Malene Breytenbach

Hartklop Omnibus 3


Скачать книгу

in haar brand die agterdog, wat eintlik weet is.

      “Eddie, jy wou jou nie laat toets vir MIV nie, en nou soek jy familie –”

      Matrone is skielik terug en onderbreek haar: “Hier het ek dit. Suzette van der Merwe, telefoonnommer en adres in Tuine, Kaapstad. As sy nog daar bly.”

      Sy gee ’n papiertjie aan Lucinda, wat dit lees en in haar handsak sit. “Baie dankie, matrone.”

      “Wou jy geweet het wie jou pleegouers was?”

      “Ja, dit ook. Hulle spook nou nog by my.”

      Matrone snork ergerlik. “Daardie aaklige mense.

      Jy was kort by hulle en hulle het jou geslaan, blykbaar vir die geringste ding. Ek wou moord pleeg toe ek sien hoe jy lyk daardie dag dat Suzette van der Merwe jou na ons gebring het. Die Here sal sulke mense straf. Hulle gaan reguit hel toe. Suzette sal jou van hulle kan vertel, wie hulle was en alles.”

      Lucinda kom agter dat sy sidder en brokkies van ou herinneringe terugroep, soos die woorde van ’n ou, vals liedjie. Die nagmerries en drogbeelde voel of dit vlak in haar gemoed lê.

      “Jy het ook nie as baba na ons gekom nie, Edwin,” vertel matrone. “Jy was al twee jaar oud. As jou ma jou as baba vir aanneming gegee het, sou jy aangenome ouers gehad het. Mense neem nie maklik ouer kinders as pleegkinders in soos die geval met Lucinda was nie. Jou ma was ’n enkelouer en toe hulle jou vind, was sy dood. Sy het selfmoord gepleeg in ’n kamertjie in Woodstock. Hulle kon haar nie identifiseer nie, want sy het niks by haar gehad nie. Sy wou seker nie hê iemand moet iets oor haar uitvind nie. Jou gehuil het mense se aandag getrek. Die polisie het jou gevind en jy is na die weeshuis gebring, my arme kind.”

      Lucinda voel asof sy ineenkrimp toe sy dié aaklige nuus hoor en sy sien dat Edwin doodsbleek geword het. Sy vlieg op en gaan omhels hom, met trane in haar oë. Hy begin ruk en sy besef hy huil ook. Sy hou hom stywer vas.

      Matrone is ook nou in trane. “Ag, ek is so jammer, kinders, so jammer.”

      “As ek ooit ’n sterk dop nodig gehad het, is dit nou,” sê Edwin, wat bleek agter die stuurwiel van die opvallende, duur voertuig in die betreklik armoedige straat sit en nie eens agterkom dat mense na hulle staar nie.

      “Ons wou mos, en matrone hét ons gewaarsku dat dit ons kan skok. Wel, nou weet jy en hoef jy nie te wonder nie.”

      Hy kyk met troebel oë na haar. “Ek kan nie glo dat my ma sommerso kon verdwyn het nie. Het niemand haar as vermis aangemeld en gesoek nie?”

      Lucinda sit ’n troostende hand op sy arm. “Dalk het sy van ver gekom, soos my ouers.”

      “Dalk.” Hy sug en vryf met een hand oor sy gesig.

      ’n Straatkind klop aan sy ruit en hy kyk op. Die vuil gesiggie smeek en die lippe beweeg, maar hulle kan nie hoor wat hy sê nie.

      Edwin voel in sy sak, haal sy beursie uit, trek ’n honderdrandnoot uit, draai die ruit af en gee dit vir die kind, wat lyk of hy wil flou word toe hy die baie geld sien. Hy wil nog dankie sê, maar Edwin het reeds die motor aangeskakel en trek met ’n gebrul van die enjin weg.

      Lucinda kyk na sy profiel, maar sê niks voordat hulle uit die voorstad in die grootpad indraai nie.

      “Eddie, moet ons jou nie toets vir MIV nie?” vra sy so simpatiek soos sy kan.

      Hy draai sy gesig na haar. “Ek hét my laat toets. Ek is skoon.” Sy stem is bars.

      “Ek probeer jou nie beledig of iets nie, maar –”

      “Nee, almal dink net ek het dit ook oor my kind dit by haar ma gekry het.”

      Hulle ry in stilte tot by die Wynland-kliniek en Edwin laai Lucinda by haar huis af.

      “Verskoon my vanaand,” sê hy. “Ek sal eers baie laat terug wees.”

      Sy is bekommerd oor sy skokreaksie en wat hy daaromtrent gaan doen, maar ook half bly dat hy weg sal wees as sy Werner weer sien. Sy besluit om Werner by Erik te gaan soek.

      “Hallo,” groet sy, bly om hom by sy seun te sien sit. “Ek het die middag afgeneem en was heelmiddag weg.”

      “Ja, ek het gesien jy en Edwin ry.” Hy klink styf, en glimlag nie.

      Sy wil verduidelik waarheen hulle was, maar nie voor die kind nie. “Kan ek jou vir aandete verwag?”

      “Liewer nie.”

      “Hy is nie vanaand by die huis nie.”

      Hy kyk haar vas aan. “In daardie geval sal ek kom.”

      Sy loop liewer weer. By Nanette se bed gaan sy staan en sy sien dat die kleintjie glad nie goed lyk nie.

      “Waar is Papa?” vra Nanette op Frans.

      “Hy is stad toe. Môre kom hy jou weer sien.”

      Die kind het natuurlik uitgesien na haar pa se kuier, en nou is sy so teleurgesteld dat sy bedremmeld daar uitsien, dink Lucinda. Oudergewoonte sit sy haar hand op Nanette se voorkop en sy hou nie daarvan dat dit so warm voel nie. Sy hou ook nie van die hoesie wat Nanette gee nie. Ervaring en instink vertel haar dinge is allesbehalwe pluis hier.

      “Ek kom nou-nou weer,” belowe sy, maar Nanette gryp haar hand en hou dit vas, asof sy haar wil keer om te loop.

      Lucinda sit by haar en Nanette maak haar oë toe, maar sy los nie. Op daardie oomblik sien Lucinda dokter Wannenburg saam met twee verpleegsters inkom en sy wink hom nader.

      “Hierdie enetjie is glad nie lekker nie,” fluister sy. Hy staan fronsend na die kind en kyk. “Sy reageer nie goed op die antiretrovirale nie,” fluister hy. “Komplikasies.”

      Lucinda voel dat die greep op haar hand verslap het en versigtig trek sy haar hand los.

      “Waar is die pa?” fluister dokter Wannenburg.

      “Ek weet nie. Hy het gery. Gesê hy kom laat terug. Ek is bekommerd oor hom en Nanette. Sy is jou pasiënt, maar ek ken haar pa al soveel jare.”

      Hy knik en lyk besorg. “Ek verstaan.”

      “Verskoon my, ek wil net by Marita iets gaan uitvind,” sê sy.

      “Binne,” hoor sy Marita se stem toe sy aan die toe kantoordeur klop, en sy gaan in.

      “Hallo, Marita. Jammer om te steur …”

      “Glad nie. Kom sit. Ek kan sien iets pla jou.”

      Lucinda sug. “Meer as een ding pla my. Ek en Edwin van Reenen het by ons ou weeshuismatrone gaan kuier, en daar het hy gehoor sy ma het selfmoord gepleeg en daarom het hy as tweejarige in die weeshuis beland. Dit het hom lelik geruk.”

      “Foei tog, arme man. Ek kon sien dat daar ’n beswaarde mens agter daardie macho-, traak-my-nieagtige fasade wegkruip.”

      “Jy is baie oplettend. Nanette is ook vir my baie agteruit. Sommer so skielik.”

      Marita sug en vryf oor haar oë. “Dis vir my asof die kind uitgehou het vir iets en nou kan sy nie meer nie. Die komplikasies tree in.”

      “Dokter Ras het my vertel. Daar is nog iets wat my pla. Hoekom kom niemand ooit vir Charles sien nie? Is hy dan ook ’n verstoteling?”

      Marita kyk haar vas in die oë en lyk of sy haar antwoord oorweeg. “Asseblief, dis uiters vertroulik. Net ek en Jens weet tot dusver.”

      Lucinda kry ’n nare voorgevoel. “Dit is iets ergs, maar vertel my sodat ek weet – as jy dink dat jy my kan vertrou.”

      “Ek vertrou jou. Charles se ma woon in Johannesburg. Sy het geld, want sy betaal stiptelik, maar sy het die kind letterlik op ons gedump. Hy is ’n betaalde liefdadigheidsgeval.”

      “Dit klink vreemd. Wat bedoel jy daarmee?”

      Marita sug weer. “Ons wil nie beweer dat die ma ’n sekswerker is nie.