hy dalk besluit om terug te kom, sal sy liewer voorgee dat sy uit is, mymer sy en leun teen die groot tafel voor die venster, haar oë op haar strak gesiggie wat in die spieël weerkaats. Arme Bruce. Op haar manier het sy tog van hom gehou, al het sy hom nooit liefgehad nie. Geen moeite of geld was ooit te veel as hy haar kon trakteer nie … Dit is seker waar dat hy ’n leeglêer is, ’n bedorwe rykmanskind, maar sy bedagsaamheid en goedhartigheid teenoor haar het haar vriendskap met hom iets heel besonders gemaak. Maar ook dít is nou verby, soos haar studentejare byna verby is. Nee, sy kan nie met Bruce trou nie, maar sy kan hom altyd onthou as ’n mooi deel van haar studentejare, besluit sy en glimlag tevrede.
Sy staan nader aan die spieël, vee ’n paar los hare uit haar oë en stap na die middeldeur en in die wye gang af, op soek na geselskap.
Tant Truia sit in die sitkamer op haar geliefkoosde stoel, haar pofferhandjies op haar maag saamgevat, haar leesbril op haar voorkop, haar oë gesluit. Langs haar praat die omroeper oor die radio. Dan vul luide musiek die groot vertrek.
Ilse stap na die radio en draai dit sagter. “Tant Truia?” praat sy gedemp.
Die bejaarde vrou se kop ruk effens en haar oë flikker oop. “Huh? O, dis jy, Ilsetjie. Nee, sit die ding maar af. Hy raas net. Lyk my ek het so ’n bietjie ingesluimer – ook maar moeg na al die gewerskaf en dinge vandag. Hoe laat is dit?”
“Kwart oor agt, tante. Sal ek vir ons teewater gaan opsit?”
“Nee, kind, kry net vir jou ’n koppie daar op die kas in die eetkamer. Ek het sommer tee in die termosfles gemaak. Is jy dan nie vanaand uit nie, Ilsetjie? Waar loop Bruce nou weer rond, of het jy besluit jy is klaar met hom?” gesels sy gretig en skink vir haar en Ilse tee in toe Ilse met ’n koppie en ’n piering terugkeer.
“Ek is beslis klaar met hom, tante,” antwoord Ilse glimlaggend, terwyl sy haar tee neem en teenoor die vrou gaan sit.
“Hoe nou? Skeer jy die gek, Ilsetjie?” vra tant Truia ongelowig, voel die bril op haar voorkop, en lê dit op die koffietafeltjie neer.
“Nee, tante,” sê Ilse, huiwer ’n oomblik en besluit dan om tant Truia in haar vertroue te neem. “Bruce was netnou hier om my te vra om met hom te trou. Ek dink hy was so verdwaas toe ek weier dat hy dit nog nie kan glo nie. Hy het in elk geval gesê ek moet daaroor dink, want hy sal my weer môre kom vra. Mans, darem! Die verwaande vent kan doodeenvoudig nie glo daar is ’n vrou wat nie oor haar voete sal val om met hom te trou nie.”
“Hie-hie!” lag tant Truia, merkbaar in haar skik. “En toe sê jy sowaar nee, my kind? Tag, maar ek is bly, hoor! Dan was ek al die jare verniet bekommerd oor jou … Nou nie dat ek geglo het jy sal met hom trou nie, Ilsetjie, maar jy kan maar sê ek was as ’t ware besorg oor jou. ’n Mens weet nooit … en die vent se pa is darem skandelik ryk. Maar ek is bly jy het nee gesê, kind, want die vrou wat met daardie man trou, soek net haar eie ongeluk.”
“Tante luister te veel na Tanya se stories, en eintlik loer sy self met lang oë na Bruce,” sê Ilse met ’n skewe glimlaggie.
“Tja, dis miskien waar, Ilse, maar Henk het darem al ook vir my gesê Bruce mors met die meisiekinders. Foei, hy maak die ou goedjies net op hom verlief, en dan los hy hulle weer. A nee a, so maak ’n mens mos nie! Jy was nooit verlief op hom nie, nè, Ilsetjie?” vra tant Truia vertroulik.
“Gelukkig nie, tante, maar in my eerste jaar het ek my wat verbeel omdat hy my so dikwels uitgeneem het,” vertel Ilse laggend. “Ek weet daar is baie stories oor Bruce, maar wat my betref, het hy my altyd baie hoflik behandel. Dis miskien daarom dat hy nooit moeg geword het om my uit te neem nie – omdat ek nie soos ’n ryp perske in sy skoot geval het nie. Vroeër het Bruce-hulle se baie geld my beïndruk, maar as ’n mens eers vir Bruce ken, is hy maar soos enige ander ou, behalwe dat hy meer verwaand is. Maar selfs dít is net ’n masker, want inherent is hy eintlik bitter onseker van homself. Dis al asof hy jou met sy geld probeer verblind sodat jy nie die klein, bang seuntjie agter die geld sal raaksien nie. En eintlik kan ek dit verstaan. Bruce se pa is ’n suksesvolle man, ’n miljoenêr, maar wat is Bruce? ’n Mislukking wat sy pa se geld nodig het om iets te wees.”
“Foei tog, maar dan moet ons mos die kind jammer kry, Ilsetjie? Tag, dis seker darem nie net sý skuld dat hy nie ’n bietjie meer ruggraat gekry het nie – seker maar sy ma wat hom so bederf het omdat hy die enigste kind is. Sies tog, nes ons Henkie. Hy’t ook maar alleen grootgeword, maar sy ma het hom reg geleer. Glo ’n fyn mens, Henk se ma. Haai, ek wonder hoe gaan dit vanaand met die arme kind?”
“Dit kan nie juis ’n vrolike kuiertjie vir hom wees nie, tante – nie met sy oupa se dood nie,” sê Ilse sag. “Ek wonder wanneer hy terug sal wees? Hy het nie dalk gebel nie, tante?”
“Nee, hartjie, maar hy is seker baie besig. Tag, dat sy pa hom sowaar gebel het … Ook maar ’n trotse ou stywenek, soos ek verstaan. Tilda Swart, ou dokter Swart se vrou, ken Henk se ma al baie jare, en sy vertel my Henk se pa is maar ’n befoeterde mansmens, ook van die soort wat gewoond is om sy sin te kry. Nou nie ’n slegte man nie, verstaan, maar hy is gewoond sy woord is wet. Dis dié dat hy so boos was toe Henk besluit het om verder te studeer. Reken, Henk was al ouer as een-en-twintig toe hy universiteit toe gekom het. Soos ek die ding verstaan, was hy te bang om sy pa eerder teë te gaan – ek bedoel nou pas nadat hy klaar was met skool. Maar dit lyk asof dinge tussen hom en sy pa nou weer sal regkom, noudat sy oupa so skielik oorlede is.”
“Ek hoop so vir Henk se onthalwe, tante. Henk is self maar ’n moeilike kalant, nes sy pa. Dis geen wonder die twee het gebots nie.”
“Darem nie soos sy pa nie, Ilse,” sê tant Truia partydig. “Sien, die ou man was kwaai onredelik om vir Henk te verbied om verder te studeer. Nee, Henk is ’n goeie seun, eintlik ’n sagte mens, maar ek glo nie hy sal nonsies verdra nie. Maar dis soos ’n man moet wees, Ilsetjie, dis soos ’n vrou van ’n man hou. Hy moet goed en regverdig wees, maar hy moet die baas wees.”
“Dis waar, tante,” beaam Ilse en sien weer Tobias se gesig voor haar. Soos Tobias, dink sy: so vol selfvertroue, so opsigtelik haar meerdere. Skuldig loer sy na tant Truia, bang dat die ouer vrou haar gedagtes kan lees. Wat sal tant Truia sê as sy moet weet van Tobias? Maar wat is daar eintlik om te weet? Dat sy, Ilse Brink, op ’n stokou man verlief is? Maar ís sy verlief? O, sy dink hy is wonderlik en beroemd en aantreklik en ryk, byna soos ’n karakter in ’n sprokie, maar is dit liefde? Voel sy nie maar oor hom soos sy in haar eerste jaar oor Bruce gevoel het nie? Hoe weet ’n meisie ooit wanneer sy werklik liefhet?
“Sal jy nog ’n koppie tee …?” begin tant Truia toe die skril gelui van die telefoon haar onderbreek. “Nou wie kan dit wees? Ilsetjie, jy’s jonger as ek. Gaan hoor tog wie dit is.”
“Seker, tante,” sê Ilse gretig en spring op. Sy voel haar hart in haar keel bons, voel die afwagting in ’n knop op haar maag saamtrek. Sê nou dis hy, Tobias? Dalk wil hy vir haar iets oor die skildery sê, dalk sommer net gesels. Nee, nee, sy moet ophou lugkastele bou en onthou wat tannie Nicky van hom gesê het: die ewige minnaar, en sy is maar net een van talle mooi meisies.
Daar is ’n bitter smaak in haar mond toe sy die telefoon in die voorportaal bereik. Sy lig die gehoorbuis van die voetstuk en sê met ’n onsekere stemtoon: “Goeienaand. Ilse Brink hier.”
“Naand, ounooi. Henk hier,” praat sy stem sterk en naby in haar oor.
“Henk!” Sy glimlag bly, vreemd getroos om sy stem te hoor. Henk is miskien nie ’n ryk, suksesvolle man nie, maar hy behandel haar altyd asof sy spesiaal is – selfs Sonja en Tanya het dit al agtergekom. En Henk behandel net vir háár so, nie vir elke mooi meisie wat hy ontmoet nie. Dit troos om te weet dat daar iemand is wat omgee, al is hy dan net ’n goeie vriend.
“Is jy daar, Ilse? Hoe gaan dit met julle daar?” dring Henk se stem tot haar deur.
“Dit gaan goed hier, dankie, Henk. Tanya en Sonja is uit, en ek sit met tant Truia en gesels. Wanneer kom jy terug?”
“Seker môre. Die begrafnis is môremiddag en ek sal óf môreaand óf vroeg Maandagoggend ry. Sê tog baie dankie vir tant Truia