volgende perspektiewe en wenke kan jou dalk help om die hele slaapkwessie te verstaan en te oorleef. Raadpleeg ook die uitgebreide hoofstuk oor hierdie onderwerp.
Perspektiewe op slaap
•Die meeste babas slaap nie genoeg na hul ouers se sin nie – waarskynlik omdat die ouers onrealistiese verwagtinge koester.
•Babas se fisiologiese slaappatrone verskil van ouer kinders en volwassenes s’n.
•Swak slaappatrone is dikwels oorerflik.
•’n Traumatiese swangerskap en geboorte dra dikwels by tot ’n rustelose slaappatroon.
•Angstige ouers se babas is geneig om onrustig te slaap.
•Oudste kinders slaap gewoonlik onrustiger.
•Babas wie se ouers albei heeldag buite die huis werk, word dikwels meer gereeld wakker snags.
•Baie faktore in die lewe van ’n baba of klein kindjie, soos koliek, tande kry, siekte, immunisering en angstigheid, verhoog die kans dat hulle snags sal wakker word.
•Party babas ruil dag en nag om in die eerste paar weke.
•Swak slaappatrone kan ’n gewoonte word as dit nie reg hanteer word nie.
•Ouers wat verkies om nie self alleen te slaap nie, het moontlik onrealistiese verwagtinge van hul babas.
•Party babas het ’n aktiewe droomlewe wat hulle laat wakker skrik.
•Babas se slaappatrone verswak soms ná inentings.
Slaapwenke
•Behandel jou eie angstigheid met ontspanningstegnieke, homeopatiese Rescue Emotion en ’n meer geroetineerde lewenstyl.
•Moenie jou baba kwalik neem vir sy nagtelike eskapades nie, hy sal dit aanvoel en net meer dikwels wakker word weens angstigheid.
•Moet nooit op jou horlosie kyk hoe laat en hoeveel keer jy vir Baba moet opstaan nie.
•Lê Baba in haar eie kamer of bedjie neer wanneer sy in die dag slaap en met slaaptyd saans, maar sit haar in of langs jou bed wanneer sy die eerste keer die nag wakker word, sodat jy nie self helder wakker hoef te word wanneer jy in die loop van die nag na haar behoeftes moet omsien nie.
•Van omtrent ses weke af is dit nie nodig om snags doeke om te ruil nie, tensy Baba luieruitslag of ’n vuil doek het.
•Moenie Baba voed of optel sodra sy die geringste geluidjie maak nie.
•Moenie Baba wakker maak vir ’n voeding net voordat jy gaan slaap omdat jy dink dit sal haar langer laat slaap nie – ’n baba se slaappatroon word versteur as jy die “kernnagrus” onderbreek.
•Beperk snags jou interaksie met Baba tot die minimum, aangesien ’n geselsery, oogkontak en helder lig Baba wawyd wakker sal maak.
•Moenie wegskram van die gesinsbed nie – dit is dikwels net ’n kwessie van tyd tot Baba se slaappatroon volledig ontwikkel, en tot tyd en wyl het jy elke moontlike oorlewingswenk nodig!
•As Baba snags nie vaak is nie, maak seker dat die dagsorggewer haar nie langer as 2 uur op ’n slag laat slaap nie.
•Bou ’n afwenroetine in Baba se dag in deur van meer uitbundige na rustiger aktiwiteite oor te skakel.
•Masseer ’n swak slaper voor slaaptyd, en tussen sy wenkbroue en langs sy slape wanneer hy snags wakker word.
•Lê Baba neer voordat sy heeltemal aan die slaap raak aan die bors of met die bottel. Klop haar liggies op die ruggie om die proses te voltooi.
•As Baba oor die algemeen onrustig is, gee homeopatiese Rescue Rest of Chamomilla-tablette.
Gesondheidskwessies
Geen ma hou daarvan as haar baba nie lekker voel nie en dit is besonder ontstellend as so ’n jong babatjie siek word. In hierdie afdeling kyk ons na enkele algemene gesondheidsprobleme wat in die eerste drie maande kan opduik. Maar voor ons begin, onthou: Voorsorg voorkom nasorg.
Wenke om in dié stadium siekte te help voorkom
•Gaan voort om uitsluitlik te borsvoed.
•Moenie op dié vroeë tydstip vaste kosse gee nie.
•Gee jou baba hope liefde en interaksie, want ’n gelukkige baba sal meer waarskynlik ’n gesonde baba wees.
•Behandel dadelik oormatige slym.
•Dokter jouself so gou moontlik met natuurlike geneesmiddels as jy self siek word.
Toe neus
’n Toe neus is baie algemeen onder klein babatjies. Dit is dikwels nie so erg as wat dit klink nie en word meestal veroorsaak deur die feit dat Baba nog nie sy neus kan snuit nie. Dit kom meer dikwels snags voor aangesien Baba dan plat lê en die slym dus nie kan dreineer nie. ’n Druppel soutoplossing in elke neusgat is dikwels doeltreffend om Baba alles te laat uitnies. Soms kan dit ook veroorsaak word deur suiwel- en graanprodukte in ’n ma wat borsvoed se dieet, of ’n suiwel- en soms sojagebaseerde melkformule, selfs net snags. As dit nie vanself opklaar nie, mag dit nodig wees om aanpassings te maak. Jy kan ook homeopatiese MucoCare gebruik as die toe neus herhaaldelik voorkom, en/of gebruik snags ’n bevogtiger met ’n bietjie bloekomolie. Dit moet egter elke oggend deeglik gewas en afgedroog word. ’n Paar druppels bloekomolie onder die warmwaterkraan wanneer jy Baba se badwater laat intap kan ook help vir die nag wat voorlê.
Hardlywigheid
Hardlywigheid is nogal ’n algemene probleem wanneer Baba van borsmelk gespeen word en op die bottel oorgaan of te gou met vaste kos begin. Hardlywige stoelgange is hard en ongereeld. As jou baba uitsluitlik borsmelk kry, mag hy moontlik in dié stadium net elke vyf dae of so ’n vuil doek hê – dit is nie hardlywigheid nie, al druk hy ook hoe hard en raak sy gesiggie bloedrooi. Beproef hierdie voorsorgmaatreëls en wenke vir die behandeling van hardlywigheid:
•Moet nog nie in dié stadium vir Baba pap gee nie.
•Gebruik ’n spesiale melkformule as suiwel- of sojaformule hardlywigheid veroorsaak.
•Smeer ’n bietjie petroleumjellie rondom Baba se anus en “ry fietsie” met sy bene wanneer hy probeer druk.
•Hou Baba regop en vryf sy laer rug wanneer hy opelyf wil hê.
•Masseer die drukpunt in die middel van sy linkerhakskeen se sool met jou kneukel om die dermkanaal te stimuleer – dit is ’n baie nuttige refleksologie-tegniek.
•As jy reeds vaste kos gee, beperk dit tot seisoenale vrugte of geel groente, maar bied voorlopig verkieslik meer van Baba se melk aan en eers later vaste kosse.
•Voeg ’n paar druppels olyfolie by twee bottels per dag vir bottelbabas.
•Gebruik homeopatiese middels soos Rescue Digest in die onwaarskynlike geval dat nie een van hierdie wenke help nie.
Klewerige ogies
Klewerige of waterige ogies word soms veroorsaak deur ’n verstopping van ’n traanklier, maar dui selde op ’n werklike infeksie. Vee die klewerige afskeiding met afgekoelde kookwater en ’n stukkie watte af deur van die binnehoek na die buitehoek te werk. As jy borsvoed, druk ’n bietjie melk in ’n skoon houer uit en vee Baba se oë hiermee af, aangesien borsmelk ’n kragtige natuurlike ontsmettingsmiddel is. Masseer die onderste ooglid met sirkelbewegings van jou wysvinger van die buitehoek na die binnehoek om enige verstopping te help verwyder. Die weefselsoutmiddels Kali. mur. en Kali. sulph. (1 tablet van elk 3 maal per dag, opgelos in ’n bietjie water) is ook nuttig. As jou kleinding dikwels baie mukus afskei of aan allergieë ly, kan dit daarmee verband hou. Suiwel- en graanprodukte in die dieet (óf jou eie indien jy borsvoed óf Baba s’n) is algemene oorsake. Dien homeopatiese MucoCare mondelings toe vir hierdie toestand.