beroemde renjaer.”
Edwin se breë glimlag met sy eweredige wit tande, wat hulle altyd gespot het in ’n Colgate-advertensie hoort, verdwyn momenteel toe hy na Werner kyk, en Lucinda sien dat Werner hom uitdrukkingloos beskou.
Hy steek sy hand uit. “Aangename kennis. My seun wou jou baie graag ontmoet.”
Edwin skud sy hand en loop daarna tot voor die rolstoel. “Hallo, ou grote. Wat makeer jy?”
“Ek het malaria, oom.”
“O fok … ekskuus. Maar ek is seker jy sal gou gesond word.”
Lucinda sit haar arm om Nanette, wat net daar sit en toekyk, en Edwin kyk na hulle.
“Ek het vir my ou groot dogter ’n present uit Parys gebring,” sê hy.
Hy gee die pragtig toegedraaide geskenk vir haar, maar sy lyk nie asof sy weet hoe om dit oop te maak nie.
“Kom, ek help jou,” bied Lucinda aan en hulle maak saam die lint en papier oop. ’n Boks met ’n baie groot blonde pop agter sellofaan kom te voorskyn.
“Dankie, Pappa,” sê Nanette en kyk dit met verwondering aan.
“Ek skat maar dogtertjies hou almal van poppe,” lag hy.
Lucinda haal die yslike pop uit en gee dit vir Nanette, maar sy is bekommerd, want die pop is hard en groot en lyk asof dit die kleintjie eerder kan seermaak. Dis iets wat liefs net op ’n kas vertoon moet word, dink sy, maar sy maak asof sy dink dis vreeslik mooi.
Nanette vat aan die geel hare en streel oor die rok, maar sy tel nie die pop op nie.
“Ongelukkig het ek ook ’n pop gekoop,” sê Lucinda verskonend. “Maar nou het jy twee wat susters kan wees.”
Sy help weer vir Nanette om die pakkie oop te maak en laat haar toe om die pragtige lappop met ’n geborduurde rok uit te haal.
Die kind kyk op en glimlag salig, en dié slag druk sy die pop teen haar vas. “Dis mooi,” sê sy op Frans.
Lucinda is ongemaklik oor haar geskenk duidelik meer aftrek kry en sy hoop Edwin voel nie gekrenk nie. Eintlik voel dit vir haar asof hulle deur ’n gehoor omring word, en om die aandag af te lei, begin sy koek in bordjies skep en uitdeel.
Jens en Marita het nadergekom en kry elk ’n bordjie.
“A, die dokters Krause!” sê Edwin hartlik – té hartlik. “Dankie dat julle my kind versorg.”
“Dis ons roeping, meneer Van Reenen,” sê Marita, maar sy is ernstig en hy lyk vir ’n oomblik effens oorbluf.
“Wag, ek moet darem die ander personeel ook groet,” sê hy en beweeg weg.
Lucinda gee vir Werner en Erik koek. “Los dit as dit jou siek maak,” waarsku sy vir Erik.
Sy kyk op in Werner se gesig. “Dankie tog Edwin het gekom,” fluister sy. “Nanette was net besig om hartseer te raak.”
“Jy het die situasie gered, jou oulike dokter,” fluister hy terug en glimlag.
Hierdie man is solied, met sy voete op die aarde en sy kop reg aangeskroef, dink sy waarderend. Edwin het ’n pierewaaier geword en hy waai rond soos ’n tolbos.
Toe sy kyk wat van hom geword het, sien sy hom omring deur bewonderende vroue en kinders. Dit lyk asof hy met groot handgebare vir hulle ’n storie uit sy lewe vertel. Hy het skoon van sy kind vergeet.
Die mooi blonde verpleegster Jenny hang behoorlik aan sy lippe en hy flankeer openlik met haar.
Lucinda sorg dat sy ’n ophef van Nanette en Charles maak, en sy gaan ook na al die ander kinders. Onder al hierdie egte of valse vrolikheid loop ’n stroom pyn, dink sy. Ons moet maar maak asof dit nie daar is nie.
Sy gaan terug na Werner, wat met Jens en Marita gesels, en staan by hulle met ’n bordjie koek waaraan sy sonder eetlus proe.
Werner kyk na sy seun. “Ek dink Erik moet dalk teruggaan na sy kamer. Dis genoeg opwinding vir nou.”
“Ja,” stem Lucinda saam. “Die partytjie gaan ook nou-nou klaar wees. Dis darem pasiënte wat meedoen, en ons wil hulle nie sieker maak nie.”
“Dankie, tannie,” sê Erik toe sy pa hom begin wegstoot.
“Dis ’n plesier. Nou gaan spring jy in die bed.”
Sy kyk hulle agterna en dink watter kontras hierdie sorgsame pa met Edwin is, wat sy kind vergeet het en die mense, veral die vroumense, se aandag ooglopend geniet.
Meteens sien sy dat Nanette in haar bed lê, met die lappop in haar arms.
“Het die verjaardag jou uitgeput?” vra sy teer en vee die kind se krulle van haar voorkop af.
Sy knik net.
“Ek gaan roep vir Pappa.”
Toe sy die groep nader, hoor sy hom net sê: “En toe ek die draai so vat, toe skiet ek by daai ou verby dat hy lyk of hy parkeerplek soek.” Almal skaterlag.
Sy tik hom op die rug. “Verskoon my, maar ek dink jy moet ’n draai by die verjaardagmeisie maak.”
Hy kyk gesteurd oor sy skouer, maar glimlag vir sy gehoor en loop dan saam met haar.
“Is my meisie moeg gepaartie?” vra hy.
“Ja, Pappa,” antwoord sy met ’n yl stemmetjie.
“Miskien moet jy maar rus, dan kom ek môre weer.”
Lucinda kyk hom streng aan. “Bly by haar totdat sy slaap.”
“Your wish is my command, doctor,” reageer hy verspot, maar hy gaan sit langs Nanette en streel oor haar hare.
“Ons kan maar oppak,” sê Lucinda vir Bets en tant Mymie. “Dankie vir al julle moeite. Julle is sterre. Ek kon sien almal geniet dit vreeslik.”
Bets kyk teatraal na Edwin. “Ek het nie eens kans gehad om met die beroemde renjaer te praat nie,” sê sy verlangend.
“Môre kan jy weer probeer,” glimlag Lucinda. Dit raak ’n refrein wat sy elke keer herhaal, maar sy vermoed Bets is regtig gaande oor hom.
Sy gaan kyk eers hoe dit met Charles gaan, en op pad daarheen kry sy die gedagte dat Edwin ver gekom het en dat sy hom seker slaapplek moet aanbied. Sy woon mos nou op die perseel. Om hom saam met Werner onder haar dak te hê, is nie so ’n goeie vooruitsig nie, maar hoe kan sy dit nié doen nie? Edwin is haar oudste vriend.
Die seuntjie sit vir haar en kyk met die geïllustreerde sci-fi-boek wat sy hom gegee het voor hom oop.
“Het jy lekker verjaar, Charlie-boy?” vra sy.
Hy glimlag. “Dit was lekker, tannie. Ek wens net my ma kon ook hier gewees het.”
Sy voel meteens baie sleg. Sy het daarop aangedring dat Nanette se pa kom omdat sy hom ken, maar behalwe Erik se pa was daar geen ander ouers nie. Wat Charles betref, het sy sommer aangeneem sy ma leef nie meer nie, omdat dit die gebruiklike patroon by vigskinders is.
“Ons kon nie die ma’s en pa’s ook nooi nie, liefie. Nanette se pa het self besluit om te kom omdat sy vandag verjaar, en Erik se pa is hier omdat Erik so ernstig siek was.”
Sy jok nou oor Edwin, maar dis ’n noodleuentjie om die kind beter te laat voel.
“Ek sê jou wat: kom ons nooi haar om môre te kom kuier. Hoe’s daai?”
Sy ogies is meteens vol trane. “Sy sal nie kom nie, tannie.”
Hier is iets nie pluis nie, dink sy.
“Waarom dink jy sy sal nie kom nie? Is sy ver weg?”
“Sy is in Johannesburg.”
“O ja, dis nogal ver.”
Maar Frankryk is verder en Edwin het gekom, dink sy.