Pierre du Plessis

Jesus ruik na mirre en stof


Скачать книгу

is byvoorbeeld deel van die verhoor by Pontius Pilatus, stasie vyf is waar Simon van Sirene die kruis neem, ensovoorts. Die stasies word vandag nog in Katolieke en Ortodokse kerkgeboue en katedrale uitgebeeld. Sommige Protestantse gemeentes het ook hulle eie weergawe van die stasies, gewoonlik net die agt wat in die Bybelteks voorkom en nie dié wat deur oorlewering kom nie.

      Soos die monnike deur die gebou loop, stop hulle by elke stasie en dreunsing die teks. Daarna speel die orrel ’n paar note. Dit weergalm in die kerkgebou en dring deur jou. Ek het nog nooit ’n orrel so hard en duidelik gehoor nie. Die monnike swaai brandende houers vol wierook soos hulle loop. Die rook van die wierook hang dik in die gebou en die soet reuk brand jou neus en jou oë. Dit is, soos Ilse sê, amper asof die reuk ’n kamer of ’n fisiese ruimte op sigself is.

      Die reuk trek deur jou en om jou. Die aand toe ek by die hotel uittrek, het die reuk nog aan my klere geklou. Ek kon die soet geur aan my hare ruik toe ek gaan slaap.

      Elke keer wanneer ek nou wierook ruik, ruk dit my terug na daardie belewenis. Ek sien weer die ou gebou, hoor die monnike dreunsing, en onthou hoe ons die nou trappies geklim het, op Golgota gestaan het en deur die glas, die goud, die lampe en die ikone geloer het na ’n klip waar die kruis geplant was.

      * * *

      Wierook verteenwoordig die teenwoordigheid van God en die aanbidding van sy mense. In Openbaring 5 staan die ouderlinge met 24 goue bakke vol wierook, die gebede van God se mense.11 Wierook is ons erkenning dat God god is.

      “Laat my gebed soos reukwerk voor u aangesig staan, die opheffing van my hande soos die aandoffer” (Psalm 141:2; 1953-vertaling).

      Wanneer Aäron voor die wierookaltaar gestaan het, het die rook opgestyg en ’n kolom gevorm, soos die kolom in die woestyn wat voor die volk uitbeweeg het. Dit is die teenwoordigheid van God self; dit is soos die wolk wat op Sinai kom rus het toe God sy liefdeswet met sy volk kom deel het.

      Die reuk en die rookwolk is albei simbole van ons aanbidding, sowel as van God se teenwoordigheid.

      Terwyl ek hierdie boek geskryf het en op sosiale media gedeel het, het mense vir my stories geskryf van hoe hulle God se teenwoordigheid al as ’n reuk ervaar het. ’n tannie skryf dat die reuk van frangipani’s, haar gunsteling-reuk, altyd vir haar ’n simbool was van Jesus se teenwoordigheid. Sy het dit geruik na haar man oorlede is. ’n vriendin het weer ’n soet reuk geruik toe sy een aand in haar bed lê en bid het, asof die Here die kamer kom vul het.

      Die woord ketoret, wat die wierook beskryf wat die priester voor God moes brand, beteken “om te bind of om te knoop”. Die pad van wierook is ’n tweerigtingstraat. Ons offer ons gebede, ons aandag aan God en ons erken Hom as god.12 God vou ons dan toe in sy rook en sy reuk kleef aan ons en verdryf ander slegte, onwelkome reuke.13

      * * *

      Die wyse manne waarvan ons in Jesus se geboorteverhaal lees, het ’n ster in die ooste gesien en op ’n pelgrimstog gegaan, op soek na die Koning, en die nuwe koninkryk. ’n Mens kan jou indink hoe die lang reis hulle saam in ’n klein gemeenskap gebind het – die saam slaap onder die sterre en die lang dae op die kamele se rûe. Na hul reis bring hulle vir Jesus drie geskenke: wierook, goud en mirre. Wierook was ’n teken dat hulle Hom herken as goddelik en ’n offer vir Hom, maar onwetend meer as dit. Jesus is nie net ’n god wat ons met ons mooi reukoffers moet paai nie. Jesus self is die reukoffer. Jesus bind ons aan Hom vas, Hy maak ons toe in sy reuk. Hy is ’n reukoffer wat aanneemlik is vir God.14

      Dit is Jesus wat ons in God se nuwe koninkryk inneem. Soos die wierook die ruimte van die tempel en die sale van die katedraal vul, so vul Jesus ons lewe met ’n reuk wat aanneemlik is vir God. Ons leef in ’n ruimte wat swaar hang van God se glorie, ’n ruimte waar daar liefde, geluk en lewe is.

      * * *

      HOOFSTUK 3

      Na mirre

      My ma vertel altyd dat dit vir seker nie wyse vrouens was wat die kind Jesus gaan besoek het nie. Wyse vrouens sou eerder boudsalf en doeke gebring het, natuurlik saam met die goud. Wierook was seker nodig vir die doeke se reuk, maar mirre is ’n vreemde geskenk vir ’n baba.

      * * *

      Mirre was en word steeds as ’n bestanddeel van parfuum gebruik. Dit is so baie gebruik dat die woord mirre sommer gebruik is om enige parfuum te beskryf, amper soos wat ons die word “Sunlight” vir enige skottelgoedseep gebruik.

      Mirre word gemaak van ’n hars wat verkry word deur ’n snytjie in die bas van ’n boom te maak sodat die hars, of boomgom soos ons dit ken, stadig kan uitdrup en droog word. Die korrels mirre word fyngemaak en soms met olie gemeng om onder andere die basis van ’n parfuum te vorm.

      Mirre het ’n diep leeragtige reuk, ’n bietjie soos speserye en hout, ’n warm, amper ronde, goue reuk. Sommige sê dit herinner hulle aan vars geplukte, gesnyde sampioene. Ons lees in die psalms15 van mirre. Die skrywer besing die lof van God en vertel hoe die Here se klere van die betowerende reuk deurtrek is.

      Soms is die korrels of die poeier van mirre in ’n klein sakkie om die nek gedra as ’n lekkerruikdingetjie. In Hooglied vergelyk die vrou haar geliefde man met ’n sakkie mirre wat heelnag tussen haar borste lê. 16

      Hooglied is nie vir kinders nie en definitief nie vir tieners nie.

      * * *

      Ons lees slegs drie keer van mirre in die evangelies. Ons lees die eerste keer daarvan wanneer die wyse manne dit as een van die geskenke op hul besoek uit die ooste bring. Mirre is vir ’n nuwe Koning gebring as ’n heilige salwingsolie.17 Daarna lees ons eers weer by die kruisiging van mirre wanneer een van die soldate dit vir Jesus aanbied om te drink. Gemeng met wyn was dit ’n verdowingsmiddel, ’n klein bietjie genade vir diegene wat gekruisig word. Jesus het dit uitgespoeg toe Hy proe wat dit was. Dieselfde dag is mirre vir die derde keer deel van Jesus se storie. Nikodemus het ’n mengsel van mirre en aalwyn gebring, omtrent 33 kilogram (50 liter), om Jesus se liggaam mee te behandel en vir die graf reg te kry.18

      Die feit dat mirre by Jesus se geboorte teenwoordig is en ook by Jesus se teregstelling en begrafnis is vir my fassinerend. Dit is teenwoordig wanneer Jesus sy aardse reis begin en wanneer sy reis eindig. Dit is daar wanneer sy lewe begin en wanneer dit uitgedoof word.

      * * *

      Die manier waarop mense van verskillende kulture hul dooies hanteer, sê baie oor wat daardie kultuur glo oor die hiernamaals en oor die lewe hier en nou. Dit sê veel meer oor dié wat agterbly en wat hulle glo as oor dié wat gesterf het.

      Ek wonder wat die rede is vir die eierbroodjies by ons begrafnisse. Ek is seker dit is al waar ’n mens dit ooit sien en eet. In elk geval, begrafnisse gaan nie oor die persoon wat in die kis is nie, maar oor die mense wat groet; dit gaan nie soseer oor wat die persoon geglo het as die hoop van die mense wat agterbly.

      In die Joodse kultuur was die dood deel van die daaglikse lewe en daar is baie spesifieke reëls in die Ou Testament uiteengesit oor hoe om ’n liggaam te hanteer, vir hoe lank jy na die tyd onrein was en wat jy moes doen om weer rein te word.19

      Hulle het ook liggame met speserye, olies en parfuum behandel. Die Jode het dit nie gedoen sodat die liggaam behoue sou bly soos die Egiptenare se mummies nie, maar om die verrottingsproses aan te help. Die parfuum en speserye is gebruik om die reuk ietwat te verdoesel en so die waardigheid van oorledenes te beskerm totdat hulle in die graf gesit is.

      Joodse grafte in die tyd van Jesus was nie soos die tombes van die farao’s nie. ’n Graf in Jesus se tyd is sommer ’n paar keer deur byvoorbeeld dieselfde familie gebruik. Dit is ook die rede vir die klip voor die graf wat heen en weer gerol kon word. Die liggame is in die graf geplaas sodat al die sagte weefsel kon verrot. Die beendere van die persoon is dan ’n jaar of wat later bymekaar gemaak en in ’n houer gesit. Daarna is dit in die familie se grafkamer gesit.

      Die manier waarop die Jode