Ena Murray

Ena Murray Keur 12


Скачать книгу

dat sy ewe vasberade is.

      “Dit sal jammer wees as die koerante hierdie sappige storie moet beetkry,” sê sy.

      “Wátter sappige storie?”

      “Bekende filmster in die steek gelaat vir minderjarige dogter. Die publiek sal dit opslurp. Sensasie, jy weet? Jy weet mos hoe die mensdom is. Altyd gereed en oorgretig om ’n ander te kruisig. Aan my sal dit nie soveel skade berokken nie. Ek is immers die lydende party. Ek dink hulle sal nogal simpatie met my hê. Ek het wel my vyande, soos daardie miljoenêrsvrou uit die agterstrate, maar ek is nogal gewild by die publiek. En almal weet dat ek en jy die afgelope tyd dikwels saam gesien is. Die joernaliste het al gevra of jy die volgende meneer Zelda Duval gaan wees. Maar ek dink eintlik aan jou . . . Jy is beroemd en bekend. Maar daar is baie briljante mense in die wêreld wat nêrens gekom het nie omdat mense hulle nie ook kon respekteer nie. Dis verstommend hoe kwesbaar beroemde mense soos ek en jy eintlik is. Stem jy nie saam nie?”

      Festus voel ’n koue rilling langs sy ruggraat afgaan. Hy voel net veragting vir die vrou hier voor hom, maar hy is nie ’n gek nie. Wat Zelda so pas kwytgeraak het, is waar. Mense soos hy ís baie kwesbaar. Hy weet van ’n kollega wat veral naam gemaak het met sy ontwerpe van kerke. Hy is van sy vrou geskei en daar was ’n smerige hofsaak . . . en daardie man soek vandag werk. Bekwaam, so bekwaam as kan kom, maar, soos Zelda tereg uitgewys het, mense het hul respek vir hom verloor.

      Hy twyfel nie aan die egtheid van haar dreigement nie. Sy sál so ’n storie aan die pers vertel, en op so ’n wyse dat hy as die opperste skurk gebrandmerk sal wees. En dis nie net hy wat in dié gedrang is nie. Katryntjie se naam sal ook genoem word – ’n onskuldige kind, beswadder deur die tong van ’n listige, wêreldwyse vrou.

      Hy dink vinnig terwyl hy na die beeldskone gesig voor hom kyk. Soos hy op hierdie oomblik voel, kan hy haar maklik wegjaag en laat kom wat wil. Maar hy durf nie. Hy durf nie toelaat dat Katryntjie in ’n skandaal betrokke raak nie. Hy sal nooit weer met sy gewete kan saamleef as so iets moet gebeur nie. Daarom het hy tyd nodig om ’n oplossing te probeer vind.

      In die bed rol Katryn rusteloos rond. Sy is baie teleurgesteld in Festus. Hy het so gaaf voorgekom. Tot dusver was hy nog net goed vir haar en Poens. Maar hoekom het hy sulke hekserige vriendinne? Sy kan dit nie help nie – haar hart voel seer toe sy ’n ruk later ’n motor hoor wegtrek.

      Sy en Poens moes nooit gekom het nie, besef sy opnuut. En haar pa moes Festus Dumas nooit gevra het om na sy dogter om te sien nie. Dit was ’n fout. En sy moes nie toegelaat het dat sy so baie van hierdie voog van haar begin hou het nie.

      5

      Festus is ’n bekommerde man toe hy die volgende oggend na sy kantoor vertrek.

      Etenstyd ontmoet hy die bekende filmster weer. So goed as wat hy kan, probeer hy die situasie aan Zelda Duval verduidelik en besluit om vir die eerste keer in sy lewe te pleit by ’n vrou. Dis vir hom bitter, maar hy het geen keuse nie. Zelda moet gekalmeer word – en gou ook.

      “Asseblief, verstaan tog! Wat kon ek doen? Die kind sommer verstoot? Ek het nou eenmaal die ou man belowe ek sal na haar omsien. Sy is nie permanent by my nie. Dis ’n tydelike reëling tot ek ’n plan kan maak.”

      “Maar watter plan is daar te make? Hoe gaan jy weer van haar ontslae raak?”

      Hy byt nadenkend op sy lip. Tot nou toe was hy sy eie baas en dit was nie vir hom nodig om aan ’n ander rekenskap te gee nie. Skielik is die drang in hom byna onkeerbaar om haar in Poens se taal na die warm plek te stuur, maar hy beteuel hom. “Ek het gedink miskien kan ’n mens haar in ’n koshuis sit . . .”

      “Jy sê sy is klaar uit die skool. Sy het seker kwalik standerd agt.”

      “Ek weet nie. Ek het nog nie eens gevra nie. Maar daar sal wel ’n plan gemaak kan word, Zelda. Gee my kans! Eintlik het ek jou hulp nou nodig. Wat weet ek van tienderjarige meisies af? Sy het byvoorbeeld omtrent niks klere nie, en sy loop heeldag kaalvoet rond. Sy sal moet klere kry. En Poens ook. Dié is byna letterlik kaal.”

      “Jy het niks met die seun te doen nie, Festus. Stuur hom dadelik terug na sy ma toe. Liewe land, wil jy ’n hele weeshuis aanhou?”

      “Laat die kind tog maar bly vir die skoolvakansie. Dis darem geselskap vir Katryntjie. Wat ek wou vra, is of jy nie sal help dat hulle klere kry nie. Soos hulle nou lyk, kan hulle nie in ordentlike geselskap kom nie. Asseblief, Zelda.”

      Hy kan in haar oë sien hy het nou die regte snaar aangeroer. Die feit dat hy hom op haar beroep en nie op een van die ander vroue in sy lewe wat maar te gretig sal wees om iets vir hom te doen nie, laat haar beter voel.

      “Nou goed dan. Ek sal kyk wat ek kan doen, maar jy sorg dat jy so gou moontlik van haar ontslae raak!”

      “Natuurlik!” Hy praat dadelik oor iets anders. “Dis môreaand my onthaal. Sal jy weer as gasvrou optree, asseblief?”

      Sy glimlag. Sy was verniet bekommerd. Sy besef ook dat sy haar gisteraand in ’n slegte lig gestel het. Festus Dumas is nie ’n man wat sommer gedreig moet word nie. Sy sal in die toekoms versigtiger te werk moet gaan. Maar sy was op daardie oomblik so kwaad . . .

      Katryn en Poens is in die tuin toe die deftige vrou aangestap kom. Katryn verstyf onwillekeurig en Poens sê, sy blik opsommend: “Dis die ander een.”

      Zelda Duval kom voor hulle tot stilstand en haar afkeurende blik gaan oor die twee se verwaarloosde voorkoms. Haar lippe pers opmekaar. Dan sê sy met ’n stem wat klink soos dié van ’n generaal: “Gaan maak julle reg. Julle kom saam met my.”

      “Hoekom?” wil Poens pront weet.

      “Maak soos ek sê!” Haar oë blits op die seuntjie af.

      Katryn frons, lyk onseker. “Dis . . . dis al klere wat ons het. Ten minste, die ander lyk ook maar so.”

      Die onvriendelike blou oë ontmoet hare. “Maar julle het darem seker minstens één paar skoene?”

      “Ja.”

      “Gaan trek dit aan en kam jul hare en was jul hande. En kom. Ek het nie die hele dag tyd nie.”

      “Om wat te maak?” wil Poens parmantig weet.

      Zelda voel lus om hom ’n oorveeg te gee. “Om vir julle klere te gaan koop!”

      “Het Fe . . . oom Festus so gesê?” wil Katryn weet.

      Zelda kyk haar weer ergerlik aan. “Ja, juffroutjie. En nou maak julle soos ek sê. Ek wag nie langer nie.”

      Poens bejeën die nuwe klere met groot teësin. Van dankbaarheid is daar geen sprake nie.

      Vervolgens is dit Katryn se beurt. Zelda kies self die rokke wat sy moet aanpas.

      Toe sy met die eerste rok aan verskyn, laat Poens onomwonde hoor: “Jy lyk soos ’n bleddie voëlverskrikker!”

      Katryn moet, ten spyte van haar ergernis, glimlag. Sy stem volkome saam. Selfs ’n mens met geen smaak vir klere nie, sal sien dat die rokke wat Zelda vir haar uitgekies het glad nie by haar pas nie. Ook die verkoopsdame kon kwalik stilbly. Maar, nou ja, die klant is altyd reg en as die klant Zelda Duval is . . .

      “Ek dink dit pas jou uitstekend. Gaan pas nou die volgende een aan,” beveel sy en Katryn aarsel, draai dan gehoorsaam om. Dié een was die beste van die klomp wat sy eerste aangetrek het. Die res is nog erger. Die vrou moet blind wees om nie te kan sien dat dié klere absoluut belaglik lyk nie. Die rokke wat sy uitgesoek het, is beslis nie bedoel vir ’n meisie wat op die drumpel van volwassenheid staan nie.

      Maar sy pas die rok gedweë aan, bekyk haar eers in die lang spieël van die aantrekhokkie en gril. Dis valletjies en strikkies en kantjies om van naar te word. Al wat sy kort om soos ’n regte Aspoestertjie te lyk, is ’n strik in haar poniestert en ’n paar plat swart skoolskoene met kort, wit sokkies.

      Sy pers haar lippe opmekaar. Sy weet dis doelbewuste weerwraak aan die kant van die aktrise. Die “dogter” wat so onwelkom in Festus Dumas se huis beland