Schalkie van Wyk

Schalkie van Wyk Keur 12


Скачать книгу

sy om, kyk na die oop deur van haar kamer en stap dan vinnig oor die stoep na die voordeur, op soek na tant Truia se geselskap – want sy voel skielik onverklaarbaar alleen vandat die klein motortjie om die hoek verdwyn het.

      5

      Sonja stut haar elmboog op haar kopkussing en laat haar kop op haar hand rus – haar oë op Ilse wat in ’n liggroen somerrokkie voor die spieëltafel staan en ’n borsel deur haar lang hare trek.

      “Darem ’n mooi kind, jy,” praat sy met Ilse se spieëlbeeld. “Ek wed ou Tobias Meiring verstom hom so aan jou dat hy skoon vergeet om jou te skilder.”

      “Nie hy nie!” lag Ilse. “Hy het seker al soveel mooi vroue in sy lewe geskilder dat dit vir hom ou nuus is. Boonop verkies sommige mans donker, geheimsinnige skoonhede soos Tanya. Ek hoop maar net hy dink dis die moeite werd om my te skilder.”

      “Daaraan twyfel ek nie ’n oomblik nie. Gaan jy nou?” vra Sonja lui en gaap lank agter haar hand.

      “Ja, daar’s ’n bus oor vyf minute.” Sy vroetel in haar wit skouersak. “Ja, ek het my sleutel. Beursie … sakdoeke … haarborsel … Sien jou, Sonja. Ek behoort darem voor donker terug te wees!” skerts Ilse en stap by die deur uit.

      “Tot siens!” roep Sonja en steek haar hand uit na die beker koffie op die bedkassie langs haar bed. Dank die hemel sy het nie ’n nuwe aandrok nodig nie – Saterdae is gemaak om laat te slaap, dink sy, neem ’n slukkie koffie en duik weer onder die laken weg.

      ’n Halfuur later klim Ilse uit die bus en stap na die naaste hoek. Sy draai links, loop oor die straat en bly huiwerig voor ’n indrukwekkende dubbelverdiepingwoning staan.

      Nommer 204 … Dan is dit tog die regte plek, dink sy. Wat ’n kasteel van ’n woning – en die tuin lyk soos ’n towerland. Dis duidelik dat Tobias Meiring baie geld het. Soos oom Leon en tannie Nicky se huis wat haar in haar kinderjare altyd tot sprake­lose bewondering gedwing het. Hoe het haar pa gesê? “Dis maar goed julle ma het ryk familie, want nou hoef julle nie vir ander mense se groot rykdom te skrik nie.” Vir die eerste keer besef sy die waarheid van haar pa se woorde, want rykdom soos dié van Tobias Meiring kan oorweldigend wees, veral as jy ’n hoekkamer met ’n studentemaat moet deel …

      Met ’n gevoel dat sy oortree, stap sy in die wye rylaan op en loer eers sku en dan meer ontspanne na die struike en bome om haar.

      Alles is so verruklik mooi: die netjiese, lowergroen grasperke, die soet reuk van frangipani, die rooi en geel hibiskusse … Hoekom is daar geld nodig selfs om ’n stukkie goddelike skoonheid om jou te hê? dink sy en voel die ou bitterheid in haar opstoot. Is geld dan die begin en die einde van alles? Is daar niks in die wêreld wat die moeite werd is as geld dit nie kan koop nie? Sy onthou die vorige middag, voel Henk se arm weer om haar, sien die sagte glans in sy oë. Nee, dis tog nie heeltemal waar nie. Henk se vriendskap, Sonja se vriendskap – geld kan dit nie koop nie. Die fout lê by haar, want dis sý wat geld in alles sien, wat glo niks is die moeite werd as daar nie genoeg geld is nie …

      Geld om haar ouers te help. Jaar in en jaar uit sit haar pa op sy klein erfplasie en kyk met pyn in sy sagte bruin oë na haar ma wat van vroegdag tot skemer moet swoeg en sweet – dikwels sonder hulp, want geld vir werkers is daar selde. Hoe graag sal sy nie klompe note in haar pa se hande wil prop nie, hom vra om vir die eerste keer in sy lewe saam met haar ma vakansie te gaan hou, te kuier waar hy wil en so lank as wat hy wil, omdat daar genoeg geld is vir vandag en môre en volgende jaar; note wat die magtelose seer uit haar vader se oë sal vee, wat die pyn van haar ma se gesig sal wegtower … Geld.

      Sy klim die trap op na die voorstoep. Haar oë rus op die swaar houtdeur. Dan hoor sy iemand langs haar kug.

      Sy ruk merkbaar en draai na regs. Dan sien sy hom staan, ’n lang, atletiese man in sy vroeë vyftigerjare. Sy golwende hare is silwerwit en word sonder ’n paadjie agteroor gekam. Sy gesig is sonbruin, sy oë groot en donker onder sy donker wenkbroue; geen snor nie, maar ’n kenbaardjie. Daar is diep gleuwe in sy wange en sy neus is effens geboë. Sy lippe is vol, maar dit doen nie afbreek aan die algemene uitdrukking van krag van sy gesig nie.

      “O …! Meneer Meiring …?” stotter sy blosend. Met ’n skaam glimlaggie steek sy haar hand uit na hom. “Bly te kenne, meneer.”

      “Tobias Meiring – sommer net Tobias vir my vriende, en ek hoop ons twee gaan vriende wees,” glimlag hy sjarmant, kom nader en vat haar smal handjie in sy hande. “Jy is Ilse Brink, nie waar nie?”

      Sy knik woordeloos en voel die warmte van sy sterk hand om hare.

      “Ek kon nie ’n fout maak nie, want Henk het gesê jy is ’n sonnimfie – en dis soos jy gelyk het toe jy met die rylaan opgestap het hierheen.” ’n Glimlag pluk aan sy mondhoeke. “Immerlente, dis jy, vol van die son en jeug. Dis hoe ek jou gaan skilder … Maar kom, kom ons stap deur na my ateljee. Eers ’n koeldrankie, of ’n koppie tee? Daar is genoeg tyd om mekaar eers beter te leer ken.”

      “Dankie,” glimlag sy en volg hom die koel ontvangsportaal binne. Sy merk nouliks die duur meubels, die kosbare kunswerke, die dik tapyte onder haar voete, want haar oë volg hom en sy diep, sterk stem gryp haar met ’n byna hipnotiese krag vas. Sy sien sy donker oë koud flits, sien die lag donker en warm daarin; sy sien sy lang, smal hande, die vingers van ’n kunstenaar. Sy kyk na sy hande en gesig, luister en kyk, drink elke beweging van hom in: die buiging in sy stem, die houding van sy kop en skouers, die uitdrukking op sy aantreklike gesig.

      Hy neem haar leë koeldrankglas by haar en die aanraking van sy hand skiet soos ’n elektriese vonk deur haar.

      “Kom ons stap deur na my ateljee,” nooi hy weer.

      “Ek sal dit graag wil sien … Tobias,” sê sy aarselend. Hierdie keer stap hy voor en gesels oor sy skouer. Sy slaak ’n sug van verligting.

      Wakker loop, Ilse, maan sy haarself, anders raak jy smoorverlief op ’n ou man wat jou pa kon gewees het. Natuurlik is hy uiters aantreklik, die galante heer, die sjarmante gasheer, maar dis tog seker niks buitensgewoon nie. Hy gaan jou skilder en hy probeer om jou op jou gemak te laat voel. Moenie hom so slaafs aangaap asof hy die eerste man is wat jy ooit ontmoet het nie. Moenie stotter en bloos as hy met jou praat nie … O, waarom kon Henk nie vandag saam met my hierheen gekom het nie?

      Kort voor middagete draf Ilse skuins oor die straat en huppel in die lang rylaan op na regter Leon Marais se dubbelverdiepingwoning. Sy sien die diepgroen van die bome, die appelgroen van die gras, die kleure van die blomme en struike. Skielik lag sy met die blyheid van die jeug en lag sy oor die vreemde opwinding in haar.

      Sy drafstap die koel stoep op, lui die klokkie in die verbygaan en stap deur die oop voordeur.

      “Tannie Nicky!” roep sy klokhelder en loop vinnig in die lang gang af.

      “In die woonkamer! Is dit jy, Ilse?” kom Nicky de Villiers se stem van die onderpunt van die gang.

      Ilse draf die trap af na die woonkamer en lag bly vir haar middeljarige tante wat uit ’n diep leunstoel opstaan en haar met oop arms inwag. Hulle soen mekaar en dan stoot Nicky vir Ilse effens weg en kyk ondersoekend na haar stralende gesiggie. “Jy lyk vrolik, asjas. Goeie nuus? Dalk ’n verlowing?”

      Ilse onthou Henk se belofte om saam met haar vir tannie Nicky te besoek, en haar gesiggie versomber. “Goed … en sleg, tannie. Henk se oupa is gistermiddag skielik oorlede en hy is dadelik weg na sy ouers se plaas toe.”

      “Nee! Die arme seun … Hy was juis so geheg aan sy oupa, veral na die vervreemding tussen hom en sy pa. Is hulle dan nou weer vriende?” vra Nicky verwonderd.

      “Ek weet nie, tannie. Henk praat mos nooit oor sy huismense nie, maar ek weet dis sy pa wat hom van sy oupa vertel het, want tant Truia het so gesê. Foei tog, dis Henk wat vir my die werk by Tobias Meiring gekry het …”

      ’n Frons kom oor Nicky se gesig terwyl sy skerp na Ilse kyk, wat met ’n glimlag om haar sagte lippe op die rusbank neersak en droomverlore voor haar uitstaar. “Tobias Meiring? Jy bedoel die skilder?” vra Nicky met ’n neutrale stemtoon.

      “Ja,