ek van die begin af hier diep binne geweet het dat sy eendag myne sal wees, en dat niks en niemand haar van my af sal kan wegneem nie,” sê hy met sekerheid.
“Ek verstaan dit nog nie,” hou Sonja vol. “Hoe kon jy ander meisies uitneem terwyl jy intussen vir Ilse liefgehad het? Nie dat jy dikwels uitgegaan het nie. Jy sit gewoonlik met jou neus in jou boeke.”
“Presies. Ek het nooit eerder daaroor gepraat nie, maar dit was my oupa wat my universiteit toe gestuur het. Dit was vanselfsprekend dat ek nie boonop vir hom sakgeld sou vra nie, daarom moes ek my spaargeldjies gebruik, of die paar rand wat ek gedurende vakansies kon verdien. My motortjie, baie van my boeke, my klere – ek het dit alles self gekoop sodat ek nie onnodig op my oupa moes teer nie. En daarna was daar bitter min geld oor om op meisies uit te gee. Ek kon nie kompetisie wees vir die ander mans wat Ilse uitgeneem het nie.”
“Maar as Ilse vir jou lief was, sou sy mos verstaan het,” protesteer Sonja.
“A, maar sy was nié verlief op my nie! Dink jy ek sou haar sommer trompop loop en al my private probleme aan haar vertel?” Hy skud sy kop. “Elke man het sy trots, Sonja, en my probleme is net myne. Boonop was dit vir my ’n bitter aanpassing, byna ’n vernedering om skielik met baie minder klaar te kom as waaraan ek gewoond was … My pa is ’n korrelkop, maar miskien omdat ek sy enigste seun is, het hy my nooit enigiets geweier nie. My skielike armoede het my in ’n mate van my selfvertroue beroof, daarom kon ek Ilse nie sommer goedsmoeds van my liefde vir haar vertel nie. Ek het besluit om my op my studie toe te lê en met my graad – of liewer, twee grade agter my naam – sou ek vir Ilse die sekuriteit kon gee waarna sy verlang. Sodra ek dit afgehandel het, sal dit die aangewese tyd wees om met haar te praat.”
“En jy verwag dat Ilse skielik na vier jaar op jou verlief moet raak en met jou moet trou?” vra Sonja misnoeg. “Ek het darem gedink jy het meer verstand as dit, Henk!”
“Ek het,” antwoord hy houtgerus. “As jy slim genoeg was om agter te kom dat ek op Ilse verlief is, kon jy seker ook agterkom dat daardie mooi meisie nie heeltemal onbewus van my bestaan is nie. Dink ’n bietjie daaroor na, Sonja. Waar soek Ilse altyd raad en hulp? Vir wie wys sy eerste haar nuwe rokke of skoene? Vir wie vertel sy eerste van haar goeie of slegte toetspunte?”
“Vir jou, natuurlik, maar ek weet sy het geweldig respek vir jou, en sy vertrou jou. As ons twee rusie het, vra sy gewoonlik jou mening, en as jy eers gesê het ’n ding is blou, maak dit nie saak wat ek sê nie. Snaaks, ek het self al met Ilse daaroor gepraat, haar gevra of sy nie dalk lief is vir jou nie, maar sy het my uitgelag. Ilse dink beslis nie vertroue en respek is sinoniem met liefde nie.”
“Nee, maar dis ’n goeie begin. Dink ’n bietjie daaroor na. Is dit nie presies hoe jy oor Kobus voel nie?”
Sy knik ingedagte. “Dit is, want soos Ilse na jou toe hardloop met alles, hardloop ek gewoonlik na Kobus toe. Dink jy Ilse is dalk verlief op jou sonder dat sy self daarvan bewus is?”
“Dis wat ek graag wil glo, maar ek is nie so seker nie, nie met ’n man soos Tobias Meiring wat haar dalk speel-speel onder my neus wegraap nie. Miskien moes ek haar eerder van my gevoel vertel het, maar totdat Oupa dood is, was dit onmoontlik.”
“Hoe meen jy?”
“Ek het reeds vir jou gesê ek is bewus van Ilse se agtergrond, haar groot behoefte aan sekuriteit. Ek kon dit nie eerder vir haar gee nie, want nadat ek universiteit toe gekom het, was ek ook eintlik arm. Ek wou geen hulp van my pa aanvaar nie. Selfs nou nadat ons weer vriende geword het, sal ek nie op een van sy plase gaan boer nie. Dit sal net nie deug nie. My pa glo nog vas sy metode van boerdery is die beste, en twee hardekoppe … Maar dis nie langer vir my nodig nie, want Oupa het sy beesplaas aan my bemaak. Ek het eintlik ’n fortuin geërf, soos hulle sê.”
“Henk! Waarom het jy ons nie eerder vertel nie? Dis mos fantastiese nuus!” roep Sonja verras uit en skaterlag bly.
“Laat dit ’n geheim bly tussen ons, Sonja. Vroeër sou ek dadelik vir Ilse daarvan vertel het, maar ek het weer oor die saak gedink, en dis nogal belangrik vir my dat sy met my sal trou omdat sy my liefhet, nie omdat ek skielik ’n ryk plaaseienaar is nie. As dinge eendag regkom tussen ons, sal sy dit hoor, maar nie nou nie. Jy verstaan?”
Sy knik ernstig. “Natuurlik. Jy’s darem ’n trotse mansmens, hè, Henk?”
“Bekommerd ook,” glimlag hy. “Laat ons maar hoop dat Tobias Meiring nie te veel in my slaai krap nie.”
7
Tobias Meiring maak die swaar houtvoordeur van sy woning oop en wag dat Ilse uitstap op die stoep. In die verbystap raak sy aan hom, en hy voel ’n ligte trilling deur hom gaan. Hy blik sydelings na haar, sien die sagte blos op haar wange, sien die warm, naby drome in haar diepblou oë.
Sy’s ’n mooi kind, dink hy half wrewelig. ’n Mooi vrou, al is sy dertig jaar jonger as hy. En daarby ’n liewe, innemende mensie, so ongekunsteld. Te jonk en onervare om selfs haar diepste gevoel vir hom te verberg. Dis wat haar so verfrissend anders maak: haar impulsiewe eerlikheid. Hy ken die vleitaal van slim vroue wat strikke vir hom span, maar hierdie kind se gevoel vir hom is so openlik en opreg dat dit hom byna skuldig laat voel. Sy bewonder hom, aanbid hom byna, is moontlik selfs ’n bietjie verlief op hom, al probeer sy so hard om dit vir hom te verberg … Maar hy moet versigtig wees. Hy kan nie bekostig om op sy leeftyd dwase dinge aan te vang nie.
“Tot volgende Saterdag dan, Tobias,” sê Ilse sag langs hom. “Jy sê die skildery sal oor twee Saterdae klaar wees, nie waar nie?” vra sy en probeer haar teleurstelling wegsteek.
Hy glimlag begrypend en raak liggies aan haar blonde hare wat oor haar skouers val. “Ja, meisie, maar ek hoop jy en Henk sal nog dikwels vir my kom kuier. Ons het mos goeie vriende geword. Waar is Henk vandag? Kom hy jou nie haal nie?”
“Hy het ’n dringende afspraak met een van sy professore gehad, maar dit maak nie saak nie. Die bushalte is net hier om die draai.”
“Ek verwag ongelukkig gaste vir middagete, anders het ek jou gou teruggeneem. Tot siens, meisie.”
“Tot siens, Tobias,” groet sy effens hees en loop vinnig die trap af na die wye rylaan.
Hy bly op die stoep staan, sien die son op haar hare speel, sien die fyn volmaaktheid van haar liggaam.
Dis maar goed die skildery is byna klaar. Daardie meisie doen verkeerde dinge aan sy binneste, dink hy en stap die huis binne.
Ilse hoor die deur agter haar toegaan en sug verlig. Sy loop onwillekeurig stadiger en laat haar oë oor die lushof om haar gaan.
Oktober – die mooiste, mooiste maand, dink sy. Net hier, hier by Tobias, sal dit altyd mooi wees. Hy noem die skildery van haar Immerlente, maar by hom is alles immermooi, immergeluk, immerliefde …
Sy skrik vir haar eie gedagtegang en kyk skuldig rond, asof sy bang is dat iemand haar gedagtes kon lees. Wat makeer haar? Het sy, Ilse Brink, sowaar verlief geraak op ’n man wat oud genoeg is om haar pa te wees? ’n Man wat net soveel vir haar omgee as vir honderde ander modelle?
As sy tog ’n weerklank vir haar gevoel in hom kon vind. As sy net kon seker wees dat hy haar liefhet. Maar dis dwaas, dwaas! Tobias Meiring is ’n ervare vrouejagter, nie die man wat met haar sal trou en die res van sy lewe aan haar getrou sal bly nie. En tog wens sy, hoop sy, bid sy selfs …
By die hek bly sy staan en draai om om ’n laaste keer na die tuin en die huis te kyk.
“Tot siens, my Tobias,” fluister sy vir die speelse lentewind. Sy sluk hard en voel ’n warm vogtigheid in haar oë kom. Met ’n byna roekelose gebaar vee sy met die rugkant van haar hand oor haar oë. Waarom het sy ooit vir Tobias Meiring ontmoet? Waarom het Henk haar na hom toe gestuur? Henk … Sy sluk skuldig en begin vinnig wegstap na die straathoek. Dis alles Henk se skuld, maar as hy ooit moet weet … Nee, sy is bly dis nog net twee Saterdae, want dalk kan sy dan terugkeer aarde toe, weer die Ilse word van ’n paar weke gelede.
Agter haar kruip ’n rooi sportmotor nader en hou ’n entjie voor haar langs die sypaadjie