knik. “Goed gesê, Yhoshi.”
“’n Deel daarvan is al sigbaar in die fisieke herstel van die land.”
“Inderdaad, Marc, maar die algehele salwing moet nog kom.”
Chaim blaai weer in die Bybel. “Dis interessant dat Ya’akov, die broer van Yeshua, dit in die B’rit Chadashah weer ophaal. Die taal is dan net ’n bietjie helderder hier in Handelinge 15.”
Hy lees: “‘After this, I will return; and I will rebuild the fallen tent of David. I will rebuild its ruins, I will restore it, so that the rest of mankind may seek the Lord, that is, all the Goyim who have been called by my name, says Adonai, who is doing these things.’ ”
Chaim sê: “Ek sien die oorlog in Jerusalem se strate en op die Tempelberg. Ek sien wat ISIS doen en ek sien die instroming van Moslems in Europa, wat niks anders is as ’n jihad deur immigrasie nie. Dis die begin van dié skudding wat die restourasie van koning Dawid se sukkah voorafgaan …”
“Dit en die anti-Semitisme in Europa skud die Jode ook om hulle terug te stuur Israel toe. En hierdie voortdurende aanval in Jerusalem en elders is om Israeli’s wakker te skud uit hul sekulêre lewenstyl.”
“Nachon, Marc. Die grootste probleem in die Midde-Ooste is nie die haat van die Arabiese Moslems vir die Jode nie, maar eerder Am Yisra’el se ongehoorsaamheid aan die Tora van die Ewige wat deur Moshe Rabeinu aan ons gegee is.”
“Yhoshi, wil jy asseblief die ander Bybel op my lessenaar gaan haal.”
Toe hy die Hebreeuse Bybel in sy hand het, sê die rabbi: “Tehillim 81 bevat ’n klaagsang van HaShem oor sy volk. Luister hier vanaf vers 12: ‘Maar my volk het nie na My geluister nie, Israel wou niks met My te doen hê nie. Daarom het Ek hulle laat begaan in hulle koppigheid en hulle het hul eie sin en wil gevolg. Ag, as my volk maar na My wou luister, as Israel maar my wil wou doen, hoe gou sou Ek hulle vyande nie op die knieë bring en hulle teëstanders met my eie hand verslaan nie.’ Dié wat voorgee dat hulle die Here dien, maar Hom haat, hulle straf sal vir altyd duur.”
Hy sug. “As Israel maar net na sy stem wou luister!”
Marc se selfoon piep met ’n WhatsApp-boodskap. Almal skrik hewig daarvan. Hy maak dit onmiddellik oop. Dit kom van Rivkah en daar staan net drie woorde: Pigua Ha’Ir Ha’Atikah.
Marc wys dit vir die ander en dit word heeltemal stil om die tafel.
Dis byna middernag toe Rivkah eindelik huis toe kom. Marc het die kinders eers in die bed gesit en seker gemaak hulle slaap albei voordat hy die televisie aangeskakel het. Wat hy daar gesien het, het hom met soveel skok en afgryse vervul dat hy dit liewer afgeskakel en vir Rivkah gewag het. Sy sou sonder twyfel beter weet wat gebeur het.
Toe hy haar eindelik by die stoeptrappies hoor opkom, gaan maak hy die voordeur oop. Sy val byna in sy arms. Hy staan eers net ’n ruk lank so met haar.
“Hoekom het jy nie gebel dat ek jou kom haal nie?” Hy sus haar slap liggaam liggies teen syne.
“Doron het my hier op die plein kom aflaai.”
Hy vryf sy wang teen haar natgeswete hare onder sy ken. “Het jy vanaand al geëet?”
Sy knik. “Hulle het vir ons sop en toebroodjies gehad toe ons terugkom. Ek is net so moeg, Marc. Ek wil net stort en gaan slaap.”
“Kom,” sê hy en plaas sy arm om haar skouers en neem haar saam met hom badkamer toe. “Dit sal beter wees as jy eerder bad.”
Sy laat hom begaan. Terwyl hy water in die bad laat loop, help hy haar uit haar uniform vol bloedvlekke. Hy maak seker dat daar oorgenoeg badskuim en geurige badsout in die water is en laat haar inklim. Toe hy die warm water met ’n spons oor haar rug uitdruk, voel hy dat sy huil. Marc maak egter geen opmerking daaroor nie. Hy was haar lang hare agteroor in die bad asof sy ’n kind is en vryf dit met ’n handdoek droog. Die trane loop heeltyd ongehinderd oor haar wange. Hy buk toe af en soen haar lank op haar mond. Sy soen hom nie terug nie en sy hou ook nie op met huil nie.
Eers toe hy haar uit die bad help en in die groot badhanddoek toevou, word sy stil. Hy hou haar lank so vas totdat die gesnik ook bedaar. Toe soen hy haar weer sag en dié keer maak sy haar arms uit die handdoek los en slaan dit om sy nek.
“Todah,” fluister sy.
Hy tel haar op en sit haar op hul groot bed neer.
“Ek bring warm sjokolade.”
“Todah,” sê sy weer en glimlag die eerste keer effens.
Toe hy terugkom met twee bekers, klim hy langs haar in die bed. Hulle leun terug teen die sagte bedstyl en vir ’n ruk praat hulle nie. Hulle drink in stilte. Marc hoor verlig dat haar asemhaling rustig word.
“Die kinders?” vra sy later.
“Ek het hulle nie laat televisie kyk nie. Gelukkig was selfs Yhoshi moeg genoeg om gou te gaan slaap. Hy en Avraham het vandag ure lank met hul vlieërs buite gespeel.”
Hy neem haar leë beker en sit dit op die bedkassie. Toe trek hy haar styf teen hom aan en sy rus haar kop teen sy skouer. Haar klam hare krul teen sy gesig aan.
Hy weet sy praat nie graag dadelik oor wat sy ervaar het nie; daarom sê hy: “Wil jy nie slaap nie, chamudah?”
Maar sy skud haar kop. “Het jy televisie gekyk?”
“Lo. Toe ek die kind sien, het ek dit afgeskakel.”
Hy voel teen sy hals hoe diep sy asemhaal. Haar hand teen sy bors vorm stadig in ’n vuis. “Ek wil jou vertel.”
Met sy vingers in haar hare masseer hy haar kopvel liggies. “Doen maar as jy wil.”
Sy kyk af op haar ander hand wat in haar skoot lê toe sy praat. Die skraal vingers beweeg heeltyd onrustig.
“Aharon Banita-Bennett, ’n jong Chassid-rabbi, en sy vrou, Adele, het met hul tweejarige seuntjie deur die Leeupoort die Ou Stad binnegekom op pad Kotel toe …”
Hy sis saggies. “Deur die Arabiese buurt.”
“Hulle is van die Charedi-nedersetting Beitar Illit en het seker nie besef hoe gevaarlik dit geword het nie. Hulle was nog nie ver daar binne nie toe die terroris hulle met ’n mes aanval. Aharon is summier doodgesteek en Adele is swaar gewond. Sy het verskriklik geskree …” Rivkah vou haar hand vir ’n oomblik oor haar mond. “Jy kan dit op die straatvideo sien. Die omstanders het haar uitgejou, geskop, op haar gespoeg. ’n Mens hoor hulle skree: ‘Mag jy ook sterf !’ Op die video kan jy ook sien hoe ’n shuk-eienaar wat dit dophou, staan en lag terwyl hy sy blikkie koeldrank drink. En jy hoor die gegalm van ‘Allah hu Akbar!’ ”
Marc skud sy kop droewig. “Jode stap op so ’n heilige dag uit om te gaan bid en dít gebeur.”
“Maar dit was nie die einde van die verskriklike storie nie …”
“’n Rabbi wat kom help het, is ook doodgesteek, het ek gehoor voor ek die televisie afgeskakel het.”
Sy knik. “Rabbi Nehemia Lavi bly in ’n woonstel net bokant die plek waar die aanval gebeur het. Hét gebly … Hy en sy vrou en hul sewe kinders was besig om die Derde Maaltyd van Shabbat in hul sukkah te vier toe hy die vrou hoor gil. Hy is … was ’n offisier in die reserwemag. Hy’t sy geweer gegryp en ondertoe gehardloop om haar te gaan help. Maar die terroris het daar gewag en hom herhaaldelik in die nek en bors gesteek nog voordat hy iets kon doen. Hy het net daar gesterf !”
Marc sug. “Adonai Elohai,” prewel hy.
“Maar die terroris het ook rabbi Lavi se geweer gegryp en die seuntjie in die been geskiet. Adele het met die mes wat nog in haar skouer steek 50 meter verder na ons polisiepos gehardloop voordat sy haar bewussyn verloor het. Teen daardie tyd was ons al in kennis gestel en was ons op pad.”
Sy vee moeg oor haar oë. “Marc, die