on>
Marzanne Leroux-Van der Boon
Hasukkah shel David
Die tent van Dawid
Lux Verbi
Hoofstuk 1
Jerusalem
2 tot 4 Oktober 2015
Dis die vyfde dag van Sukkot. Mense haas hulle van alle kante oor die Hurvah-plein om die laaste reëlings in orde te kry vir Shabbat wat oor ’n paar uur sal begin. Die meeste Charedi-mans wat van die Kotel af terugkom, het ’n etrog en lulav in die hand. Sommige het ook hul tallit om, teruggevou oor die skouers. Op bykans elke balkon van die omringende woonstelle is klein sukkot vir die fees opgerig. Onder op die plein staan ’n groot sukkah, wat pragtig versier is.
Al het die Almagtige in Vayikra 23 sy volk opdrag gegee om hulle gedurende hierdie chag te verheug, hang daar vandag ’n wolk van pyn oor die stad weens die verskriklike moord die vorige aand in Shomron aan die Wesoewer.
Die Sondagaand voordat die fees met die verskyning van die eerste sterre ’n aanvang sou neem, het Marc en die seuns soos elke vorige jaar hul sukkah op die stoep voor hul woonstel gebou wat uitkyk oor die Cardo onder hulle. Yhoshi, wat in Augustus tien geword het, is al erg handig en kon heelwat van die houtraamwerk self aanmekaar timmer. Natan, die tenger kunstenaartjie wat hy is, was vir die versiering van die sukkah verantwoordelik. Sy besondere tekeninge, wat die storie van Sukkot vertel, is op Marc se aandrang oral teen die wande aangebring. Oor die ingang het Natan wingerdtakke drapeer. Uit die oorhoofse houtbalkies onder die palmtakke wat die dak vorm, het hy neute, amandels en helderrooi appels aan dun draadjies gehang. Daar was ook drie kranse wat hy kunstig uit koringare gevleg het. Saans het hulle geëet saam met Ushpizin – vriende en familielede wat grappenderwys Bybelse figure soos Abraham, Moses, Dawid, Sara, Hanna en Rut verteenwoordig. Hulle het gesing en gelag, en dit was alles baie vrolik.
Hulle het hard probeer vergeet van die vlaag terreuraanslae wat oor die hele land woed; die skokkende geweld op die Tempelberg en in die strate van die Heilige Stad. Soms was Rivkah laat of het sy glad nie opgedaag nie as gevolg van die talle ongevalle. Soos die tradisie is, het hulle ook van sukkah na sukkah in die Ou Stad gestap om by vriende te kuier en, afgesien van ál die ellende, aan die Ewige se opdrag gehoor te gee en hulle te verheug. Dit was soms allesbehalwe maklik.
Vandag het Marc na die Hurvah-plein gekom om ’n rukkie te sit en skets. Dis altyd sy manier om tot homself te kom in tye van groot bekommernis. Sonder dat hy werklik daaroor gedink het, teken hy byna meganies die grys grootvader wat sy kleinseun in sy arms toevou en die kind se koppie teen sy bors druk. Hy moet effens weemoedig glimlag toe hy besef waarmee hy weer besig is.
“Avinu She’Bashamayim,” prewel hy, “hou my tog vas, asseblief. Ek word so vreeslik angstig oor wat in Yerushalayim aangaan. En oor my vrou wat die afgelope week so binne haarself leef en byna vreemd vir my is – asof die stres vir haar ook te veel word. Help my om kalm te bly.”
Toe hy opkyk, sien hy Moshe is besig om sy winkel vir Shabbat te sluit. Dov het ook uitgekom. Hy wuif na Marc voordat hy wegstap. Toe Moshe egter vir Marc gewaar, kom hy aangestap. Hy het ’n uitgawe van die dagblad Ha’Aretz in sy hand.
“Het jy dié gesien?” Hy trek een van die kafeestoeltjies nader en gaan sit met ’n sug langs Marc.
“Ek wou dit nie in die huis bring nie, Moshe. Ek het Yhoshi vroeg laat uitgaan na sy maats toe. Daar’s gelukkig vandag wind vir hul vlieërs. En Natani is nie so behep oor die nuus soos hy nie.”
“Waar is hy?”
Marc wys na twee seuntjies wat ’n entjie verder besig is om twee van die plein se katte te vermaak.
Moshe vou die koerant op sy knieë oop en hulle kyk na die gesigte van Eitam en Na’ama Henkin. Die bebaarde jong rabbi en sy vrou glimlag op vanaf die foto op die oop bladsy.
Marc ril. “Hulle is nie veel ouer as ek en Rivkah nie,” sê hy sag.
Moshe knik. “In hul dertigs.”
“Om voor jou vier kinders in jou motor doodgeskiet te word …”
“Kindertjies van nege, sewe en vier en ’n baba van vier maande. Hulle het nog twee ander kinders ook, maar dié was nie saam nie.”
“Rivkah is glad nie haarself nie. Die laaste paar weke al met ál die aanvalle. ’n Paramedic-kollega van haar wat nou in Samaria werk, het gisteraand met haar geskype. Hy het gesê dit was een van die moeilikste tonele waarheen hy al ooit geroep is. Hy’t vertel hul motor het met flitsende noodligte en ’n oop linkervoordeur langs die pad gestaan. Na’ama was nog in haar sitplek. Dit was baie duidelik dat sy tydens die wilde skietery noodlottig gewond is. Rabbi Henkin het sy deur oopgemaak – seker om die vier kinders op die agterste sitplek te probeer red. Maar hy is ook swaar gewond en is net daar langs die motor dood. Die paramedic sê toe hulle daar aankom en hy na die motor hardloop, het een van die ouer seuntjies gegil: ‘Hulle het Abba en Imma doodgemaak!’ ”
Moshe skud sy kop in stille afgryse. “Hulle was op pad terug huis toe van ’n studentereünie af.”
“Ek neem aan Neria is ’n kleinerige Joodse nedersetting.”
Moshe knik. “Dis langs Talmon in Shomron. Daar is sowat 250 gesinne. Hulle is geskiet net buite Beit Furik, ’n Palestynse dorpie waar hulle verby moes ry.”
“Maar hoe het die kinders gespaar gebly?” vra Marc.
“In die donker het die moordenaars hulle waarskynlik nie agter in die motor gesien nie. Hulle het geslaap. Dit het alles so vinnig gebeur. Hulle het eenvoudig op die ouers voor in die motor losgebrand en toe gevlug. Die kinders was te geskok om te skree en dit het waarskynlik hul lewe gered. ’n Ander storie lui dat een van die terroriste in die skietery deur ’n ander een raak geskiet is. Dit het glo gemaak dat hulle vinnig padgegee het. Ek was gister by die begrafnis.”
“Har HaMenuchot?”
Moshe knik. “Ken. Daar was duisende mense.”
“Hy was so ’n begaafde man! Ek verstaan hy was ’n doktorale student aan die Tel Aviv-Universiteit. En hy was ’n ontvanger van die Nathan Rotenstreich-studiebeurs.”
“Nachon. En Na’ama was ’n talentvolle grafiese ontwerper. Een van die setlaars was vandag in die winkel. Hy was gebroke. In Neria was die Henkins as ’n baie hegte gesin beskou. Eitam en Na’ama was wonderlike ouers en ’n aanwins vir hul gemeenskap. Ek het gevra hoe dit met die kinders gaan en hy het gesê hulle huil aanhoudend. Dis net te verskriklik om aan te dink.”
“Wat gaan nou van die kinders word?”
“Die One Family-fonds sal dadelik begin om genoegsame steun en versorging vir hulle te kry. Daar is nog die twee ander kinders ook. Hulle is op die oomblik in hul ouma se sorg.”
“En in die Palestynse buurte word daar gejuig, gesing, lekkergoed uitgedeel en skote in die lug afgevuur!”
“Marc, ken, maar dit is nie net hulle nie. Ook die Westerse wêreld kyk daarna met ander oë. Ná alles, reken hulle, wat het Eitam en Na’ama in die eerste plek in die Wesoewergebied gesoek? Hoekom het hulle in ’n gebied gewoon wat die Palestyne as hul toekomstige staat beskou? ’n Staat wat reeds deur die Verenigde Nasies erken word? Dis vir hulle irrelevant dat die grond waarop die Henkins gewoon het, ook heilig is vir die Jode wat al duisende jare daar woon. Wêreldwyd bekragtig al hoe meer lande die idee dat Israel skuldig is aan oorlogsmisdade.
Wat is die moord op twee saggeaarde mense of die huidige vlaag klipgooiery, skietery, messtekery of duisende missiele wat op kleuterskole en woonbuurte afgevuur word, vir die wêreld in vergelyking met Israel se onderdrukking van die Palestyne en besetting van hul grondgebied? Hulle reken as die Arabiere so wreed optree, moet dit wees omdat die Jode nog wreder is.”
Marc skud sy kop droewig.
“Dan is daar die man wat Na’ama en Eitam se moordenaars aanhits: Mahmoed Abbas van die Palestynse Bevrydingsorganisasie. Hy was immers nou die dag by die VN glad nie ondubbelsinnig in sy toespraak nie. Hy is nie van plan om hom langer by die Oslo-vredesverdrae te hou nie, het hy gesê.