“Het jy die Kaap gemis terwyl jy weg was?”
“Ja en nee. Johannesburg is deel van my, want ek het daar grootgeword. Die passie en die energie van die mense is eie aan die stad, en ek het dit geniet om deel daarvan te wees. Mense wat nog nooit daar gebly en gewerk het nie, sal dit nie verstaan nie. Dis een van daardie plekke waar jy jou vlerke kan sprei en weet dat jy met die regte geloof groot hoogtes gaan bereik.”
So maklik, ja, mits jy genoeg geld het om die vlerke te koop en die landing sag te maak. Aria sê dit nie hardop nie. Nog ’n aanmerking oor geld sal hom dalk net laat dink sy het regtig ’n obsessie daaroor. “Mense soos ek. Ek was al daar vir ’n kort besoek, maar ek dink nie ek verstaan heeltemal waarvan jy praat nie.”
“Dan het jy iemand nodig om jou oë oop te maak. Dalk kan ek jou eendag die dinge gaan wys wat Jan Alleman nie noodwendig raaksien nie.”
“Hopelik met jou straler,” spot sy saam, maar die blik in sy oë ontredder haar heeltemal.
“Ek kan dit seker reël as jy dit verkies.” Daar speel ’n fyn glimlaggie om sy mond.
Sy weet nie of hy ernstig is of skerts nie en gaan staan hande in die sye om na hom te kyk, sien die tergery in sy oë en skud haar kop ongelowig. “Een: dit is nie wat ek verkies nie. En twee: hoekom bied jy so iets aan vir iemand wat jy van geen kant ken nie?”
“As ons dan nou in syfers praat … Een: sê hulle almal. En twee: want ek kan.”
Aria lag. “Jy het unresolved issues, Reuben Rademan.”
“Het ons nie almal nie?” Die gevoel in sy blou oë is versluier agter ’n sinisme wat nie by hom pas nie.
“Het ek ’n sensitiewe snaar geslaan?” Sy kyk meer aandagtig na hom. “Hoekom bly ek die gevoel kry dat ek jou al voorheen gesien het?”
“Ek het jou beslis nog nie ontmoet nie. Ek sou dit onthou het.”
“Miskien verbeel ek my.”
“Ek het nogal daardie effek op vroue. Gryp hulle verbeelding aan, jy weet.”
Sy kan nie anders as om weer te lag nie en mik om terug te stap. Hy verdien beslis nie ’n antwoord nie.
Hy val langs haar in, en sy kyk om na die spore wat hulle tot hier toe getrap het. Sy spoor lank langs haar fyner een.
“Kom ons stap terug. ’n Terapiesessie langs die water het my nog nooit aangestaan nie. Veral nie in boots nie.”
“Wat is fout met water?”
“Dit is nie ’n plek wat my rustig stem nie.”
“Dis veronderstel om terapeuties te wees. Ek het ’n seilboot. Het dit in my studentedae aangeskaf en dit al die jare by die familiestrandhuis gelos. Die afgelope twee naweke het ek dit herontdek en was ek elke dag op die water. Glo my, as jy jou vlerke wil sprei …”
“Nee, dankie. Ek is nie lus vir ’n Titanic-episode nie. Man ontmoet meisie, sprei saam vlerke, sink saam.”
“Hulle het nie saam gesink nie, een het die wal bereik. Op ’n boot.”
“Wat is so wonderlik daaromtrent? Dis depressing om die minste te sê.”
“Seker nie veel nie, maar alle bote sink ook nie. Ek kan met jou wal toe swem as ons in die moeilikheid sou beland.”
“Ek kan baie goed swem, dankie.”
“Dan verstaan ek nie jou probleem nie.”
“Ek hou nie van die see nie.”
“Hou nie van nie … of is bang vir?”
Sy skud haar kop. “Ek moes geweet het jy het ’n boot. Is dit wat ryk, ongetroude mans doen wanneer hulle verveeld is of ’n meisie wil beïndruk?”
“Nee, deesdae is fietsry en polo glo hoog op die lys. Maar om meisies te beïndruk, is nie eintlik my forte nie.”
“Te besig?”
“Dit ook, ja.”
Hulle is al amper terug by die ander gaste, en hy gaan staan om weer na die stad te kyk wat van hier gesien so rustig teen die voet van die berg lê.
Sy loer onderlangs na hom. Wat het hulle pas gedoen? Kan dit flirt genoem word? Dis seker tweede natuur vir hom. Dis mos hoe mans soos hy met vroue praat, want hy weet die knieë van almal om hom is aan die lam kant. Dis wat selfvertroue aan ’n mens doen. En geld. Magtig, sy moet nou ophou om die geldkwessie op te haal. Dalk is sý die een met die onopgeloste issue.
“Ek het die boot met ’n rede aangeskaf. Deels om ’n vrees te help besweer, maar toe kom ek agter dis ’n ideale manier om weg te breek van alles en almal, en my kop skoon te kry.”
“Versuip al jou duiwels in die see?”
“So iets.”
“Ek moet dus geëerd voel dat jy my saamnooi?”
“Ja.”
Sy glimlag. “Ek is ’n kopdokter, jy gaan dalk spyt wees jy het my op jou boot toegelaat. Ons sal miskien eers deur alles wat jy oorboord wil gooi, moet sif.”
Hy kyk belangstellend na haar. “Ek het gedink jy werk saam met Sandra. Dat jy ook ’n dieetkundige is.”
“Nee, ons deel net spreekkamers by die hospitaal. Dis gerieflik so, om die huur en ontvangsdame te deel. Ons is nie kollegas in praktyk nie. Ons het mekaar in ons vyfde jaar op universiteit ontmoet. Ek was desperaat op soek na verblyf en iemand gee my toe haar nommer.
“Haar pa wou nie hê sy moes alleen bly nie, en sy is toe so gaaf om haar gerieflike woonstel met my te deel. Ons was albei nagraads, die reëling het ons dus goed gepas. Ons het dadelik gekliek en het twee jaar saamgebly voor sy by Medline op Somerset-Wes begin werk het. Ek het ’n jaar later daar begin omdat die geleentheid daar was en Sandra so positief oor die hospitaal was.”
“Goeie bestuur.” Hy sê dit met ’n glimlag.
“Seker waar. Die hospitaalbestuurder is aangenaam, maar die personeel kry min met hom te doen. Hy is ’n besige man. Matrone Vermaak is die een wat die septer in die sale swaai.”
Hulle gesels droog ’n rukkie op. Stilte hang lig tussen hulle.
Reuben maak keel skoon, en sy kyk weg van die brekende branders en terug na hom. Iets aan sy profiel pluk weer aan haar geheue.
“Weet jy wat? Dalk het ek jou verlede jaar by Sandra en Deon se troue gesien.”
“Ek was nie by die troue nie. Hulle het dit taamlik gou gereël, en ek was op daardie datum in Europa. Dit was ’n besigheidsbesoek wat ek nie kon verander nie. Hoekom wonder jy steeds daaroor? Dalk het jy my net êrens op kampus gesien.”
“Ek weet nie. Seker maar omdat dit so op die rand van my geheue huiwer.”
Hulle stap weer verder terwyl sy in haar geheue rondsoek na ’n herinnering aan hom, maar dan verander sy doelbewus haar gedagtegang.
Wat maak dit in elk geval tog saak?
Die son het vinnig gesak tot laag oor die watervlak en die lug verkleur tot ’n sagter skakering. Sy kan aan haar gesig voel die luggie koel nou vinnig af.
“Julle is net betyds vir nagereg. Glo my, hierdie suurlemoenkaaskoekies is nie te versmaai nie. En die macaroons nog minder. Kan ek vir julle koffie skink?”
“Dankie, Sandra, maar jy hoef ons nie te bedien nie, ons skink sommer self. Jy kan ons net geselskap hou.” Reuben trek twee koppies nader en kyk vraend na Aria.
“Dankie.” Sy kyk hoe hy die eerste koppie volmaak.
Sandra vou albei haar hande om die warm koppie. “Ek begin nou koud kry. Ek dink dis tyd om ’n baadjie aan te trek.”
“Ek stem saam.” Aria trek die mus laer oor haar ore en gaan tel haar baadjie van die stoel af op.