bewe.
“Toe ons met die slagoffers werk, het ek gemerk dat Doron ontsaglik getraumatiseer is. Op pad terug in die ambulans het hy my vertel dat hy rabbi Lavi baie goed geken het. Hulle was dikwels saam op reserwediens en het altyd kontak behou. Doron het dikwels na sy Yeshivat Alteret Kohanim gegaan om na hom te luister.”
Marc laat haar praat, want hy merk dat dit haar weer rustiger maak. “Doron vertel dat Nehemiah ha’aretz intens liefgehad het. In sy vrye tyd het hy ’n toergidskursus gevolg; nie om sy werk as rabbi te vervang nie, maar om die land beter te leer ken. Toe hy ná sy 40ste verjaardag te oud geword het om in die IDF opgeroep te word, het hy ’n kapelaanskursus gevolg sodat hy steeds in die reserwemag as offisier diens kon doen. Hy het die kursus binne twee weke voltooi. Wat ’n wonderlike man en pa vir sy sewe kinders! En toe is hy in een oomblik weg …”
“Die Henkins het ses kinders gehad. Dertien weeskinders van twee rabbi’s binne twee dae.”
Rivkah reageer nie daarop nie. Sy sit net vir ’n rukkie stil voor haar en uitkyk. Marc, wat haar dophou, sien verbaas dat daar ná ’n rukkie ’n flou glimlag om haar mond vorm.
Asof sy bewus is daarvan dat hy na haar kyk, draai sy haar na hom toe. Tot sy verdere verwondering merk hy dat haar wange ligweg verkleur.
“Marc …”
“Hmm?” Sy hart klop meteens vinniger.
Sy byt haar onderlip vas en toe sê sy: “Ek is swanger.”
So verstom is hy dat hy nie ’n woord uitkry nie.
Toe draai sy haar om, kom op haar knieë voor hom sit en neem sy gesig tussen haar hande. Sy soen hom liggies op sy mond en toe sê sy weer sag: “Ek is swanger.”
Hy bly haar verstom aankyk. “Maar …”
“Luister, dan vertel ek jou. Jy was byna die hele September op reserwediens en jy’t nie agtergekom ek menstrueer nie meer nie.”
“Maar … !”
“Ek weet. Ná Natani se moeilike geboorte het ons en dr. Schönberg besluit dis te gevaarlik vir nóg ’n baba. Toe ek dus in Augustus ophou menstrueer en soggens mislik voel, het ek baie groot geskrik. Ek wou jou egter nie onrustig maak voor jy kamp toe gaan nie en het maar niks gesê nie.”
“Jy was vir my so vreemd in jouself gekeer en stil toe ek terugkom. Ek het maar gedog dis oor wat in Jerusalem aangaan.”
Sy soen hom weer en dié keer hou hy haar mond teen syne vas.
“Nu, hoe dit gebeur het, weet ek nie, want ons is immers altyd vreeslik versigtig.” Haar gesig gloei weer. “Maar ek is direk nadat jy weg is, na dr. Schönberg toe. En ja, die toets was positief.”
“Maar …”
Sy lag en druk haar hand oor sy mond. “Hou nou op met ‘maar’. Ek sal jou op hoogte bring. Schönberg het lank met my gesels en vir my uitgelê daar is in die nege jaar ná Natani se geboorte op hierdie gebied groot vordering gemaak. ’n Swangerskap vir my sal goed dopgehou moet word, maar dis definitief nie meer lewensgevaarlik nie.”
“Maar …”
“Marc!”
Hy vang haar hande in syne en druk dit teen sy mond. “Maar hoe versigtig kan jy wees as jy in jou werk met soveel trauma te make het?”
“Dis niks buitengewoons vir my nie.”
“Ek sal jou dophou, hoor? En as jy nie luister nie, bel ek vir Schönberg.”
“Belowe.”
Meteens slaan hy sy arms om haar en woel sy gesig in haar hare. “Chamudah, ons gaan weer ’n kleinstetjie hê,” fluister hy by haar oor.
“Dis hoekom ek vanmiddag so gehuil het.”
“Ek verstaan.”
Hy kam sy vingers deur haar hare en haar hande sluit vas agter sy rug.
“Wanneer?”
Sy maak haar uit sy arms los en skud haar hare agtertoe. Toe lag sy en haar oë raak heeltemal donker: “Ek is al net oor twee maande. So dit is vroeg in Mei.”
Hy reken vinnig. Toe lag hy breed. “Ek weet nou.”
“Wat?”
“Onthou jy die naweek aan die begin van Augustus toe ons Eilat toe was om te gaan duik?”
“Toe die seuns by Re’uven-hulle gebly het.”
“Ken.”
Toe lag sy ook. “Ken.”
“Daar op die sand, onthou jy? Die nag met die helder sterre.”
“Ek weet,” sê sy en lê haar gloeiende gesig teen sy bors.
Hy voel die warmte in hom opklim sodat sy asem kort raak.
Dit tel sy dadelik op en sy woel haar gesig in sy nek. “Versigtig, nè!” sê sy.
Hy sug behaaglik. “Sal my bes doen.”
Hoofstuk 2
Jerusalem
5 tot 18 Oktober 2015
Ten spyte daarvan dat hulle eers baie laat aan die slaap geraak het, is Marc die volgende oggend vroeg wakker. Hy kom versigtig regop in die bed om Rivkah nie te steur nie. Sy lê op haar maag en slaap met haar donker krulhare oor die kussing gesprei. ’n Groot deernis roer in hom. Sy is swanger. Die Ewige van Israel het dit goedgedink om in hierdie uur van geweld vir hulle weer ’n kind te gee.
Sy bors brand van ingehoue emosie. Hy dink aan die skrikwekkende dinge wat die laaste weke en dae in Jerusalem en oor die hele land gebeur het. Gedurende die eerste nag van Sukkot het hulle ’n bloedrooi maan oor Jerusalem sien opgaan. Rillend het hy en Rivkah op die balkon gestaan en die skouspel dopgehou. In Psalm 89 word die maan ’n getroue getuie in die hemel genoem. Die verskyning van ’n “bloedmaan” het gewoonlik konflik vir die volk Israel beteken. Wat sou die toekoms inhou? het hulle toe onrustig gewonder.
Dit het nie lank geneem voordat dit duidelik geword het nie. Die volgende dag al het toenemende oproer op die Tempelberg uitgebreek. Islamiste wat hulle in die Al-Aksa-moskee verskans het, het plofstof, vuurwerke, pypbomme en klippe ingesmokkel om Jode te teister wat die terrein gedurende die fees besoek. Toe die polisie die oproer onder beheer probeer bring, het geweld in alle erns losgebars. Terwyl die Jode onder by die Kotel die vreugde van Sukkot kom vier het, het oorlog op die Tempelberg gewoed.
Dit was vir almal in Israel duidelik dat Mahmoed Abbas, leier van die Palestynse owerheid, die massas opgerui het. Op die Palestynse staatstelevisiediens en op sy eie webwerf het hy onbeskaamd losgetrek:
“Die Al-Aksa-moskee behoort aan ons en so ook die Heilige Grafkerk. Die Jode het geen reg om dit met hul smerige voete te ontheilig nie. Ons sal hulle nie toelaat om dit te doen nie en ons sal alles in ons mag doen om Jerusalem te verdedig. Elke druppel bloed wat vir Jerusalem gestort word, is heilige bloed solank dit om Allah se ontwil verspil is. Elke martelaar sal die paradys bereik en elke gewonde persoon sal deur Allah beloon word.”
Hy en Rivkah het dié uitbarsting laataand op televisie aangehoor en geweet watter uitwerking dit op die reeds opgestoke Islamiste sou hê. Elke “martelaar” in Israel en daar buite het nou godsdienstige vrywaring gehad vir jihad. Enkele dae later is die Henkins voor vier van hul kinders vermoor. En 48 uur later het die twee mans in die Ou Stad geval. ’n Paartjie in Gasa het dit goedgedink om hul pasgebore baba na Banita-Bennett se moordenaar te vernoem. Die volgende oggend het Abbas na dié moorde as “vreedsame verset teen die besetting” verwys. Hy het gevra daar moet voortgegaan word met dié verset. Een van Abbas se kollegas het na die moorde op Jode as die Palestyne se nasionale plig verwys. Die kommentaar van Ismail Haniyeh, leier van Hamas in Gasa, was: “Die Al-Aksa-intifada het herleef en ons is van plan om ons daarby aan te sluit.”
Israeli’s het hul koppe net wanhopig geskud. Dít is