haar lippe opmekaar en frons. Die eenderse wit meenthuise met hul klein driehoekgewels, rooi dakteëls en kleinerige voorstoepies is dig teen mekaar gebou. As hy in sy huis nies, sal sy dit tien teen een kan hoor. Sy sal dus van tyd tot tyd onvermydelik in hom vasloop. Beteken dit hulle gaan gedurig teen mekaar skaaf?
Dit sal glad nie bevorderlik vir haar herderlike werk wees nie.
Sy kan haar kop op ’n blok sit hy het die dominee met opset beklemtoon sodat dit neerbuigend moet klink. Wel, dit pas uitstekend by Ollie se beskrywing van vrouehater.
Die telefoon se gelui ruk haar uit haar gedagtewêreld en sy haas haar na binne om te antwoord.
“Dag, my kind,” klink die vrolike stem van haar ma, Magriet, aan die ander kant op.
O, wee, as Magriet so hipervrolik klink, is daar iets aan die kom, spoed dit deur Marcella se kop. “Môre, Ma, gaan dit goed?”
“Natuurlik, altyd goed. Kom jy reg op die nuwe plek? Hoekom jy nie wou hê ek en Pa moet jou kom help trek nie, verstaan ek nou nog nie, Marcella.”
Daar het jy dit. Magriet voel steeds afgehaal omdat Marcella ’n deurvaart van die Kaap na Skoonstroom toe gestuit het. Dit het niks met liefde, of ’n gebrek daaraan, te doen nie, redeneer Marcella vlugtig vir die hoeveelste keer met haarself. Sy wou haar begin op Skoonstroom net self behartig en haar huis inrig soos sy wou.
“Ek het mos al verduidelik, Ma. Ek het so min goed deesdae dat ek nie ekstra hulp nodig gehad het nie.”
“Ewenwel, maar ons kon jou tog met raad bygestaan het, morele ondersteuning gegee het,” probeer Magriet weer motiveer.
Dis juis wat ek nie wou gehad het nie, dink Marcella moedeloos. “Ek is al ’n stewige dertigplusser, Ma. Julle kan eerder later kom kuier wanneer ek goed ingeburger is. Dan geniet ons sommer net mekaar se geselskap.”
As haar ma haar net wou ophou bekommer, kan hulle soveel kwaliteittyd saam deurbring. Elke keer wanneer sy Magriet daaroor konfronteer, moet sy hoor dit kom van haar babadae af. “Ons het jou byna verloor met jou geboorte, my kind. Die ginekoloog het agterna vertel dit was so ampertjies.” En wanneer sy nie juis daarop reageer nie, begin haar ma gewoonlik met die storie oor hoe sy op ses weke kinkhoes gekry en by die dood omgedraai het. Marcella ken nie al die feite van die gebeure nie, want sy het nooit ordentlik geluister wanneer Magriet daaroor praat nie. “En jy moet onthou jy is ons enigste. Ek kon net nie weer swanger raak nie.”
Sy begin doelbewus oor ander dinge gesels om Magriet se aandag af te lei. “Ek sal laat weet wanneer dit ’n geleë tyd is vir kuier, dan kom julle sommer met die vliegtuig. Pa moenie deur daardie moordende Karoo bestuur nie,” sluit sy af. Ben is nie meer fisiek sterk nie.
“Goed, Marcella, burger jou maar eers goed in. Ek verstaan.”
Verstaan haar ma regtig?
Marcella sit die foon neer en gaan na die slaapkamer wat sy as studeerkamer ingerig het. Sy gaan staan voor haar en Wouter se troufoto. Hoe mis sy hom nie. Hy het net geweet hoe om Magriet te hanteer. En haar ma was klei in sy hande.
Onwillekeurig gaan haar gedagtes terug na die dag van die ongeluk. Hulle was op pad na ’n opera-uitvoering toe ’n motor teen volle spoed oor die rooi lig ry en hulle aan Wouter se kant tref. Alles het verblindend vinnig gebeur. Toe sy in die hospitaal bykom, het sy dadelik besef sy het die baba verloor en moes toe ook nog hoor dat Wouter dood is. Dit het gevoel of sy deur stikdonkerte omring was. Daar was geen lig nie. Sy wou geen lig hê nie, wou net in ’n opgetrekte fetusposisie bly lê. Wou niemand sien nie, wou net alleen wees. Willoos het sy ingestem om in die kliniek opgeneem te word. Die sessies by die psigiater het sy apaties deurloop en die voorgeskrewe medikasie geneem.
Die koerantberig wat sy later gesien het, het gemeld dat die vrou in die ander kar ook dood is. Die man wat die motor bestuur het, was onder die invloed van drank en is aangekla vir strafbare manslag.
“Hoekom eet jy nie jou kos op nie?” het die personeel in die eetsaal gereeld moedeloos gevra.
“Sukkel om te sluk,” was haar verweer.
Dan het hulle maar net kop geskud. “Shame, senuwees.”
Vir maande het dit so gegaan. Sy het niks om haar raakgesien nie en net kop onderstebo bly sit wanneer die personeel haar tuin toe geneem het. Tot die dag toe ’n skoenlapper met die mooiste kleure op haar hand kom land het. Met verwondering het sy na die fyn vlerke gestaar wat oop en toe vou. En toe hy wegvlieg, het haar oë hom gevolg tot waar hy op ’n heldergeel blom gaan sit het. Dit was of skille voor haar oë afgeval het, toe sy meteens die wonderlike kleure in die blombeddings raaksien. Sy het op gekyk na die oneindige blou lug, bewus geraak van die son op haar vel en besef dat sy leef.
Skielik skel die deurklokkie weer. Kan jy nou meer, dis weer hy, sien sy toe sy oopmaak.
“Die vrou wat my huis skoonmaak, het nog ’n dag oop, as jy sou belangstel om van haar dienste gebruik te maak,” rol sy musikale stem oor haar. “Ek kan haar sonder meer aanbeveel.”
Die enigste positiewe opmerking vandat sy hom ontmoet het. Uiteindelik goeie nuus. “Dit sal gaaf wees,” antwoord sy spontaan. “Ek het juis gedink om te begin rondvra.”
Toe hy glimlag, moet sy keer dat haar mond nie oopval nie. Verras staar sy na die kuiltjie in sy wang. Met so ’n bate behoort hy mos permanent te glimlag. “Ek sal haar sê om jou te kom sien sodra sy by my huis klaar is.”
Sonder om te groet, draai hy om en stap weg. Sy vou haar arms en staar hom agterna. Al smag haar hart na Wouter, is sy darem nie heeltemal blind wat die teenoorgestelde geslag aangaan nie. Lukas de Lange is ’n uiters aantreklike man.
Weer skuif Wouter se lewensblye gelaat voor haar in, en sy besef sy mis hom nie net emosioneel nie, maar ook fisiek. Sy mis die geborge gevoel wanneer sy teen sy bors vasgedruk was met sy sterk arms om haar. Sy mis ook die geestelike aanklank wat hulle by mekaar gevind het. Sy fyn humorsin.
Terug in die studeerkamer kyk sy weer na haar en Wouter se troufoto. Wouter se oë wat haar liefdevol toelag. Hy was tog altyd so ’n positiewe mens. “Ek werk met die lewe, Marcella, hoe kan ek ooit bedruk wees?” het hy dikwels gesê. Elke baba wat hy as ginekoloog die wêreld ingehelp het, was vir hom ’n wonderwerk. En hy was skoon uitgelate oor haar swangerskap. Vir haar was dit ’n dubbele verlies om albei van hulle te verloor. Dit het gevoel of sy alleen op ’n hoë krans staan en ’n sterk wind haar enige oomblik daar kan afwaai. Gelukkig het die Here haar voete stewig op die hoë rots gehou en kon sy omdraai en ’n ander roete volg, ’n roete wat haar hier tot by Skoonstroom gebring het. Dit het haar laat besef dat die lewe aangaan.
Sy werk ook met die lewe in al sy fasette: menselewens, hul sielelewe. Om mense die sonkant van die lewe te help sien, was altyd haar droom. Haar sonligdroom. Die ergste donker tyd lê gelukkig nou agter haar. Vorentoe wag die lig.
Ná haar siekteverlof verstryk het, het sy aan haar vorige gemeente se kerkraad verduidelik waarom sy wil weggaan. Gelukkig het hulle verstaan dat sy ’n verandering nodig gehad het.
Ingedagte vryf sy weer oor Wouter se gesig agter die glas en praat hardop met hom, soos sy so dikwels doen. “Hierdie man is daarop uit om my te boelie, Wouter, maar hy gaan dit nie regkry nie. Ek sal nie toelaat dat hy my gemoedsvrede versteur nie.”
Hoofstuk 2
“Môre, mevrou Botha, gaan dit goed?” groet Marcella die mollige vrou agter die kiaathoutlessenaar. Sy merk hoe Ollie ’n plak sjokolade so ongemerk moontlik agter ’n boks snesies inskuif en glimlag heimlik. So het elkeen maar ’n swakte.
“Haai, nee, g’n gemevrou nie, Dominee, sommer Ollie. Eintlik Olga, maar vandat ek wis, noem almal my Ollie.”
Gesels is ook ’n liefhebbery van Ollie, besef Marcella. Is seker so bly wanneer mense kom, want andersins moet dit maar eensaam hier op kantoor wees. “Goed, Ollie. Noem my gerus ook Marcella.”
’n Giggel van verleentheid gly oor Ollie se lippe. “Oe, jinnetjie, ek sal probeer. Gelukkig lyk jy nie soos ’n dominee nie en