af en dit lyk regtig of ’n orkaan haar getref het. Maar haar stem is ysig – en gevaarlik: “Jy is daarop uit om my te beledig, nie waar nie, Festus? Maar dit sal jou niks baat nie. Ek sien deur jou hele plan. Hierdie skielike voogdyskap van jou is ’n poging om van my ontslae te raak.” Sy glimlag, maar sy lyk vir hom lelik. “Ek laat my nie deur ’n slonsige tienderjarige wegdryf nie. Jy sal aan iets anders moet dink.” Sy tel haar handsak op. “Hou jou dogtertjie gerus. Dis jý wat haar moet grootmaak, nie ek nie. Ek het niks met haar te doen nie. Sy verander nie sake tussen óns nie.” Sy kom nader. “Totsiens, skat. Ons sal mekaar een aand in hierdie week nog moet sien. Ek sal wag dat jy bel.” Sy stap deur toe, kyk terug. “Lekker kind grootmaak, my skat. Gee haar pedagogie as sy jou snags uit die slaap uit hou.”
Katryn sorg dat haar hand stewig om Beauty se halsband is toe die vrou weer haar verskyning maak. Sy kyk hulle aan asof hulle uitvaagsels van ’n ander planeet af is, dink Katryn vererg. Sy stap kop omhoog aan na haar motor en hulle kyk haar stilswyend agterna totdat sy vertrek.
Poens lug hardop sy mening terwyl hy die eerste tas uit die kattebak haal: “Sy is sommer ’n donnerse feeks.”
“Poens!” Festus het skielik langs hom verskyn en dit is duidelik dat sy humeur genoeg beproef is vir een dag. “Luister, mannetjie, as ek jou weer sulke woorde hoor sê, word jou mond met seep uitgewas. En ek bedoel dit! Verstaan jy, Poens?”
“Ja, oom.” Die oë is neergeslaan.
Katryn besluit hulle moet liewer maar vandag verder ligloop. Festus lyk regtig omgekrap. Sy waag dit om vinnig na hom op te kyk en sy wonder waaroor hy so ontsteld is – oor wat Poens kwytgeraak het of omdat sy vriendin baie duidelik nie ingenome is met die nuwe inwoners in sy huis nie?
Sy voel ongemaklik en diep ongelukkig. Dit was ’n fout om saam te kom hierheen, besef sy nou. Festus Dumas was in ’n ongemaklike posisie. Hy het haar pa belowe hy sal na haar omsien. Hy het geen keuse gehad nie. Maar sý moes nie toegelaat het dat hy die verantwoordelikheid aanvaar nie. Dis nie regverdig teenoor hom nie. Die nuwe verwikkelinge het – en gaan nog – sy hele lewe ontwrig. Soos met hierdie getroude vriendin van hom. Sy en Poens het klaar moeilikheid tussen hulle veroorsaak.
“Wat gaan hier aan?” Sy sien Festus oor ’n tas buk. “Wat loop hier uit? Iets het gebreek of iets is aan die lek hierin.”
Katryn tree vinnig nader. “O, dis seker my parfuum. Ek het dit seker nie goed toegedraai nie.”
“Jou parfuum?” vra hy verbaas. Hy sou nie kon dink sy gebruik parfuum nie. Hy frons, trek sy vinger oor die nat kol en bring dit na sy neus. Dit ruik allesbehalwe na parfuum! “Katryn, maar dis mos . . . Gits, dit ruik . . . aaklig!”
Poens hou sy kop laag oor die ander tasse, maar die gesmoorde geluid wat teen wil en dank ontsnap, laat Festus meteens hond se gedagtes kry. “Maak oop daardie tas, Katryn. Maak oop dat ons kan sien of jou . . . e . . . parfuum stukkend is.”
“Ag, oom, dis sommer goedkoop parfuum.”
“Katryn!” Hy neem die tas beslis uit haar hand, sit dit neer en knip dit oop. Pensie, verlig en dankbaar oor die uiteindelike bevryding, spring uit, gevolg deur haar ses kleintjies wat half dronk lyk ná die lang opsluiting.
Festus bedwing net betyds ’n “goeie een”.
Poens en Katryn staan doodstil, waag dit nie om op te kyk nie. Dan hoor hulle ’n ysige stem sê: “Neem daardie kat en haar kleintjies na die buitegebou en moenie dat ek een van hulle in die huis betrap nie. Ek draai sy nek om! Wat krap in daardie tas, Poens? Maak oop – dadelik!”
Poens het geen keuse nie, en die volgende oomblik is Romeo en Loffie ook vry. Romeo klap sy vlerke en knip sy oë teen die skielike lig en Loffie uiter ’n tevrede brom, bekyk die wêreld om hom en besluit die beste plek om die nuwe omgewing te bespied, is bo-op Festus se kop. Katryn red hom net betyds, anders sou Festus se plat hand hom vol getref het.
“Vat die ding weg, en hou hom weg!”
“Ja, oom.”
“Keer daardie ver . . . e . . . hoender, Poens! Hy skrop de laaste plant uit!”
“Ja, oom.” Poens moet Romeo soos ’n rugbyspeler op die aanval duik, en hy ploeg knieë en elmboë deur die grond. Natuurlik kom die kapokhaantjie die beste daarvan af en pyl reg op Festus af. Katryn staan hulpeloos met Loffie in haar hande en toekyk terwyl ’n skouspelagtige naelloop oor die groot grasperk plaasvind. Weer staak die buurman sy gepeuter aan die foutiewe grassnyer en kom loer oor die grensmuurtjie, en aan die ander kant kom die ou oom en tante nou ook op die been, die tee vergete op die tafeltjie op die stoep. Vandag gaan hier darem ongewone dinge in hul kontrei aan.
“Het jou!” Dis werklik ’n sierlike duik wat uitgevoer word, en met ’n humeur wat dreig om oor te kook, stop Festus Romeo in Poens se hande. “Vat hom weg, voor ek sy nek stomp afdraai.”
Poens neem haastig by hom oor en Katryn klou Loffie stywer vas.
“Het julle ooit klere saamgebring?” vra Festus kil.
Dis Poens wat verbouereerd antwoord: “Ja, oom. Ek het ’n ekstra broek en hemp en nog ’n onder- . . .”
“Ja, oom. My klere is in die ander tas,” antwoord Katryn ook vinnig.
Festus voel hy kan slange vang. Dat hy hom deur twee snuiters so om die bos laat lei! “Regtig? Is jy seker daar is nie ’n koei of ’n perd of ’n vark in nie?”
“Nee, oom.” Sy aarsel. Sy kan maar net sowel met die hele mandjie patats vorendag kom. Die meeste is tog al uit. “Daar is regtig klere in . . . en Snoefie, natuurlik.”
“Snoefie? En wie . . . of wat is Snoefie? ’n Krokodil miskien?”
Katryn buk, maak die tas oop en die meerkat spring op haar skouer. ’n Powere bondeltjie klere lê omgewoel in die tas.
Festus sug, vee met sy hand oor sy oë. As hy sy sonde nie ontsien nie . . . Intens bewus daarvan dat die bure aan weerskante alles met die grootste belangstelling staan en beskou, probeer hy sy stem so beskaaf moontlik hou en kners deur sy tande: “Neem hierdie diere na agter en kyk dat hulle onder beheer kom, en laat ons mekaar goed verstaan: As hulle een keer, een enkele keer, moeilikheid veroorsaak, word hulle almal van kant gemaak. Skoert!”
Hulle laat hulle nie twee keer beveel nie en hy gaan soek die salige privaatheid van sy studeerkamer op – die enigste plek in die huis wat hy seker van nou af net vir homself sal hê. Hy sak moeg agter die lessenaar neer. Mag! Die dekselse haan het hom laat hardloop! Hy is skoon uitasem! Dit wys net hoe onfiks hy die afgelope tyd geword het. Dis tyd dat hy meer aandag aan dié sakie gee.
Dan gaan sy gedagtes terug na Shirley wat haar neus so optrek vir Katryntjie. Sy streng gesig versag effens. Hy het tot dusver baie bedenkinge oor sy voogdyskap oor Katryn gehad, maar nou begin hy dit in ’n ander lig sien. Miskien gaan Katryntjie hom nog help om uit sy penarie te kom. Hy is seker daarvan dat Zelda ook nie van die nuwe verwikkelinge gaan hou nie, en dit pas hom uitstekend. Kom wat wil, Katryntjie bly hier. Terwyl hy haar help, kan sy hom ook help – al is dit onwetend. Die een hand was mos die ander, sê die spreekwoord.
Dat daar ook letterlik gewas moet word, is vir hom duidelik toe hulle eindelik aan tafel sit en twee paar handjies na hom uitgehou word.
“Poens, kyk hoe lyk jou hande! Gaan was hulle en . . . en sommer jou gesig ook. En kam jou hare. Dit staan orent soos ’n skropborsel s’n.”
Die ander paar is egter skoon en hy neem dit in syne, kyk na die uiters bedeesde gesiggie. Hy voel skielik skuldig. Dit was nie nodig om so ’n bohaai op te skop nie. Sy is nog maar ’n kind. “Ek hoop jy sal baie gelukkig wees hier, Katryntjie,” sê hy en hy glimlag toe die blou oë waaksaam na hom opgeslaan word.
Sy glimlag bewerig terug. “Is jy nie meer kwaad nie?”
“Nee.” Sy glimlag verdiep. “Hulle is nou hier. Dit sal nie juis help nie, sal dit?”
Haar glimlag verbreed en sy kyk hom verskonend aan. “Ek kon dit net nie oor