vriende te maak,” sê Bella ernstig. “Jy kort die afleiding van jongmensgeselskap, Marcella.”
Marcella knik. “Ek wil net vriende hê, niks meer nie. Niemand sal Wouter se plek kan inneem nie.”
“Natuurlik sal Wouter se skoene vir geen ander man pas nie, Marcella. Moenie eens probeer om ’n tweede Wouter te soek nie. Onthou hom soos hy was. Jy sal by ’n heel ander persoonlikheid moet aanpas,” is Bella se raad.
Marcella knik instemmend. Dit besef sy ook goed. “Maar dit sal nie Karel – indien dit die een is wat ek ken – wees nie … ons was net goeie vriende. Ja, dit sal gaaf wees om hom weer te sien.”
Bella knik begrypend. “Hy kon wel mettertyd so ontwikkel en verander het dat jy met nuwe oë na hom kan kyk.”
Marcella lag sag. “Nog nooit nie. Nie die grapjas van ’n Karel nie … ”
“Daar gaan ’n tyd kom dat die alleenheid jou sal vang, Marcella,” praat Bella verder. “Ek hoop iewers in die toekoms vind jy weer die regte man met wie jy jou lewe wil deel.”
Dit wurg in haar keel. Sy wil nie aan sulke dinge dink nie. Bella bedoel dit baie goed, maar sy was nog nooit self in so ’n posisie nie. Hier is Theuns al byna gereed om te emeriteer en hulle is nog saam, albei springlewendig en gesond.
“Ek sal maar die lewe tree vir tree moet neem, tannie Bella.” En droom van blougroen oë, koggel dit binne-in haar. Sy voel die hitte teen haar nek opstoot. Dankie tog Bella kan nie nou haar gedagtes lees nie.
• • • •
Marcella parkeer so naby aan die hoofingang moontlik en beduie vir die motorwag dat hy haar kar maar kan oppas. Die arme mense staan heeldag in die son; sy kry hulle so jammer.
Voor die swaaideur staan sy eers ’n oomblik stil en asem diep in en uit. Sedert die ongeluk maak haar maag gereeld draaie wanneer sy by ’n hospitaal kom. Maar die weeklikse hospitaalbesoek is deel van haar bediening en dit kan sy nie systap nie. Sy het predikant geword, nie net om die evangelie te verkondig nie, maar dit ook te leef deur diensbaar te wees. Haar eie vrese moet sy nou agterlaat.
Sy stap met mening in, deur die groot ontvangs- en opnamevertrek, en met die lang gang na waar die kindjie lê. ’n Jong egpaar in die gemeente het gebel en vertel van hul kleuterdogtertjie se operasie. Die vrou het redelik ontsteld geklink, gevra sy moet asseblief vir hulle kom bid.
Toe sy by die kraamafdeling se ingang verby stap, sien sy die blonde suster by die diensafdeling druk in gesprek met ’n verpleegster. Dit moet dan seker Linda wees. Nuuskierig stap sy daarheen om te gaan kennis maak. As haar ouers vriende van Theuns-hulle is, kan sy seker aanneem die suster is ook nou een van haar gemeentelede.
Groot blou oë lag haar vriendelik toe, en Marcella moet heimlik toegee sy is nogal sexy, om Ollie se uitdrukking te gebruik. En sy kan net dink watter rimpelings sy op die hubare manne se stille waters gaan veroorsaak. Voorwaar kompetisie vir al die jong meisies.
Dit behoort interessant te wees om te sien of sy hoogheid voor Linda se sjarme gaan swig, peins Marcella toe sy verder loop.
Die dankbaarheid op die man en vrou se gesigte toe sy by hulle kom, is aangrypend. Rustig dein die kindjie se bors soos sy asemhaal. Marcella gesels en vra uit.
“Sy is met ’n heupdefek gebore,” verduidelik die vrou.
Marcella lees uit die Bybel en bid vir hulle, asook vir die hande wat met die dogtertjie gaan werk.
“Dankie, Dominee,” praat hulle byna uit een mond.
Marcella knik. “Ek is so bly julle het laat weet.” En dankie dat ek ineens so kalm voel, stuur sy ’n stille gebed op. “Wanneer is die operasie?”
“Enige tyd van nou af. Ons wag net vir die ortopeed,” verduidelik die vrou met ’n bewende stem. “Hy wil haar voor die operasie glo weer sien.”
Toe Marcella opkyk, staan Lukas ook by hulle. Hy het so suutjies ingekom dat sy hom nooit eens gehoor het nie. Sy oë lyk sag turkoois toe hy na haar kyk. “Môre, Dominee,” groet hy ernstig.
Marcella knik sonder om te antwoord.
Hy draai na die egpaar. “Ek is dokter De Lange, die narkotiseur,” stel hy hom aan die ouers voor, en hulle groet skugter terug. “Ek wil ook net gou na die pasiëntjie kyk,” sê hy. “Julle hoef nie te loop nie, jy ook nie, Dominee,” keer hy toe hulle wil uitloop.
Hy werk so mooi met die kind terwyl hy met die ondersoek besig is dat Marcella kan sien sy hart is in sy werk. Die kind is in veilige hande wat die narkose betref. Lukas is net so besig met dienslewering as wat sy kan droom om te wees.
Wanneer hy voor die orrel sit, leef hy hom weer in die musiek uit. Sy kyk na sy hande. Sensitiewe hande wat sag kan aanraak, wat lieflike musiek kan optower.
En hy het ’n melodie in haar hart aan die gang gesit.
Marcella skrik toe sy besef watter koers haar gedagtes loop. Die kamer voel te klein vir haar hier in Lukas se teenwoordigheid. Sy wil wegkom, kans kry om haar gedagtes te orden. “Dan groet ek maar, as julle my sal verskoon,” sê sy vir die ouers en gee die vrou ’n vertroostende drukkie. Sy groet die man met die hand. “Ek sal later weer kom inloer. Wees sterk, ek is vol vertroue dit sal goed gaan.”
“Totsiens, dokter De Lange,” groet sy Lukas vinnig en glip by die deur uit.
Ver kom sy nie, toe is hy by haar. “Hoekom so haastig, Marcella?” wil hy weet.
“Ek wil op die lys gaan kyk watter van ons gemeentelede nog hier is,” maak sy verskoning sonder om na hom te kyk. “Wil maar by almal inloer terwyl ek nou hier is. Wanneer moet jy in die teater wees?” Dit behoort die aandag van haar af te kry.
“Die dogtertjie word eers oor ’n driekwartier geopereer. Dan is daar nog twee groot operasies in die loop van die oggend. Ek wil juis nou by daardie twee pasiënte ook ’n draai gaan maak.”
Vergete is haar ongemak nou en sy kyk hom in die oë: “Dit moet baie uitputtend wees?”
Hy glimlag effens. “Dit is, buurvrou, maar ook baie bevredigend. Sien jou later,” groet hy met sy kop gekantel.
Regop en vol selfvertroue stap hy weg, stetoskoop in die hand.
Daar is toe wel nog ’n gemeentelid om te besoek. Een van die ouetehuistannies wat ’n knievervanging ondergaan. Marcella kuier so ’n bietjie, troos, lees uit die Bybel en doen ’n gebed.
Toe sy naby die kraamsaal kom, voel dit of sy wil vlug. Lukas en Linda staan in die gang, naby mekaar, druk in gesprek. Hulle lyk na ’n perfekte paartjie, hy met sy donker kop en Linda met haar blonde skoonheid. Watter effek sou dié blondine op Lukas hê? Daar is geen ander manier om uit die hospitaal te kom nie, sy sal by hulle verby moet loop. Hoekom dit vir haar so ’n berg is, verstaan sy ook nie. Met al die moed wat sy kan bymekaarskraap, stap sy nader.
Lukas se gesig verhelder darem toe hy haar sien aankom. Linda s’n toon geen emosie nie, haar groet klink heeltemal neutraal.
“Ek is op pad. Julle moet my verskoon,” verduidelik Marcella gou en sien hoe Linda se gesigspiere ontspan en sy vol bewondering na Lukas draai om verder met hom te gesels.
Marcella het skaars omgedraai om te loop toe ’n pluk aan haar arm haar weer tot stilstand dwing. Lukas.
“Ry versigtig,” vermaan hy.
Sy gaap hom verbaas aan en sien vlugtig hoe afgehaal Linda lyk. “Pas op vir hierdie dokter, Linda, hy wil al wat ’n vrou is hiet en gebied,” probeer Marcella so skertsend moontlik iets sê om Linda te laat verstaan dat sy nie ’n mededinger is om Lukas se guns nie.
Vir wat vermaan hy haar in die helder dag om versigtig te ry? Of kan dit wees dat hy regtig omgee? Die gedagte vou warm om haar. Nee, sy sal haar gedagtes moet hokslaan. Dalk wou Lukas haar net gebruik om Linda te laat verstaan dat sy nie idees moet kry nie. Arme Linda. Marcella hoop die meisie gaan nie bitter seerkry nie.
Sy sal self ook suutjies