in die sye, sy oë soos stormwater.
Kwaad.
“K-kom binne,” stotter sy en tree agteruit.
Lukas stap by haar verby tot in die sitkamer, maar gaan sit nie. Hy plant sy voete ver uit mekaar en kyk haar uit die hoogte aan.
Hoe verwens sy tog nie haar gebrek aan lengte nie. Nou moet sy soos ’n kind na hom staan en opkyk.
“Jou idee om van my ’n gek te maak, het gelukkig nie geslaag nie,” beskuldig hy.
Hy hoef dit nie uit te spel nie, sy weet hy verwys na haar blaps met die lied. “Wys jou net dat jy my glad nie ken nie,” antwoord sy hees. “Ek het g’n behoefte om van ander mense gekke te maak nie. Daarvoor is ek maar net te bewus van my eie brose menslikheid. Ek probeer volgens die Boek leef: ‘Doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê’. ” Sy byt op haar onderlip in ’n poging om haar mond se bewing te beheer. “Dit was per ongeluk die verkeerde nommer.”
Dit lyk of hy haar woorde staan en oordink. “Goed, ek aanvaar wat jy sê. Dan het jy seker nie op daardie oomblik gekonsentreer nie. Ek sal jou aanraai om nie op die kansel te staan en droom nie, Dóminee.”
Sy kan dit nie teenoor hom erken nie, maar hy is in die kol wat die konsentrasie betref. Die oomblik toe sy aan Wouter gedink het, het haar konsentrasie versplinter. En sy sal in die toekoms daarteen moet waak. Dit besef sy baie goed.
“Het jy klaar gepraat, Dokter?” vra sy reguit.
“Ja, ek het. Dink maar gerus na oor my woorde. Ek geniet my pos as orrelis baie, wil dit nie deur kleinlikhede versuur hê nie. Totsiens.” Sonder ’n verdere blik in haar rigting stap hy uit.
Verslae syg sy op die leunstoel neer. “Laat julle lig dan skyn vir die wêreld en moenie dit onder ’n maatemmer verberg nie.” Dit was haar preek vanoggend.
Dit voel of ’n groot duisternis die helder lig uitwis.
Hoofstuk 3
“Kan sowaar nie glo doom Marcella is al drie maande hier by ons nie,” val Ollie weg sonder om te groet. “Is jy al tuis op Skoonstroom?”
“Ja, dankie, Ollie.” Sy glimlag vriendelik en sit die liederelys op die lessenaar neer. Algaande het sy vasgestel Ollie is onskadelik, stel maar net intens belang in mense en gebeure. Maar sy probeer hul gesprekke nogtans skraal hou en het haar dit ook maar laat welgeval dat Ollie haar deesdae “doom” noem. Sy vind dit seker gemakliker.
“Ons ou beer lyk gelukkig in die laaste tyd nie meer so befoeterd nie,” laat Ollie glip. “Dalk het Linda dit uiteindelik reggekry om hom mak te maak.”
Die beer is natuurlik Lukas, besef Marcella en glimlag heimlik. “Wie’s Linda?” vra sy nuuskierig en besef te laat sy het netjies in Ollie se strik beland.
Ollie leun behaaglik vorentoe met oë wat glinster van gretigheid om die sappige brokkie nuus oor te dra: “Die nuwe kraamsuster hier by die hospitaal. Blonde bom. Glo die dogter van ou vriende van doom Theuns-hulle in ’n vorige gemeente.” Ollie rol haar oë. “En die nursies sê … sy het net oë vir ons dokter. Shame, hulle sê hy lyk sommer baie vriendeliker. Ag, siestog, maar hy was ook so lank ongelukkig, ek gun hom die geluk.”
Soos Ollie praat, sou ’n mens aanneem daar is al ’n verhouding, dink Marcella, en kan nie verstaan waarom die brokkie nuus haar so krapperig laat voel nie. “Dan’s ek ook bly vir sy part. Sy is seker dan sy nommerpas.”
“Pragtige mens.” Ollie se oë skitter van opwinding. “Lyk omtrent soos ’n pop. Fyn, blond en baie sexy,” besing sy die verpleegsuster weer van voor af. Dan lyk dit of sy skrik. “Ag, Doom gee mos nie om dat ek so sê nie. Ek meen, sexy ís sexy. Daai iets wat nie alle vroue het nie, nè?”
Marcella probeer haar die wese voorstel wat Ollie optower. Die waardige, strenge Lukas en die sexy pop. Nogal amusant.
Op pad dorp toe kring haar gedagtes weer om Lukas. Sy en haar buurman sien mekaar sedert die Sondag van die lied-episode net skrams op ’n afstand. Hulle groet wel met stywe kopknikke, maar dit eindig daar. Sy betaal die huurgeld stiptelik in sy bankrekening in, en gelukkig het hulle mekaar nog nie weer by die kerkkantoor raakgeloop nie. As dit haar preekbeurt is, kyk sy meestal teen sy rug vas. Maar sy kan dit nie ontken nie, sy musiek raak aan haar hart. En op die mees ongeleë tye duik sy blougroen oë voor haar geestesoog op en krap haar hewig om. Dis omdat dit so ’n besonderse kleur is, maak sy haar wys.
Maar diep in haar binneste wis sy al ’n geruime tyd dat sy blote teenwoordigheid ’n snaar in haar aanraak.
Wat van Wouter? dwing sy haar met mening tot nugterheid. En die besef dat hy besig is om slegs ’n herinnering te word, bring haar in ’n vakuum waar sy ook nie vorentoe wil dink nie.
Sy wens skielik sy en haar ma was nader aan mekaar. Nie net in kilometers nie, maar ook wat hul verhouding betref sodat sy oor hierdie dinge met Magriet kan gesels. Haar ouers het op ’n kusdorp in die Kaap gaan aftree, maar afstand was nooit ’n probleem nie; ’n mens kan mos oor ’n telefoon ook jou hart uitpraat. Nee, dis Magriet se oorheersende geaardheid wat háár wegdryf, want die oomblik wanneer sy diep sake wil praat, begin Magriet irrelevante raad gee en haar wysmaak dat dit tog nie so erg is nie. Daarom het sy deur die jare kleinkoppie getrek om haar persoonlike lewe met haar ma te deel. Magriet behandel haar steeds soos ’n kind, en dít terwyl sy al ’n goeie paar jaar in die dertig is. Magriet bly voorskryf wat sy met haar lewe moet doen.
Met Ben kon sy ook nooit praat nie. Vandat sy maar kan onthou, het hy nog altyd in homself gekeer geleef. Heeltemal in sy vrou se skaduwee.
Bella lyk na ’n vrou wat sal luister en nugter raad gee. Sy kon so maklik met Bella oor Wouter en die ongeluk gepraat het. Maar sy kan Linda en Lukas nie met haar bespreek nie.
So … Linda dus. Sy moet ’n besondere mens wees wat Lukas de Lange laat ontdooi, peins Marcella toe sy terug huis toe ry. Behoort interessant te wees om dié verwikkelinge dop te hou. Sy is seker Ollie sal op hoogte van sake bly en almal wat wil luister van nuus voorsien. Maar dit bly vir haar voel of sy liewer niks daarvan wil hoor nie.
Die vrank smaak wat die gedagte aan Lukas en die blonde bom in haar mond laat, maak dat sy haar gedagtes met mening hokslaan. Wat gaan met haar aan? Lukas se doen en late het niks met haar uit te waai nie.
Sy is nog besig om die kruideniersware uit die motor te laai toe Bella Verwey daar aankom. Bly wag Marcella haar in.
“Hoop nie ek is ongeleë nie.” Bella kom met haar kort trippeltreetjies nader.
Dié vrou het in die kort tyd al ’n besondere plek in haar hart ingeneem. So ook Theuns, dink Marcella. “Net die regte tyd vir ’n lekker koppie tee. Kom ons stap in,” nooi sy hartlik.
“Julle sal seker vanaand op die kerkraadsvergadering oor die komende gemeentekamp gesels,” vertel Bella. “Ek wil die aap nie uit die mou laat nie, maar kan solank noem dat een van die gemeentelede met Theuns kom gesels het. Hy bied die fasiliteite op sy vakansieplaas gratis aan. Daar is karavaanstaanplekke sowel as hutte.”
“Dis groothartig van hom. Wie’s dit, as ek mag vra?”
Bella sit haar koppie neer en maak groot oë. “Karel. Karel Vermeulen, een van die mees gesogte vrygeselle in die kontrei.”
Marcella sluk. Kan daar meer as een man met dié naam en van wees? “Ek wonder of dit dalk die Karel Vermeulen is wat saam met my op skool was? Ons was van graad een tot in matriek in dieselfde klas. En die meisies was omtrent dol oor hom.” Kan die wêreld so klein wees? “Ná skool is ons na verskillende universiteite en het mekaar nooit weer gesien nie.” Snaaks, sy het hom nog nooit in die kerk gesien nie, maar daar is ook so baie gesigte – en dit is dalk iemand heeltemal anders. “So, hierdie Karel is nog ongetroud? ”
“Glo nog nie tyd gehad vir sulke dinge nie,” borduur Bella verder. “Die hele wêreld al plat gereis en toe vir hom hier ’n koninkryk kom opbou.”
“Dit klink of die man vooruit geboer het,” sê