so wreed reageer, moet dit beteken dat die Jode nog wreder is.
Die Britse minister van buitelandse sake het opgemerk: “Die einde van Israel se besetting moes lankal in werking getree het. Dis tyd om al die Joodse setlaars uit Judea en Samaria te verwilder.”
Marc staan stil op. Toe hy by hul kamer inkyk, slaap die seuns rustig. Hy sien wel dat Yhoshi se beertjie wat van sy babadae af sy troos was, by hom langs die kussing lê. Styf teen Natan se rug aan kyk Shishi, sy gemmerkatjie, met wye oë op toe sy Marc gewaar. Hy sug effens. Daar is geen manier wat die toenemende geweld vir die kinders geheim gehou kan word nie. En nou ’n baba …
Hy gaan voor die venster in die woonkamer staan en kyk oor die Hurvah-plein uit. Van die oorkant af kom drie Chassidim aangeloop. Hulle is duidelik vir Shacharit op pad Kotel toe. Hy merk dat hulle nie soos gewoonlik stap terwyl hulle driftig praat en met die hande beduie nie. Hulle is stil en hul gesigte ingetoë. Hul voetstappe klink hol oor die nog stil plein.
Marc vat die vensterraam styf vas. Sy kneukels slaan wit deur. “Adonai!” roep hy geluidloos. “Adonai! Ek wil van vreugde uitbars oor wat U gedoen het, maar ek is bang, so bang vir Rivkah se veiligheid en vir die ongebore kind s’n. Vou u shalom en u beskerming oor ons soos ’n tallit. Bevakasha, Abba!”
Omdat dit oor die hoogs heilige dae ook 42 jaar ná die Yom Kippur-oorlog is, het Chaim en ’n paar van sy kamerade van destyds besluit om ’n klein reünie te hou. Sewe van hulle sou die dag ná Shemini Atzeret in die sysaal van Chaim se shul bymekaar kom. Chaim het Henok ook uitgenooi. Hadassah sou vir verversings sorg.
Die manne kom een ná die ander daar aan. Die destydse jong manne, sommige wat nog seuns was in 1973, is almal nou al in hul 60’s en ouer. Henok, wat ’n bietjie vroeër gekom het, bekyk hulle geïnteresseerd. Drie van hulle het baarde en tzitziyot wat onder hul baadjies uithang. Een veteraan se vergrysde peyot bengel onder sy swart hoed uit. ’n Ander een dra, soos Marc ook gewoonlik doen, ’n wit hemp en donker broek met ’n kippah. Die orige twee is kennelik sekulêr. Dis vir Henok duidelik dat hulle oor die jare steeds redelik kontak met mekaar behou het.
Chaim verduidelik dat Henok ’n “nuwerige Jood” is wat soveel moontlik van Israel se geskiedenis wil weet. Omdat hy self in Namibië met oorlogsgeweld te doen gehad het, het Chaim geweet so ’n byeenkoms sal hom na aan die hart lê. Hy stel die manne aan Henok voor. Avigdor, die oudste in die groep, is ’n 70-jarige rabbi. Dan is daar ook Yossi, Gur, Pinhas, Dan, wat ook ’n rabbi is, en Motti.
Hulle skud blad met Henok, die swart man uit Namibië wat in sy laat jare eers ontdek het dat hy Joods is en wat uiteindelik alles in sy ou tuiste opgegee het om by sy antieke wortels te kom wees.
Vir ’n lang ruk gaan die gesprek verstaanbaar oor wat in Israel aan die gang is, maar geleidelik swaai dit om na hul herinneringe.
“Watter soort mens was Anwar Sadat eintlik?” wil Henok in ’n stadium weet.
Dis die 66-jarige Motti, die tweede oudste, wat antwoord: “Weet jy, toe hy by Nasser oorgeneem het, is hy eintlik allerweë as ’n vaal persoonlikheid beskou. Almal het gedink hy sou net Nasser se skoene vol staan totdat iemand met ’n meer charismatiese inslag kon oorneem. Maar hy het ’n metamorfose ondergaan wat hom seker een van die mees kreatiewe, indien nie die waaghalsigste nie, nasionale leiers van die 20ste eeu laat word het.”
Die ander knik hul koppe bevestigend.
Pinhas grinnik. “Interessante man gewees, hoor! Hy was danig trots op sy afkoms as peasant.”
“En soort van ’n askeet ook nog,” vul Chaim aan.
“Ken! Hy het niks daarvan gedink om onderhoude aan besoekende joernaliste toe te staan terwyl hy op die grond onder ’n boom in sy geboortedorpie sit nie – met ’n eenvoudige jellabiya aan.”
Motti knik.
“Sadat het homself beskou as die restoureerder van die Egiptiese volk wat nakend voor die wêreld gestaan het ná die impak van die Sesdaagse Oorlog. Hy het verstaan dat sy mense geloofwaardigheid in die oë van die ander nasies verloor het. Dat hulle besig was om geloof in hulself te verloor. Sonder om doekies om te draai het hy verklaar dat hy bereid was om ’n miljoen soldate op te offer in ’n oorlog om Sinai terug te wen.”
“Ongelukkig het dit nie veel indruk op die IDF gemaak nie,” sê Gur. “Soos die IDF-grootkoppe dit gesien het, was sy weermag nog nie gereed vir oorlog nie. Wat ons egter nie in gedagte gehou het nie, was dat die situasie met die hulp van die Sowjetunie aan die verander was. Daar was sprake van ’n uitgebreide bewapenings- en opleidingsprogram.”
“Geen Israeli was gedurende die Sesdaagse Oorlog beter bekend by die Suid-Afrikaanse publiek as Moshe Dayan nie,” merk Henok op.
Daar gaan ’n paar gedempte, siniese geluide uit die groepie op.
Dan skud sy kop meewarig.
“Dayan het ’n geweldige invloed op Golda Meir se denkwyse gehad. Charismaties soos hy was, het hy haar aanvanklik laat glo daar was geen gevaar van ’n dreigende oorlog nie. Omdat hy die simbool van Israel se verstommende oorwinning in ’67 was, het hy die ikoon van die land se idee van onversteurbare veiligheid geword.”
“Ek het altyd verstaan Golda Meir was ’n bepalende faktor daarvoor dat Israel nie gereed was vir die aanval nie.”
“Ag,” sê Motti, “dis wat mense gesê het oor hulle nie geweet het wat hulle anders oor die ramp kon sê nie. Henok, die feit is dat net omtrent elke veronderstelling van die Israeliese leërleiding oor wat Sadat van plan was om te doen, verkeerd bewys is. Almal was nog dronk van die ’67-oorwinning en kon nie veel verder dink as dat die Arabiese magte tot niks in staat is nie.”
Chaim merk geamuseerd hoe gewoond Israeli’s daaraan geraak het om hul saak aan buitestanders te moet stel, want hulle praat eintlik almal met Henok.
“Daar is hewig op lugondersteuning en volkome op die tenks gereken,” sê Pinhas. “En nie die lugmag of tenkkorps was op ’n gereedheidsgrondslag vir oorlog nie. Golda was ’n goeie premier – onbeweeglik en absoluut toegewy. Maar wat oorlog betref, was haar opinies die goeie instinkte van ’n vrou wat niks van militêre strategie af geweet het nie. Sy het wel geweet wanneer ’n naakte waarheid haar in die gesig gestaar het.”
Gur knik. “Die voorbereiding was ellendig. Al was ek toe net 19 jaar oud, het selfs ek dit besef. Anders as in die Sesdaagse Oorlog toe die reserviste drie weke gehad het om hul vaardigheid op te skerp, hul toerusting reg te kry en hulself ’n bietjie sielkundig voor te berei, het hierdie ouens omtrent grasgroen ingegaan.” Hy lag effens. “Om nie eens van ons te praat nie!”
“Ken!” kom dit byna soos ’n koor. “‘Onvoorbereid’ was die woord. Ysig koud. Ken!”
“En dit op Yom Kippur wanneer elke reservis gewoonlik in of naby ’n sinagoge is!”
“Wat ’n vreemde gesig was dit nie om oor die hele land mans met kippot en talliyot te sien ry of hitch in ’n poging om so gou moontlik by ’n versamelpunt uit te kom nie. Baie soldate met gesinne was haastig op pad om vroue en kinders by familie te besorg voordat hulle koers gekry het na hul eenhede toe,” onthou Motti.
“Ken,” sê rabbi Avigdor nadenkend. “Ek dink in die hart van ons almal – dié wat opgeroep is en dié wat agtergebly het – het die aangrypende melodie van die Unetanneh Tokef-gebed nog weerklink nadat ons dit dié oggend saam opgesê het. Op Rosh Hashanah word ons name ingeskryf en met die Yom Kippur-vas word dit verseël – wie sal lewe en wie sal sterwe, wie het nog ’n lewensjaar voor en wie nie, wie deur water en wie deur die vuur van die lewe ontneem sal word, wie deur die swaard …”
Dis ’n rukkie stil terwyl almal hul eie ervaring van die dag onthou wat opnuut deur die rabbi se woorde oopgevlek is.
Toe praat Chaim: “Ek was in die sinagoge in Ramat Eshkol. Die name is uitgelees van dié wat opgeroep is. Reg voor my het ek ’n jong man met ’n tallit aan sien opstaan toe sy