lag guitig, sien die kwelling in Nicky se oë en swyg onseker. “Hou tannie nie daarvan nie? Ek dag dan tannie en Tobias is vriende?”
“Ons is bevriend, meisie, want ons het as studente saam gestudeer, maar … Oom Tobias het ’n reputasie waarop hy nogal trots is, maar wat enige ouer van ’n mooi dogter bekommerd sal maak. Ek wens liewer Henk het nie vir jou die werk gekry nie …” Sy lag gespanne toe sy die verwarring in Ilse se oë sien en glimlag dan gerusstellend. “Alles reg, Ilse. Miskien is ek maar uit die oude doos, maar Tobias Meiring geniet dit om jong meisietjies uit te neem – die ewige minnaar, dis ons Tobias. En natuurlik voel enige meisie gevlei as so ’n beroemde en aantreklike man van haar kennis neem. Sommiges raak selfs hopeloos verlief op hom, tot Tobias se groot genot. Snaaks, ek voel nie werklik oud nie, en ek dink ook nooit oom Leon is reeds vir ons jong mense ’n ou oom nie, maar as ’n man soos Tobias met kinders lol, is hy vir my niks anders as ’n nare ou man nie. Begryp jy wat ek probeer sê?”
Ilse knik en vermy skuldig haar tante se oë. “Hy tree nogal jonk op … Ek bedoel, ek het nooit eintlik agtergekom hy is Tannie-hulle se ouderdom nie,” erken sy verleë.
“Dis die Tobias-sjarme. Lig loop, my meisie, anders kan jy seerkry – of was dit nie Tobias wat jou oë so laat skitter het nie?”
“Wel, dit was ’n eer om hom te ontmoet, tannie Nicky, maar ek … ek is nie verlief op hom nie. Hy is in elk geval oud genoeg om my pa te wees!” protesteer Ilse heftig.
“Ek het gedink jy het meer verstand as dit, gogga. Kom jy my help met middagete? Ek gaan sommer iets ligs maak. Oom Leon en Philip het na ’n vriend se nuwe visstokke gaan kyk, en ek verwag hulle nie voor tweeuur terug nie. Kom jy?”
“Graag, tannie,” antwoord Ilse en voel skielik onverklaarbaar teleurgesteld.
Ilse klim by die bushalte af en stap stadig om die hoek en in die straat op na tant Truia se huis.
Die wêreld staan op sy kop. Die wêreld is deurmekaar, want alles in haar is verward en deurmekaar. ’n Paar uur gelede, kort nadat sy vir Tobias Meiring ontmoet het, het sy vas geglo dat iets heel spesiaal met haar gebeur het. Nee, sy kon nog nie met sekerheid sê nie, maar sy het tog gewonder of sy nie op Tobias Meiring verlief is nie. En dit het alles so aantreklik gelyk: die ryk, beroemde Tobias Meiring, aantreklik en sjarmant, die gesogste metgesel vir enige meisie, soos sy al dikwels gehoor het. En Tobias het haar so anders behandel, glad nie soos Henk of Bruce of enige ander student ooit teenoor haar optree nie. Sy oë was so sag soos sy glimlag, sy stem so intiem, so eie, asof sy reeds aan hom behoort …
Was dit maar alles deel van ’n ou rol wat hy elke dag van sy lewe teenoor talle ander vroue speel? Dis tog wat tannie Nicky te kenne wou gee, maar kan dit werklik waar wees? Wel, sy is nie ’n pampoen nie, en sy sal nog herhaalde kere vir Tobias moet gaan kuier – sy sal hom dophou, heeltemal seker maak dat hy wel vir haar omgee voordat sy haarself sal toelaat om op hom verlief te raak. Natuurlik is hy oud genoeg om haar pa te wees, maar het ouderdom al ooit ’n verskil aan ware liefde gemaak?
Sy glimlag verlig oor haar eie logika en loop haastig om die koel stoep, klim die trap tussen die wit pilaartjies op en draai by die groot deur van die hoekkamer in.
“Haai!” roep sy effens uitasem toe sy Sonja op die rusbank gewaar met ’n koeldrank en ’n tydskrif in haar hande. “Ek’s bly om te sien dis nie net ek wat nie lus voel vir swot nie. Sjoe, dis byna vieruur! Is daar koeldrank vir my?”
“Nog ’n halfbottel,” antwoord Sonja, strek haar bene lank uit en wys met haar kop na die tafel. “Skink vir jou en kom vertel my wat alles gebeur het. Was jy die hele tyd by Tobias Meiring?”
“Nee, net tot voor etenstyd,” antwoord Ilse terwyl sy vir haar ’n glas koeldrank inskink. Sy neem op die leunstoel oorkant Sonja plaas, sluk ’n mondvol koeldrank en vervolg: “Daarna het ek by tannie Nicky-hulle gekuier. Hulle bly daar naby.”
“Tobias, man – vertel van die skilder,” por Sonja ongeduldig. “Hoeveel gaan hy jou betaal?”
Ilse lag verleë en skud haar kop. “Om die waarheid te sê, ons het nooit eens oor die geld gepraat nie. Maar wat ’n man, Sonja! Ek het nog nooit so ’n interessante mens ontmoet nie.”
“Was hy gaaf ?” vra Sonja nuuskierig.
“Hy was bak. Ek het nie eens kans gehad om skaam of ongemaklik te voel nie. Hy’t die hele tyd gesels, selfs nadat hy die eerste sketse van my begin maak het. Ek het net nie kans gekry om vreemd te voel nie. En hy het my sommer van die begin af op my naam genoem en gesê ek moet hom Tobias noem. Dit was ’n heerlike oggend!”
“Dit klink so. Hoe lyk hy? So aantreklik soos op die foto’s in die koerante?”
“Tien keer aantrekliker!” antwoord Ilse gretig, bly dat sy eindelik die skilder met iemand kan bespreek. “Sy hare is silwerwit, maar sy gesig is nog jonk. En sy donker oë … en sy stem … en daardie pragtige hande van hom! Hy is seker die aantreklikste man wat ek nog ooit gesien het.”
“Hoe lyk dit my jy het jou hart verloor?” terg Sonja en neem ’n slukkie koeldrank.
Ilse swyg en tuur onder saamgetrekte wenkbroue na die geel vloeistof in haar glas. “Dit sal nie moeilik wees om op ’n man soos hy verlief te raak nie,” erken sy impulsief en gaan pleitend voort: “O, ek weet hy is baie ouer as ek, Sonja, maar die mans wat ek ken, is soos klein seuntjies in vergelyking met hom. Hy is meer ervare en volwasse. Jy voel net anders by hom. Meer vrou, sou ek sê. Verstaan jy, Sonja?”
Sonja glimlag begrypend en knik stadig met haar kop.
“Dit het my al ’n keer werklik oorgekom,” vertel sy doodgewoon. “My pa het ’n oujongkêrel-vriend – hy’s ’n bekende chirurg hier in die stad – en toe ek hom vir die eerste keer in matriek ontmoet, het hy my voete behoorlik onder my uitgeslaan. Dit was veral sy volwassenheid wat my aangetrek het. Jy weet mos wat ek bedoel. Hy het geweet hoe om my volwasse en soos ’n vrou te laat voel. Ek het natuurlik nie geweet dis maar deel van sy persoonlikheid nie, dat hy so teenoor alle meisies en vroue optree nie, en drie maande lank was ek smoorverlief op hom.”
“En toe?” vra Ilse onwillig.
Sonja haal haar skouers op. “Ek het op die rugbykaptein van ons skool verlief geraak – jy onthou mos ou Bennie – en toe ek my pa se vriend weer sien, was hy net ’n doodgewone oom vir my. Ek was skoon skaam omdat ek ooit verlief op hom was!”
“Maar …” protesteer Ilse en kyk onseker na haar vriendin. “Daar is tog ouer mans wat met jong meisies trou, Sonja. Boonop is ek reeds een-en-twintig, nie sestien of sewentien jaar oud nie. Ek sê natuurlik nie ek gaan met Tobias Meiring trou nie, maar so ’n huwelik is tog nie onmoontlik nie?”
“Glad nie … maar wat dan van Henk?” vra Sonja ernstig.
“Henk?” Ilse glimlag kopskuddend. “Goeiste, Sonja, daar was nog nooit ’n verhouding tussen ons twee nie. O, ek weet ons is goeie maats, ons kuier soms saam by tannie Nicky en oom Leon, maar Henk kuier graag saam met my by hulle omdat hy van hulle geselskap hou, nie omdat hy by my wil wees nie. Henk is net ’n goeie vriend, maar Tobias … Hy’s ’n man wat enige vrou kan liefhê.”
“En moontlik is al wat vrou is, verlief op hom. Ek wed hy weet dit ook, en geniet elke oomblik daarvan. Dink gerus maar Tobias Meiring is te goed om waar te wees, Ilse, maar moenie jou oë toemaak vir ’n man soos Henk nie. Of is Henk ook skielik te kinderagtig in vergelyking met die volwasse Tobias?” vra Sonja met ’n tikkie ergernis in haar stem.
“Ek sal nie so sê nie, want Henk is eintlik ’n volwasse jong man, maar hy is beslis nie Tobias Meiring nie. Boonop is ons nie op mekaar verlief nie, al wil jy dit ook nie glo nie. Maar moenie dat ons nou daaroor stry nie, ou Sonja. Ek sal hopelik eendag op ’n man verlief raak en trou, maar dis eers eendag, nie nou nie,” probeer Ilse die gesprek verander.
“Solank die man Henk is, is ek tevrede,” sê Sonja ondeund en staan op. “Vieruur. Wag, laat ek vir ons koffie maak.”
Henk, altyd Henk, dink Ilse opstandig en staar met nikssiende