Lilian Paramor

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg


Скачать книгу

traanklier oop te maak en enige verstoppings te verwyder.

      Hitte-uitslag

      Hitte-uitslag kom tipies voor wanneer die temperatuur wissel. Dit laat die vel ligpienk en kollerig vertoon en kom meestal op die warmste plekke van die liggaam voor, soos die nek, gesig en velvoutjies of waar die klere teen die liggaam raak. Die uitslag verdwyn gewoonlik wanneer die liggaam teen die aand afkoel of wan­neer Baba se klere uitgetrek word. Dit jeuk skynbaar nie, maar Baba mag wel rusteloos en ongemaklik wees vanweë die hitte. Moenie hom te warm aantrek nie en gebruik kleertjies van suiwer katoen. In die somer is slegs ’n frokkie en ’n doek of ’n ligte babapakkie dikwels genoeg. As die uitslag egter nie verdwyn nie of as Baba olik lyk en tekens van koors of griepagtige simptome vertoon, mag dit ’n allergie wees. Allergie-uitslag word dikwels deur dieet, wasgoedwasmiddels, badseep of lyfroom veroorsaak. Neem Baba dokter toe as sy olik lyk, sodat die toestand korrek behandel kan word. Voeg ’n pot rooibostee by Baba se badwater en gee vir Baba homeopatiese Calendula-tablette om die gejeuk te laat bedaar.

      Ontwrigte heupe

      Verskillende grade van ontwrigte heupe kom by babas voor; dit word by ge­boorte getoets. ’n Ligte mate van ontwrigting kan bloot vereis dat Baba vir ’n paar weke tot ’n paar maande lank ’n paar handdoekstofdoeke oormekaar moet dra om die heupbene teen die regte hoek met die holte van die bekkenbeen te hou totdat die ligamente sterker is. Die weefselsoutmiddels Ferrum phos. en Calc. fluor kan aanvullend gebruik word om die ligamente wat die heupbeen aan die holte van die bekkenbeen heg sterker en meer elasties te help maak. Heupontwrigting is taamlik algemeen, veral by brugbabas, en kan gelukkig behandel word. In die ergste gevalle word Baba se beentjies ’n paar maande in ’n omgekeerde-V-spalk ge­plaas, met ’n stut wat die knietjies uitmekaar hou. Dit verg baie geduld en moed van die ouers. Hou by die ondersoekprogram wat die dokter aanbeveel en vra al jou vrae oor jou baba se vordering. Onthou dat die prognose uitstekend is; moet jou dus nie te veel hieroor ontstig nie.

      Geelsug by babas

      Die meeste gevalle van geelsug by babas is van ’n fisiologiese aard en nie, soos by hepa­titis, ’n simptoom van lewersiekte nie. Pasgebore babas het te veel rooi­bloedselle, wat ná geboorte deur die effens onderontwikkelde lewer afgebreek moet word. Hierdie oortollige rooibloedselle hou talle voordele in gedurende die eerste paar dae, maar namate hulle afgebreek word, word bilirubien gevorm – die geel pigment wat fisiologiese geelsug veroorsaak. Dit begin gewoonlik van die tweede of derde dag af en duur voort totdat dit heeltemal deur die liggaam uitgeskei is.

      Geelsug net ná geboorte hou verband met die onversoenbaarheid van die Rhesus­faktor (die positiewe of negatiewe faktor van die bloedgroep) van die ma en baba se bloedgroepe. Dit is redelik seldsaam en word heeltemal anders behandel.

      Soveel moontlik van Baba se lyfie moet tuis of selfs by die kliniek 2 maal per dag vir 5–10 minute aan sonlig blootgestel word. Wees versigtig vir sonbrand en be­skerm Baba se ogies. Klinieke gebruik fototerapie, en ’n mens kan ook so ’n een­heid tuis gebruik onder toesig van ’n verpleegsuster wat jou daagliks sal kom besoek.

      Dit is noodsaaklik om Baba dikwels te borsvoed, aangesien meer vloeistof no­dig is om die bilirubien te help uitskei. Die geelsug duur soms langer by borsbabas, maar dit klaar vinniger op as jy nie die voedings skeduleer nie. Babas raak soms gouer moeg wanneer hulle geelsug het, dus mag dit nodig wees om hulle vir voedings wakker te maak. Borsbabas raak veral gouer moeg aangesien dit meer inspanning verg om aan die bors te drink.

      Die jongste navorsing toon dat hoë bilirubienvlakke nie so gevaarlik is as wat voorheen gedink is nie, maar dit bly ’n goeie idee om te sorg dat dit gemonitor en behandel word.

      Mukus

      Babas is besonder geneig om mukus te ontwikkel en ’n mens moet dan die soort melk­­formule of die dieet van die ma wat borsvoed in heroënskou neem.

      Dit is ook belangrik om die aard van die mukus te ontleed om dit behoorlik te kan behandel met weefselsoutterapie – ’n hoogs koste-effektiewe, veilige en doeltreffende oplossing sonder enige nadelige newe-effekte:

      •Waterige, oorvloedige, skuimerige, branderige mukus wat gewoonlik met nies gepaardgaan, vereis Nat. mur.

      •Dik, gryswit, taai mukus wat die boonste lugweë verstop, reageer goed op Kali. mur.

      •Geel, taai of slymerige mukus reageer goed op Kali. sulph.

      •Groen/geel klonterige, slymerige mukus word deur Calc. sulph. verlig.

      Sproei by babas

      Orale sproei-infeksies kan deur verskeie faktore veroorsaak word. Babas wat bottel drink en fopspeen suig is meer geneig om dit op te doen. Die beste sterili­sasie­metode is om alle komponente sowat 10 minute lank te kook, aangesien sekere steriliseeroplossings steeds nie die probleem oplos nie. Pasgebore babas wat in die hospitaal bottel gedrink het, ontwikkel dikwels binne die eerste twee weke by die huis sproei. Antibiotika lei ook dikwels tot sproei en ’n mens moet verkieslik tegelykertyd probiotika toedien. As Ma ’n sproei-infeksie het (vaginaal, siste­mies of aan haar borste – seer tepels is dikwels ’n aanduiding hiervan), kan dit ook na die baba oorgedra word en moet albei behandel word. Wenke vir tuisbehandeling:

      •Gee vir Baba 3 maal per dag 10 ml AB-jogurt wat lewende kulture bevat.

      •Dien 3 maal per dag homeopatiese Calendula-tablette en die weefselsout Kali. mur. toe (maak 1 tablet fyn en los dit op in ’n bietjie afgekoelde kookwater).

      •Ma’s wat borsvoed moet ook hierdie geneesmiddels gebruik en ’n bietjie gousblomroom of spesiale babaveilige salf aan hul tepels smeer.

      •’n Mens kan gentiaanviolet aan Baba se tong smeer, maar dit is taamlik morsig.

      •Neem Baba se melkformule in heroënskou as sproei gereeld voorkom en vermy pap in dié vroeë stadium.

      Onafgesakte testikels

      In die embriostadium ontwikkel ’n seuntjie se testikels in die maagholte, naby die niere. Die normale verloop van sake is dat hulle laat in die swangerskap na hul plek in die skrotum afsak. Onafgesakte testikels is wel ’n rede tot kommer, aangesien die testikels sperm by ’n temperatuur effens laer as die normale liggaamstempera­tuur vervaardig. Wanneer hulle in die skrotum afsak, is die temperatuur effens laer. In die meeste gevalle bly net een testikel in die maagholte agter en sal dit nie tot algehele onvrugbaarheid lei nie, maar daar word algemeen aanvaar dat ’n operasie nodig is indien die testikel teen drie tot ses maande nog nie afgesak het nie.

      Kort ná geboorte, tydens jou baba se eerste fisieke ondersoek, sal die dokter of vroedvrou voel of albei die testikels in die skrotum is. Dit is belangrik, aangesien ’n babaseuntjie se testikels soms tydelik terug in die maagholte verdwyn. Indien hulle reeds tevore afgesak het, is dit egter nie ’n permanente toestand nie. Jy kan af en toe voel of jy die ertjiegrootte testikels kan opspoor wanneer jy jou baba bad; lig jou dokter in as die skrotum leeg bly, al is dit net aan die een kant. Moet jou egter nie te veel daaroor bekommer nie, want dit is nie skadelik vir jou baba se gesondheid nie.

      Naeltjiebreuk

      Alle mense het ’n “naat” vertikaal oor die middellyn van die maag. Dit is bloot hoe ons ontwikkel. Ons organe ontwikkel eers buite die liggaam, waarna die maagwand dit omvou en die rande soos ’n naat sluit. Soms is die naat nog nie sterk genoeg vasgegroei by geboorte nie, veral rondom die naeltjie, waar die naelstring ’n potensieel swak plek skep. Die bekkengedeelte is ook ’n plek waar ’n breuk maklik ontstaan. Dit word ’n liesbreuk genoem.

      Aanduidings van ’n naeltjiebreuk is ’n geneigdheid van die naeltjie om uit te bult, of ’n selfs nog duideliker omskrewe swakheid in die maagwand, waar die rande sig­baar onder die vel oopgaan en van die organe selfs deurpeul. Dit word ge­woon­lik vererger deur verhoogde druk op die maag wanneer Baba nies, huil of hoes.

      Behandeling kan wissel: geringe breuksimptome waar die naeltjie net effens uitstaan, word nie behandel nie, terwyl ’n ernstige breuk ’n operasie mag nodig maak om die maagwand te heg ten einde te voorkom dat organe verwring of vasgeknyp word. ’n Verband of pleister op die gedeelte