referendum wat op hande was, hoog geloop. Op 10 Maart het bondskanselier Kurt Schuschnigg ’n vurige toespraak gehou. Ek, my ouers en my broer het voor die radio gesit en luister.”
Hy glimlag weer effens by die herinnering. “Dit was so ’n ou groot Engelse radio wat in die biblioteek gestaan het, bruin en indrukwekkend. Op die wyserplaat het die name van hoofstede gestaan. Ek onthou nog hoe die ganse Wene in rooi-en-wit vlae getooi was in afwagting van die voorgenome referendum. Die leuse was: Met Schuschnigg vir ’n vrye Oostenryk – gee die Führer jou ‘ja’. In die strate het skares bymekaar gekom. Die dansende jong mense het baniere en plakkate met slagspreuke vertoon so ver as wat die oog kon sien. Selfs die strate was hier en daar rooi en wit geverf. Heil Schuschnigg! Heil Freiheit! het daar gestaan. Later het ek uitgevind die Israelgesinde Jode het 500 000 schilling, dis sowat $100 000, gegee om die veldtog te finansier. Dit was destyds ’n aardige bedrag! Met dié steun vir ’n gunstige referendum wou die Jode van Oostenryk ’n bastion skep teen die verskrikking wat in Duitsland aan die gang was.”
“Daarmee sou die Führer seker nie baie in sy skik gewees het nie.”
Ilan lag. “Beslis nie. Voor dagbreek die volgende dag nog het die tyding gekom van troepebewegings aan die Duitse grens. Daar was desperate pogings uit Wene om te sien of Londen of Parys of Rome bereid sou wees om steun te bied teen die toenemende Duitse druk op die bondskanselier om te bedank. Die Duitsers wou die Nazigesinde minister Kurt Seyss-Inquart aan bewind hê. Die veldtog teen anneksering was egter vergeefs. Die volgende dag het die Israelgesindes ’n verdere 300 000 schilling aan die Schuschnigg-veldtog geskenk. Hulle het nie geweet dis hul begrafnisgeld nie.” Hy kry ’n suur trek op sy gesig. “Gerugte het reeds die rondte gedoen dat Duitse troepe die grens oorgesteek het en dat die referendum uitgestel sou word.”
Hy drink sy koffie klaar. Natan is nie langer geïnteresseerd nie en klim met kat en ál van die rusbank af, en hou homself by die kaggel besig deur stokkies in die vuur te gooi.
“Ons het weer die ganse dag voor die radio deurgebring, weet ek nog. Eers is die uitstel van die referendum aangekondig en ’n paar minute later die bedanking van die volle kabinet, behalwe Seyss-Inquart.”
“Uiteraard,” sê Marc.
Ilan knik. “Nachon. Hy het aangebly as minister van binnelandse sake. Nu, daardie tyd het ek maar min besef van wat regtig aan die gang was. Ek was net bewus van my ouers se onsteltenis, wat hulle onsuksesvol probeer verberg het. Maar nou weet ons al dat die regering van die Duitse Ryk ’n ultimatum gestel het. Oostenryk moes óf ’n kandidaat vir die kanselierskap aanwys, óf Duitse troepe sou ons grens onmiddellik begin oorsteek.”
“En Oostenryk was nie bereid om Duitse bloed te verspil nie.”
“Dis soos jy sê, Marc,” Ilan lyk sinies. “Hoe sou ons dit immers ook reggekry het? Maar ja, dit was asof die wêreld omgekeer is. Dit kan ek my nog goed voorstel. Die krete wat skielik toenemend in die strate opgeklink het, het nuwe slagspreuke bevat: Ein Volk, ein Reich, ein Führer! En heel spoedig ook: Jude, verrecke!”
“Sjoe!”
“Ek onthou baie goed die see van bruin hemde wat deur die straat voor ons woonstel verbygestroom het terwyl ek angstig vanuit die boonste vensters op hulle neergekyk het. Oral was mense met wapens te sien en skielik het die polisie almal swastika-armbande gedra. Trouens, die vragmotors wat in die strate afgejaag het, en die trems het ook swastikas vertoon. Dit was iets wat ek tot in daardie stadium nooit tevore gesien het nie. Jong mans en seuns het aan hulle gehang, gewuif en uitgelate geskreeu. My pa het my by die vensterraam kom weghaal en die ligte afgeskakel.”
Hy lag weer. Dis amper dieselfde laggie as ou Siegfried s’n, dink Marc.
“Tja, dit was nie asof dit ons onsigbaar kon maak as dit donker is nie. Dit was vir my duidelik dat my ouers nie geweet het wat om te doen nie. Vir die eerste keer in my lewe het ek dit meegemaak …”
Marc leun oor en skink vir hom nog mud uit die termosfles op die tafel. Eers toe merk hy in die halfdonker dat Yhoshi uit die kamer gekom en in een van die diep gemakstoele gaan sit het.
Ilan neem die koffie by Marc en sit dit op die tafeltjie langs hom neer. “Een van my pa se neefs het gebel en gesê hulle gaan die nagtrein Praag toe probeer haal. Hy het daarop aangedring dat ons hulle moet vergesel. My moeder het radeloos haar hande gevryf en my vader het gesê ons sal nooit ongedeerd deur die skare kom nie en die trein sal in elk geval vol wees. Ek het later besef dat hy nie kans gesien het om alles waaruit sy lewe bestaan het, net so agter te laat nie. As 12-jarige seun het ek geen idee gehad van die geskiedkundige impak van die oomblik nie, maar nou weet ek president Miklas het ná middernag die nuwe kabinet goedgekeur en daar is aangekondig dat Oostenryk nou vry en Nasionaal-Sosialisties was.”
“Het dit so ontsettend vinnig gebeur?”
“Só vinnig, Marc. Daardie selfde nag al is die eerste Joodse winkels se vertoonvensters stukkend geslaan. Nie een van ons vier het bed toe gegaan of ons klere uitgetrek nie. Voor dagbreek die volgende oggend is daar met vuiste op ons voordeur gehamer en het ’n stuk of agt mans die woonstel binnegeswerm. Party van hulle het ’n soort uniform aangehad, ander was in burgerdrag met swastikas op die moue. Toe het daar ’n orkaan van vernietiging en plundery uitgebars. Mense wat vir jare verby die huis geloop en deur die venster geloer het as dit oop was, het toe meteens binnegekom. Dit was duidelik dat hulle dink: ‘Dít is hoe die Jode leef! Dít is hoe hulle ons geld gebruik het!’ Selfs ek kon dit op hul gesigte lees.”
Marc merk hoe Yhoshi, wat aandagtig luister, ril. Daar is egter nie veel wat hy daaromtrent kan doen nie.
Ilan roer in sy koffie, maar hy drink dit nie. “Een beeld bly my altyd by. My ouers se slaapkamer was die laaste vertrek wat hulle binnegeval het. Daar was Moeder se kleedtafel. Hulle het alles wat daarop was, sommer hardhandig op die vloer geveeg. Die klein spieëltjie, fraai porseleinbakkies, silwerdosies en die pot met rose. Toe het hulle die tafel in die gang uitgesleep. Hulle het ons vier wat daar gestaan het, teen die muur vasgedruk sodat hulle kon verbykom en drie van hulle het die tafel gelig en oor die balkonreling laat val. Jy kon hoor hoe die hout versplinter toe dit die stene van die binnehof tref …”
Hy draai sy kop ’n paar maal stadig heen en weer voordat hy verder praat. Dis of hy daardie beeld uit sy gedagtes wil verdryf. “Dit was moeilik om te glo. Ons het daar gestaan soos mense wat droom. Ek weet nog wat Vader gesê het toe die boewe met sakke vol aandenkings oor hul skouers die huis uit is. Een het selfs die groot staanklok van meer as ’n honderd jaar oud onder die arm gehad. Vader het gesê: ‘Dit is net die begin.’ ”
“Dit was nog nie eens Hitler se trawante nie?”
“Nee. Dit was die nuutontwaakte Ariërs. En daar was niks wat hulle kon teëhou nie.”
“Ariërs was almal wat nie Jode was nie?” vra Yhoshi sag.
Dis of die kinderstem Ilan tot sy sinne bring. “Jy sou so kon sê, Yhoshi,” sê hy rustiger, lig sy koppie en piering op, en drink sy koffie.
Die vlamme knetter en skiet vonke die lug in toe Marc nuwe dennebolle in die kaggel gooi. Natan het een van sy geliefde prenteboeke gaan haal en hy kyk saam met Shishi en Shmu’eli daarin.
Hy hoor wat Ilan vertel, en hy skep sy eie, veilige wêreld, dink Marc.
Dit sneeu steeds onophoudelik en die lug buite die venster is pêrelgrys.
“Maar dis nie net by ons wat dit gebeur het nie. Dwarsoor Wene is daardie nag deure oopgebreek terwyl kinders agter hul ouers weggekruip het, onder beddens, in kaste – enige plek om weg te kom van die rumoer wat hul bekende wêreld oorgeneem het. Vaders en broers is sonder meer in hegtenis geneem en in die groot vragmotors gebondel. Niemand het geweet waarheen hulle geneem sou word nie.”
“As hulle dan nie Hitler se soldate was nie, hoekom het die gewone mense dit aan die Jode gedoen?”
“Yhoshi, dit is wat ’n mens anti-Semitisme noem. Dis die eeue oue haat wat anti-Semiete laat glo die geweld van dinge vernietig en plunder is die beloning vir jare van wag dat dit met die Jode moet gebeur. Dit is baie jare van haat en afguns. Daardie