Malene Breytenbach

Hartklop Omnibus 3


Скачать книгу

laat haar by die venster uitkyk en sy sien Werner en sy vrou buite stap, diep in gesprek. Hy loop vorentoe gebuig, sy gesig somber, en sy praat met gebare. Hulle lyk eintlik mooi bymekaar, dié twee aantreklike mense. Versoening is dalk nie buite die kwessie nie. Sy het al ondervind dat vervreemde ouers mekaar by ’n kind se siekbed vind.

      In die groot kindersaal loop sy reguit na Nanette se bed. Sy lyk lusteloos, maar toe Lucinda haar op Frans groet, kry sy ’n glimlaggie. “Ek het ’n verrassing vir jou.” Die kind se oë verhelder.

      “As jy volgende week verjaar, hou ons vir jou en Charles ’n partytjie. Het jy al voorheen een gehad?”

      “Nee,” kom die fluisterstemmetjie. “Ek weet nie.”

      Lucinda se hart verteder. “En daar is nog ’n verrassing. Ek het iemand genooi vir wie jy graag wil sien.”

      Nanette lyk eers onbegrypend, en toe verhelder haar gesiggie. “Papa?”

      “Ja. Ek het hom genooi en hy het gesê hy sal kom. Is dit nie wonderlik nie?”

      Lucinda voel ’n pluk aan haar jas. Sy kyk af en sien vir Charles. “Hier is die ander een vir wie ons partytjie gaan hou.”

      “Wat?” wil hy weet.

      Sy tel hom op en sit hom op die bed. “Volgende week hou ons vir jou en Nanette saam ’n verjaardagpartytjie.”

      “Ja!” roep hy verruk uit en klap sy handjies. “Gaan ons presente kry?”

      “O ja. Sommer ’n klomp.”

      “Jippieee!”

      Meteens is daar ander kinders ook by en Lucinda moet haar storie herhaal. Hulle raak so opgewonde dat sy laggend omdraai om te loop, en op dié oomblik sien sy Werner en sy eksvrou in die saal verbystap.

      “Is hier ’n oproerige skare?” grap hy.

      “Ek is bevrees ek het nou almal op hol,” lag Lucinda. “Ons gaan volgende week verjaardagpartytjie hou en hulle neem al klaar die plek op horings. Ek ys vir die dag van die partytjie.”

      Hy lag ook, maar Enid Huber staan eenkant sonder ’n glimlag en wag dat hy weer by haar moet aansluit. Lucinda moet ’n rilling van afkeer onderdruk.

      6

      Lucinda kyk na die uitslag van Erik Huber se bloedsmeer en sug van verligting. Die ergste krisis is verby. Sy haas haar na Jens se kantoor.

      Werner is ook daar. Elke keer as sy hom teëkom, helder haar hele dag sommer op. Sy durf egter nie verknog raak aan die man nie. Sy durf dit ook nie wys nie.

      “Ek wil nie steur nie, maar ek het goeie nuus,” deel sy hulle glimlaggend mee.

      Albei staan uit hulle stoele op en kyk afwagtend na haar.

      “Erik se ergste krisis is verby. Ek moet erken dat ek regtig gevrees het vir serebrale malaria, maar hy het so goed op die medikasie gereageer dat hy nou oor die hond se rug is.”

      Toe sy weer sien, is Werner met twee lang treë by haar en gryp hy haar hande sodat die verslag op die vloer val. Die blydskap op sy gesig is vir haar ’n groot beloning en laat haar hart swel van vreugde.

      “Baie dankie vir jou toewyding en ondersteuning,” sê hy en toe sy na hom opkyk, kan sy sweer hy het trane in sy oë. “Veral vir daardie eerste deurnag by hom.”

      Haar eie oë voel ook branderig toe sy hom so aangedaan sien.

      “Nou ja, dis waarvoor die kliniek en sy personeel hier is,” hoor sy Jens laggend sê.

      Voordat sy haar blik uit Werner s’n kan wegskeur, kom sy agter dat Jens gebuk het en die verslag opgetel het.

      Werner los haar hande langsaam en die sensasie van sy aanraking bly by haar. Wat is dit aan dié man wat haar diepste wese so roer? Dis asof hy ’n vakuum vul wat voorheen bestaan het, maar waarvan sy onbewus was. Een van die dae gaan hy uit haar lewe verdwyn en dan gaan die vakuum erger voel as voorheen. Sy voorsien ’n gemis en sy vrees dit.

      “Hoe lank sal hy nog in die hospitaal moet bly?” vra Werner.

      “Ek sou dink nog minstens ’n week. Sy koorsaanvalle is nie verby nie en ons kan nie kanse waag nie. Uiteindelik sal die aanvalle natuurlik ophou, maar jy moet weet dat hy nog lank pap en siek gaan wees.”

      Werner kyk van haar na Jens en weer na haar. “Sal dit reg wees as ek steeds by jou loseer, dokter O’Neill, totdat hy ontslaan word?”

      Sy glimlag. “Natuurlik, dis nie eens ’n kwessie nie. Jy bly so lank soos jy dit nodig ag.”

      Jens kug asof hy wil aandag trek en dit nodig vind om hulle konsentrasie op mekaar te verbreek. Hy nooi hulle om te sit, en met sy hande saamgevou kyk hy Werner ernstig aan.

      “Die prognose lyk wel positief, maar jy sal moet begryp dat Erik nou bloedarmoedig gaan wees. En sy lewer is aangetas, daarom gaan hy moeg bly. Hy sal vir so ses weke tot twee maande kort-kort toetse en bloedsmere moet ondergaan om die hemoglobien en ystergehalte van sy bloed te toets. Hy sal ook middels moet neem om sy bloed op te bou. Malaria is baie afbrekend. Ek dink nie hy kan huis toe gaan na sy ma nie, want óns sal dit moet doen.”

      Werner vryf oor sy ken en dink met sy kop vooroor geboë.

      Toe kyk hy na Jens. “Wel, ek is mos in Kaapstad gebaseer. My huis is in Constantia en dis ver van hier af, maar ek sal vir eers met Erik daar gaan bly. My suster Dagmar woon in Houtbaai en as ek moet weggaan, kan sy na hom kyk en hom hierheen bring wanneer nodig. Dis glad nie ’n onoorkomelike probleem nie.”

      “Jy sal vir Enid die hele prentjie moet skilder,” sê Jens.

      “Ja, veral na aanleiding van wat ek en jy bespreek het. Verskoon my.”

      Nadat hy uit is, kry Jens ’n uitdrukking van afkeer op sy gesig wat glad nie vir Lucinda kenmerkend van hom is nie.

      “Ek skat Enid slaap nog. Vroeg opstaan is blykbaar nie iets wat sy graag doen nie. Werner wil die kind by Enid wegneem en by hom hou, maar hy vertel my dat sy ’n hele scène gemaak het toe hy dit aan haar voorstel. Sy het selfs voorgestel dat hulle om Erik se onthalwe versoen moet raak.”

      Lucinda kry ’n hol kol op haar maag toe sy dit hoor. “Dink jy … dis moontlik?” vra sy en probeer haar stem kalm en onbetrokke hou.

      “Ek weet nie. Mense offer baie vir hulle kinders op. Sy wou nie in ander Afrikalande gaan bly nie, maar noudat Werner se projek in Zambië ten einde loop en hy waarskynlik weer in Suid-Afrika sal woon, sal sy seker gewillig wees om versoen te raak.”

      Lucinda voel siek. Sou hy nog vir daardie vrou lief kon wees? Sy wat so hard en koud is? Maar sy is baie mooi, en sy het seker ander eienskappe wat hom in die eerste plek aangetrek het. Wat hulle gevoel vir mekaar weer kan aansteek?

      Aangesien sy nog nooit self ’n liefdesverhouding gehad het wat tot trou kon lei nie, weet sy nie hoe diep sulke dinge loop nie. ’n Kind moet tog ’n onbreekbare band tussen man en vrou vorm, of dit liefdevol is of nie?

      Sy staan op. “Ek moet gaan, Jens. Verskoon my.” Buite in die gang loop sy tant Mymie raak.

      “Haai, dokter, wat hoor ek? Ons gaan partytjie hou? Dis sommer ’n blink idee.”

      Lucinda dwing ’n glimlag uit. “Ja, dit sal die kinders opbeur. Dis buitendien ’n goeie manier om Nanette se pa hierheen te lok. Dis hoog tyd dat hy sy kind kom sien.”

      “Ek sou so dink. Hy was lanklaas hier, maar hy lewe mos glo die hoge lewe en is altyd landuit. Waar die ander familie is, weet ek nie. Niemand kom kuier ooit vir die kind nie.”

      Lucinda sien nie nou kans om alles omtrent Edwin se agtergrond te verduidelik nie. Later sal sy dit miskien doen.

      “Dankie dat tante darem probeer om vir haar ’n oumatjie te wees. Ons praat weer oor die reëlings vir die partytjie, maar nou moet ek gou maak, die saalsuster wag vir my.”

      Teen die tyd dat