te onderhandel, lewer zero resultate.”
“Miskien word daar darem ten minste nie meer lippediens bewys aan die droom van twee state wat in vrede langs mekaar bestaan nie. Die kru waarheid word nou uitgespel.”
“Nu, Israel het ten minste probeer om die Oslo-proses te laat werk – wat ons eie mense duur te staan gekom het. Selfs nadat ’n fanatikus Rabin doodgeskiet het, het ons immers nog by Oslo probeer hou. Ons het uit Gasa onttrek en die ganse wêreld het daaroor hande geklap. Wat het ons daarvoor gekry? Enige begrip daar buite? Alleen maar onophoudelike terreuraanvalle.”
Moshe kom regop en lê sy hand op Marc se skouer. “Chaver, op ’n tyd wanneer HaShem, baruch Hu, van ons verwag om van blydskap te sing, praat ons mekaar die ellende in. Só moet dit nie wees nie.”
Marc glimlag stram. “Ek weet. Maar my hart is vanaand by daardie ses kinders wat oor niks bly kan wees nie.”
“Myne ook, Marc. Myne ook. Maar ek sal nogtans jubel in Adonai, Tzur v’Goali.”
Nadat Moshe weg is, maak Marc weer sy tekenboek oop om die skets van die oupa en seuntjie af te rond. Hy vergeet van sy omgewing en word eers van Natan bewus toe dié aan sy arm raak.
“Jy teken weer die saba, Abba?”
Marc maak die boek toe, trek Natan op sy knie en druk hom teen sy bors vas. “Am Yisra’el het HaShem baie nodig, babbelossie. Hy moet ons net soos dié saba styf vashou.”
“Hy het nie daardie abba en imma in die motor vasgehou nie …” sê die kind baie sag.
“Miskien het Hy, Natani,” probeer Marc magteloos. “Toe Hy hulle geneem het, sou Hy hulle ook vasgehou het.”
“En die yeladim dan?”
“Hy is by hulle, Natani. Jy weet dit mos van toe jy die operasies gehad het en in die hospitaal was.”
Natan is ’n rukkie stil. Toe sê hy: “Maar hul horim kom nie terug nie.”
“Nee …”
“Ek ken hul name, Abba, en ek weet hoe oud hulle is.”
Sou die kind tóg ’n koerant in die hande gekry het? “Hoe weet jy dit?”
“Micha’el se abba het ’n broer in Neria. Sy oom het hulle alles vertel. Matan is nege, Nitza is sewe, Neta is vier en Itamar is die baba wat vier maande oud is. Hulle sal altyd bang bly, nè Abba?”
“Maar jy het ook al swaar gekry, Natani, en jy het mos nie bang gebly nie.” Marc se hart klop onrustig.
“Hulle het nie vir jou en Imma voor my doodgeskiet nie …”
Toe sê Marc niks meer nie. Hy hou die kind se gesiggie teen sy hemp vas en streel sy donker krulhare.
Hy en die seuns vier Shabbat saam met Chaim en Hadassah. Rivkah is aan diens. Daar is soveel terreur in die stad dat MADA se paramedici almal oortyd werk. Ook Re’uven en sy gesin is nie daar nie, aangesien hy ook druk besig is met die beveiliging van die stad.
Met Havdalah vergader die vyf van hulle om die Cohens se etenstafel.
Hadassah steek die sierlike Havdalah-kers in die silwer kershouer aan.
“Waarom brand ons dié kers, Natani?” wil Chaim by sy jongste kleinseun weet.
“Dis soos die Tora se lig wat ons wys wat ons moet doen.”
Chaim knik. “Goed gesê.”
Toe spreek hy die seën daaroor uit: “Geseënd is U, Adonai Elohim, Koning van die heelal, Skepper van die lig van die vuur.”
“En die wyn, Yhoshi?” vra hy toe.
“Dis ons hoop dat die week wat kom vol van HaShem se seëninge sal wees.”
Ook oor die wyn word ’n seën uitgespreek. “Geseënd is U, Adonai Elohim, Koning van die heelal, Skepper van die vrug van die wynstok.”
Chaim gee die silwerkleurige houertjie b’samim vir Natan aan en hou die kind se hand met die dosie daarin vas terwyl hy bid: “Geseënd is U, Adonai Elohim, Koning van die heelal, Skepper van welriekende speserye.”
“Wat is die betekenis van die b’samim, Natani?”
“Dit sê vir ons om van die soetigheid van Shabbat saam met ons in die week in saam te vat.”
Die volwassenes glimlag oor dié bewoording en stuur die dosie om die tafel vir almal om die soet geur van Shabbat vir oulaas in te asem.
Toe begin Chaim met die laaste seëning en almal val saam met hom in:
“Adonai Eloheinu, U het onderskeid gemaak tussen dit wat heilig is en wat alledaags is, tussen lig en duisternis, tussen Israel en die ander nasies, tussen die sewende dag en die ses dae van die week. Geseënd is U, Adonai, wat onderskeid gemaak het tussen dit wat heilig en dit wat alledaags is.”
Toe hulle klaar is, kyk die rabbi ’n lang ruk stil oor die groepie om die tafel. “Wie weet watter ander birchot word nog met Sukkot oor Havdalah uitgespreek?”
Niemand is seker nie. Toe sê hy: “Kom ons hou hande vas, want in hierdie vreeslike dae is daardie gebed nodiger as ooit.”
Hulle vat hande en hy spreek die seëngebed uit: “Hy, die Barmhartige, mag Hy die sukkah shel David weer oprig. Hy, die Barmhartige, mag Hy ons waardig verklaar vir HaMashiach en vir die lewe in die wêreld wat kom. Hy maak die heil van sy Koning groot en bewys goedertierenheid aan sy Gesalfde, aan Dawid en sy nageslag vir ewig. Mag Hy, die Skepper van vrede in die hoë hemele, vrede vir ons bewerkstellig en vir die hele Israel. En laat ons daarop amen sê.”
Toe dit stil word, vra Natan: “Saba, wat is die sukkah shel David?”
“Dis Israel,” sê Yhoshi blitsvinnig.
“Nachon, Yhoshi, maar waarna Amos HaNavi verwys, is die herstel van die salwing wat op ha’aretz gerus het toe David HaMelech oor Israel regeer het.”
Chaim steek sy hand uit en haal die Complete Jewish Bible van die boekrak agter hom af. “Ek gaan dit nou in Engels lees, want dié vertaling is hier byderhand, maar ek sal dit aan jou verduidelik.”
“Ek kan Engels verstaan,” sê die kleine ernstig.
Dit laat sy boetie van verontwaardiging snork sodat Marc waarskuwend in sy rigting kyk.
Die rabbi het die Bybel oopgeslaan. “Hier in Amos 9 lees ek nou eers ’n paar verse vooraf omdat dit ’n bietjie perspektief gee oor waarom ek dink ons naby aan die tyd leef waarvan die profeet hier praat: ‘Look, the eyes of Adonai Elohim are on the sinful kingdom.’ ” Hy kyk oor sy bril na Hadassah en Marc. “As dit nie Israel se huidige toestand is nie, misgis ek my sleg.”
Toe lees hy weer: “‘I will wipe it off the face of the earth, yet I will not completely destroy the house of Ya’akov,’ says Adonai. ‘For when I give the order, I will shake the house of Isra’el, there among all the Goyim, as one shakes with a sieve, letting no grain fall to the ground.’ ”
Hy kyk weer na die ander. “Anti-Semitisme is erger as wat dit ooit was. HaShem is waarlik besig om sy volk te skud.” Toe lees hy verder: “‘All the sinners among my people who say, Disaster will never overtake us or confront us, will die by the sword.’ ”
Hy sê: “Dit klink nogal soos die sekulêre Jode in die Galut. Maar luister wat Adonai, baruch Hu, dan verder sê: ‘When that day comes, I will raise up the fallen sukkah of David. I will close up its gaps, raise up its ruins and rebuild it as it used to be.’ ”
Die rabbi haal sy bril af en soek na sy sakdoek om die lense skoon te vryf. “Yhoshi, jy wat nou so verontwaardig was omdat Natani sê hy verstaan Engels, verduidelik jy vir hom waaroor dit gaan.”
Die kind se wange raak effens rooi, maar hy ruk hom gou reg. “HaShem sê dat