“ ’n Joodse skrywer?” vra die kind nog ’n bietjie verward deur die aankondiging dat sy pa ’n storie gaan vertél.
“Ken. Charles Lewinsky. Hy het geskryf oor mense wat só in die kampe doodgemaak is. Die storie is in sy boek.”
“Sal jy my vertel?”
Marc knik, dankbaar dat daar ’n einde aan die beproewende gesprek kon kom.
“Daar was eenmaal ’n reus wat groot en sterk en dom was. Hy was so groot dat hy op ál die ander neergekyk het. Hy was so sterk dat hy homself aan sy kraag kon vat en optel. Hy was so dom dat hy gedink het ál die mense hou van hom omdat hy so ’n gawe reus was.”
“Was hy ’n gawe reus?”
“Partykeer was hy gaaf en partykeer was hy onuitstaanbaar. Partykeer het die mense baie van hom gehou en partykeer ook weer nie. Dit het nie altyd dieselfde gebly nie. Daar was maar één iemand, ’n towenaar, wat geheel en al glad nie van reuse gehou het nie. Nie soggens nie en nie smiddae nie en beslis nie saans nie. Niemand kon agterkom waarom hy nie van reuse gehou het nie, want daar was nooit ’n reus wat op sy tone getrap het nie. En daar was nooit een wat die ketel waarin hy sy towerdrankies gebrou het, omgegooi het nie. Hy was eenvoudig net nie lief vir reuse nie. So iets kan gebeur. Dis nie maklik om ’n reus te wees nie.”
Die kind se oë is groot van verwondering, deels oor die storie en deels oor hy sy pa so ’n soort storie hoor vertel.
“Op ’n dag gee die towenaar vir die reus ’n presentjie.”
“ ’n Preséntjie?” wil Natani weet. “Hy het dan niks van hom gehou nie.”
“Dit was ook nie ’n mooi presentjie nie,” sê Marc, self half betower deur die verhaal. “Dit het maar net so gelyk. Dit was ’n onderskeiding …”
“Wat is dít?”
“Dis ’n soort … kenteken wat ’n mens kry as jy iets slims gedoen het.”
“Soos Yhoshi se klaskapteinwapentjie?”
“Presies! Die onderskeiding wat die reus van die towenaar gekry het, was versier met goud en silwer en diamante. En op die onderskeiding het gestaan: Ek is ’n reus. Die moet jy altyd dra, het die towenaar gesê, sodat die mense jou sal herken. Die reus was vreeslik bly oor die presentjie en hy het die onderskeiding dadelik op sy baadjie vasgespeld. Dit het eintlik baie mooi gelyk, maar …”
Marc swyg ’n oomblik vir effek en Natan vryf sy hande ingenome. “Wat?”
“Maar die onderskeiding was getoor. Dis drie dae in towersop gekook en die towenaar het drie keer towersout daaroor gegooi. Wie dié onderskeiding gedra het – dit was die gemene streek wat die towenaar bedink het – word elke dag ’n heel, heel klein bietjie kleiner. En dit was presies wat met die reus gebeur het.”
“Maar hoekom het hy dan nie die onderskeiding afgehaal nie?” wil Natan weet.
“Dit hoort by die toordery,” sê Marc en voel ’n rilling langs sy rug af loop. “Die reus het nie agtergekom dat hy kleiner word nie. Hy het gedink dat hy nog altyd die grootste reus in die hele wêreld is, selfs al kon hy nie meer op die dakke van die huise afkyk nie. Hy kon nie eens meer deur die vensters van die eerste verdieping kyk nie en daarna ook nie meer deur dié van die grondvloer nie. Op ’n dag was die blomme groter as hy, en toe later selfs die gras. Toe daar op die ou end nog net een stippie van hom oor was, gaan staan die towenaar op hom en trap hom in die grond in. Toe vee hy sy skoensole aan ’n graspolletjie af. Toe is daar niks van die reus oor nie. Net sy onderskeiding het nog daar gelê, maar die woorde daarop het verander. Nou het daar gestaan: Ek was eenmaal ’n reus.”
Dis eers heeltemal stil. Toe sê Natani: “Dis nie ’n mooi storie nie, Abba.”
Voordat Marc daarop kan reageer, vra die kind: “Weet jy wat, Abba?”
“Wat?”
“Die reus se storie laat my dink …” Natan dink ’n rukkie na en Marc se hart begin swaar klop. “Dit laat my dink aan Hilter.”
“Hitler,” korrigeer Marc weer.
“Aan wat Hitler met die Jode gedoen het …”
“Hoe so?” vra hy asemloos.
Weer dink Natan ’n rukkie na. “Hy het hulle eers soos die reus kleiner gemaak sodat hulle niks meer kon doen nie. En toe het hy hulle doodgemaak met die gif, net soos die towenaar die reus doodgetrap het toe hy klein genoeg was.”
Marc se oë brand van ongestorte trane. “Yeled chacham,” sê hy en hou die seuntjie styf vas. Die kind begryp veel meer as wat ek besef, dink hy. En hy weet nie of hy daaroor moet lag of huil nie.
Op dieselfde oomblik bars Yhoshi by die voordeur in. Sy wange gloei van die bitter koue weer buite. Sy mus en die skouers van sy baadjie is wit van die sneeu. Hy skop sy stewels onverwyld uit en gooi sy baadjie eenkant. Toe kom hy met sy hande teen die vuur staan.
“Dis vr-r-r-eeslik koud buite,” bibber hy. “Die sneeu lê só dik.” Hy beduie minstens ’n meter hoog.
Toe eers kom hy agter die ander twee is ongewoon stil.
“Wat doen julle?” vra hy.
“Abba het vir my ’n storie vertel.”
“Vertél!” roep hy net so ongelowig soos Natan vroeër.
Natan knik. “ ’n Storie van ’n reus en ’n towenaar.”
“ ’n Reus en ’n towenaar!” Yhoshi se verbasing neem toe. “Is nie!”
“Is!” sê sy boetie. “Vra hom!”
Yhoshi draai na Marc. “Abba?”
Teen dié tyd kan Marc weer lag. “Dit kom uit ’n boek. Ek sal dit later vir jou gee om te lees.”
Yhoshi skud sy kop. “Sulke stories is vir kleintjies.”
“Kom,” sê Marc om die saak saam te vat, “oor minder as ’n uur is dit Shabbat en ons moet nog heelwat doen.”
“Wat kan ons doen as die krag af is?” vra sy oudste.
“Ons kan die kerse aansteek,” sê die jongste.
“Ons sal sien,” sê Marc.
“Het jy met Imma gepraat, Abba?”
Marc skud sy kop. “Daar is geen opvangs nie.”
“Ons het nog nooit so baie sneeu gehad nie,” sê Yhoshi wat voor die venster staan en op die toegesneeude plein afkyk.
“Sal Imma genoeg komberse hê, Abba?” vra Natan angstig.
“Vir seker, Natani, vir seker. Hulle sal mooi na haar kyk daar.”
Hy sien die donker angs in die kind se oë en hy voeg vinnig by: “Sy is veilig daar, babbelossie. Hier’s nie towenaars nie.”
“Waarvan praat julle?” vra Yhoshi vererg.
“Jy kan later lees.”
“Ek lees nie van reuse en towenaars nie.”
“Hierdie een moet jy lees, Yhosh, dis anders,” sê sy boetie ernstig.
Hoofstuk 4
Jerusalem
14 Desember 2013
Shabbat
Toe Marc op Shabbat wakker word, sneeu dit nog een stryk deur. Hy wend weer ’n poging aan om Rivkah op sy selfoon te bel, maar daar is steeds geen ontvangs nie. Hy probeer die landlyn ook, net om te hoor dat slegs noodnommers geskakel kan word.
Die woonstel voel soos ’n grafkelder, yskoud en doodstil. Daar is selfs van buite geen geluide hoorbaar nie. Die sneeu sif onafgebroke oor die verlate plein neer. Hy trek ’n woltrui en sweetpak aan, asook sokkies by sy skaapvelpantoffels