Vannag, hier in die kombuis in die vroeë oggendure, is hy nie meer formeel en op ’n afstand nie. Hy laat haar op ’n vreemde manier geborge voel.
“Jou hart is in jou werk,” sê hy. “Ek kan dit sien, en ek hoor wat mense sê. Ek glo as iemand my seun gesond gaan kry, is dit jy. Al is jy nog so jonk dat dit my eksvrou grief.”
“Dankie vir die vertroue. Ek doen my bes en bid maar net dat ek sal slaag. Elke geval is vir my belangrik.”
Hy skink vir hom ook nog tee.
“Weet jy niks van jou oumas en oupas af nie?”
“Nee. Hulle woon in Ierland, of hulle het daar gewoon. Skynbaar was my ouers van hulle vervreem. Ek het al die jare in my kinderlike onkunde gehoop hulle sal my soek, soos in ’n feëverhaal, maar natuurlik het ek nooit ’n woord van hulle gehoor nie. Dalk is of was hulle arm mense sonder die vermoë om na ’n verre land te reis. Ek het ook gewonder waarom my ouers juis na Suid-Afrika gekom het. Sou hulle ooit vir hulle ouers gesê het waarheen hulle gaan? Dis net vreemd dat hulle so totaal afgesny geraak het van hulle familie.”
“Het jy dit nie oorweeg om jou familie te probeer opspoor nie?”
Sy kyk op in sy oë. “Ek wou al, maar ek was so besig om te studeer vir beurse, deeltyds te werk en toe voltyds te werk en te spesialiseer dat ek dit nog nie aangepak het nie. Dis seker nie iets wat mens binne ’n week kan regkry nie. Jy het tyd, geld en geduld nodig.”
Hy knik. “Dis waar. Maar vir jou eie sielerus en heil moet jy dit dalk eendag doen.”
Sy vee oor haar mond en slaan haar oë neer.
“Jy het die mooiste oë wat ek nog aan ’n mens gesien het,” hoor sy hom sê en vervaard kyk sy op.
Hy glimlag. “Jy is eintlik een van die innemendste mense wat ek al teëgekom het.”
Sy voel hoe ’n blos by haar nek en wange optrek. “Wel … komplimente maak my gewoonlik ongemaklik, maar ek moet seker dankie sê.”
“Voel jy nou beter?”
“Aansienlik beter, dankie, meneer Huber.”
“Ag nee, as mens middernagtelike hartsgeheime deel, dink ek moet jy my Werner noem. En mag ek jou Lucinda noem? Voor die hospitaalpersoneel sal ek jou egter met jou titel vereer.”
Sy glimlag vir hom. “Goed, Werner. Baie dankie vir die tee en troos. Ek waardeer dit regtig. Nou gaan ek weer probeer slaap, en jy moet ook.”
“Ja, weg is jy. Ek sal opruim. Lekker slaap.” Terwyl sy na haar kamer loop, verwonder sy haar oor die medemenslikheid van dié man wat aanvanklik so formidabel en amper skrikwekkend voorgekom het.
5
Lucinda en die verpleegsters loop by Erik se kamer in en soos gewoonlik sit sy pa daar. Werner is besig om ’n dokument te lees en ’n briewetas staan langs hom. Sy kry dadelik die gevoel toe hy na haar opkyk en glimlag, dat daar ’n vertrouensverhouding tussen hulle ontstaan het.
“Môre,” groet sy.
“Môre, dokter, môre, dames. Soos julle sien, gaan die lewe ongelukkig voort en my besigheid kan nie stilstaan nie,” sê hy verskonend, asof hy bang is hulle vind dit ongevoelig dat hy op werk konsentreer terwyl sy seun so siek daar lê.
“Ons verstaan heeltemal,” stel Lucinda hom gerus en toe hulle oë ontmoet, besef sy dat daar ’n onsigbare band tussen hulle gevorm het. Sy moet haar blik bykans losskeur en haar aandag aan die pasiënt wy.
“Ons trek weer bloed vir toetse in die lab,” sê sy en begin Erik ondersoek. Sy is regtig bang vir serebrale of neurologiese skade, wat sy weet gevolge van dié soort malaria kan wees, maar sy is darem versigtig optimisties dat die medikasie help.
“Hoe voel jy, jong man?” skerts sy, en kry ’n moeë glimlaggie terug.
“Siek.”
“O, moet ek eers later terugkom?” hoor Lucinda hoëklas-Engels van die deur af en sy kyk om. Enid Huber staan daar, uitgevat asof sy na ’n funksie gaan. “Kom so oor ’n rukkie, mevrou, as u nie omgee nie,” sê Lucinda beleef.
“O, is julle te besig vir besoekers? En dit terwyl meneer Huber sit asof hy aan die stoel vasgegroei het?” Enid draai om en loop.
Lucinda kyk geskok na Werner, wat lyk asof hy hom lelik vir die katterige opmerking vererg het.
Toe hulle klaar is en aanstaltes maak om te loop, staan hy op en kom nader. “Ek hoop ek is nie in julle pad nie.”
“Nee, jy is nie,” verseker Lucinda hom. “Bly so lank soos jy wil, wanneer jy wil. Ons sal jou wegjaag as dit nodig is.”
Sy glimlag is warm, omvouend, en sy loop daar weg asof sy op ’n wolk sweef. Liewe hemel, vir wat reageer sy soos ’n bakvissie op die man? Sy moet ’n professionele afstand handhaaf.
Ná haar saalrondtes is sy besig om ’n voorskrif vir medikasie te skryf toe iemand aan haar kantoordeur klop.
“Kom binne,” roep sy en sien dat dit Enid Huber is wat inkom.
Sy staan op. “Mevrou Huber, waarmee kan ons help?”
Die vrou los die deur oop en kom op hoë polvye nader. Lucinda ruik ’n duur parfuum en verstom haar vir die blitsende diamante in die vrou se ringe en aan haar ore.
Enid Huber kom staan met een vuis op ’n heup, uitdagend en aggressief. “Ek wil asseblief weet hoe lank dit gaan neem voordat my seun gesond is?”
Lucinda beduie dat sy moet sit en gaan sit self weer agter haar lesenaar. “Dit kan ek nie nou sê nie, mevrou Huber. Dit hang af hoe vinnig en goed hy op die medikasie reageer. Dit kan ’n paar weke tot ’n maand neem, as daar nie komplikasies is nie.”
“Watse komplikasies?”
Sy klink vir Lucinda meer geïrriteerd as bekommerd.
“Mevrou, u seun het die ernstigste vorm van malaria, P. falciparum. Dis dikwels middelweerstandig en kan kognitiewe skade meebring.”
“Ek dag daardie artemis… wat noem julle dit nou weer? Die name van die goed is ook so moeilik om te onthou. Ek dag dié behandeling is veronderstel om so effektief te wees.”
“Artemisinin. Dis die beste wat ons kan bied, maar niemand kan vooraf honderd persent sukses voorspel nie.”
Enid Huber gluur haar aan. “Ek begin twyfel of hierdie kliniek regtig so wêreldklas is soos julle wil voorgee. Erik moes liewer Engeland toe gekom het – na die Eerste Wêreld, nie die Derde Wêreld nie. Maar nee, sy pa bring hom na hierdie kliniek in Afrika.”
Lucinda vererg haar, maar sy hou haar stem bedaard. “Die Wynland-kliniek ís wêreldklas, mevrou, en gee die beste behandeling wat verkrygbaar is. In Europa of die Verenigde Koninkryk sal hulle nie beter kan doen nie. Ons is vertroud met tropiese siektes, en in Suid-Afrika word uitstekende navorsing in dié verband gedoen. Dwarsoor die wêreld is dit ’n probleem om dié gevreesde siekte te genees.”
Op daardie oomblik sien Lucinda dat Jens in die deur staan en sy lei uit sy gesigsuitdrukking af dat hy gehoor het wat Enid Huber sê oor die kliniek waarop hy so trots is en waaraan hy en sy vrou hulle lewens wy. Waarom het die vroumens tog nie die deur agter haar toegemaak nie? Sy praat boonop so hard, asof sy haar belangrikheid daarmee te kenne wil gee.
Jens kom in met ’n bleek gesig. “Verskoon my dat ek sommer instap, dokter O’Neill. Is daar iets wat jou laat dink ons gee nie vir Erik die beste behandeling moontlik nie, Enid?”
Sy bloos darem, sien Lucinda, wat hard probeer om haar minagting agter ’n uitdrukkinglose gesig weg te steek.
Enid Huber staan op, asof sy Jens wil konfronteer.
“Al wat ek wou weet, is hoe lank dit gaan neem om Erik gesond te kry. En dié dokter …” sy kyk vlugtig hovaardig na Lucinda, “vertel vir my