in die sitkamer bedien sal word. Maar daar is ’n glimlag om sy lippe wat Katryn se vermoede sterk dat hy die hele ding baie amusant vind. Met ingehoue asem wag Katryn dat die gaste moet opstaan. Iemand . . . iemand sal nie kan nie . . .
Dis net die vrou wat haar skoene uitgeskop het tydens die ete, en wat naarstiglik met kaal tone onder die tafel rondvoel na hulle, wat nie dadelik opmerk dat iets verkeerd is nie. Die gasvrou het ook haar stoel agteruit gestoot, maar toe sy wil opstaan, kom die stoel saam. Beleef wag almal, maar die tweede poging misluk ook. Nes sy haar lig, lig die stoel saam met haar.
Daar is nou ’n frons op Festus se gesig toe hy omstap na haar toe. So ongeërg moontlik probeer hy haar ophelp, maar sonder welslae. Die stoel lig knaend saam.
Die aktrise is rooi in die gesig, byna net so rooi soos haar rok, en Festus vra gedemp: “Wat is aan die gang? Wat makeer?”
Die blou oë blits na hom op. “Jy kan mos sien ek sit vas!”
’n Helder lag klink op en Katryn sien hoe Zelda die vrou met die donker hare hatig aankyk.
Dit is werklik ’n stryd om Zelda Duval van haar stoel los te kry. Dit sit soos ’n neet. Intussen het ’n senuweeagtige gegiggel ontstaan wat begin uitdein tot ’n byna histeriese gelag. En onder die gelag sien die skoenlose dame haar twee skoene asof vanself onder die tafeldoek uitskuif in haar rigting. Sy knip haar oë. Daar was beslis iets in Festus se drank . . . Sy gryp hulle, dankbaar dat almal se aandag op Zelda toegespits is.
Festus beur nou met alle mag en Katryn hoor die aktrise gil: “Jy gaan my rok skeur!”
“Dis al manier om jou los te kry, of kan jy aan ’n ander plan dink?” Sy stem klink ongeduldig.
“Festus Dumas, ek wil jou nooit weer sien nie, verstaan jy? Nie voordat jy daardie gespuis . . .”
Met een geweldige pluk het hy haar los en die gaste klou mekaar histeries vas toe sy haar omdraai. Die agterkant van haar rok sit nog op die stoel vas.
Soos ’n ware heer trek Festus sy baadjie vinnig uit om om haar te hang, maar met een moordende blik stap sy weg terwyl die gaste ’n gratis vertoning ontvang. Festus stap haastig agterna, maar nog voordat hy die voordeur bereik, trek haar motor met ’n vaart weg.
Hy keer terug na die gaste en probeer so kalm moontlik sê: “Die koffie wag al in die sitkamer. Sal ons gaan?” Hy werp ’n laaste blik na die eettafel voordat hy die deur beslis agter hom toetrek.
Katryn vlieg soos ’n klip uit Poens se kettie weg en terwyl sy Poens deur die eetkamervenster help, begin sy raas. “Oom Festus gaan jou nek omdraai! Hy’t jou gesien! O, Poens, hoekom het jy dit gedoen? Ons kan maar ons klere gaan inpak. Hy sal ons vannag nog terugneem plaas toe.”
Dan, ten spyte van die kommer van die oomblik, klou hulle mekaar vas en snak na asem soos hulle lag.
“Sjuut! Nie so hard nie! Kom ons maak dat ons in die kamer kom,” sê Katryn.
Verlig sien Festus Dumas sy laaste gaste weg en oomblikke later knip die lig in Katryn se kamer aan. Hy kom staan langs die bed, sy gesig streng terwyl hy op die oënskynlik slapende gesiggies afkyk. Poens lê styf in Katryn se arms, maar die onreëlmatige asemhaling en die ooglede wat senuweeagtig beweeg, verraai hom. Festus se hand span stywer om die leergordel. Nie weer sag word nie! Hierdie twee was vanaand onmoontlik en dis sy plig om hulle te tugtig. Maar soos hulle nou hier voor hom lê . . .
“Toe, komaan. Ek weet julle slaap nie. Sit regop.” Geen beweging nie. Juis omdat sy vaderlike plig so swaar op hom rus, klink sy stem nog strenger: “Katryn! Poens! Ek praat nie weer nie!”
Ewe teësinnig gehoorsaam die twee en kyk hom met groot, onskuldige oë aan. Hy sluk. Kompleet twee engeltjies! Hulle behoort hulle te skaam!
Hy kyk kwaai na Katryntjie. “Ek veronderstel Poens is nie die enigste skuldige nie?”
Katryn sluk, sit haar arm beskermend om die seuntjie se skouers. Sy kyk moedig op. “Ek is die enigste skuldige. Dit was . . . my idee.”
“Maar Poens was maar te gretig om saam te werk en die idee ten uitvoer te bring.”
“Sy jok! Sy’t gesê ons moenie, maar ek wou. Ons wou die ou heks terugbetaal.”
“Terugbetaal? Heks?”
“Omdat sy vir Katryn die aakligste bleddie klere gekoop het.”
“Poens!” Dis weer die oumensstemmetjie wat Festus hoor. “Poens het geen skuld hieraan nie. As iemand gestraf moet word, dan is dit ek.”
“Ag so?” Hy vererg hom bloedig. Sal hierdie kind hom sowaar nog staan en voorskryf ook? “In daardie geval, dametjie, klim uit die bed!”
“Nee!” Poens gil en gooi hom op Katryn en die twee val saam in ’n bondel op die mat voor sy voete. Twee paar verskrikte oë staar na hom op. Katryn voel haar maag ’n draai gee. Hy kan nie regtig bedoel om . . . om . . . Maar sy streng gesig vertel haar dat hy beslis iets drasties beoog.
Dan, skielik, tot die twee op die vloer se verbystering, sien hulle hom sy kop agteroorgooi, en hierdie keer word sy hartlike lag nie deur ’n hand gedemp nie. Soos twee apies wat nie presies weet wat aangaan nie, beskou hulle die man met ernstige oë terwyl hy op ’n stoel neersak. Sy skouers skud soos hy lag. Dan begin hulle bewerig glimlag en later, van skone verligting, lag hulle half histeries saam. Sowaar, nog nooit in haar lewe was sy so naby ’n pak slae nie! dink Katryn toe die lagbuie eindelik bedaar.
Tevergeefs probeer Festus sy gesig weer ernstig plooi, hoewel sy oë kastig baie kwaai op hulle afkyk. “Julle was afskuwelik stout vanaand. Besef julle dat ek deur julle toedoen ’n vriendin kwyt is?” Maar die manier waarop sy oë glinster, vertel hulle dat hy glad nie erg bedroef voel daaroor nie. Inteendeel. “Toe! Toe! Toe! Terug in die bed. Poens, terug na jou eie kamer. En onthou wat ek gesê het van mond uitwas as jy weer lelik praat, hoor? Toe, hardloop!”
Katryn klim haastig terug in haar bed en trek die laken hoog op. Met afwagting lê en kyk sy na hom op.
“Nag, Katryntjie. Jy is ’n juffrou met voortreflike idees! Jy verdien ’n geskenk. Is daardie klere regtig só erg soos wat Poens sê?”
“Nog erger,” antwoord sy met oortuiging.
“Toe maar. Ons sal ’n ander plan maak.” Hy buk vooroor en soen haar op die voorkop. “Nag, Katryntjie. Soet slaap. Môre gee ek vir jou geld, dan kan jy vir jou ander klere gaan koop.”
Die volgende oggend voel Katryn bitter ongemaklik toe sy ’n rol note in die hand gestop word. Sy wil nie geld van hierdie man aanvaar nie, maar sonder verduideliking kan sy ook nie juis weier nie.
Hy sien haar ongemak en weer kry sy ’n vaderlike kus op die voorkop. “Gaan koop vir jou mooi klere, kleintjie. Ek wil spog met my dogter.”
“Ek sal dit eendag teruggee.”
Hy glimlag, streel oor haar kop, die bekende deernis weer in hom. Sy is ’n oulike kind, hierdie kaalvoet Katryntjie wat hy geërf het.
Maar van klere koop, kom niks nie. Festus laai hulle in die stad by ’n groot winkel af met die opdrag dat hulle daar moet wag wanneer hulle klaar is. Hy sal ’n motor stuur om hulle te laat haal. Dis net toe hulle die winkel wil binnegaan dat Katryn iets sien wat haar onmiddellik in haar spore laat verstyf. As daar een ding is wat sy nie kan verduur nie, is dit dat ’n dier mishandel word. ’n Donkiekar met ’n vermaerde ou donkie is besig om in die besige straat af te kom. Dis nie eens nodig vir haar om met Poens te praat nie. Toe sy langs die donkiekar tot stilstand kom, staan hy langs haar. “Hoekom slaan jy die dier so? Hy kan nie vinniger nie. Kyk hoe maer is hy. As jy hom beter versorg, sal hy beter kan werk.”
Die man op die kar kyk hulle parmantig aan, en lig weer die sambok. Die volgende oomblik is Poens langs hom op die kar en gryp sy arm vas, terwyl hy ’n paar “goeies” kwytraak. Terwyl ’n paar verbygangers in hul spore tot stilstand kom om dié vreemde petalje gade te slaan, spring sy ook op die wa.
“Poens! Los hom!”
“Ek