sterker en meer elasties te maak en help skynbaar om die probleem vinniger op te los. Sou ’n operasie nodig wees, word dit gewoonlik op ongeveer ses maande gedoen, maar dit sal afhang van hoe ernstig die probleem is.
Praktiese sake
Uitset
Benewens ’n paar belangrike stukke toerusting, wat ongelukkig nogal duur is, het babas in die eerste jare nie veel meer nodig as liefde en aandag nie. Moet egter nie hierdie uitset afskeep nie. Hier volg ’n basiese lys van benodigdhede:
Sagteware (kleertjies, ens.)
30 handdoekstofdoeke as jy nie weggooidoeke gebruik nie
6 frokkies van elke grootte
5 handdoekstofrekpakkies van katoen
3 truitjies of bababaadjies
5 waterdigte broekies
6 borslappe
2 mussies
4 pare babasokkies om in die winter onder handdoekstofrekpakkies aan te trek om klein voetjies warm te hou
4–5 dun babakombersies (“receiving blankets” – dié met die prentjies!)
Paslakens vir die bababed
2–3 dikker kombersies vir ekstra hitte op koue aande
Buidelsak, slingersak of dradoek (baie nuttig om Baba teen jou bors of op jou rug te “abba”)
Hardeware
Wiegie of bababed (verf moet loodvry wees)
Tafel om doeke om te ruil
Bababad
Drabedjie (“carry cot”)
’n Kampeerwiegie is nuttig, veral wanneer julle gaan kuier
Drie-in-een-stootwaentjie (sluit soms ’n drabedjie in)
Doekemmer as jy handdoekstofdoeke gebruik
Motorstoeltjie (SABS-goedgekeur, die korrekte grootte, te alle tye)
Pas gerus hierdie lys aan na behoefte.
Bababedjie of kampeerwiegie?
’n Bababed kan help om ’n veilige, geborge omgewing vir jou baba te skep. ’n Kampeerwiegie kan help om Baba rustiger te laat slaap wanneer julle uitslaap. Dit kan ook in die huis rondgedra word en neem gewoonlik minder plek in beslag. Die ideale kampeerwiegie se matrashoogte is verstelbaar sodat jy Baba snags naby jou bed kan laat slaap, byna as ’n verlengstuk van jou eie bed. ’n Kampeerwiegie moet groot genoeg wees om ’n groeiende baba te akkommodeer aangesien jy dit waarskynlik geruime tyd lank sal gebruik, en ook om ongelukke te voorkom as Baba dalk sou probeer uitklim. ’n Bababed moet ook ruim genoeg wees om aan dié vereistes te voldoen. ’n Ruim bababed het die voordeel dat Baba nie te gou in ’n gewone bed hoef te slaap nie – dit maak dikwels ’n einde aan die gewilligheid waarmee hy saans gaan slaap.
Baie babas slaap natuurlik op die ou end snags meer in hul ouers se bed as in hul eie. Dit is heeltemal in orde, want dit beteken gewoonlik dat die kleingoed veiliger voel en hul ouers – veral die ma – minder moeite besorg!
Baba se uitgaansak
Jou handsak gaan binnekort deur ’n babadrasak vervang word! Plak’n lysie in Baba se klerekas en gaan dit na voor elke uitstappie. Vul verder aan met enigiets wat jou lewe nog verder kan vergemaklik:
•3–4 doeke
•nat lappies om boudjies skoon te maak
•boudjiesalf
•babavelroom
•vuilgoedsak
•’n stel skoon klere
•’n hoedjie of mussie
•warm dingetjie vir baba
•fopspeen
•doekies vir jou bra vir die eerste paar weke van borsvoeding
•bottelvoedingtoerusting soos poeiermaatlepel, bottel en bybehore
•medisynetoediener
•’n geskikte speelding
•’n botteltjie kos as Baba al ouer is
•’n ander drankie benewens melk
•voerlepeltjie
•klam lappie in plastieksak om gesiggie af te vee
Emosionele sake
“Moederskap gaan om meer as bloot die organiese proses van geboorte skenk . . . dit beteken om die behoeftes van die wêreld te begryp.” – Alexis De Veaux, ma en borg van MADRE, ’n Latyns-Amerikaanse hulporganisasie, aangehaal in Women’s Bodies, Women’s Wisdom: The Complete Guide to Women’s Health and Wellbeing deur dr. Christiane Northrup, Groot-Brittanje, Piatkus, 1995.
Voorwaar ’n diepsinnige uitspraak, maar alte waar! As ma speel jy ’n rol in die vorming van jou kind se wêreld en die lotgevalle van die volgende geslag.
Babas en hul ma’s het ’n baie spesiale verhouding. Hulle is so onlosmaaklik aan mekaar verbind soos ’n Siamese tweeling. Hoewel die baba klaarblyklik meer afhanklik van die ma is, is die pa en kind ook in mindere mate verbonde in ’n komplekse spel van emosies en selfs fisieke manifestasies.
Dit was die afsny van die naelstring wat julle verdeel het, maar ek glo dat babas eers veel later in hul lewe hierdie fisieke skeiding as ’n werklikheid aanvaar. Dit is ’n geleidelike proses wat vereis dat die ma deurlopend moet vernuwe en haar benadering voortdurend moet aanpas. Hierdie teorie help ons om te verstaan waarom ’n baba so besonder knieserig raak wanneer Ma sukkel om kop bo water te hou of wanneer die gesin onder groot spanning verkeer. Sulke tye kan jou kind se slaappatrone ontwrig word of jou baba makliker siek word. Liggaamlike kontak kan die nodige gevoel van geborgenheid skep.
Jy sal hierdie inligting kan gebruik om jou baba op allerlei maniere tevrede te stel, sinvolle roetines te vestig en te begryp wat op ’n sekere tydstip aan die gang is.
Benewens hul begeerte om so lank as wat nodig is met hul ma verenig te bly, het alle kinders ’n aangebore behoefte aan liefde en respek. Hulle wil omring word van ’n omvattende gevoel van geborgenheid. ’n Gevoel van veiligheid word geskep wanneer jy aanvaar dat jy en jou kind een is. Babas, soos alle mense, het ’n behoefte aan aanraking, en teer en innige fisieke kontak laat hulle gedy. Tel jou kind baie op, gee haar hope drukkies en masseer gereeld haar lyfie.
Die ander fisiek-emosionele behoefte is om te soog. Ons weet dat dit ’n reflekshandeling is, en dit is beslis ’n instinktiewe, diep gewortelde reaksie. Dit help om Baba se fisieke oorlewing te verseker, maar ek glo dat dit ook iets met sy emosionele oorlewing te make het. Hierdie standpunt daag die benadering uit wat steeds baie algemeen in Suid-Afrikaanse kraaminrigtings gevolg word – naamlik rigiede voedingskedules, vooroordeel teenoor fopspene en die denkrigting dat borsvoeding bloot oor die borsmelk gaan.
Na my mening het jou baba ook ’n derde emosionele behoefte, naamlik om baie geleidelik met die onverbiddelike sy van die lewe kennis te maak. Dit beteken dat jy hom teen oormatige hantering deur vreemdelinge moet beskerm, of dit nou opgewonde vriende en familie is of bedrywige mediese personeel. Sorg dat jy en jou baba deur stilte en kalmte omring word terwyl julle by jul nuwe omstandighede aanpas. Dit sal tot julle almal se voordeel strek.
Ek is van mening dat ’n kind eers teen die einde van die vormende eerste sewe jaar van sy lewe tot ’n waarlik afsonderlike wese ontwikkel. Dit is ’n geleidelike proses waartydens hy van algehele fisieke en emosionele afhanklikheid tot algehele onafhanklikheid ontwikkel. Ouers behoort aangemoedig te word om hul kinders met groter deernis te benader, eerder as om hulle