kyk sy ’n bietjie later na die netjies gedekte skinkbord wat hy op die spieëltafel neersit. ’n Man wat soek totdat hy vind, kom dit by haar op. Hy het sowaar haar teestel van fyn porselein met die goue randjies in die hande gekry, merk sy toe sy die teepot, melkbekertjie, suikerpot en twee koppies sien. Hy gaan dus saam drink.
“Sit regop,” gebied hy en help haar orent, “dan druk ek die kussings agter jou in.”
Die aanraking van sy arm agter haar blad betrap haar onverhoeds en stuur ’n gloed teen haar nek en wange op. Sy hoop nie hy sien die blos nie, want wat moet hy dan van haar dink? Sy is ’n dominee, nie ’n bakvissie nie. Gelukkig voel sy nie ongemaklik met hom hier in haar slaapkamer nie, daarvoor tree hy te professioneel op.
Hy gee haar tee vir haar aan. “Ek het in jou koskas gekrap en beskuit gekry. Eet dit saam met jou tee sodat daar vaste kos in jou maag kom, dan drink jy een van dié.” Hy sit ’n glas water en ’n houer pille op haar bedkassie neer. “Saam met ’n bietjie slaap is dit goeie medisyne.” Doodnatuurlik maak hy hom op haar spieëltafel se bankie tuis.
Toe hulle klaar gedrink het, vat hy die leë koppie by haar en trek die roomkleurige gordyne toe. “Probeer nou slaap. Ek sluit die huis. Sal later die sleutel terugbring, jy het mos ’n duplikaat.”
“Ja. En … dankie, ek waardeer jou moeite, Dokter.”
“Lukas. Weg van die hospitaal is ek Lukas.”
“En ek is Marcella. Los ook tog maar die titel.”
’n Fyn glimlag vorm om sy mond. “Goed, Marcella.”
Die laaste waarvan sy weet, is sy toe sy lang, regop gestalte by die deur uitgaan.
• • • •
Toe Marcella wakker word, is sy eers verbaas. Sy is dan nog ten volle geklee? Toe onthou sy wat gebeur het en hoe Lukas haar huis toe gebring het. Aardetjie, dis reeds twaalfuur die middag. Sy het maklik twee ure lank geslaap. Watter soort pille dit was wat hy haar gegee het, weet sy nie, maar dit het haar goedgedoen; sy voel sommer stukke beter.
Swaarmoedig onthou sy die oorsaak van haar ongesteldheid. Sy sluit haar oë. In haar beroep word ’n mens ook onvermydelik met siekte, ongelukke en dood gekonfronteer. Sy behoort mos daaraan gewoond te wees? Maar kan ’n mens ooit aan die dood gewoond raak? Dit het haar onkant betrap toe sy hoor van die ongeluk wat soos haar en Wouter s’n geklink het. Marcella sug. Sy was nog altyd ’n baie sterk mens; sy sal die innerlike krag herwin wat sy eens gehad het.
Die probleem is mense. Daar is baie wat nog meen dat ’n dominee geen menslike swakhede mag hê nie. ’n Verwagting van volmaaktheid. Daarom kon sy nie teruggaan na haar vorige gemeente nie en wou sy eerder op ’n ander plek nuut begin. ’n Plek waar almal nie haar geskiedenis ken nie.
Gou trek sy die gordyne oop. Dit was lekker om haar oor te gee aan die vergetelheid van ’n diep slaap in die skemer kamer, maar nou wil sy die son weer sien.
Die deurklokkie onderbreek haar gedagtes en sy haas haar om te gaan oopmaak.
Sy kyk reg in twee helder blougroen oë vas en sug innerlik.
“Voel jy al beter?” Hy glimlag en ’n kuiltjie verskyn in sy een wang.
Byna betowerd staar Marcella daarna. Het hy besluit om vriendeliker te wees? Daar moet dan ’n bietjie menslikheid ook in hom wees. Sy sien terselfdertyd ook die donker skynsel van sy baard. Die arme man is nog heeldag aan die gang, tref dit haar. Die glimlag verdoesel die moegheid.
“Ja, ek voel weer piekfyn. Wil jy inkom?”
Hy skud sy kop en trek sy vingers deur sy hare. “Nee, dankie, ek moet aangaan.” Hy vryf oor sy ken. “Het gou huis toe gekom om te kom skeer en toe sommer jou sleutel gebring.”
Sy vat dit by hom.
“Praat maar as jy iets nodig het. Ek het gereël dat jou motor gebring word. Dit staan hier voor jou garage.” Nog voordat sy kan antwoord, draai hy om en loop met lang treë weg.
Verwonderd kyk sy hom agterna. Besef hy watter klein genade sy vriendelikheid van flussies was?
• • • •
Laatmiddag kom Theuns en Bella Verwey ook inloer.
“Ollie sê jy’t inmekaargesak,” val Bella met die deur in die huis en gee ’n glasbak met kos vir Marcella. “Sommer ’n bietjie lasagne vir aandkos.”
Marcella kyk dankbaar na Bella: “Dankie vir die kos. Dis meer as welkom. En Ollie het aangedik, hoor, ek was net ontsteld.” Hewig ontsteld, maar hulle hoef nie die volle omvang te weet nie.
Hulle gesels eers oor allerlei voordat Theuns ernstig keelskoonmaak en praat: “Jy moet maar sê as ek Sondag jou preekbeurt moet neem, Marcella. Daar is darem nog oorgenoeg tyd vir my om ’n preek uit te werk.” Sy donker oë is ernstig op haar gerig.
Wat ’n genade is Theuns en Bella se besorgdheid tog. Hulle is die enigste mense wat die besonderhede van haar verlede ken. Die kerkraad weet maar net dat sy ’n weduwee is. Sy het van die begin af oop kaarte met hulle twee gespeel en alles vertel. En sy het hulle onvoorwaardelik vertrou toe hulle, sonder dat sy gevra het, beloof het om dit vir hulleself te hou, want hulle het besef hoe pynlik dit nog vir Marcella is.
“Dankie, oom Theuns, maar dit sal nie nodig wees nie.” Toe vertel sy hulle waarom sy in ’n skoktoestand was. “Seker omdat dit so met my eie ervaring ooreengestem het,” verduidelik sy. “Nee wat, oom Theuns, ek sien nogal uit daarna om weer te preek.”
Theuns en Bella glimlag albei, maar Marcella sien tog die skadu wat oor Bella se gesig gly. “Hierdie ongeluk het toe heel anders verloop as die een waarin jy en jou oorlede man was, Marcella,” begin Bella sag vertel. “Die man en vrou was van ons gemeentelede, en Lukas het so ’n halfuur gelede laat weet die vrou het ook nie lewend daarvan afgekom nie. Miskien ook maar goed, want sy sou haar bene nie weer kon gebruik het nie.”
Verslae sit Marcella en luister. Hoe tragies tog. Arme Lukas, en die chirurg wat geopereer het. Dis seker vir hulle erg. Dan het sy nog baie om voor dankbaar te wees, want hier sit sy ongedeerd met ’n toekoms wat steeds wink. “Was daar kinders?” vra sy huiwerig.
“Nee. Genadiglik nie,” antwoord Theuns.
Bella beaam met ’n kopknik, en Marcella verwonder haar aan die statige vrou se mooi, blink grys hare.
• • • •
Marcella kyk oor die see gesigte heen. Dit voel so bekend, amper asof sy nog van altyd af hier is. Gelukkig voel sy kalm en sterk. Tevrede dat haar preek goed afgeloop het, luister sy na die orrelspel terwyl die kollekte opgeneem word. Lukas is voorwaar ’n meester en haal uit die orrel wat min hom kan nadoen. Regop-rug sit hy daar en tower die mooiste klanke op. Ongewone kombinasie, dink sy, narkose en musiek. Tog kry hy dit reg om hom met gemak in albei wêrelde uit te leef.
Miskien is die musiek juis sy terapie.
Toe die orreltone wegsterf, sien sy Theuns se goedkeurende kopknik. Dan reken hy darem dit het goed gegaan. Tog weet sy, in alle nederigheid, dit was net krag van Bo wat haar die boodskap onbevrees laat bring het. Wat haar van Lukas se misnoëe met ’n vrou as predikant laat vergeet het. Haar liefde vir die Een wat sy dien, is sterker as die mening van mense.
Sy staan op om die laaste lied aan te kondig. Skielik swem alles voor haar oë toe die herinnering fel en helder na haar toe kom. Wouter het altyd voor, regoor die kansel, gesit en stout geknipoog wanneer sy die laaste lied opgee.
Nou kry sy die liednommers nie gelees nie, hulle is in ’n wasigheid gehul. Hier is nie elektroniese fasiliteite wat die woorde op ’n skerm gooi nie; die gemeente gebruik nog hul boeke. Benoud knip sy haar oë en noem sommer uit die bloute ’n lied in die hoop dat Lukas dit sal kan speel.
Hy draai om en kyk oor die afstand na haar, maar ook sy gesigsuitdrukking swymel. Gelukkig kom die gemeente niks agter nie, want almal is naarstig aan die opsoek. Dan sug sy verlig toe Lukas die inleiding begin speel. Hy begelei so goed, die gemeente