “Avokadopere maak die hare mere!” en: “Een byt en die heuning spuit!”
Reg voor my is die Kasteel de Goede Hoop met die toeristebusse wat elke dag kom kuier en die toeriste met hulle Canon-kameras en sonhoedens. Vandag lyk dit na Chinese of een of ander Verre-Oosterse groep.
Ek hou regs deur die ou Distrik Ses-gebied, al met Keizersgracht langs. Hier en daar lê nog klein hopies bourommel wat herinner aan ’n periode wat ons liefs wil vergeet. Net die kerkgeboue en moskees is gespaar. Maar as jy mooi luister, kan jy nog die nagtroepe en Kaapse Klopse se ghoema-liedjies op die suidoos hoor.
Nou ry ek deur Walmer Estate en daarna University Estate, waar die wind die wonderlike geure van die Maleiergebied se brijani, samoesas, daltjies en kerriekosse by my oop venster indra.
En as ek uiteindelik my plek inneem agter die ander verkeer op De Waal-rylaan, aan die voet van Tafelberg en Duiwelspiek, en ek sien Tafelbaai uitgestrek lê aan die ander kant en Robbeneiland wat rustig verkeer in die koue Atlantiese Oseaan, dan weet ek: daar is nêrens in die hele wêreld waar ek eerder wil wees nie.
Mervyn Matalie – Kaapstad
Hier in die govvie
My rit huis toe is niks om oor huis toe te skryf nie; niks opspraakwekkends nie. Daar is geen mooi landskappe of interessanthede langs die roete nie, maar die eerste honderd meter is vol van God se genade. Dis my saamrymaatjie wat my sakke vol goud kom stop. Hy kom amper elke dag saamry (hang af waarmee hy besig raak). Hy is ’n veertienjarige seun wat verstandelik gestrem is en nie kan lees of skryf nie.
Dit begin so:
Klokslag om halfvyf staan hy in my kantoordeur: “Waa’s jou bakkie se sleutel, ek jou bakkie solank start, jy my lift gee tot by die hek?”
Ek gee die sleutel, want uit gewoonte is die ratte altyd ontkoppel – sou ek dan daardie sensasie, die een ding in sy lewe waarna hy miskien heeldag uitsien, van hom ontneem? Kom ek buite, luier die motor en my maatjie se oë blink en sy gesiggie straal. Hy klim altyd agter in; dis ’n dubbelkajuit. Voor die die rit begin, word ek gebied: “Sit musiek,” dan speel ek vir hom Neil Diamond.
Partykeer vra hy: “Oom, wanner kan my ma by my kom bly hier in die govvie (kinderhuis)?” Antwoord ek dat daar nie plek is nie, ruk my hart stukkend: “Sy kan onner my bed kom slaap, daar’s plek.”
Gelukkig is die rit verby. “Hier is ons by die hek, sien môre.”
“Dankie, Oom, ek môre die 4x4 dryf.”
“Ons sal sien. Lekker slaap.”
Anoniem
Die Nkosaan in sy vliegtuig
As die aarde so vinnig onder die vliegtuig se vlerke verbygaan dat die motors en diere soos speelgoed lyk, en die son rooi hang in die weste, dan is dit huistoegaantyd. Net gou ’n wye draai vlieg oor ons huis om vir Vroulief te laat weet nog ’n dag se werk is agter die rug.
As die vliegtuig se wiele oor die aanloopbaan rol in die rigting van die vliegtuigloods, staan drie swart mans hom met breë glimlagte en inwag, want hul “Nkosaan” is veilig terug en dit beteken hulle het nog môre ’n dak oor die kop en kos op die tafel. Gou word die giftenk uitgespoel, die brandstoftenk gevul en die voorruit gewas, want môreoggend vieruur begin ’n nuwe dag weer. Daarna word die vyftonner versigtig ingestoot vir die nag.
Dan eers word die rit huise toe aangedurf. Eerste word twee van die mans by die robot afgelaai waar taxi’s mense aflaai en vinnig ’n U-draai maak om hulle volgende groep mense te gaan oplaai.
Rustig ry die laaste twee mans verby groot bome en dan verby mooi huise terwyl groot vragmotors die pad met hulle deel. By die huis skuif die skuifhek oop, die motorhuisdeur glip op en die reuk van ’n lekker aandete kom uit die kombuis