die strate ingevaar sodat ons mekaar nie tussen die vreemdes verloor nie. Ons het rondgeloop soos regte toeriste met ons kameras om ons nekke en ons rugsakke vol water gepak – water is mos duur op straat, het hulle vir ons gesê.
Ek was heel skepties oor die toer, veral een waar ’n mens met ’n bus rondgery word en bypassende hoede en T-hemde moet dra, en ’n klomp stories vertel word wat eintlik net ten doel het dat jy jou geld by die winkel spandeer waar die busdrywer die meeste kommissie kry. Ek is meer een vir alleen verdwaal in ’n stad (ek het een keer vir drie dae in Berlyn rondgeloop en al woorde wat ek gesê het, was thank you en one please).
Israel het my heel onkant gevang en op die ou end heel verras. As jy op een van die toere was, sal jy weet ’n mens verwag een ding maar sien dertig ander dinge. Sommige mense kry wat hulle noem Jerusalem-koors.
Jerusalem-koors is ’n opperste “geestelike” ervaring wat heeltemal uit verband geruk word. Mense wat aan hierdie koors ly, vertel hulleself dat hierdie land, hierdie dorpie, hierdie klip mos nou eintlik die plek is waar God is. Hulle vertel hulleself oor en oor dat hierdie plek nou die eintlike heiligste van alle heilige plekke is, totdat hulle skoon van hul kop af raak. Ander mense verwag weer dat hulle Jerusalem-koors gaan kry en is dan ontsteld omdat daar oral curio-winkels is en dat oor al die heilige plekke kerke gebou is wat glad nie soos ’n goeie Afrikaanse kerk lyk nie. Ai, tog. Nog ander, ek inkluis, raak ontsteld oor die konflik in die land en wonder aan wie se kant goeie Christene hulleself nou eintlik moet skaar.
As jy ooit ’n kans kry om te gaan, moet jy gaan. Dit is oor en oor die moeite werd, selfs al is dit net om jou prentjie van die land effe te verander. En om in die Dooie See te dryf is ook lekker.
Wat vir my die mooiste was, was die klanke, natuurlik die reuke, en die eeue se aanbidding wat jy amper aan jou lyf kan voel. Oral waar jy in Jerusalem stap, hoor jy die klokke lui, hoor jy die gebede van die Jode by die klaagmuur en die sang van die Moslems uit die torings.
Almal op soek na God.
Wanneer jy by die kerke instap, trap jy op ’n inloop wat al hol en glad deur die eeue heen geloop is. In honderde duisende pelgrims se voetspore loop jy dan onder die koepels deur en verby die ikone. Ek en een van my vriendinne het maar elke keer gestop, een van die lang gelerige kerse in die sandbakke gesit, aangesteek en vinnig aan die mense by die huis en ons eie saligheid gedink. Dit alles onder die skilderye wat so toe onder die roet was dat jy skaars kon uitmaak of dit Petrus of Maria was. Daar is iets daarin om ver te reis en ’n kers aan te steek, om deel te wees van ’n groep mense wat hulleself Christene noem en almal so op hul manier na God soek en Hom wil eer.
Wanneer jy in ou Jerusalem loop of in Betlehem se kerk waar hulle sê Jesus gebore is, kom jy opnuut agter dat Christenskap nie iets is wat iemand in Amerika uitgedink het en op TV begin verkoop het nie.
Die Church of the Nativity in Betlehem is ’n besonderse plek. Die ingang is klein, so ’n meter en ’n half hoog en ’n klein bietjie breër as ’n gewone deur. Dit is so laag dat jy moet buk om in te gaan; vandaar die naam “the humble door”. Binne-in is die gebou oortrek met skilderye en ikone. Die roet sit dik aan alles, oral hang olielampe van gekleurde glas met die vlammetjies wat flits tussen die goud en glas deur. Dit voel sommer oud en dit voel sommer heilig. Die lug hang dik van die reuk van wierook; die hele ruimte het ’n soet rookreuk.
Nadat jy doodstil in ’n tou gestaan het, klim jy met die trappies af na die grot onder die altaar waar hulle glo Jesus gebore is. Dit is klein en vol mense, die muur hang toe onder geborduurde lap, ikone en aangesteekte lampe en die vloer is deurgeloopte, seepgladde marmer.
Jy besef weer dat Christenskap iets is wat antiek is. Dat jy gebind is aan miljarde mense wat stadig agter Jesus aanloop. Daarin lê seker die krag van die pelgrimstog – op reis saam met vriende en vreemdes op soek na ’n Koning en ’n koninkryk, saamgebind deur die ervaring van reuke, geure, klanke en gesigte.
* * *
Vriende van my, Ilse en haar man Jan, is deel van ons kerk 3rdplace7 hier in Pretoria. Ilse het ’n ruk lank in Dubai gebly en nadat sy en Jan getroud is, het hulle ook in Suid-Korea gaan bly. In albei hierdie plekke is wierook deel van die kultuur en word dit oral gebrand. Ilse vertel hoe die reuk haar altyd herinner het dat sy nou op ’n ander plek, in ’n ander land of in ander ruimtes is en nie meer by die huis in Suid-Afrika nie. Sy vertel dat die reuk elke ruimte totaal en al vul en eindelik self die ruimte word – asof die dak, die vloere en die mure van die reuk gemaak is. Toe hulle later in Suid-Korea gebly het en wierook in hul huis gebrand het, was die reuk steeds vir haar vreemd. Dit het ook nie gehelp om filterkoffie te maak om die reuk van die wierook te verdryf nie; die huis het nooit na koffie geruik nie. Die reuk van die wierook was altyd iets wat vir Ilse gesê het dat sy nie tuis is nie. Dit was ’n teken dat sy nou in ’n ander ruimte, in ’n ander plek is.
Wierook merk ’n plek. Dit sê dat hierdie plek ’n plek is waar iets anders gebeur. Wierook is ’n fisiese teken in die tydelike van ’n ewige realiteit. Dit is ’n herinnering dat ’n ander ruimte bestaan, een wat meer werklik is as die een wat jy voor jou sien.
In die antieke tyd en ook vandag in die Midde-Ooste, asook in amper elke geloofstradisie behalwe die Protestantisme, is wierook deel van geloof en spiritualiteit. Dit is deel van ruimtes waar gebed plaasvind. Ons reuk-arm Protestante het alle simboliek uitgegooi, baba met die badwater as jy my vra.
* * *
In Egiptiese uitbeeldings word die godkoning, die farao, amper altyd met ’n houer wierook uitgebeeld. Rameses III het byna twee miljoen stukke wierook laat brand tydens sy heerskappy. Die Babiloniese ryk het elke jaar sowat sestig ton wierook op die groot altaar by hul jaarlikse fees gebrand. In die Joodse tradisie is wierook as offer gebruik. In werklikheid was daar meer wierookoffers as diereoffers. Elke dag het die priester by die tempel na die oggend- en die aandoffer ’n wierookoffer gebring. Hulle het die kole wat na die diereoffers oorgebly het van die altaar gevat en die op die wierook-altaar gebruik om die wierook aan die brand te kry. Die priester het deur middel van lotery bepaal wie die offer moes bring. Johannes die Doper se pa het juis die wierook-offer op die dag gebring toe die engel vir hom gesê het hy gaan ’n seun hê.8
God hou van lekker reuke.
“… ’n vuuroffer van lieflike geur aan die Here.”9
* * *
Elke keer wanneer ek wierook ruik, dink ek onmiddellik terug aan die Kerk van die Heilige Graf (Church of the Holy Sepulchre) in Jerusalem. Ons het die een aand laterig in die doolhof van winkeltjies in die ou Jerusalemstad rondgeloop waar jy amper enige tipe Jesus-aandenkings kan koop – van heilige water en heilige grond tot made in china-kruisies. Die straatjies is nou en vol, oral hang drade en flitsende tekens en staan mense by die deure van die winkeltjies wat jou innooi om te kom kyk. Hier en daar is ’n Arabier wat ’n Afrikaanse woord of twee van al die toeriste geleer het en die woorde rondgooi om jou aandag te trek.
Ons toerleier, wat saam met ons deur die straatjies geloop het, draai toe skielik om en sê dat die Kerk van die Heilige Graf net om die draai is en alhoewel ons eers die volgende dag saam met die res van die toergroep daar sou ingaan, ons dalk net vinnig moet gaan kyk as dit nog oop is.10
Die groot ou houtdeure, half stukkend, staan toe nog oop toe ons om die draai en af teen die trappies kom. Die gebou is ’n aangelapte stuk werk soos almal oor 2 000 jaar hul deel aangelas het of die dele in ’n nuwe styl na die oorloë herstel het. Dit vergelyk glad nie met iets soos die Notre Dame in Parys of St Paul’s in Londen nie, maar tog het dit sy eie bekoring. Die feit dat dit so baie besoek en gebruik word, is roerend. Ek is nou nog dankbaar ons het daardie aand besluit om vinnig te gaan loer, want die volgende dag toe ons probeer ingaan het, was dit soos om by die FNB Stadion na ’n popgroep te gaan luister. Daar was duisende mense wat deur ’n klein opening probeer druk het om iets te sien. Die aand toe ons laat daar ingesluip het, was dit in vergelyking eintlik leeg.
Die monnike was besig met die laaste vyf stasies van die Via Dolorosa. Die Via Dolorosa beteken “Die weg van lyding” en loop deur die ou stad. Die laaste vyf stasies is in hierdie kerkgebou.
Die stasies van die kruis volg