tannie.”
“Jy voel maar oes, nè? Maar toemaar, ons is besig om die nare ou siekte uit jou te dryf. Ons het aan jou bloed wat ons getoets het, gesien jy is sommer al baie beter.”
Hy glimlag bewerig.
“Die verpleegsters gaan jou lekker was en skoon aantrek en jou bed oortrek, dan voel jy weer vars.”
Sy bruin oë is so groot en moeg tussen die lang, swart wimpers, en hy lyk meteens so tenger dat haar hart sommer van jammerte oorloop.
“Weet jy, ons gaan vir twee van die ander kinders ’n verjaardagpartytjie hou en jy is genooi, mits jy sterk genoeg voel om te kom. Dis eers volgende week, so jy het tyd om gesonder te word. Hoe klink dit?”
“Lekker, tannie,” sê hy met ’n swak stemmetjie. “Waar is Pappa?”
“Ek vermoed hy is by jou mamma. Hy kom seker nou-nou.”
“Hier is hy,” hoor sy agter haar en draai om, haar hart meteens aan die galop.
“Ja, hier is hy,” lag sy en geniet die breë wittandglimlag van die man wat nou langs haar by die bed kom staan.
“Hallo, Pappa,” kom die yl stemmetjie van die bed af.
“Hallo, my ou groot seun. Mamma sal later vanmiddag kom kuier, hoor.”
Lucinda staan langs Werner, uiters bewus van die groot lyf, die hande wat uitreik na die kind, die welluidende stem. Sy moet haarself wegskeur, maar sy geniet die skuldige naby-oomblikkie en rek dit uit.
“Jong, hierdie dokter Lucinda het seker jou lewe gered,” skerts hy. “Jy moet vir haar dankie sê.”
Die kind kyk verwonderd na haar. “Dankie, tannie.”
“Haai, dis mos my werk,” lag sy. “Ek moet sorg dat kinders soos jy gesond raak.”
“Wanneer gaan ek weer vir Rover sien, Pappa?” wil Erik weet.
“Ongelukkig nie gou nie, my seun. Jy sal by my moet bly, want nadat jy uit die hospitaal ontslaan is, sal jy nog steeds behandeling moet kry om jou weer sterk te maak en dit moet hier gedoen word.”
Die koorsige ogies helder effens op. “Gaan ek by Pappa bly? Wat van Mamma?”
“Sy sal kom kuier. As dit nodig is, sal ek Rover ook laat kom.”
Hy draai na Lucinda, wat haar gesig uitdrukkingloos probeer hou. “Rover is Erik se Engelse skaaphond.”
“O, ek het so iets vermoed.” Sy moet wegbeweeg, want die twee verpleegsters kom in.
“Ons is reg vir die skoonmaak,” sê die een vrolik. Lucinda loop en sy is net by die deur toe Werner by haar aansluit. “Jy het my nog nie aan Edwin van Reenen se kind voorgestel nie.”
Haar hart reageer weer op hom. “Kom saam, dan doen ek dit gou.”
Nanette sit vandag regop en teken met kleurpotlode in ’n sketsboek. Toe sy Lucinda sien, is daar ’n algehele opheldering van haar gesig en sy steek haar arms na Lucinda uit.
So iets het nog nie voorheen gebeur nie en Lucinda is erg verras, maar sy gaan omhels die kind dadelik.
“Jy kruip in mense se harte in,” merk Werner glimlaggend op.
“Liefde en sorg is ’n belegging wat groot dividende oplewer.”
Sy praat ’n paar woorde Frans en slaan toe oor na Afrikaans. “Nanette, hierdie oom is die pa van die baie siek seun, Erik, wat in sy eie kamer moet lê. Sê vir hom hallo.”
“Hallo,” fluister Nanette. Sy neem haar arms weg van Lucinda se nek.
“Hallo, klein meisie. Wat teken jy daar?” Hy leun belangstellend oor om te kyk. “O, dis ’n huis, met mense, en ’n kat. Dis mooi. Is dit jou huis?”
Sy knik skaam en begin weer teken.
Lucinda is meteens bewoë, want sy weet sommer dis ’n wenshuis. Daar is nie so ’n huis in dié kind se lewe met haar rondreisende pa en haar beperktheid tot hierdie kliniek waar sy gevaarlik siek is nie. Sy kom agter Werner kyk na haar, en in sy oë is begrip.
“Wil jy by my huis kom kuier, Nanette?” vra sy. Die kind kyk op en glimlag. “Ja.”
“Eendag as jy beter voel, sal ek jou kom haal. Goed so?”
“Ja.”
“Tatta vir eers.”
“Tatta, Nanette,” sê Werner.
“Tatta.” Sy kyk op en draai haar kop skuins, soos skaam kinders dikwels doen.
Lucinda voel hoe Werner haar arm vat toe hulle wegloop, maar hy los byna onmiddellik weer.
“Ek dink sy het geheg geraak aan jou,” sê hy sag. Sy knik net en kan vir ’n oomblik nie praat nie, want daar is ’n knop in haar keel. Toe sy haar stem terugkry, klink dit skor.
“Ek is nie veronderstel om emosioneel te raak nie, maar ek kan myself ongelukkig nie help nie. Ek kan verstaan waarom Edwin van Reenen sy kind hier los, dat hy nie anders kan nie, maar dis so wreed. Sy kon net sowel wees gewees het, so min aandag kry sy van hom.”
Sonder om te dink wat sy doen, loop sy saam met Werner terug na Erik se kamer. Die verpleegsters is nog besig, maar Enid is daar.
“Waar was jy?” vra sy vir Werner sonder om na Lucinda te kyk.
“Dokter O’Neill het my aan een van die vigslyers gaan voorstel.”
“O, het sy? Ek hoop jy het nie aan die kind geraak nie.”
“Wat bedoel jy?”
“Het jy aan hom of haar gevat? Vigs is mos vreeslik aansteeklik, en Erik is nie sterk nie. Jy kan hom maklik laat aansteek.”
Lucinda voel hoe woede hittig deur haar trek. “Mevrou, vigs is net oordraagbaar deur liggaamsvloeistowwe, nie aanraking nie. Selfs nie deur soen nie.” Haar stem bewe van ontsteltenis.
“Jy is ook so verspot en onkundig, Enid! Jy gee nie om hoe jy mense se gevoelens krenk nie.” Werner se stem klap soos ’n sweep.
Lucinda en die verpleegsters, en Erik wat grootoog op sy skoon oorgetrekte bed lê, kyk na Werner.
Enid swaai om, haar gesig wit en woedend, en storm by die kamer uit.
Werner sug ergerlik. “Mense, verskoon tog asseblief vir mevrou Huber, en hierdie scène. Dis so onverkwiklik.”
“Toemaar, ons is al gewoond aan die onkunde oor MIV en vigs,” probeer Lucinda die spanning ontlont.
“Dit mag wees, maar sulke onsensitiwiteit …” Hy sluk sy bitter woorde.
“O, ek moet draf,” sê Lucinda. “Ek het werk om te gaan doen.”
Terwyl sy vinnig in die gang afstap, bedink sy die voorval. Dit het nou net gemaak dat sy daardie vrou nog meer verfoei. Sy moet skuldig erken dat sy wens die vrou wil weggaan.
Dit lyk ook nie asof Werner nog iets vir sy eksvrou voel nie. Daarvoor het hy te kras gereageer.
Lucinda kom ná lang diensure by haar huis aan. Toe sy instap, sien sy vir Werner in die sitkamer met ’n skootrekenaar sit.
Hy kyk op en glimlag. “Ek wag vir jou. Erik was rustig en Enid het teruggekom om by hom te kuier, toe gaan kry ek ’n lekker bottel wyn by Jens en vra Anna om twee plekke aan tafel te dek. Ek sien jy werk gans te hard, ons moet jou pamperlang.”
“Dis ’n verrassing. Ek drink nie gewoonlik nie, maar daar is nie tans krisisse waarvoor ek sal moet terughardloop nie. Erik was die grootste een en hy word by die dag beter.”
“Ete is oor ’n uur.”
“Nou ja, dan gaan ek stort en verklee sodat ek kan ontspan.”
“Doen dit, al lyk jy op jou mooiste in jou wit jas.” Sy loop