Schalkie van Wyk

Schalkie van Wyk Keur 12


Скачать книгу

      “Bruce!” wurg sy sy naam uit en bly verskrik staan. “Wat het jy hier kom soek?”

      Hy lag smalend. “Vir jou, mooi ding. Vir jou en jou nuwe minnaar wat jy elke Saterdagoggend besoek.”

      Sy woorde tref haar soos ’n klap en sy tree onwillekeurig agteruit. Haar oë gaan oor sy gesig, sien die smalende mond en die koue spot in sy oë. ’n Yskoue woede stoot in haar op. “Bly jy maar nog ’n klein seuntjie, ondanks jou baie geld en al jou jare op universiteit?” vra sy beheers.

      Hy lag harder en leun teen die modderskerm van sy motor. “Kom, kom, ou meisie, dis nie nodig om vir jou oom Bruce te jok nie. Ek ken Tobias Meiring en sy reputasie. Moenie vir my sê jy is ure lank stoksielalleen saam met hom in sy huis sodat hy net mooi prentjies van jou kan skilder nie. Ek is ouer as tien!”

      Skok klap haar woorde weg, laat haar oorbluf voor hom staan. Sy hoor sy honende lag weer in haar ore, sien die wit van sy tande agter sy gryns en lees minagting in sy oë.

      Witwarm woede ruk deur haar, trek haar keel toe en laat haar hande liggies bewe. “Jou … skurk!” krys sy. Sy veg teen ’n oorweldigende begeerte om hom te klap, om die lag uit sy oë te krap. Dan praat sy weer, maar beheers. “Dis jammer dat jy is wat jy is, Bruce Reyneke, want as jy self ordentlik was, sou jy dit dalk in ander mense kon raak sien. En om te dink ek het oorspronklik ingestem om geskilder te word sodat ek geld kon verdien om ’n aandrok te koop vir daardie dans waarheen jy my uitgenooi het. Gek wat ek was! Jy is die veragtelikste mens wat ek ken!”

      Haar woorde bring hom tot besinning en hy steek sy hand uit toe sy begin wegstap. Hy hou haar terug. “Nee, wag, Ilse!” pleit hy. “Ek was net jaloers … byna mal van jaloesie! Vandat ek jou gevra het om met my te trou, weier jy om my te sien, om saam met my uit te gaan. Toe hoor ek van Tobias Meiring, en ek het gedink … Asseblief, Ilse, kan jy nie sien ek is lief vir jou nie? Ek weet daar was stories oor my en Erna, maar jy kan self sien daar het niks van gekom nie. Sy kon niks bewys nie. Dis vir jou wat ek wil hê, Ilse, en niemand anders nie!”

      Daar is jammerte in haar oë toe sy na hom kyk. “Jy is nie ’n baie slim man nie, is jy, Bruce? Noudat jy seker is dat ek nie om jou soort redes hierheen kom nie, nou kan jy skielik van deuntjie verander? Ek het dit voorheen gesê, en ek hoop ek sê dit nou vir die laaste keer: ek sal nooit met jou trou nie. Ek het nie ’n greintjie respek vir jou nie, veral nie na vandag nie, en ek wil beslis nie met ’n man trou wat ek verag nie.”

      Bruce verbleek merkbaar en die woede is gloeiwarm in sy oë. “So, dan verag jy my, juffrou Ilse Brink? Ons sal sien. Jy’s myne, en as jy dan nie met my wil trou nie, sal ek sorg dat niemand anders jou kry nie. En jy bly weg van Tobias Meiring af! As ek jou weer hier vang, sal ek nie verantwoordelik wees vir my dade nie!”

      “Al die melodrama,” lag sy bewerig en begin wegstap.

      “Ons sal sien wie lag die lekkerste as ek jou weer hier kry!” roep hy haar dreigend toe, klim in sy motor en trek met skreeuende bande weg.

      Verlig sien Ilse hom wegjaag en sy kyk dankbaar na die enkele mense by die bushalte. Sy voel die bang gebons van haar hart in haar keel en sien haar hande liggies tril toe sy ’n buskaartjie uit haar handsak haal. Sy haal diep asem, probeer die vrees wegdruk, maar die onrus bly in haar, hurk op die rand van haar bewussyn.

      Bruce is miskien ’n windsak, dink sy, maar sy voel tog nie gerus nie. Hy is ’n bedorwe man en gewoond om sy sin te kry. Sy weet hy kan aggressief raak as hy teenkanting kry. As hy haar dalk werklik liefhet … Hy is tot enigiets in staat. Sy sal met Henk praat. Hy sal weet wat om te doen.

      Henk. Tog vreemd hoe belangrik hy vir haar in die afgelope tyd geword het. Selfs haar gevoel vir Tobias, wat ’n fyn ragwerk om haar gespan het, kan sy beeld nie uit haar gedagtes hou nie. Want Henk bly die man op die agtergrond, die ver man wat sy nie heeltemal kan plaas nie, nie kan raak vat nie, maar wat altyd daar moet wees. Want hy is nodig vir haar geluk – haar gevoel van veiligheid. Dis goed om ’n vriend soos hy te hê, dink sy en voel vreemd getroos.

      Henk staan in die oop kamerdeur en rook toe Ilse onder die peperboom na die hoekkamer stap. ’n Frons keep tussen sy wenkbroue en kommer lê in ’n strak lyn om sy mond. Hy haal sy pyp uit sy mond. Sy oë is peinsend op Ilse gerig.

      Het Sonja gelyk gehad? wonder hy. Het Ilse ’n gevoel vir Tobias Meiring? Sy is nooit geneë om Tobias met hom te bespreek nie, maar juis die feit dat sy altyd wegskram, verdubbel sy kommer. Miskien moet hy haar ontgogel, vir haar van Ray Summers vertel en hoop dat dit die regte uitwerking sal hê …

      Ilse kyk na sy deur toe sy die trap na die stoep opstap, sien hom staan en glimlag bly.

      “Kom jy koffie drink, Henk? Of het jy genoeg gehad na ete?” vra sy en sluit haar kamerdeur oop.

      “Dit was ’n kwartier gelede. Nee, ’n koppie koffie is altyd welkom,” antwoord hy en stap tydsaam nader. “Tant Truia hou jou kos vir jou. Sy’t gesê dis in die spens, want dis ’n koue ete.”

      “Dankie. Ek sal later eet, want op die oomblik kry ek te warm om honger te wees,” antwoord sy, sit haar handsak op haar bed neer en skakel die ketel aan.

      Henk neem op ’n leunstoel plaas en strek sy bene lank voor hom uit.

      “Hoe ver is oom Tobias met die skildery?” vra hy.

      “Nog net twee Saterdae,” antwoord sy afgetrokke.

      “Dis gaaf. Die eksamen begin in die daaropvolgende week, en dan gaan jy nie tyd vir so iets hê nie. Hoe lyk dit, ounooi? Darem soos jy?”

      Sy draai om en haar gesiggie straal. “Dis pragtig, Henk! Tobias het my tien keer mooier geskilder as wat ek werklik is. Hy stem natuurlik nie saam nie, maar dit is so. Ek wens Mamma-hulle kon dit sien.”

      “Hulle sal nog,” glimlag hy geheimsinnig.

      “Hoe? Mamma-hulle kom selde of nooit hier, en … Ek het nog nooit daaraan gedink nie. Gaan Tobias my skildery verkoop?” vra sy nuuskierig.

      “Hy durf nie, want dis my eiendom,” antwoord Henk rustig. Sy oë vonkel ondeund op die verwarde meisie.

      “Jy bedoel jy … jy het hom gevra om my te skilder en my daarvoor te betaal, en intussen koop jy die skildery?” vra Ilse verbysterd.

      Henk knik en lag goedig oor die verwarring op Ilse se gesiggie. “Oom Tobias het jare gelede toe ek universiteit toe gekom het, beloof om vir my enige meisie wat ek na hom toe stuur, te skilder. Ek het altyd sy werk bewonder, maar ek het nie altyd van sy modelle gehou nie, daarom het hy gesê ek kan ’n meisie van my eie keuse vra om geskilder te word. Dink jy ek is baie voorbarig? As jy nie wil hê jou skildery moet eendag in my studeerkamer pryk nie, kan ek dit altyd vir jou ma present gee.”

      “Nee … nee, die skildery is natuurlik joune, Henk. Ek dink ek voel amper geëerd dat jy verkies om my skildery in jou huis te hê, maar sal jou vrou nie kwaad wees nie?” vra sy besorg.

      “Wel … nie as ek met die regte vrou trou nie.” Hy sien die diep blos op haar gesiggie en vervolg haastig: “Moenie jou daaroor kwel nie, ounooi, want die vrou met wie ek eendag trou, sal nie nodig hê om op enigiemand jaloers te wees nie. Solank jy nie vir my kwaad is omdat ek sonder jou wete vir oom Tobias gevra het om die skildery vir my te maak nie.”

      Sy skud haar kop en glimlag warm vir hom. “Nee, Henk. Dit laat my amper minder skuldig voel. Jy weet tog hoe baie jy vir my in die afgelope vier jaar gedoen het, en ek kon so min vir jou doen. As my skildery jou gelukkig kan maak, is dit so ’n klein bietjie troos … Ek’s bly jy dink ek is mooi,” sê sy impulsief.

      “Jou liewe kind,” lag hy geamuseerd. “Soms te veel kind,” mymer hy, “want in jou blydskap dat ek van jou gesiggie hou, is jy te blind om te sien dat ek van jou, die vrou in jou, hou. Soms wens ek daar was nie soveel onskuld in jou nie …”

      “Moes jy oom Tobias baie betaal vir die skildery?” vra Ilse aarselend.

      “Nee, ounooi. Ek het mos reeds vir jou gesê oom Tobias is ’n ou vriend van my pa, en hy weet ek is net ’n arm student.