is afgehandel.”
Poens neem weer sy plek in, kyk opsommend van die een na die ander en sien gou dat die vrede weer herstel is. Hy glimlag sy haasbekglimlaggie. “Dis oom se beurt om die seën te vra.”
“O . . .” Festus is bewus daarvan dat Bes in die deur tot stilstand gekom het en hy voel weer sy boordjie warm word. Tog, toe hy sy kop ’n oomblik later oplig, sien hy openlike goedkeuring in ou Bes se oë en sy sê met die vrymoedigheid wat jare van troue diens haar gee: “Dit laat ’n mens terugdink aan die goeie ou dae, nè, meneer?”
Hy knik glimlaggend. “Ja, Bes. Dit laat ’n mens terugdink. Gee aan jou bord, Poens.” Bes is amper by die deur uit toe iets hom byval. “O ja, Bes – ek het jou gesê Katryntjie is meneer Herklaas se dogtertjie?”
Groot oë word vir Bes getrek en die ouer vrou bedwing haar openlike verbasing. “Ai, nou is ek eers bly sy is hier by ons. Ek het jou pappa goed geken, Katryntjie. Hy was ’n goeie man. Én jou mamma. Om te dink jy is hul klein Katryntjie. Ai, ai, foei tog.”
Baie fluks help Poens en Katryn ná ete met die skottelgoed, maar dis nie om dowe neute nie. Bes moet so gou moontlik privaat gespreek word. Die misverstand in verband met haar ouderdom word omslagtig aan Bes verduidelik wat natuurlik dadelik gesnap het dat Katryn heelwat ouer is as wat Festus dink.
“Jy sien, Bes, dis maar net vir die skoolvakansie. Dan gaan ek en Poens terug. En dis nie ék wat gesê het ek is sestien jaar oud nie. Hy het dit sommer self besluit. Ek . . . ek was bang om sommer dadelik so alleen op die plaas agter te bly . . .” erken Katryn skuldig.
Bes klik haar tong simpatiek. Natuurlik verstaan sy. Sy mag al twintig wees, maar sy is ook maar nog bitter jonk; ’n wesie, alleen in die wêreld. En sy is meneer Herklaas se kind. Wat maak dit ook saak hoe oud sy is? Natuurlik moet sy en haar meneer hulle oor haar ontferm. Maar miskien ís dit beter dat haar meneer nie weet hoe oud sy rêrig is nie. Bes ken ook die lewe . . . en mense. Daar sal baie mense wees wat iets te prate sal hê as hulle weet wat is wat. En waarheen moet die arme wees haar wend?
“Dis alles reg, Katryntjie. Ek sal nie vir meneer Festus vertel nie. Laat hom maar dink jy is nog ’n dogtertjie. Jy lyk in elk geval soos een, so wat maak dit saak? My meneer het jou natuurlik nooit destyds gesien nie en dink maar jy was nog heel klein toe jou mamma en pappa van ons af weg is plaas toe. Maar ek onthou nog ons Katryntjie!” sê sy liefdevol.
Katryn se oë skiet onwillekeurig vol trane. Dierbare Bes! Sy kan haar ook nog vaagweg onthou en sy druk haar kop teen die moederlike ou bors vas. Sy weet dat sy van hierdie oomblik af op Bes se liefde en lojaliteit kan staatmaak.
Skoon gebad, gesiggies blink geskrop, verskyn hulle ’n rukkie later in die studeerkamer se deur. Festus kyk op en sy hart versag onwillekeurig. Hulle is maar net twee kinders. En kyk hoe pragtig lyk hulle soos hulle daar langs mekaar staan!
Hy frons liggies. “Poens, hoekom het jy nie nagklere aan nie?”
Poens, net geklee in ’n onderhemp en klaarblyklik ’n swembroek, lyk heel verontwaardig. “Ek slaap nie met nagklere nie. ’n Man slaap nie met nagklere nie. Dis vroumensgoed.”
Festus en Katryn wissel ’n glimlag. “Maar jy moet ten minste ’n kamerjapon aantrek,” sê Festus.
“Hy het nie so iets nie,” sê Katryn, en kyk teer op Poens se rooikop af.
“Dan moet hy een kry. Hy kan nie só hier rondloop nie. Ons sal môre kyk wat ons kan doen.” Sy vlugtige blik na haar kaal voete laat hom sê: “Jy het ook ’n paar belangrike items nodig.”
Katryn knik, voel weer skuldig. Sy het weliswaar nie ’n gebrek aan klere nie, maar met die klomp diere in die tasse was daar nie plek vir ’n verskeidenheid nie. Sy het net die nodigste saamgebring. Nou lig sy haar ken en sê: “Dankie . . . oom, maar ek hét klere. As oom regtig wil, kan oom vir Poens iets koop.”
“Ek wil g’n nog klere hê nie. Wat wil ek met so baie maak? Dan moet ’n mens weer heeldag was en aantrek . . .”
Weer glimlag hulle teenoor mekaar, en Festus laat beslis hoor: “’n Mens moet darem genoeg klere hê, Poens. En jy is nou in die stad, nie op die plaas nie. Hier by die huis rond maak dit nie saak nie, maar as ons êrens heen gaan, moet julle ordentlik aangetrek wees.” Hy frons. Dis nóg ’n onvoorsiene probleem. Hy sal Poens kan help, maar hy weet niks van vroumensklere af nie. Hy kan wel sien of ’n vrou smaakvol geklee is of nie, maar dis sover sy kennis strek. En soos hy Katryntjie opgesom het, weet sy beslis niks van modes af nie.
Hy trek sy skouers op. Dis ’n probleem vir môre. Van nou af sal elke dag genoeg aan sy eie kwaad hê. Môre se dinge moet maar vir môre bly, besluit hy wyslik.
Hy glimlag. “Wil julle ’n rukkie televisie kyk voor julle gaan slaap?”
’n Rukkie later sit hy ontspanne in ’n diep leunstoel terwyl die twee kinders by sy voete op die mat sit. Maar dis nie lank nie of die vaak oorweldig hulle. Poens val eerste om op die mat en van onder sy ooglede deur sien Festus dat Katryntjie ook ’n verlore stryd stry. Skielik sien hy haar swik en meegee en hy glimlag. Wanneer laas het hy so ’n rustige aand tuis deurgebring?
Sy oë is peinsend toe hy Poens optel en na sy kamer dra. Hy is selde saans tuis, en as hy tuis is, sit hy in sy studeerkamer en werk. Die televisiestel in die sitkamer was tot dusver omtrent in onbruik. As dit vir die twee plaasjapies vanaand ’n rare ervaring was om televisie te kyk, was dit vir hom ook amper iets nuuts om in sy eie huis te sit en ontspan.
Terug in die sitkamer staan hy ’n rukkie op die slapende gesiggie op die mat en afkyk. In haar slaap, een hand onder haar wang, die ander argeloos oor die mat gesprei, lyk sy kwalik ouer as Poens, dink hy met deernis.
Hy buk af, lig haar orent. “Katryntjie . . .”
“Hm?” Sy is net vaagweg bewus van hom. Sy het die afgelope nagte sleg geslaap, en om haar lewe te red, kan sy nie haar oë oopkry of haar swemmende brein iets laat inneem nie.
“Slapenstyd. Kom, meisie.”
Maar haar knieë knik onder haar toe hy haar orent het, en met ’n geduldige glimlag tel hy haar dan ook maar op. Sy is in elk geval nie veel swaarder as Poens nie.
Hy is net op pad deur toe toe hy gaan staan. Die vrou in die deur kyk hom met ’n strak gesig aan.
Hy kom in sy spore tot stilstand, en sy arms om die slapende Katryn verstewig spontaan.
“Is jy getroud oor die naweek?”
Hy frons verward. “Nee, natuurlik nie. Wat . . . wat bedoel jy?”
Sy glimlag soet. “Jy lyk kompleet soos ’n bruidegom wat sy bruidjie bed toe dra.”
“Moenie belaglik wees nie, Zelda. Dis ’n skone kind hierdie!”
“Jy het een woord korrek beet. Sy is ’n skone . . . hoewel bietjie jonk vir jou, nie waar nie?”
Hy kners op sy tande. “Waar kom jy so skielik vandaan?”
Weer die harde glimlaggie. “Glad nie so skielik nie. Ek staan al van netnou af en kyk hoe jy droomverlore op jou nuutste belangstelling staan en afstaar. En ek hét geklop, maar jou gedagtes was blykbaar elders besig.” Haar wenkbroue trek omhoog. “Gaan jy haar nie wakker maak en ons bekend stel nie? Ons het immers ’n gemeenskaplike belangstelling, nie waar nie?”
Hy pers sy lippe opmekaar, stap by haar verby en Katryn voel hoe sy op haar bed neergelê word. Dan hoor sy hom uitstap.
Sy kan sterf van skaamte en vernedering. Watter aaklige, nare vriendinne het Festus Dumas! As sy hy was, sou sy hulle nie eens met ’n tang aangeraak het nie!
Die oomblik toe Festus haar opgetel het, het sy in so ’n mate wakker geword dat sy wou begin protesteer, maar net toe het sy die sarkastiese vrouestem gehoor. Soos die gesprek gevorder het, het sy gebid dat hulle nie moes agterkom dat sy wakker is nie.
Die slaap bly haar nou ontwyk. Sy lê met oop oë in die donker, haar ore gespits vir elke woord wat uit die sitkamer kom, maar